Die Sin van ons Lyding
Die Bybel praat baie oor lyding. Hele psalms is daaraan gewy. Die profete en apostels het daaroor gespreek. Die hele boek Job worstel daarmee.
Maar het u opgelet? Die Bybel praat nooit op ’n uitsiglose manier oor ons lyding nie. Ons kan in ons lyding soms so sonder uitsig wees, so neergeslaan, so seker dat alles sinloos geword het en dat ons te doen het met ’n onontwarbare knoop, ’n onoplosbare raaisel. Ons kan in ons lyding soms so twis met God, so opstaan teen ons lot of so willoos daarin versink.
As die Bybel egter oor ons lyding praat, geskied dit altyd met ’n diepe perspektief. Die Bybel weet nie van so iets as sinlose lyding nie. Die Bybel weet alleen daarvan dat die lyding van die kind van God in direkte verband staan met die geestelike vernuwing en verdieping wat God in sy lewe wil bewerk.
Sal ons na ’n enkele voorbeeld verwys? Paulus praat in Romeine 8 oor die heerlike vernuwing. wat die Gees van God in die lewe van Gods kinders tot stand kan bring. Daarby open hy heerlike vérgesigte. Veral vanaf vers 11 begin hy die blik meer en meer wend na die uiteindelike vernuwing van die kinders van God wanneer hulle die hemelse heerlikheid deelagtig sal word. Hy spreek oor hulle erfenis wat vir hulle lê en wag. Dit is ’n saligheid wat so groot en so heerlik is, dat die lengte en die breedte en die diepte en die hoogte daarvan vir ’n mens onvoorstelbaar is. Geen oog het dit gesien, geen oor het dit gehoor en in die hart van geen mens het ook maar iets opgekom van die proporsies van die vernuwing wat aan die kind van God gegee gaan word in die hemelse heerlikheid nie. Tog weet Gods kind dat dit sy deel is en gaan word. Immers, die Gees getuig reeds in sy hart saam met sy gees dat hy ’n kind van God is. En as hy ’n kind is, dan is hy ook ’n erfgenaam van alles wat in die huis van die Vader is. Hy is ’n mede-erfgenaam met Christus, wat niks minder kan inhou nie, as dat hy met Christus sal deel in al die heerlikheid wat Christus deelagtig geword het. Paulus spreek uitdruklik daarvan dat ons saam met Hom verheerlik sal word. Dit is iets wat onbegryplik heerlik sal wees.
Ek glo dat u as kind van God daarna verlang en daarna uitsien dat die dag moet kom. U mag dit gerus doen, want dát die dag van heerlikheid vir ons sal kom, is gewaarborg in die Here Jesus Christus Self.
Maar nou – presies hier spreek Paulus dan meteens onverwags oor die lyding. “As ons kinders is,” sê hy, “dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Romeine 8:17).
Waarom praat Paulus juis hiér, juis in verband met die heerlikheid ook oor die lyding? Dit kan blykbaar nie anders nie. Lyding en heerlikheid, heerlikheid en lyding hoort in ons sondige wêreld saam, want die lyding is Gods weg om ons die heerlikheid deelagtig te maak!
Moenie dink dat die heerlike beloftes van die Bybel oor wat God alles van ’n arme sondaar kan maak en gaan maak, vir ’n enkele oomblik die weg van lyding uitsluit nie. Vernuwing sonder lyding is onmoontlik. Die hemelse heerlikheid sonder die aardse smarte is onvoorstelbaar. Nee, nie omdat ons deur ons aardse lyding die hemelse heerlikheid verdien nie. Dit het net van die lyding van Christus gegeld. Maar omdat lyding eenvoudig Gods weg is waarlangs Hy ons bereid maak om te ontvang wat Hy uit loutere genade aan ons wil gee om Christus ontwil. Daarom is die normale weg waarlangs die Heilige Gees die kind van God in ’n nuwe lewe wil inlei, die weg van lyding. Daarom ook is die weg van lyding op aarde die weg van voorbereiding vir die heerlikheid in die hemel. Wie eenmaal met Christus verheerlik moet word, moet leer om hier eers saam met Hom te ly.
’n Mens kan nie oor heiligmaking praat, sonder om ook oorlyding te praat nie. ’n Christen sonder lyding is feitlik deurgaans oppervlakkig, wêreldgelykvormig, vol van homself, onbruikbaar. Maar ’n Christen wat deur die meule gegaan het, deur ’n worsteling met God wat soms jare kan duur en waarin hy eenvoudig mank geslaan word (vgl. die heerlike Genesis 32), is ’n mens in wie iets van die hemelse glans reeds op aarde begin deurstraal.
Immers, die lyding van die kind van God is niks anders nie as ’n groei in gelykvormigheid aan die dood van Christus. Ons weet dat Christus eenmaal aan die kruis gesterf het, nie net vir ons sonde nie, maar ook aan ons sonde, sodat ons wat in Hom begrepe is deur die geloof, ook self aan die sonde gesterf het (vgl. Romeine 6:2). Ons is eintlik mense wat klaar gesterf het. Die sonde het volgens reg geen vat meer op ons nie. En tog – ons lewe nog steeds in die tyd. van die groot nog-nie. Solank ons op aarde is, leef die sonde nog in ons. Ons lyk nog alles behalwe dood vir die sonde. Ons hart kleef aan die sonde. Ons dra nog vrugte vir die dood. Die ou mens wat klaar met Christus gekruisig is, staan nog weer elke dag in ons op. Hy beheers feitlik ons lewe. Dis net alles diens aan die eie-ek in ons. Ons is gelykvormig aan hierdie wêreld (Romeine 12:2). Ons is soms radeloos daarmee, maar dit help alles niks. Die goeie wat ons wil, dit doen ons nie; en die kwaad wat ons nie wil nie, dit doen ons! Is daar geen raad nie?
God het ’n goeie raad – lyding. Elke stukkie lyding wat God oor Sy kind bring, is bedoel vir die doding van die ou self. Nee, daar is nie ander medisyne wat ook maar in die minste hiermee vergelyk kan word nie. Daar is nie ’n maklike pad na die gelykvormigheid aan Christus nie. Wie aan Hom gelykvormig wil wees, moet dit wees aan Sy dood en Sy opstanding. Ons kan nie aan Sy opstanding gelyk word, sonder om ook aan Sy dood gelykvormig te word nie.
In die lyding sterf die ou mens stadig maar seker. Ons selfverheerliking, eiegeregtigheid, trots en natuurlike krag word gaandeweg dodelik getref. Ons leer dinge na waarde takseer. Stuk vir stuk word ons eie bankrotskap vir ons duidelik. Ons word teruggebring na ons normale proporsies en bevry van al die laste wat ’n mens moet dra as jy nog ongebroke en vol van jouself is, gewoond om sommer oor andere te loop, gewoond om altyd die beste te moet hê, gewoond om jou lyf rond te gooi asof jy darem beslis iets belangriks is.
’n Mens kan dinge op ’n siekbed of in droefheid of pyn of vernedering of verwerping leer, wat jy andersins nooit sou geweet het nie. Moenie dink dat God wreed is as Hy u iets wil leer wat Hy u nie anders kan leer as in pyn nie. Moenie dink dat lyding sinloos is, as God besig is om u vir die eerste keer miskien werklik die sin van die lewe te wil leer nie. Die sin van die lewe is dat u aan Christus gelykvormig moet word. Ja, die medisyne daarvoor is bitter. Maar die resultaat is soet.
Want so terwyl u ly, word die Christelike hoop in u gebore. U kyk meer boontoe as ooit tevore. Wanneer kom U tog, Here Jesus?
En ons weet dat ’n lewe wat gedra word deur die Christelike hoop, ’n lewe vol van inhoud is. Met die hoop gryp ons vooruit na die dag wanneer alles nuut sal word. Daarom begin ons reeds hier en nou te lewe soos mense wat weet dat die dag van vernuwing naby is. Ons maak die bande wat ons hier gebind het, een vir een los. Ons besit hier soos dié wat nie besit nie. Ons wandel soos die wat die onsienlike sien. Ons oriënteer onsself aan Jesus wat in die hemel is.
Dit wil die lyding in ons bewerk. Lyding is nie sinloos nie. Lyding is die konkreet-geworde kruisiging saam met Christus. Daarom is ons lyding vol van uitsig. Want ek reken, sê Paulus weer, dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie (Romeine 8.18). Per slot van rekening is die lyding nog maar iets gerings – hoe bitter dit ook mag wees vir ons – in vergelyking met die heerlike doel wat God daarmee vir ons op die oog het.
WD Jonker
[Artikel deur WD jonker, Die Voorligter, vol xxix(5), April 1966, 11]