Beroepbaarheid na Drie Jaar

Beroepbaarheid na Drie Jaar

Graag vereenselwig ek my met die bedenkinge wat prof. Müller van Stellenbosch uitgespreek het oor die besluit van die Algemene Sinode dat predikante eers na drie jaar diens in ’n gemeente weer beroepbaar sal wees, behalwe in enkele gespesifiseerde gevalle. Omdat ek volkome saamstem met prof. Müller se standpunt en argumente, hoef ek niks daarvan te herhaal nie. Ek wil egter daarby graag die vraag stel of ’n sinode wel so ’n besluit mag neem sonder om die grense van die bevoegdheid van ’n gereformeerde sinode te oorskry.

Ons belydenis bepaal dat dit goed en nuttig is dat die regeerders van die kerk onder mekaar ’n sekere orde instel tot instandhouding van die liggaam van die kerk, maar voeg dan uitdruklik daaraan toe dat hulle nogtans wel op hul hoede moet wees om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie (N.G.B., artikel  XXXII). Nou kan dit seker gesê word dat ons in die Skrif geen direkte voorskrifte kry oor hoe ’n beroep uitgebring moet word nie en dat ’n sinode dus die vryheid het om op hierdie terrein te bepaal wat nuttig skyn te wees. Daarmee kan ons akkoord gaan, maar net tot op sekere hoogte, want die vryheid van ’n gereformeerde kerkvergadering om ordereëls te maak wat nie direk op die Skrif gegrond is nie, is ’n beperkte vryheid. Immers, dergelike maatreëls moet sodanig wees dat hulle die direkte en persoonlike regering van Christus self deur Sy Woord en Gees in die gemeente dien. Hulle moet as’t ware die ruimte help oophou vir Christus om self te regeer. Hulle mag dus nie ingryp op die terrein van die persoonlike regering van Christus en self maar die dinge reel soos wat dit menslik nuttig skyn te wees nie. Vir my gevoel is dit egter presies wat in hierdie geval gebeur. Nie alleen het die sinode geen Skrifgrond vir so ’n besluit nie, maar hy kan ook nie redeneer dat so ’n besluit dien om die vrymagtige regering van Christus self te dien nie, en voorts: dié besluit skyn pertinent in te gryp in wat ons nog steeds beskou het as die terrein van die leiding van Gods Gees. Daarin kom dit na my mening dus selfs in stryd met bepaalde waarhede van die Skrif, soos prof. Müller se skrywe ook aantoon. ’n Mens hoef geen voorstander van kort bedieningstydperke te wees om ’n gewetensbeswaar teen hierdie besluit te voel nie. Waar hierdie besluit nie maar ’n wenk aan die hand doen of ’n aanbeveling vir die oorweging van kerkrade daarstel nie, maar ’n verbod plaas op ’n handeling wat nie eens by implikasie deur die Skrif verbied word nie, laat dit die vraag ontstaan of ’n sinode wel die reg het om so “willekeurig” op te tree by die formulering van ordebepalinge. Hoe meer ons ons hou by wat die Skrif direk bepaal of verbied, by wat wettiglik uit die Skrif afgelei kan word of wat gebaseer is op wat Calvyn die “algemene reëls” vir die orde van die kerk in die Woord van God noem; en hoe meer ons in die ander sake aan lidmate en kerkrade die vryheid laat om met die geopende Skrif in die hand te handel soos hulle na gebed deur Gods Gees gelei word, hoe meer beweeg ons op die gereformeerde weg en hoe meer distansieer ons onsself van die kollegialisme wat die kerk as ’n vereniging verstaan waarvoor allerlei willekeurige bepalinge gemaak kan word.

Die probleem met sulke “willekeurige” bepalinge (en wie dink hier nie ook aan die ouderdomsbepaling van 16 jaar by die aflegging van belydenis nie?) is dat daar wel allerlei nuttigheidsargumente vóór en téén aangevoer kan word, maar dat die wesenlike dinge waarom dit gaan, daarby maklik uit die oog verloor kan word. Die wesenlike ding in verband met die bediening van ’n leraar is nie die tydsduur daarvan nie (is kort en lank vir die kerk nie uiters relatiewe begrippe nie?), maar die kwaliteit of krag daarvan. Paulus het ook soms maar bra kort op ’n plek gearbei. As God oordeel dat ’n man se taak in ’n gemeente voltooi is, sal dit ons nie help om dit met uiterlike maatreëls te probeer verleng nie, hoe hartseer ’n “getroffe” gemeente ook mag wees.

Ek glo dat die sinode alle rede het om te voel dat die dinge nie altyd reg loop nie en dat daar soms te maklik, miskien selfs te ligsinnig, oor die leiding van die Here gepraat word, waar met reg getwyfel kan word of dit in erns bedoel kan wees. Die vraag is egter of ons die genesing van dié kwaal langs die regte weg soek met so ’n bepaling. Moet ons nie liewer erken dat die kerk op ’n geestelike laagwatermerk verkeer waar allerlei menslike oorwegings en mensewerk dikwels te maklik met die leiding van die Gees van God vereenselwig word nie? Dit los ’n mens egter nie op met maatreëls nie, maar alleen met terugkeer na God, sodat God weer God kan wees in die hele lewe van die kerk.

Daarom stem ek saam met prof. Müller dat hierdie besluit beslis weer aan ernstige oorweging onderwerp moet word om vas te stel of ons hier nie die gereformeerde kerkreg en ons geloof in die persoonlike regering van Christus geweld aangedoen het nie.

WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker, Die Kerkbode, xcix(3), 18 Januarie 1967, 94]