Die Sug na Bevryding
Nee dit is nie waar nie. Dit is eenvoudig net nie waar nie. Sommige stel dit wel so voor en ons sing ook soms dat dit só is, maar dit is ’n vereenvoudiging.
Ek bedoel natuurlik die bewering dat as ’n mens Jesus maar ontmoet het, alle probleme van jou lewe opgelos is, alle smart wegval, alle stryd op ‘n end is, soos die liedjie sê, dat die Naam van Jesus alle wonde heel en alle smart genees. Dit is uiteindelik wel waar, maar dit is net eenvoudig nie waar in ’n onmiddellike sin nie. Verkondigers van die heerlike evangelie van Jesus moet oppas om nie die dinge só oorvereenvoudig voor te stel, asof ’n mens maar Jesus moet aanneem en dan is alles wel reg en alle probleme vind ’n antwoord en alle trane word afgevee nie.
Die Bybel weet van ’n ánder werklikheid: die werklikheid dat die lewe van die kind van God ’n lewe vol sugte is, ’n lewe vol teleurstelling, ’n lewe in die Christelike hoop, ’n lewe vol van spanning om ook maar iets te sien verskyn van die heerlike dinge wat deur Christus aan die kruis en in Sy opstanding vir ons verkry is.
’n Mens moet maar Romeine 8 lees om dit duidelik te besEfesiërs Paulus handel daar onder andere ook oor die sugte van hulle wat die Naam van Jesus ken. Dit gaan om mense wat verlos is. Hulle skuld is weg (Romeine 8:1). Hulle weet dat hulle kinders van God is, want die Gees getuig saam met hulle gees dat hulle kinders van God is (Romeine 8:15-17). Hulle het daardeur erfgename van God geword, skatryk in Christus: die hemelse heerlikheid met alles wat dit inhou, is aan hulle testamentêr bemaak, dit kan van hulle nie meer weggeneem word nie (Romeine 8:17). In hulle hart woon die Heilige Gees en op hulle lippe lê die woord: Abba, dit is: Vader!
En tog sug hulle. Paulus sê: “Maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam” (Romeine 8:23).
Waarom sug mense wat alle rede het om te jubel? Is die Bybel nie vol van opwekkinge dat ons moet jubel en bly wees oor die heil wat ons in Christus ontvang het nie? Lees maar weer ’n keer Filippense 3 met sy klem op die noodsaaklikheid van die Christelike blydskap!
Waarom sug die gelowiges dan nogtans? Die antwoord is duidelik: Omdat hulle verlossing ’n voorlopige karakter dra.
Laat niemand gering dink van wat hulle ontvang het toe hulle Jesus deur die geloof aangeneem het nie. Laat niemand dink dat wat hulle ontvang het, nie voldoende rede bied vir blydskap en jubel nie. “O hoe wonderlik anders het alles geword, want Jesus woon nou in my hart!” Maar … hulle het nog nie alles ontvang nie.
Hulle lewe nog net soos ander mense onder die gevolge van die sonde. Siekte, droefheid en pyn word nie by die bekering van ’n mens weggeneem nie. Alle gevolge van die sonde is nog die deel van die gelowiges net soos van die ongelowiges. Hulle verskrompel soos alle ander mense in die ouderdom. Hulle grys hare daal net so bewend in die afgrond neer. Hulle in net so vatbaar vir afmatting, spanning, sielkundige ontwrigting, verkeerde groei, bekommernis. Hulle het nog net so te worstel teen karaktermoeilikhede. Hulle lewe het nie minder aan stryd as die van die ongelowige nie. Ja, ons mag en moet dit ook sê: dikwels lewe hulle nog net so in die sonde as die ongelowige.
Dit sou nie reg wees om te sê dat niks verander het nie. In werklikheid het alles verander.
Dit het egter verander in Gods belofte. Hulle het die belofte ontvang dat alles eenmaal radikaal anders sal wees. Voorlopig lewe hulle egter tussen twee wêrelde: die ou wêreld wat vergaan en die nuwe wat gebore staan te word. Die lig van die nuwe val reeds oor hulle heen. Die eerste dageraad is sigbaar. Die nag het ver gevorder, en dit is amper dag (Romeine 13:12). Maar voorlopig is die nag nog ’n werklikheid.
Daarom sug die gelowiges nog. Hulle sug in verlange dat die dag moet deurbreek in sy volle glorie. Eers dán sal alles wat hulle nou in Gods belofte besit, alles waarvoor Christus gesterwe en opgestaan het, alles waaroor hulle met reg bly kan wees, in die volle heerlikheid daarvan hulle deel wees. Intussen is dit egter nog net die belofte wat hulle het en waarmee hulle soos ’n klein stormlamp die donker nag deurkruis. Ons is gered in hoop, sê die apostel (Romeine 8: 24-25), maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?
Blykbaar is dit dus nie die bedoeling dat ons nou op aarde te veel “sien” van die verlossing wat in Christus reeds ons deel geword het nie. Ons wandel hier deur geloof en nie deur aanskoue nie.
Wat ons reeds het, is die eerstelinge van die Gees (vs. 23). Paulus bedoel daarmee dat die Heilige Gees wat aan ons gegee is, die eersteling is van die volle oes wat nog moet kom, soos die eerste ryp vrug van die seisoen die belofte bevat van die hele ryk oes wat aan die kom is. Daarom spreek hy elders van die Gees as onderpand van ons salige verlossing (vgl. 2 Korintiërs 1:22 en 5:5), of van die Heilige Gees wat ons verseël tot die dag van verlossing (vgl. Efesiërs 1:13). Wie die Gees van God ontvang het, hoef nie te vrees nie: die volle verheerliking sal ook eenmaal oor hom deurbreek. Daarom – omdat die Gees in hom woon – kan dit ook in hom nie bly wat dit was nie. Die Gees dra sekere vrug in hom.
Maar … dit is met hom nog nie wat dit móét wees nie. Die verlossing van alle sonde is nog iets van die toekoms, iets van die komende dag, iets waarna verlang word, waarom gesug word. Die blywende sonde in sy lewe gaan nie buite die verantwoordelikheid van die kind van God om nie. Hy kan hom nie daaroor verontskuldig deur daarop te wys dat die dag nog nie aangebreek het nie. Maar die feit dat hy, met alle bewussyn van die noodsaaklikheid om heilig te lewe en met al die goeie wil van die wêreld net nie in staat is om volmaak te lewe en gehoorsaam te wees nie, hang terdeë saam met die voorlopige karakter van sy verlossing. Die volle verlossing lê nog voor.
Paulus sê: Ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders (vs. 23b). Ja, natuurlik is ons reeds kinders van God – dit het hy oor en oor gesê (vgl. Romeine 8:14-17). Maar waarvoor wag ons dan nog? Vir die “openbaarmaking van die kinders van God” (vs. 19). Ons is al kinders, maar ons is dit nog verborge, feitlik in die geheim, eintlik net in die belofte en in die hoop. Eenmaal word dit alles egter klare daglig. Dan kom dit aan die lig wie ons werklik is: kinders van die heerlike God. Ook Johannes praat daarvan dat ons reeds kinders van God is, maar dat dit nog nie geopenbaar is wat ons sal wees nie (1 Johannes 3:2). Op daardie dag, wanneer alles hulle ware gestalte aanneem, dan word ons amptelik “aangeneem” as kinders van God, in die huis van die Vader, opgeneem in die Goddelike familie, met al die vreugde van die hemelse blydskap. Intussen is daar maar een wagwoord: Wag daarop met geduld!
Paulus omskryf hierdie aanneming tot kinders met die woorde: die verlossing van ons liggaam (vs. 23). Ons liggame is dus tans nog nie verlos nie. Ons lewe tans nog wat die sigbare, uitwendige sy van ons bestaan betref (dit is wat Paulus bedoel met ons liggaam) as deel van die skepping wat vanweë die sonde aan die nietigheid onderworpe is (Romeine 8:20). Die hele sigbare geskape wêreld lê onder die ban van die sinloosheid wat deur die sonde in die wêreld gekom het, die hopelose, bose sirkel waarvan Prediker 3 praat, die gebore word en sterwe, die groei en verrot, die jammer en ellende. Ons bestaan onder die mag en die gevolge van die sonde, met alles wat dit inhou. Ons sigbare lewe is daarby die invalspoort van die sonde. Die goeie wat ons wil, dit doen ons nie; die kwade wat ons nie wil nie, dit doen ons. Dit kan nie anders nie as dat ’n mens onder sulke omstandighede sug en uitroep: Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? (Romeine 7:24). Ons maak tans reeds om Christus ontwil die werke van die liggaam dood (Romeine 8:13), maar ag, dit bly onvolledig, stukwerk, mislukking. Daarom moet ons sug en verlang na die dag wanneer ons liggame, ons aardse lewe, volkome verlos sal wees.
Nee, dit is dus nie waar nie. Dit is nie waar dat ons as kinders van God in hierdie lewe volmaak kan wees en van alle smette van die sonde vry nie. Ons is gered in hoop. Ons sug na bevryding.
Dit is egter geen hopelose sug nie. Hoogstens is dit ’n ongeduldige sug: Hoe lank duur dit nog? Ook daarin is ons egter nie alleen nie. Sug die Gees dan nie saam met ons nie? (Romeine 8:26). Ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees tree vir ons in met onuitspreeklike stigtinge. Ons deel in die ongeduld van die Heilige Gees, die roep van die Heilige Gees, dat die dag van verlossing nou eindelik moet aanbreek. Die Gees en die Bruid sê: Kom!
En terwyl ons só sug om die dag van bevryding, word ons reeds innerlik los van die dinge hier, word ons verander van gedaante tot gedaante, as deur die Here wat die Gees is (2 Korintiërs 3:18).
WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker in Die Voorligter, vol xxx(5), April 1967, 12]