Die Kerkraad, Ring en die C.I.

Die Kerkraad, Ring en die C.I.

Vreemde presedente word deesdae ten opsigte van prosedure in ons kerk geskep. Die redakteur van Die Kerkbode neem sake wat nog voor kerklike vergaderinge moet dien, in die redaksionele kolomme in behandeling, spreek ’n oordeel daaroor uit, oordeel selfs oor die motiewe van kerklike ampsdraers wat in die sake moet handel, deel dreigemente en waarskuwings uit en gee op die manier ’n volbloed-pouslike “leiding” aan die kerk. As die kerk hom nie betyds oor hierdie manier van optrede van ’n kerklike amptenaar gaan besin nie, voorsien ek ’n ontwikkeling wat ons maar kan laat vergeet dat ons kerkregtelik gereformeerd wil wees.

Maar goed, as die redakteur dié vryheid het, sal dit my as voorsitter van die Ring van Johannesburg darem seker ook vergun word om oor die betrokke saak waaroor ons veroordeel word, ’n paar woorde te sê ten einde die lesers te help om tot ’n billike oordeel oor sake te kom.

(1) Wat beteken: Uitvoering van die Sinodale besluit?

Daar is nou al herhaaldelik gesê dat die kerkraad die besluit van die Algemene Sinode insake die C.I. moet uitvoer. Wat beteken dit presies? Sommige skyn te dink dat hulle dit kan uitvoer deur eenvoudig die betrokke lidmate sonder meer voor ’n keuse tussen die kerk en die C.I. te plaas en dan diegene wat weier om uit die C.I. te bedank, se name van die kerk se registers te skrap. Laat dit tog duidelik gesê word dat so iets op basis van ons kerkreg onmoontlik is. Selfs ’n geringe kennis van die gereformeerde kerkreg moet ’n mens daarvan oortuig dat skrapping op hierdie manier, waar die betrokkke (sic) lidmate self weier om hul verband met die kerk te verbreek, neerkom op uitbanning (wat die ergste vorm van tug is), sonder dat die regte kerkregtelike posedure (sic) daarvoor gevolg is. Dit sal die kerk blootstel aan die regmatige beskuldiging dat hy sy eie reg verkrag – met alles wat daaruit kan voortvloei. Nee, uitvoering van hierdie besluit kan net een ding beteken: tug in al sy stappe tot aan die ban toe. Lees maar weer die Sinodale besluit. ’n Besluit wat so sterk bewoord is, eis eenvoudig die tug. Ek stem dan ook volkome met dr. Vorster saam dat hier geen ander uitweg is nie. Ongelukkig is dit nie waar dat die Sinode ’n voorstel om tug toe te pas, verwerp het soos sommige meen nie. Daardie voorstel is teruggetrek, nadat (as my inligting korrek is) die versekering deur die Actuarius gegee is dat die besluit vanself tug impliseer. Dus: die kerkraad het geen ander keuse gehad as om die lede van die C.I. te tug nie: beginnende by die vermaning, eindigende met die ban.

(2) Wat het die Kerkraad gedoen?

Die kerkraad het, volgens sy notule en sy getuienis voor die Ring, op weg gegaan om die Sinodale besluit in die sin uit te voer. Die betrokkenes is opgeroep en elkeen van die punte van die motivering van die Sinodale besluit is as ’n klag teen hulle gehanteer. Na luid van artikel 58 van die kerkorde, wat bepaal dat tugmaatreëls nie toegepas mag word voordat ’n klag grondig ondersoek is en sonder dat die beklaagdes genoegsame geleentheid gehad het om hulleself te verdedig nie, is toe aan die betrokkenes ’n geleentheid gegee om hulleself te verweer. Die betrokkenes is twee uur lank deur die kerkraad ondervra. Na afloop van dié ondervraging het die kerkraad eenparig tot die konklusie gekom dat hulle in die lig van die Skrifuitsprake oor die kerklike tug, die belydenis-uitsprake oor die tug en die kerkordelike bepalings oor die tug nie teen hierdie mense met die tug mag optree nie. Nou is daar sommige wat sê dat die kerkraad nie die reg gehad het om die betrokkenes die geleentheid te gee om hulleself te verweer nie. Maar veronderstel die kerkraad het hulle nie aangehoor nie, het hy dan nie in stryd met die kerkorde gekom nie? Sou hierdie mense nie ’n baie sterk saak, selfs in burgerregtelike sin, teen die kerkraad gehad het as hulle die geleentheid nie gehad het nie? Daarby is dit ook duidelik dat die kerkraad tog verantwoordelike ampsdraers van die kerk is aan wie die sleutels van die hemelryk toevertrou is. Hulle moet die sleutels tog uit eie oortuiging kan hanteer, met hulle harte oop en bloot voor God wat oor alles oordeel. Daarom kan die kerklike tug nooit onpersoonlik en in abstracto toegepas word nie, maar altyd eers nadat daar ’n persoonlike gesprek gevoer is, nadat die dwalendes van hul dwaling probeer oortuig is. Kerklike tug moet altyd ’n streng persoonlike saak bly, gedra deur die Christelike liefde en die Christelike sorg vir die dwalendes. Eers as aan alles wat billik is, voldoen is, kan ’n kerkraad na waarheid tug toepas. Die Ring was van oordeel dat die kerkraad hier korrek opgetree het. Of die kerkraad se uiteindelike bevinding korrek is, is ’n ander vraag. Daaroor het die Ring hom tot dusver nog nie uitgespreek nie.

(3) Wat het die Ring gedoen?

Die Ring het die kerkraad se notule bestudeer en die kerkraad self lank en indringend ondervra. Daaruit het duidelik geword dat die kerkraad nie in verset teen die Algemene Sinode is nie. Hulle het bedoel om die Algemene Sinode se besluit uit te voer, maar het daarby op onoorkomelike moeilikhede gestuit. Dit blyk dat daar geen enkele lid van die C.l. in die kerkraad dien nie; ook geen toegeneentheid teenoor die Instituut of sy doelstellings by die kerkraad vasstelbaar is nie. Maar soos uit een mond getuig die kerkraad dat dit vir hom ’n gewetensaak is, dat hy nie tug op hierdie mense kan toepas nie, omdat die beskuldiginge wat in die besluit van die Algemene Sinode bevat is, klaarblyklik nie waar is van dié betrokkke (sic) lede van die Instituut wat in hul gemeente is nie. Altans, tot die oortuiging het die verweer van die betrokkenes die kerkraad gebring en hulle was nie in staat om aan te toon dat die verweer van hierdie lidmate vals is en dat daar duidelike Skrifgronde bestaan en duidelik bewese feite van dwaling in leer en lewe by die Instituutmanne wat, ondanks hulle verweer, om die tug roep nie.

Wat moes die Ring nou doen? Daar was verskillende moontlikhede:

(a) Die Ring kon die kerkraad bestraf het, omdat hy in die geheel ooit met hierdie mense gepraat het of hulle aangehoor het: hy moes hulle blindweg getug of as lidmate geskrap het. Dit kan ons nie doen nie. Dit sou benede-Christelik, benede-gereformeerd, selfs benede-menslik wees. Die kerkraad getuig immers dat hierdie mense van hulle beste lidmate is.

(b) Die Ring kon ’n pistool voor die kop van die kerkraad geplaas het en beveel het dat die besluit van die Sinode uitgevoer moet word. Maar dan sou dit beteken het dat ons die kerkraad wil forseer om teen sy eie gewete te handel óf om aan ’n bevel van die Ring ongehoorsaam te wees. Waarop dan seker skorsing van die hele kerkraad sou moes volg, nie waar nie? En watter mooi kerklike herrie het ons dan, met genoeg stof vir die hongerige koerante! Die Ring het gevoel dat ’n mens in die kerk tog nie só kan werk nie. Ons moet mekaar in die kerk probeer help, mekaar probeer oorreed en oortuig. Uiterste maatreëls kan in bepaalde gevalle selfs ’n goeie saak verongeluk.

(c) Die Ring kon die kerkraad daarop wys dat, hoewel hy respek het vir die feit dat die kerkraad probeer het om die Sinodale besluit uit te voer en hoewel die Ring respek het vir die erns waarmee die kerkraad daarby te werk gegaan het, hy tog nie ten volle die kerklike weg bewandel het nie. Die kerkraad kan nie maar net besluit dat hy om sy gewete ontwil nie ’n bepaalde besluit van die Sinode kan uitvoer nie. Hy moet ten minste verder as dit gaan om kerklike botsings te vermy. Hy moet ’n gravamen indien by die betrokke vergadering wat die besluit geneem het. Oor hierdie sake bestaan daar natuurlik geen bepalings in ons kerkorde nie. Tog is dit normale gereformeerde prosedure dat só gehandel moet word. Die Ring het gevolglik besluit om met die kerkraad ’n samespreking te hou ten einde die saak aan hulle te verduidelik en moontlike kerklike konflikte uit te skakel. Dit was ’n wyse besluit, bedoel om die spanning weg te neem, die hele saak op ’n meer persoonlike vlak te bring en die kerk oor ’n krisis heen te help wat tereg uniek in die geskiedenis van ons kerk genoem is.

(d) Die Ring kon daarby volstaan het, maar het gevoel dat hy iets meer moet doen. Dit het, naamlik, geblyk dat die kerkraad in sy poging om die besluit uit te voer, vasgehaak het op die punt waar hulle nie kon antwoord op die verweer van die lede van die C.I. nie. Dit is nie voldoende om te sê dat die Algemene Sinode se besluit tog gemotiveerd is nie, want juis die motiveringe is deur die lede van die Instituut in hul verweer punt vir punt behandel en – volgens die oordeel van die kerkraad – oortuigend weerlê. Die kerkraad moet dus gehelp word om ook te weet wat die agtergrond van die motiveringe is, sodat hulle oortuig kan word dat die argumente wat die C.I.-lede aanvoer, nie korrek is nie, of altans oortuigend weerspreek kan word met téénargumente uit die Skrif, die belydenis en die feite van die C.I. se optrede. Natuurlik kon die Ring self die Instituut gaan bestudeer het en die gegewens versamel het, óf hy kon die lede van die Instituut self voor hom geroep het en met hulle die saak beredeneer het. Maar die Ring het dit nie nodig geag nie. Die Algemene Sinode sal tog, as ’n gereformeerde kerkvergadering, nie so ’n sterk besluit geneem het sonder voldoende Skrifgronde en sonder om die saak deeglik te bestudeer, alle kante aan te hoor en tot ’n deeglik beredeneerde standpunt te kom nie. Die Ring kon dus met reg meen dat hy die agtergronde van die besluit van die Sinode wat juis hier van groot betekenis vir die kerkraad is, maklik van die Breë Moderatuur kan aanvra. Die bedoeling is nie nuwe gronde waarom die C.I. onaanvaarbaar is nie; die bedoeling is dat die studie wat agter die Sinodale besluite sit, aan kerkrade beskikbaar gestel moet word om hulle in staat te stel om die besluit te kan uitvoer sonder dat hulle weerspreek kan word. Dat die Breë Moderatuur nie bevoeg is om met Ringe te onderhandel nie, kon die Ring nie vermoed het nie, want dit was juis op aandrang van Ringe en selfs kerkrade dat die Breë Moderatuur hom die eerste keer oor die C.I. uitgespreek het. Die studie van die Algemene Sinode is nie vir kerkrade toeganklik soos dit tans is nie, maar sal dit tog vir die Breë Moderatuur wel wees. Hier behoort tog geen probleem te bestaan nie. En dit sal baie duidelikheid bring. As ’n kerkraad teen ’n Vrymesselaar optree, het hy ’n uitgewerkte rapport van die Sinode tot sy beskikking. Geen kerkraad hoef in sy tughandeling teen Vrymesselaars lamgelê te word deur ’n gebrek aan bewysgronde uit die Skrif en die praktyk van die Vrymesselary nie. Hy kan elke Vrymesselaar met vrymoedigheid te woord staan. Iets dergeliks ontbreek by die besluit oor die C.I. Dit bevat wel ’n konklusie, maar nie die gegewens waarop die konklusie gebaseer is nie. Dit is die kerkraad se probleem. Daarin wou die Ring graag help.

(4) Is dit verset van die Ring teen die Algemene Sinode?

Alleen kwaadwilligheid kan dit só interpreteer. Die besluit om die inligting aan te vra, is dan ook met ’n groot meerderheid geneem. Dit bevat geen ontkenning van die geldigheid van kerklike besluite nie. Nog minder is dit bedoel om die C.I. in beskerming te neem. Ek kan u die versekering gee dat ons in die Ring van Johannesburg hartlik moeg is vir die C.I. en diegene wat altyd weer sonder verposing die vuur om die C.I. aanblaas. Buitendien is dit ’n beweging wat binne die Ring van Johannesburg klaarblyklik geen invloed uitoefen nie. In my gemeente weet ek nie van ’n enkele lid van die C.I. nie en dieselfde geld waarskynlik van die meeste gemeentes in hierdie Ring. Ons is moeg daarvoor om kosbare dae en nagte af te staan vir Ringsake oor hierdie beweging, terwyl ons geestelike werk skade ly. Van enige lus om die C.I. te beskerm, kan daar, glo ek, geen sprake wees nie. Maar ons wil graag die kerk beskerm, die kerk wat ons liefhet, teen ’n manier van optrede wat kerkregtelik en geestelik verkeerd kan wees. Ons begeer niks anders nie as om kerklik en kerkregtelik op te tree. En ons wil nie graag daaroor beledig word of afgemaak word met ’n sitaat van wat Beyers Naudé in Amerika sou gesê het nie. Hoe is ’n kerkraad veronderstel om van so ’n uitspraak te weet? En gestel hy weet daarvan, hoe weet hy dat dié sitaat korrek gebruik is? En gestel dit is korrek, hoe kan hy optree op grond daarvan, sonder om die betrokke segsman daaroor aan te hoor? En gestel die segsman verweer homself met argumente uit die Skrif, hoe kan die kerkraad hom dan antwoord as hy nie self Skrifargumente het wat duidelik aantoon dat ’n man wat sulke dinge sê, homself buite die Koninkryk stel nie? Nee, dit is duidelik: hier sal ons die kerkrade moet help om klare wyn te skink. Ons kan hulle nie op die hoogs verantwoordelike weg van die kerklike tug stuur met sitate wat hulle nie ken nie en wat hulle nie kan kontroleer nie. Veral kan ons nie sê dat hulle voorlopig maar moet handel op grond van sulke sitate en dat dan agterna eers oor Skrifgronde gepraat kan word nie. Ons is tog die kerk van Jesus Christus. Ons erken as die enigste gesag agter alle kerklike handelinge die gesag van die Woord van God. As ons in die Naam van Christus ’n kerkraad gaan dwing om mense uit die Koninkryk uit te sluit, moet ons die keiharde Woord van God onder hulle voete kan plaas.

Ek kan nie insien waarom hierdie versoek ons ten kwade gedui moet word nie. Ek kan nie insien waarom die redakteur meen dat ons ons posisie in heroorweging moet neem nie. Ek glo dat die Ring van Johannesburg in die grootste verantwoordelikheid opgetree het in die beste belang van die kerk, in die grootste en hoogste lojaliteit teenoor die kerk en met die doel om vrede te probeer bewaar in ’n moeilike situasie wat maklik hande kan uitruk tot nadeel van kerk sowel as Koninkryk.

[1. As dit verkeerd was ons die saak in ons redaksionele kolomme te bespreek, waarom oortref ons korrespondent die vreemde presedent in die navolging daarvan? Maar hy hoef nie ontsteld te wees nie. Sy teregwysing moet nader tuis gerig word, want uit die Ring self is ’n interpretasie van die Ringsbesluit aan die pers gegee. Dis ook nie die eerste maal dat so iets in daardie Ring gebeur nie. En daarmee is dit nie meer ’n suiwer huishoudelike saak vir die Ring, nie.

  1. Die bespreking van ’n saak wat nog voor ’n kerklike vergadering moet dien, is hoegenaamd nie vreemd in die kerk nie. ’n Professor in die kerkreg het self vier jaar gelede in ’n dagblad deelgeneem aan die polemiek oor ’n predikant se behoud van status vóórdat die saak deur die verantwoordelike kerklike instansie behandel is. En moet dr. Jonker nie liewer daar in sy Ring vermanings uitdeel teenoor C.I.-lede wat ’n klag aan die pers oorhandig nog voordat die betrokke Ring of die beklaagde iets daarvan weet nie? Praat van prosedure!
  2. Is dr. Jonker kwaad oor “leiding” aan die kerk? Dis nie ons wat leiding opdring nie. Laat hom egter bedink of die kerk nie groter waag met die verantwoordelikheid op ’n kanselprediker in ’n bepaalde gemeente as in die geval van ’n redakteur wat elke week met sy artikel, swart op wit, voor die hele wêreld kom nie. En het hy nie self as actuarius van die Transvaalse Sinode amptelik adviese gegee nie? Was dit ook “ volbloed-pouslik”?
  3. Ons handhaaf wat ons geskryf het. En ons begeer, net soos dr. Jonker, dat die kerk nie onverdiend belaglik gemaak moet word nie. – Red.]

WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker in Die Kerkbode, c(4), 26 Julie 1967, 135/6]