Getuig met Woord en Daad

Getuig met Woord en Daad

Die gemeente van Christus het in hierdie wêreld eintlik net één taak: om te getuig van Hom wat hulle uit die duisternis geroep het na die wonderbare lig (1 Petrus 2:9). As Christus Sy dissipels by geleentheid van Sy hemelvaart uitstuur in die ganse wye wêreld in, dan gee Hy aan hulle die opdrag om van Hom te gaan getuig en dissipels te maak van al die nasies (Matteus 28:19); om Sy getuienis te wees in Jerusalem sowel as in Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde (Handelinge 1:8). Dáárvoor gee Hy aan hulle die toerusting van die Heilige Gees.

Die gemeente is alleen dán werklik gemeente van Christus, as dit ’n getuigende gemeente is. Die gemeente is daar vir die wêreld om in die wêreld te gaan spreek van die heerlikheid van Gods genade wat in Christus geopenbaar is. Dit is, sê ons, die enigste taak van die gemeente. Die kerk moet hom bepaal tot sy getuienisfunksie in hierdie wêreld: daarby staan en val die kerk as kerk.

Maar … die getuienis wat die kerk moet lewer, is ’n getuienis deur woord én daad. Dit is duidelik dat dit ook met Christus self so was. Ons lees van Hom dat Hy in al die stede en dorpe rondgegaan het in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig het (Matteus 9:35). Christus het dus gepreek. Hy het die Woord verkondig. Dit was Sy groot handeling in al die stede en dorpe. Maar dit het nie daarby gebly nie. In die aangehaalde vers is daar geen punt agter die mededeling dat Christus die evangelie verkondig het nie. Die sin lees eenvoudig verder: “en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees.”

Die prediking van Christus dat die koninkryk van die hemele naby gekom het, is bevestig met die teken, met die dáád van die genesing van siekes, waaruit dit duidelik was vir almal dat die koninkryk werklik naby gekom het. Die koninkryk breek deur in wat daar gedoen word, ewe goed as in wat daar gesê word. Ons lees dan ook dat die Emmaüsgangers van Christus getuig het dat Hy ’n profeet was, kragtig in woord en werk voor God en die hele volk (Lukas 24:19). Christus se getuienis aangaande die genade van God was óók ’n getuienis met die dáád van barmhartigheid en liefde. Die nood van die skares wat Hom omring het, het Hom diep in die hart gegryp. En dan nie maar net die nood van die siele nie, nee, die nood van die hele mens.

Ons lees in Matteus 9:36 dat Christus innig jammer gevoel het vir die skare, omdat hulle moeg en uitgeput was. Moet dit tog asseblief nie vergeestelik, asof dit geestelike vermoeidheid sou wees nie! Christus is geroer deur die liggaamlike moegheid en lyding van die mensheid, dáárom het Hy twee keer die skares gevoed, dáárom het Hy hulle krankes genees. Christus strek nie net sy hand uit na die siele van die mense nie, maar na die hele mens. Sy werk het kosmiese betekenis, dit is: betekenis vir die hele wêreld met alles wat dit inhou, geestelik en stoflik. Sy triomf gaan óók oor die liggaamlike nood van mense. Sy Koninkryk sal eenmaal ook die stoflike nood insluit. Daarom getuig Hy met woord en daad.

Dat Christus dit ook van Sy dissipels verwag het, is duidelik uit ’n gedeelte soos Matteus 10:7-8. Daar lees ons van die uitsending van die twaalf apostels. Christus gee aan hulle opdrag om te gaan preek. Dit is die eerste en die vernaamste. Maar hy voeg dadelik daaraan toe, “Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit.” Christus laat sy apostels nie toe om net maar met die woord te verkondig en die skreeuende liggaamlike nood van die mense onaangeroerd te laat voortduur nie.

Dit is die boodskap van die hele Nuwe Testament. Die apostel Jacobus het dit veral sy taak gemaak om aan te toon dat die woord sonder die daad dóód is en sonder enige betekenis. Die daad moet die egtheid van die woord, en daarin dan ook die egtheid van ons getuienis dat ons glo, bewys. Die geloof sonder die werke is van nul en gener waarde (Jakobus 2:14-26). Jakobus betrek dit veral op die broeder wat gebrek het aan klere of daaglikse voedsel. Van so iemand mag die gelowige hom nooit met ’n vrome woordjie afmaak nie. Dan bewys hy dat sy geloof leeg is. Die geloof – dit leer ons ook al weer by Paulus – moet sy egtheid bewys deurdat dit deur die liefde werk (Galasiërs 5:6). Die sterk aksent wat die Nuwe Testament op die onontbeerlikheid van die liefde lê, vind sy grond dáárin, dat die liefde die vrug van die geloof moet wees as die geloof tenminste eg is. Uit I Korintiërs 13 is dit duidelik dat selfs religieuse ekstase (spreek in tale van mense en engele), dat selfs geweldige godsdienstige kennis en profetiese gawes, vérgaande filantropiese dade of magtige oefeninge van die geloof alles niks is sonder die liefde nie.

Dit alles word aangrypend duidelik uit Matteus 25: 31-46, waarin Christus meedeel dat dit in die laaste oordeel sal gaan oor die werke: die werke van liefde wat verrig is teenoor die ellendiges en armes, die gevangenis en die vreemdelinge. Daar word dit dan duidelik dat die egtheid van die geloof getoets word aan sy vrugte. As die vrug ontbreek, was die geloof nooit egte geloof nie, in elk geval geen saligmakende geloof nie. As dit ooit êrens duidelik is, dan is dit hier in Matteus 25 duidelik dat geloof en daad ’n onverbreekbare eenheid vorm én dat die inhoud van die daad wat uit die geloof voortvloei, die liefde, die ontferming, die barmhartigheid is.

Die liefdesdiens van die gelowiges dra dikwels ’n persoonlike karakter. In hulle omgang met ander mense vind hulle duisendmaal aanleiding daartoe om te gee, te dien, te help, op sodanige wyse dat hulle linkerhand nie eers weet wat hulle regterhand doen nie. Die liefde open ’n mens se oog om raak te sien wáár die nood is en hoe de nood gelenig kan word – ’n eensame wat besoek kan word, ’n moedelose wat bemoedig kan word ’n behoeftige wat geklee kan word, ’n vreemdeling wat ontvang kan word. Daar is ’n onberekenbare groot variasie in die vorme wat die persoonlike getuienis met die daad daagliks kan aanneem. Tog is dit ook noodsaaklik dat die gemeente op ’n georganiseerde wyse en as ’n geheel besig sal wees met hierdie daad-getuienis. Dit geskied in die arbeid van die diakens en die diens van barmhartigheid wat uitgaan van die susters hulpdiens of van die verenigings van lidmate.

Soos wat die profetiese amp aan alle gelowiges gegee is, maar tog as’t ware saamgebundel word in die amp van die bedienaar van die Woord; soos die koninklike amp aan alle gelowiges gegee is, maar tog saam gebundel word in die amp van die ouderling, so is die priesterlike amp aan alle gelowiges gegee, maar dit ontvang sy samebundeling in die amp van diaken wat in die eerste instansie daar is om hierdie daad-getuienis van die gemeente te stimuleer en te koördineer, sodat die gemeente gesamentlik soveel meer kan doen as wat vir die gelowiges afsonderlik moontlik sou wees.

Die gevaar is dat ons die werk van die leraar en die van die ouderling as tipies kerklike werksaamhede sal sien, maar die werk van die diaken as ’n soort aanhangsel wat eintlik nie met die hartaar van die gemeentelike lewe in verband staan nie. Dit is ten ene male foutief om dit so te sien, want die werk van die diaken verteenwoordig die dáád-getuienis wat die noodsaaklike uitvloeisel en vrug is van die wóórd-getuienis van die kerk. In hierdie sin genome is die diakenswerk net so fundamenteel vir die kerk as die werk van die leraar of die ouderling. Dit is dan ook duidelik dat die diens van barmhartigheid nie maar ‘n los aanhangsel by die “eintlike” werk van die kerk is nie, maar ’n integrale deel van die taak van die kerk in die wêreld en daarom verwant aan en verbonde met alle aspekte van die werk van die kerk.

Die liefdesdiens van die gemeente is ’n grondgestalte van sy getuienis op die terrein van die sending en die evangelisasie. Daarom het die kerke ook sedert jaar en dag altyd in die sendingveld ook die sendingskool, maar veral die sendinghospitaal, opgerig. Dit was nie maar dinge wat as ’n soort lokaas kon dien nie; dit was fundamentele dinge wat voortgevloei het uit die prediking van die kerk. Die kerk kan tog nie met ’n koninkrykswoord na mense toe kom, sonder om dit te bevestig met ’n koninkryksdaad nie. Daarom moet die kerk ook op die vlak van die Evangelisasie en sy hulp aan diegene wat in allerlei sondes verval het, gereed wees om tehuise vir ongehude moeders, opvangsoorde vir rondlopers en dergelike meer daar te stel. Ons kan nie meen om met mense oor hulle “onsterflike siele” te onderhandel, terwyl hulle liggaamlike en psigiese en maatskaplike nood ons koud laat nie. Ons kan nie aan die sosiale nood van mense verbygaan asof dit nie bestaan nie, of net maar sê: Gaan heen, word warm, word versadig, maar ons gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie (Jakobus 2:16). Ons mag nie prediking en diens van barmhartigheid, evangelisasie en diens van barmhartigheid, of sending en diens van barmhartigheid van mekaar skei nie. Die prediking van die koninkryk is een ondeelbare daad waarby die getuienis met die daad wel tweede in orde, maar nie van minder betekenis is nie. Die kerk kan net so min werklik kerk wees sonder die diens van barmhartigheid as wat hy kerk kan wees sonder sending en evangelisasie.

Maar is dit nou nie presies wat mense deesdae met ’n skelwoord “social gospel” noem nie? Nee. Dit het daarmee niks te make nie. Dit is eenvoudig wat die Bybel van ons vra. Wie dit ontken, weet óf nie wat die “social gospel” werklik beteken nie, óf hy verstaan nie die Bybel nie en hy vergeet boonop dat hy dan die hele armesorgaksie van die Ned. Geref. Kerk tot “social gospel” moet veroordeel. Afgesien van alles wat die Ned. Geref. Kerk deur die jare gedoen het aan georganiseerde diens van barmhartigheid, het hy hom indringend ingelaat met die maatskaplike nood van die Afrikanervolk, soos bv. die armblankevraagstuk, die ontvolking van die platteland, die nood van ons mense in die stad, die nood van die Afrikaner-huisgesin en dergelike meer – te veel om op te noem. En op die terrein van die sending het die kerk die sendingskool, met die sendinghospitaal, kinder-bewaarskole, met baie ander aksies waardeur aandag gegee is aan die sosiale nood van die mense onder wie gearbei is. Die kerk het nie daarmee “social gospel” bedryf nie. Die kerk daarmee probeer doen wat die evangelie van hom vra: om om te sien na die nood van die skares.

Dit sou “social gospel” gewees het as die kerk niks anders as dit gedoen het nie, as die kerk sy dáád van barmhartigheid van die prediking sou losgemaak het, as die kerk sy daad-getuienis gegee het sonder die Woord-getuienis waardeur die daad-getuienis eintlik eers sin en betekenis kry. Dit sou “social gospel” gewees het as die kerk nie meer verstaan het dat die redding van die mense se siele die vernaamste ding is nie, en gaan handel het asof die verbetering van hulle lewensomstadighede op aarde die grootste doel van sy optrede is.

Dit sou fataal gewees het as die kerk se getuienis nie meer ‘n getuienis aangaande Jesus was nie – óók in sy dáád van liefde – maar ’n blote menslike goeddoenery waarby die ewige heil minder aksent kry as die aardse heil en die vergiffenis van sondes minder aksent as die verbetering van mense se inkomste of die gehalte van hulle daaglikse dieet. Dit sou fataal gewees het as die kerk se getuienis eintlik nie meer getuienis van die koninkryk was nie, maar ’n getuienis aangaande die goeie mens wat vir ander op aarde ook ’n goeie lewe gun. Dit alles kan egter nie van die diens van die kerk gesê word nie. Solank dit nie gesê kan word nie, het die optrede van die kerk niks met die “social gospel” te make nie. Want met sy daad van liefde probeer die kerk nie die woord van sy getuienis vervang nie; met sy hulp in die maatskaplike en liggaamlike nood bedoel die kerk nie om die aardse lewe te verhef tot die eintlike lewe nie. Die kerk bedoel maar daarmee om, tesame met die “troosryke woorde uit die Heilige Skrif”, te verkondig dat die evangelie ook betekenis het vir die liefde tussen mense hier en nou. Die kerk wil met sy liefdesdiens alleen die Woord wat hy verkondig, bevestig. Die kerk wil met sy liefdesdiens wandel in die voetspore van die Here van die kerk wat kragtig was in woord én werk voor God en die hele volk en wat homself in sy volmaakte liefdesdiens gegee het in die uiterste dáád van die liefde aan die kruis.

Nie verniet het die kerk daarom ’n amp spesiaal vir die diens van barmhartigheid nie. Die taak was reeds ingesluit in die amp van die apostels, soos ons uit Handelinge 6 duidelik kan leer. Die taak het aanleiding gegee tot die instelling van die eerste ampsdraers, naas die apostels, in die vroeë gemeente, soos ons ook uit Handelinge 6 kan leer. Die taak kom telkens na vore as die gawes wat aan die gemeente gegee is, opgesom word (Romeine 12:4-8). Aan die taak word heelwat tyd en plek afgestaan in die sogenaamde “herderlike briewe” (vgl. I Timoteüs 3:8 e.v.). Die kerk kan nie sonder die amp werklik funksioneer in ooreenstemming met die Skrif nie. Die amp van die diaken vervul ’n rol wart tot die wesenlike funksies van die kerk gereken moet word.

As die kerk in hierdie wêreld werklik kerk wil wees, is hy verplig om ’n ope oog te hê vir die liggaamlike en psigiese en maatskaplike nood van die skares. Ons mag nie maar gerus gaan slaap as ons genoeg te ete gehad het, maar miljoene bly ondervoed nie. Ons mag nie maar gerus gaan slaap as ons in allerlei weelde verkeer, maar ons buurman worstel om liggaam en siel aan mekaar te hou nie. Ons moet iets van die ontferming van Christus deelagtig word en daarom ook in die spore van die Heiland gaan wandel. Dan getuig ons met woord en daad.

WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker in Die Voorligter, vol xxx(9), Augustus 1967, 12]