Volkskerk of Belydende Gemeente?
(Enkele gedagtes oor die verskil tussen Luther en Calvyn met betrekking tot die vraag na die regering van die kerk.)
Dat daar van die begin af in die praktyk ‘n geweldige groot verskil tussen die kerkregering van die Lutherse Kerk en die van die Gereformeerde Kerke ontwikkel het, is ‘n algemeen bekende feit. Die Lutherse Kerke het immers al spoedig ná die eerste deurbraak van die Reformasie die regering van die kerk oorgedra aan die verskillende landsregeerders. Dit was ‘n noodsprong op ‘n tydstip toe die saak van die Reformasie gevaar geloop het om skipbreuk te ly, tensy daar ‘n kragtige hand was wat orde op sake kon stel en kon doen wat die Roomse biskoppe eintlik sou moes doen as hulle met die Reformasie meegegaan het. Omdat sulke kragtige hande egter ontbreek het, het Luther geen ender uitweg gesien as om die landsvorste voorlopig as “noodbiskoppe” met die regering van die kerk te vertrou nie. Hierdie stap was van onberekenbare gewig vir die hele gang van die kerkregtelike ontwikkeling in Duitsland. Wat as ‘n voorlopige reeling bedoel was, het permanent geword en die Lutherse Kerk opgesaal met die sg. landsvorstelike stelsel van kerkregering wat tot in die negentiende eeu, en in sommige opsigte selfs tot in die twintigste eeu (1918), voortgeduur het, sodat die Lutherse Kerke nooit werklik ‘n eie, kerklike stelsel van kerkregeringe kon ontwikkel nie. Daarteenoor is dit net so bekend dat die Gereformeerde Kerke van die begin af op voetspoor van Calvyn ‘n eie, Skriftuurlik-gefundeerde stelsel van kerkregering ontwerp en in toepassing gebring het.
Hierdie ontwikkeling in die praktyk het meermale daartoe gelei dat daar gemaak gewag gemaak is van geweldige verskille tussen die opvattinge van Luther en Calvyn oor die kerkregering.[1] Al na gelang van die vraag of die ondersoeker van Lutherse of gereformeerde oortuiging was, het sodanige oorweging van die verskille tussen Luther en Calvyn dan óf in die guns van Luther óf in dié van Calvyn uitgeval. Van Lutherse kant word graag beklemtoon dat Luther nie soos Calvyn leidrade vir die regering van die kerk uit die Skrif wou aflei nie, omdat dit van die Skrif ‘n wette-kodeks sou maak waaruit voorskrifte vir alles en nog wat afgelees kan word – ‘n gevaar wat Calvyn nie sou raakgesien het nie. Of daar word gewys op Luther se polemiek teen die Roomse aansprake daarop dat die kerk kragtens Goddelike reg regeer word (jus divinum), waaruit dan afgelei word dat Calvyn hier in Roomse vaarwater beland het, aangesien ook hy die regering van die kerk op die jus divinum sou opgebou het, met die gevolg dat die inrigting van die kerk ook vir Calvyn deel van die geloofsinhoud van die kerk geword het, sodat die ware kerk aan sy uiterlike organisasie kenbaar sou wees. Of daar word nog verder beweer dat Luther die kerk suiwer reformatories verstaan het as die onsigbare gemeenskap van ware gelowiges waaroor Christus alleen regeer en wat sal voortbestaan afgesien van die uiterlike inrigting van die kerk, wat tog maar ‘n onverskillige saak is, terwyl Calvyn ‘n stuk Roomse suurdeeg behou het in sy beklemtoning van die sigbare kerk en sy identifisering van die sigbare en onsigbare kerk. Daar is selfs beweer (Rudolph Sohm) dat Luther die hele idee van ‘n uiterlike regsorganisasie vir die kerk as in direkte teenstelling tot die wese van die kerk gesien het en só kop en skouers bokant Calvyn gestaan het, wat nie dieselfde diepte van insig in die wese van die kerk sou gehad het nie. En, les bes, is daar diegene wat beweer dat Luther soveel op die lewende Woord van God vertrou het, dat hy dit aan die Woord alleen wou oorlaat om die juiste orde in die gemeente te skep en dus nie, soos Calvyn, met menslike wette in die regering van die Woord wou ingryp nie.
Dit is bekend dat ondersoekers van gereformeerde oortuiging die skaal na die ander kant laat oorslaan deur gewag te maak van Luther se gebrek aan konsekwensie, sy gebrek aan organisasietalent, sy vervlugtiging van die kerk in die onsigbare, sy onwil om die gelowiges werklik as mondige gelowiges te beskou wat deel mag neem aan die regering van die kerk en sy fatale aksent op die kerk as ‘n preek-instituut waarby alles aankom op die vraag of daar maar reg gepréék word, nie op die vraag hoe die organisasie daar uitsien nie.[2]
Wanneer ‘n mens egter reg laat wedervaar aan albei kante van die saak, blyk dit al spoedig dat die teologiese verskille tussen Luther en Calvyn ook ten opsigte van die vraag na die kerkregering nie so groot was as wat die praktyk sou laat vermoed nie. Dit is wel waar dat daar bepaalde teologiese verskille tussen hulle bestaan het, waarvan die konsekwensies ook op die terrein van die kerkreg voelbaar is. Iets van die bogenoemde verskille is dan ook waar. Maar so erg as wat dit dikwels gemaak word, is dit darem nie. Die jongste studies oor die teologie van Luther bevestig dit oor en oor dat hy nie ongeïnteresseerd was in die vraag na die regering van die kerk nie, al het sy praktiese omstandighede, sy temperament en die eienaardige sameloop van omstandighede hom uiteindelik in ‘n rigting gedwing wat ten diepste nie in ooreenstemming was met sy eie opvattinge oor die inrigting van die kerk nie. Dit is jammer dat Luther meestal net geelentheidsgeskrifte (sic) die lig laat sien het en dat hy nie, soos Calvyn, ‘n sistematiese uiteensetting van sy insigte in die leer van die Skrif oor die kerk en sy inrigting agtergelaat het nie. Indien dit gebeur het, sou dit ongetwyfeld geblyk het dat daar, in weerwil van verskillende aksente wat Luther en Calvyn in hulle teologiese denke gelê het, ‘n verregaande ooreenkoms tussen hulle opvattinge was, ook met betrekking tot die kerkreg.[3]
Die jongste studies oor die teologie van Luther maak dit bv. baie duidelik dat dit nie waar is dat Luther alle orde in die gemeente maar net aan die Woord van God wou oorlaat, en dat hy dit as prinsipieel verkeerd sou beskou het om aan die ware kerk, wat dan net onsigbaar sou wees, ‘n bepaalde uiterlike orde te gee wat in ooreenstemming niet die Skrif is nie. Luther vind, ewe goed as Calvyn, in die Skrif aanwysinge vir die regering van die kerk. Hy ag dit selfs noodsaaklik dat dergelike aanwysinge as jus divinum gesien en in die inrigting van die kerk in toepassing gebring moet word. Wanneer Luther teen die jus divinum-aansprake van die Rooms-Katolieke Kerk polemiseer, dan is dit nie sy bedoeling om te ontken dat die kerk ‘n orde kan hê wat uit die Goddelike reg opkom nie, maar dan betwis hy die reg van die Roomse Kerk om vir sy wette Goddelike gesag op te eis, terwyl hulle nie uit die Woord van God afgelei is nie .[4] Luther en die Lutherse belydenisskrifte maak herhaaldelik daarop aanspraak dat daar in die Skrif sekere elemente vir die inrigting van die kerk gegee is en dat dergelike elemente kragtens Goddelike reg in die inrigting van die kerk onderhou moet word. As sulke elemente word dan genoem: dat daar in die kerk ‘n amp moet wees wat die Woord verkondig en die sakramente bedien; dat daar in die kerk absolusie gegee moet word; dat die kerklike tug gehandhaaf moet word; dat die ware leer gehandhaaf moet word en die valse leer uit die kerk geweer moet word; dat alle gelowiges priesters is en dus wesenlik gelyk is; dat alle ampsdraers gelyk is; dat die gelowiges hulle moet onderwerp aan die geestelike amp wat deur Christus ingestel is, ens.[5] Dit is dan ook nie waar dat Luther net by die onsigbare kerk wou bly staan nie. Die kerk is vir hom, soos trouens ook vir Calvyn, na sy diepste wese wel onsigbaar, maar die kerk kan nie onsigbaar bly nie, want oral waar die Woord suiwer verkondig en die sakramente bedien word, sal daar altyd ‘n skare van gelowiges vergader word, aangesien die bediening van die Woord en sakrament nie sonder vrug kan bly nie.[6] Die kerk is vir Luther, net soos vir Calvyn, die moeder van die gelowiges[7] wat voortdurend lewe skenk aan lidmate van Christus. Die kerk is dan ook nie slegs sigbaar in die openbare handelinge van die prediking en die sakramentsbediening nie, maar ook in die vergadering van gelowiges wat nie verborge kan bly nie. Die feit dat Luther bely het dat alle gelowiges konings en priestess is, in staat om te regeer en mekaar te dien, het dit noodsaaklik gemaak dat hy hom ook oor die orde van die kerk moes uitspreek.[8] Ons kan op grond van die feite nie anders konkludeer as dat Luther en Calvyn albei geglo het dat die Skrif duidelike riglyne vir die regering van die kerk bevat en dat die kerk daardie riglyne behoort op te volg nie.[9] Dat daar selfs ‘n groot mate van ooreenstemming in hulle interpretasie van die Skrifgegewens oor die inrigting van die kerk bestaan het, sal ons nou kortliks probeer aantoon.
(a) Die regering van Christus in die kerk
Albei reformatore is dit daaroor eens dat Christus alleen die Hoof van Sy kerk op aarde is en dus alleen oor die kerk mag regeer.[10] In Luther se polemiek teen Rome kom dit duidelik uit: as Christus die Hoof van die kerk is, kan geen mens dit wees nie.[11] Christus is Hoof van die onsigbare én die sigbare kerk tegelyk.[12] Albei reformatore is dit ook daaroor eens dat Christus oor die kerk regeer deur Sy Woord en Gees. Waar die evangelie suiwer verkondig word, hoor die gemeente Christus self. Niemand anders het gesag om iets toe te voeg aan die evangeliewoord en ander gebooie en insettinge aan die gemeente voor te hou as wat in die Woord van God gegee is nie. Alle gesag wat ampsdraers in die kerk mag besit, rus daarin dat hulle aan die Woord onderworpe bly en deur die suiwer prediking van die Woord Christus self oor die gemeente laat regeer. Waar dit nie gebeur nie, het die ampte geen gesag nie en is niemand verskuldig om aan hulle gehoorsaamheid te betoon nie, want alle gesag in die kerk berus by Christus alleen en by Sy Woord.[13] Op hierdie punt is daar tussen Luther en Calvyn die grootste moontlike ooreenstemming.
(b) Die gesag van die plaaslike kerke
Albei reformatore is dit ook dáároor eens, dat die kerk dáár is waar die gelowiges om die Woord van God versamel is en dat die ganse regeermag van die kerk, met al die gesag wat dit kan dra, daar uitgeoefen kan word, omdat Christus daar in hul midde regeer deur Sy Woord. Elke vergadering van gelowiges is kerk in die volle sin van die woord en is gevolglik bevoeg om alles te doen wat die evangelie die kerk gebied om te doen.[14] As Luther die kenmerke van die kerk opnoem, dan is dit, net soos by Calvyn, kenmerke wat op die plaaslike kerk betrekking het.[15] Luther verwag dan ook van die plaaslike gemeente om die leer te beoordeel, valse leringe teen te staan, die sakramente suiwer te hou, leraars wat die leer vervals, af te sit en ander in hulle plek aan te stel, ens.[16] Die gemeente is bevoeg om te kies wie hulle as leraar wil hê en geen leraar mag teen hulle sin aan hulle opgedring word nie.[17] Hy beroep hom hier uitdruklik op Hand. 6. Aan die gemeente is die sleutelmag toevertrou, nie aan die pous nie; soos dit ook claves Ecclesiae heet, en nie claves Papae nie.[18]
Wat later as die selfstandigheid of die volledigheid van die plaaslike gemeente bekend geword het, is van die begin af deur Luther raakgesien. Hy spreek dan ook meestal oor “Christliche Kirchen” in die meervoud as by na die wordende Evangeliese Kerk in Duitsland verwys.[19] In die voorwoord by die Deutsche Messe verklaar hy dat dit nie die bedoeling is om hierdie godsdiensorde van Wittenberg aan die ander gemeentes op te dring nie, aangesien dit juis die voorreg en plig van elke gemeente is om die reformasie in eie midde deur te voer.[20] Indien Luther hierdie beginsel in die praktyk meer tot sy reg kon laat kom het, sou die Reformasie in Duitsland anders verloop het. ‘n Tyd lank het hy ook werklik ernstige oorweging geskenk aan die plan om op elke plek ‘n selfstandige gemeente te laat konstitueer, bestaande uit al die “ernstige Christene”. Ons moet onthou dat Luther in die situasie van die volkskerk gestaan het. Indien hy sulke gemeentes van ernstige Christene in die lewe kon roep, sou dit ‘n skeiding gemaak het tussen die groot massa wat alleen in naam aan die kerk behoort, en die egte gelowiges.[21] Luther dink selfs aan die moontlikheid om binne die raamwerk van die groot volkskerk klein groepies van ernstige Christene te versamel wat ecclesiolae in ecclesia kan vorm met eie godsdiensoefeninge naas die vir die gewone volk, egter sonder om hulle los te maak van die breë volkskerk. Langs dié weg kan daar dan langsamerhand egte belydende gemeentes ontstaan.[22] Dit is dus duidelik dat Luther, net soos Calvyn, besef het dat die egte Skriftuurlike vorm van kerkregering altyd van die selfstandige plaaslike gemeente as ‘n belydende gemeente moet uitgaan.
Twee dinge het Luther egter in die weg gestaan by die praktiese uitwerking van hierdie Bybelse siening. Enersyds het hy verklaar dat die tyd vir die vorming van belydende gemeentes nog nie ryp is nie, omdat die geskikte persone daarvoor nog ontbreek.[23] Andersyds het Luther se vrees vir sektevorming hom daarvan teruggehou. Sou hy nie die Wederdopers gelyk gee as hy, net soos hulle, ‘n gemeentetjie van ware gelowiges uit die volkskerk wil uitpel nie?[24] Hy verklaar êrens dat hy nie veel mense sien wat geskik sou wees om so ‘n ware gemeente te vorm nie en dat hy self nie daarby sal kan aansluit nie vanweë die vele sondes wat hom nog aankleef.[25] Wie egter nader toekyk, merk dat daar by Luther ‘n derde motief meespreek: die onwil om die volkskerk prys te gee. Luther kon nie daarvan dink om die gedoopte massas prys te gee nie.[26] Veel insig is nie nodig om vas te stel dat Luther se redenasie, dat die vorming van belydende gemeentes in ‘n doperse rigting sou beweeg, van alle grond ontbloot is nie. Dit is vreemd dat hy kan redeneer dat hy self nie by so ‘n gemeente sou tuis hoort nie. Ons vind hier ‘n eienaardige inkonsekwensie in Luther se denke, omdat hy enersyds vanuit die belydenis van die regverdiging deur die geloof alleen te velde trek teen die prysgawe van die volkskerk, en andersyds juis vergeet dat die belydenis van die regverdiging deur die geloof alleen die grond vorm vir die bestaan van gemeentes van sondaars wat Christus as die Here bely, ook al is hulle subjektief nie sulke “ernstige Christene” as wat hy blykbaar in gedagte het nie.[27]
Hoe dit ook sy, die onwilligheid om die volkskerk prys te gee, is daarvoor verantwoordelik dat Luther nooit die stap van die parogie na die gemeente wou onderneem nie.[28] Hoe mooi Luther teologies ook al die selfstandigheid van die plaaslike gemeente verdedig het, in die praktyk het hy nie die Woord genoeg vertrou om gelowiges op te wek wat met die Woord in die hand kon meedoen aan die regering van die kerk nie. Hy het die tyd nog nie ryp geag vir so iets nie. As daar maar bekwame predikers aangestel kon word wat oral goed kon preek, dan sal alles later wel regkom …[29] Ons weer egter dat dit toe nooit meer kón regkom nie.
(c) Die kerklike ampte
Hoewel Luther van die begin af beklemtoon dat alle gelowiges konings en priestess is en dus almal die reg het om die Woord en die sakramente te bedien, sodat dit bloot ‘n kwessie van orde is dat sommige afgesonder word om dit namens die hale gemeente te doen[30] beteken dit tog ook nie dat die besondere ampte deur die gelowiges gestig word en slegs die gemeente verteenwoordig nie. Net soos Calvyn beklemtoon ook hy dat die amp deur Christus ingestel is en Christus as ‘t ware by die gemeente verteenwoordig.[31] Veel verskil is daar ook op hierdie punt nie tussen die twee groot hervormers nie.
Maar ook wat die getal van die ampte betref, is dit merkwaardig dat terwyl die Lutherse Kerke in die praktyk net één amp teenoor die Calvinistiese vier ampte ken, Luther wel deeglik met die instelling van meerdere ampte in die kerk rekening gebou het. Reeds in 1522/23 preek hy oor die wenslikheid van die instelling van die diakensamp.[32] In 1530 herhaal hy dat daar diakens in die kerk behoort te wees ten einde die armes te versorg.[33] En dat Luther ook in die rigting van die gereformeerde ouderling gedink het, blyk nie alleen uit soortgelyke gedagtes by Melanchton en veral Bugenhagen nie,[34] maar ook uit die oproep van die vier Saksiese reformatore (waaronder Luther) aan die Nürnbergse predikante om in elke gemeente presbiters aan te stel vir die handhawing van die tug.[35] Self keur Luther die Hessiese kerkorde met sy voorsiening vir die opsienersamp goed, en hy spreek dit in 1541 uit dat dit nie goed is as die tug in die gemeente by die leraar alleen berus nie.[36]
Net soos Calvyn beklemtoon Luther ook die gelykheid van alle ampsdraers. Al spreek Luther dikwels oor biskoppe, dit is duidelik dat ‘n biskop vir hom ‘n bedienaar van die Woord is en dat alle bedienaars van die Woord gelyk is.[37] Christus alleen is die Hoof van Sy kerk en alle ampsdraers is dienaars onder mekaar.[38] Fel bestry hy die hiërargiese episkopaat van Rome. Dit is wel waar dat Luther veel meer as Calvyn gevoel het vir ‘n persoonlike toesig in die kerk (eerder as vir ‘n toesig deur vergaderinge), maar vir hom was hierdie opsienerswerk nooit verbonde aan ‘n bepaalde waardigheid nie, maar net ‘n blote taak wat nie die gelykheid van die ampte in die gedrang bring nie.[39]
(d) Kerklike vergaderinge
Hoewel Luther terdeë beklemtoon het dat die ampsdraers in hulle regering van die kerk steeds deur die gemeente gekontroleer behoort te word,[40] het hy tog nooit veel waarde geheg aan die idee dat die kerklike regering aan vergaderinge toevertrou moet word, soos wat die geval by Calvyn was nie. Weliswaar het hy aanvanklik veel verwag van ‘n algemene konsilie waarop leerstellige sake bespreek kon word,[41] maar sy wantroue groei hoe langer hoe meer teen dergelike vergaderinge namate sy studie van die geskiedenis van die konsilies hom daarvan oortuig dat die konsilies op baie punte gedwaal het.[42] Die gevolg daarvan was dat Luther in 1526 die Hombergse kerkorde, wat feitlik in alle opsigte ‘n goeie weergawe van sy eie opvattinge oor die inrigting van die kerk bevat het, van die hand gewys het.
Die Hombergse kerkorde kan in meer as een opsig ‘n voorloper van die gereformeerde kerkordes heet. Weliswaar ontbreek die presbiteriale element daarin (hoewel daar tog verskillende kere van “oudstes” sprake is), maar die sinodale element is volledig daarin uitgewerk.[43] Die doel van die kerkorde is om belydende gemeentes wat duidelik onderskeie is van die groot massa van die volkskerk, in die lewe te roep en saam te snoer in hulle onderlinge verbondenheid en wedersydse verantwoordelikheid.[44] Hier en daar skemer independentistiese gedagtes deur, maar as geheel genome is die kerkorde prysenswaardig.
Luther het egter anders geoordeel. Dit bevat te veel wette en is die produk van wensdinkery, oordeel hy.[45] Dit is ook hier weer nie moeilik om agter sy kritiek die onwil op te merk om die volkskerk prys te gee. Agter sy skerp reaksie teen die kerkorde van Homberg lê meer as sy afkeer van konsilies.[46] Daar lê ook die wantroue in die gewone gemeentelid wat volgens die kerkorde aan die regeerhandelinge moet meedoen: “Die Leute sind nicht dazu geschickt, wie die meinen, so da sitzen bei sich selbs, und malens met Worten ab, wie es gehen sollte.”[47] Die volkskerk met sy massas onmondige lidmate het weer eens gewen.
(e) Die verhouding van kerk en staat
Net soos Calvyn dit later sou doen, het Luther onomwonde die selfstandigheid van die kerk teenoor die staat beklemtoon.[48] Hy was egter van oortuiging dat die staat ‘n taak met betrekking tot die kerk het. Die terme waarin hy hierdie taak omskryf het, verskil nie daarin van Calvyn, dat hy aan die owerheid die taak toegeskryf het om die ware leer te bevorder en te verbied wat daarmee in stryd is nie (vgl. artikel 36, N.G.B.),[49] maar wel daarin, dat dit naas hierdie gewone taak van die owerheid ook van ‘n buitengewone taak weet: die verantwoordelikheid om in tye van nood te doen wat die kerk andersins self behoort te doen.[50] Ook hier bewys Luther weer eens sy grondige wantroue in die kerkvolk. In plaas daarvan om die kerk self op te roep om sy eie regering te behartig ooreenkomstig sy belydenis, laat hy hom deur die toestand van die volkskerk verlei om “voorlopig” sy toevlug tot die vorste te neem. Reeds in sy geskrif An den Christlichen Adel (1520) roep hy die hulp van die reggelowige vorste teen die pous in en in 1526 spoor hy die keurvors van Sachsen aan om die land in ‘n aantal “Visitationsbezirke” te laat verdeel en die parogieë te laat visiteer.[51] Dat Luther daarmee allermins bedoel het om die kerkregering in die hande van die landsvorste te lê, is sonder meer duidelik en is ook herhaaldelik aangetoon.[52] Die landsvorste self het die saak egter anders verstaan. Dit kon nie bra van hulle verwag word om Luther se fyn onderskeiding tussen hulle normale plig teenoor die kerk en hulle “noodplig” goed te verstaan nie. Hulle het die geleentheid aangegryp om heerskappy oor die kerk te verkry en het eeue lank die regering van die kerk in hulle hande gehou. Hoe anders was Calvyn se optrede in hierdie opsig! Dit was juis sy vasberadenheid om die kerkregering uit die hande van die owerheid te hou, wat hom ‘n verbanning gekos het.
Samevattend kan ons sê dat Luther en Calvyn prinsipieel baie naby aan mekaar gestaan het in alle sake wat die kerkregering wesenlik raak. Die verskil het gekom by die praktyk. Bepaalde omstandighede het Luther in ‘n bepaalde rigting gelei, terwyl ander omstandighede Calvyn in ‘n ander rigting gelei het. Daarmee is egter beslis nie alles gesê nie. Ook die persoonlikheid van die hervormers het ‘n woordjie meegespreek by die verskille wat duidelik geword het. Ons kan nie by die gedagte verbykom nie dat Calvyn ‘n konsekwenter, deegliker en intensiewer aanpak van die hervorming kon handhaaf, omdat hy, anders as Luther, ‘n saaklike mens was. Daarom het hy, terwyl hy en Luther albei geweet het dat die ideaal van ‘n belydende gemeente nie prysgegee mag word nie, en terwyl hy net so min as Luther daarvoor gevoel het om die gedoopte massas van die volkskerk prys te gee, hom daarop toegelê om die volkskerk te verander in belydende gemeentes langs die weg van opvoeding en die invoering van deeglike orde en tug. Calvyn was nie maar tevrede om vir die mense te preek en dan te kyk wat daarvan word nie. Al sy hervorminge in Genève dui daarop dat hy hom daarop toegelê het om die hele volk te probeer omvorm tot ‘n kundige en standvastige kerkvolk. Vandaar die invoering van ‘n kategismus, die erns met die openbare belydenis van geloof, die gereelde huisbesoek en dergelike meer. Terwyl Luther gekla het dat hy nie geskikte mense het om belydende gemeentes te vorm nie, het Calvyn homself eenvoudig op die standpunt gestel dat die kerk die vergadering van gelowiges is en as sodanig behandel moet word, al twyfel ‘n mens ook hoe sterk daaraan as jy na die uiterlike kyk.[53] Dit is hierdie uitgangspunt van Calvyn en sy daadwerklike optrede in die lig daarvan wat die grootste verskil tussen Luther en Calvyn gevorm het, nie hul teologiese denke in abstracto nie. By Luther was in werklikheid al die basiese elemente aanwesig wat in die gereformeerde stelsel van kerkregering tot ‘n werksame geheel saamgesnoer is.
WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker in die Ned. Geref. Teologiese tydskrif deel viii(4), September 1967, 202-211.
[1] Vgl. R. Sohm, Kirchenrecht I, 1893, 642 e.v.; K. Rieker, Grundsätze reformierten Kirchenverfassung, Leipzig 1899; R. Seeberg, Dogmengeschichte, IV, 1917, en talle meer.
[2] Vgl. o.a. H. Bouwman, Geref. Kerkrecht, 1, 199 ex.
[3] ‘n Interessante ontleding van die verskil in struktuur tussen die teologie van Luther en Calvyn bled A. D. R. Polman in die bundel Calvyn, Kok, Kampen, 1959, 41 ex. Vgl. vender ook J. Bohatec, Calvins Lehre von Staat und Kirsche mit besonderer Beriicksichtigung des Organismusgedankens, Breslau, 1937.
[4] Vgl. W. O. Münter, Die Gestalt der Kirche „nach göttlichern Recht”, I, München, 1941, 18-22.
[5] Vgl. J. Heckel, Recht und Gesetz, Kirche und Obrigkeit in Luthers Lehre vor dem Thesenanschlag, Zeitschr. der Saviny Stiftung für Rechtsgeschichte, LVIII 1937, Kan. Abt. XXIV, 291, 315 e.v.; Erik Wolf, art. Jus Divinum in R.G.G. III, Kol. 1074; E. Schlink, Die Theologie der Luth. Bekenntnisschriften, München, 1940, 310 ex.; W. O. Münter, Begriff und Wirklichkeit des geistlichen Amtes, München, 1955, 14.
[6] Luther sê: “Quia ubicunque predicatur verbum Spiritus, sine fructu non predicatur …” (W.A. III, 258, 38; III, 259, 20).
[7] Vgl. W.A., XI, 408; I, 641, 29.
[8] Vgl. K. Holl, Gesammelte Aufzätze zur Kirchengeschichte,7 I, Tübingen. 1948, 318 e.v., 336 e.v.
[9] Vgl. Holl, a.w., 292 e.v.; Bohatec, aw., 289 e.v.; Münter, Die Gestalt der Kirche, 18-22.
[10] Vgl. W.A. XLV, 309 e.v.; W.A., L, 217 ens. Vgl. ook die Smalkaldiese artikels in J. C. Müller, Die symbolischen Bücher der ev.-luth. Kirche,16 1907, 152, asook die Groot Kategismus, a.w., 457 e.v.
[11] W.A., XLV, 309 e.v.
[12] W.A., XLV, 310.
[13] Vgl. die Smalkaldiese artikels, Miller, a.w., 335.
[14] Vgl. Holl, a.w., 350 e.v.; Hermann Diem, Theol. als kirchliche Wissenschaft, München, 1951, 203 e.v.; P. Tsackert, Die Entstehung der Luth. und der ref. Kirchenlehre, Göttingen, 1910, 179 e.v.
[15] W.A., 1, 628 e.v.
[16] Luther skryf in 1523: “Das eyn Christliche versammlung odder gemeyne recht und macht habe, alle leren tzu urteilen und lerer zu berufen, eyn und abtzusetzen”, ens., W.A., XI, 408 e.v., vgl. veral 411.
[17] Vgl. Tractatus de Potestate et Primatu Papae, Müller, a.w., 342; W.A., XI, 413 e.v.
[18] Ibid., 340 e.v.; W.A., L, 632: W.A., XLVII, 290 e.v., veral 292.
[19] Vgl. H. Diem, Est autem ecclesiae congregatio sanctorum in qua evangelium pure docetur … in: Thelogische Aufsätze Karl Barth zum 50. Geburtstag, 1936, 325 e.v.
[20] Vgl. W.A., XII, 206, 214 ens.; Holl, a.w., 352 e.v.
[21] W.A., XII, 693.
[22] Vgl. Diem, Theol. als kirchliche Wissenschaft, 203 e.v.
[23] Vgl. W.A., XII, 693; Holl, a.w., 360.
[24] Vgl. Diem, Theol. als kirch. Wissenschaft, 205 ev.; G. Ebeling, Luther: 11 Theologie, in R.G.G., IV, kol. 511.
[25] Vgl. Ebeling, ald., kol. 512. Ook die populêre werk van Kooiman, Luther, zijn weg en werk, Amsterdam, 1959, 96.
[26] Diem, a.w., 204 ex.; Emil Sehling, Geschichte der Prot. Kirchenverfassung,2 1914, 40.
[27] Vgl. Kooiman, a.w., 96.
[28] Vgl. Grundmann, Geschichte der Ev. Kirchenverfassung, R.G.G., III, kol. 1577.
[29] Vgl. A. Lang, Puritanismus und Pietismus, 1941, 95. Ook G. V. Lechler, Geschichte der Presbyterial- und Synodalverfassung seit der Reformation, Leiden, 1854, 19.
[30] Vgl. W.A., VI, 566; XII, 180; VIII, 184 en talle plekke meer.
[31] Vgl. E. Wolf, Zur Verwaltung der sakramente nach Luther und luth. Lehre, in: Peregrinatio, München, 1954, 243 ev.
[32] Vgl. W.A., X/ 1, 1, 262 en XII, 693.
[33] Vgl. W.A., XXX / 2. 250.
[34] Vgl. Ernst Wolf, Johannes Bugenhagen. Gemeinde und Amt, in: Peregrinatio, 269 e.v.
[35] Vgl. Corpus Reformatorum, ed. Bretschneider. III, 965; Lechler, a.w., 8 e.v.
[36] Vgl. W.A., XLVII, 291-292; Bohatec, a.w., 457 e.v.
[37] Vgl. Müller, a.w., 340.
[38] Vgl. W.A., L, 217; II, 189, 192; XLVII, 291-292.
[39] Vgl. W.A., XII, 194; Holl, a.w., 376.
[40] Vgl. Bohatec, a.w., 409-410.
[41] Vgl. Holl, a.w., 327.
[42] Vgl. W.A., L, 604: “Wer da will, der mag weiter des Concilii geschichten selbs lesen. Ich hab mich unlüstig drüber gelesen.”
[43] Vgl. vir die teks van die kerkorde, Richter, Evangelische Kirchenordnungen I, 40 ev. Die ouderling kom voor in hoofstukke 15, 20, en 21. Vgl. verder K G Steck, Der Locus de Synodis in der luth. Dogmatik in Theologische Ausätze, Karl Barth zum 50. Geburtsdag, 338 ev.
[44] Vgl. die noukeurige reëling van die kerklike byeenkomste en die toesighoudende taak van die kerklike vergaderinge.
[45] Vgl. H. Diem, Theol. als kirchliche Wissenschaft, 203 e.v., veral 205. Lechler, a.w., 19.
[46] Vgl. sy geskrif: Von den Conciliis und Kirchen uit die jaar 1539 wat baie skerp negatief oor konsilies oordeel.
[47] Aangehaal by Lechler, a.w., 19.
[48] Vgl. K. Holl, Luther und das landesherrliche Kirchenregiment, Gesammelte, Aufsätze 1, 236 e.v.
[49] Vgl. ook J. Th. de Visser, Kerk en Staat, Leiden (1926), I, 231-234; P. Wernle, Der Ev. Glaube nach den Haupschriften der Reformatoren, 1, 125 e.v.
[50] Vgl. W.A., VI, 413; Holl, a.w., 326-336.
[51] Vgl. Tsackert, aw., 188-189.
[52] Vgl. H. Diem, a.w., 207; F. W. Kantzenbach, Martin Luther und die Anfänge der Reformation, Gütersloh, 1965, 146-149.
[53] Vgl. K. Holl, Johannes Calvin, in : Gesammelte Aufsätze zur Kirchengeschichte, III, 1928, 262.