Wat die Hervorming vandag nog beteken

Wat die Hervorming vandag nog beteken

Hoog in ‘n woonstelgebou bel ek aan. Die deur swaai na enkele minute oop en ‘n vriendelike vroutjie staan voor my.

“Goeienaand, mevrou. Is u mevrou McPherson? Ek is ds. Jonker van die Irenekerk.”

“O, goeienaand, Dominee. Ek het al gewonder wanneer u sou kom. U is baie welkom. Kom gerus binne!”

In die sitkamer sit haar man met sy koerant. Hy staan nie op as ons inkom nie, kyk vraend en ontevrede na sy vrou en knik maar halfhartig as ek voorgestel word. Dit is aan alles duidelik dat hy niks van sy vrou se telefoonoproep weet nie en dat hy ook glad nie in sy skik is met die feit dat sy ‘n Protestantse dominee ingeroep het nie. Hy ontvang haar verduideliking van die situasie met merkbare ergernis en sy onvriendelikheid teenoor my is opvallend en tasbaar.

Ongenooid gaan ek sit en stel myself daarop in om weer een van die soort situasies deur te maak wat so dikwels ons deel in die middestad is. ‘n Afrikaanse meisie trou met ‘n immigrant wat Rooms is. Hy ken haar taal nie, verstaan niks van haar agtergrond en geloofsoortuigings nie, kyk selfs ‘n bietjie neer op haar volk en haar kerk en beskou haar hele verbondenheid aan die kerk waarin sy opgegroei het, as ‘n begryplike maar naïewe misverstand. Hy het haar êrens ontmoet. Sy was mooi en jonk, en – soos hierdie spesifieke man dit later aan my gesê het – hy het haar “gedeeltelik” liefgekry. Hulle is haastig getroud, té haastig om aan ernstige dinge aandag te gee, té haastig om na die ouers se raad te luister, té haastig om die prys van hulle huwelik te bereken.

Nou is die baba daar en moet gedoop word. Nou staan al die probleme meteens op. Harde woorde val tussen hulle. Dae en weke lank broei die onrus en ongelukkigheid tussen hulle. Albei word stiller teenoor mekaar, behalwe wanneer daar onafwendbaar soms ‘n vinnige woordewisseling plaasvind waarin daar onnodige en onvriendelike verwyte geslinger word.

Eindelik kan die vroutjie dit nie meer hou nie. Sy neem haar toevlug tot die predikant van haar kerk. En daar sit ek dan, soos meermale, tussen twee mense wie se oorhaastige optrede hulle lewensgeluk wil verslind, twee mense wat ek albei innig jammer kry, twee mense wat vasgevang sit in ‘n situasie waaruit hulle hulself nie kan ontworstel nie, omdat albei om lewe en dood vashou aan die “iets” wat hulle as hul eie beskou en waaraan vir hulle soveel sekuriteit verbonde is: hulle kerk.

Dit vorder aan die begin maar stadig, maar ‘n bietjie vriendelikheid en warmte laat die ys om mnr. McPherson al spoedig ontdooi. Teenoor my, natuurlik, nie teenoor sy vrou nie. Met brokke en stukke kom die verhaal uit en neem dit patroon aan. Dit blyk dat hy ‘n goeie Rooms-Katoliek was, totdat hierdie vrou in sy lewe gekom het. Voor die troue het hy met die priester en selfs die biskop gaan praat, maar hom teen ‘n muur vasgeloop. ‘n Keuse was onvermydelik. Sy kerk het onverbiddelik geëis dat die huwelik in die Roomse Kerk bevestig moet word om erkenning te kan geniet. Indien sy verloofde nie ook Rooms wil word nie, moet sy onderneem dat die kinders in die Roomse Kerk gedoop sal word en volgens die Roomse geloof opgevoed sal word. Daarvoor het sy geen kans gesien nie. Sy het geweier om beloftes te maak wat sy nie met haar gewete kon rym nie. Uiteindelik het sy gewen: hulle is in die N. G. Kerk getroud. Maar daarmee het hy in die praktyk homself geëkskommuniseer. Wat die Roomse Kerk betref, leef hy tans in ‘n staat van ontug, is hy vervalle van die genade en buite hoop op die ewige lewe. Die priester het hom dit deeglik ingevryf.

Dat hy dus dag na dag rondloop soos ‘n mens wat innerlik verwond is, is net begryplik. Veral noudat die eerste roes van die liefde oor is en hy die troos begin mis wat ‘n goeie Katoliek uit die bywoning van die heilige mis kan put. Smôrens loop hy werk toe en hoor die klok in die Katolieke Kerk aankondig dat die mis opgedra word. Dan slaan die vrees en die verwyte om sy hart toe. Die hemel bo is geslote. Hy durf nie na die katedraal kyk nie. Dit het vir hom één groot simbool van sy ontrou en verraad teenoor die geloof geword. As hy tuiskom, moet hy dit alles op sy Protestantse vrou wreek. Sy is die oorsaak daarvan; sy met haar groot oë, met haar wit tande, met haar sagte stem. Sy het hom verstrik in hierdie liefde van die vlees wat hom in hierdie vreemde land losgeslaan het van die kerk van sy Ierse vaders. Nou rus die vloek van die kerk op hom.

Een ding het daarby vir hom hoe langer hoe vaster vorm aangeneem: sy kind mag nie onder dieselfde vloek wees nie. As hy dan sy vrou nie kan beweeg om Rooms te word nie, dan moet hy haar ten minste oorreed om die gevraagde beloftes aan die Roomse kerk te doen, sodat die kind in die Roomse kerk gedoop kan word en op die juiste manier opgevoed kan word, biddend voor ‘n kruisbeeld in die hoek, biddend tot die heilige maagd, biddend met ‘n rosekrans soos hy dit self in sy Ierse jeug geleer het – Byna met ‘n snik kom dit uit sy hart: “Dat ek onder die vloek verkeer, beskou ek as van minder belang, want ek het daarna gemaak. Maar ek dink aan my kind. Hy moet die doop van die Katolieke Kerk ontvang om gered te word. My vrou wil dit nie verstaan nie.”

Wat maak ‘n Protestantse dominee met so ‘n stuk menslike en geestelike nood? Biddend om die leiding van die Heilige Gees begin ek, so simpatiek en taktvol as moontlik, deur te vra of hy meen dat sy vrou se doop en geloof dan heeltemal ongeldig is, of hy meen dat daar buite die Rooms-Katolieke Kerk geen saligheid is nie.

Nee, oor sy vrou se doop en geloof wil hy nie oordeel nie. Hy is geneig om aan te neem dat God elke mens wel sal beloon vir sy goeie bedoelinge en dat iemand soos sy vrou, wat van kleins af nie beter geweet het nie, moontlik tog gered kan word, al beskou hy haar kerk as ‘n dwaalrigting. Maar dit sê in die onderhawige saak vir hom niks, want hý dwaal nie uit onkunde nie. Hy weet beter as sy dat daar maar een ware kerk is, die kerk van Rome. Vir hom is dit ‘n vreeslike sonde om een van die wette van sy kerk te verbreek.

“As ‘n mens aan die kerk behoort, moet jy sy wette gehoorsaam. Anders kan jy nie gered word nie. Ek het ‘n wet van my kerk oortree en is daarom onder die vloek. As ek my kind nou ook nog onder dieselfde vloek laat beland, is my skuld soveel groter.”

Nou kom my groot frontaanval: “Maar sou u sê dat die kerk die reg het om sulke wette te maak, sulke wette wat Christus nie gemaak het nie en wat nie in die Woord van God gevind kan word nie? Sou u sê dat die kerk die reg het om u onder die vloek te stel as u met ‘n mede-Christen trou wat ook aan die Woord van God vashou, wat glo in Sy soenbloed, wat begeer om te lewe na Sy Woord?”

Dit word ‘n swaar en lang tweegeveg. Hierdie man se hele opvatting van die kerk en sy gesag moet afgebreek word. Hy sal moet leer dat die Woord van God bo alles is, ook bokant die kerk. Hy sal moet leer dat die vraag wáár die ware kerk is, nie saamval met die vraag waar die oudste gemeenskap is wat hulleself Christene noem of waar die pretensie gevoer word van kerk van Christus te wees nie, maar dat dit beslis word oor die vraag wáár daar werklik na Gods Woord geluister word. Hy sal moet leer dat die kerk geen gesag het buite die Woord van God om nie. Die kerk se gesag rus in die gesag van die Woord van God. Die kerk staan onder die Woord. Word hy aan die Woord ontrou, dan verbeur hy alle reg om homself nog kerk te noem, dan verbeur hy alle reg om ‘n vloek op mense te lê, omdat hulle aan sy menslike wette ongehoorsaam is. Die kerk is alleen kerk en is alleen bevoeg om te bind en te ontbind, as hy in absolute afhanklikheid luister na die Woord van God …

“Dink u, mnr. McPherson, dat die Roomse Kerk enige Skrifgrond het vir hierdie wette waarmee hy u gewete wil bind en waaroor hy u nou met ‘n slegte gewete en innerlike verwyt laat rondloop, sodat u hele lewe en gesondheid daaronder ly, om nie eers te praat van u huwelikslewe nie?”

“Die vraag is vir my nie,” verweer hy, “of die kerk Skrifgrond vir sy wette het nie. Dit is ook nie my saak om dit uit te maak nie. Wat weet ek buitendien van die Skrif af? Wie sê ek verstaan dit korrek? Die kerk sal wel beter weet as ek. As die kerk ‘n bepaalde wet neerlê, moet ek daaraan gehoorsaam wees. Is ek dit nie, dan stel ek myself onder ‘n vloek.”

“Maar gestel die kerk maak ‘n fout? Gestel u sien met u eie oë dat die Here Jesus gesê het: Waar twee of drie in My Naam vergader is, daar is Ek in hulle midde – maar die Roomse Kerk sê: Nee, dit is nie genoeg dat twee of drie in die Naam van Christus (dit is met die Woord van God in hulle midde) vergader om ware kerk te wees nie, hulle moet éérs die gesag van die pous erken, anders is hulle nie kerk nie? Gestel u lees met u eie oë dat die Heiland sê dat as iemand byvoeg by die Woord van God of daarvan weglaat, hy geen deel het in die Koninkryk van God nie (Openbaring 22:18-19). is dit dan nie vir u duidelik dat die Skrif ook van die kerk onderworpenheid aan die Woord van God verwag en dat die kerk ‘n vreeslike oordeel op hom laai as hy meen om maar aan die Bybel te kan toevoeg en van die Bybelse leer te kan weglaat, soos die Roomse Kerk deur die eeue gedoen het nie?”

“Wat u daar sê, is eenvoudig onmoontlik. Ons weet tog dat die Roomse kerk onfeilbaar is en nie kan dwaal nie. Die kerk het tog die leiding van die Heilige Gees. Die kerk kan besluit wat volgens die Woord van God is en wat nie. Dit is nie my werk nie. Ek is ook nie daartoe in staat nie.”

Nog eens probeer ek om sy verantwoordelikheidsin te raak: ”Maar so maklik mag u u tog nie van u eie verantwoordelikheid afmaak nie. U het tog ook die Bybel. U is verplig om te lees wat daarin staan. U mag dit nie maar aan die kerk van Rome oorlaat om die Bybel vir u te lees nie. Dit is waar dat die belofte aan die kerk gegee is dat die Heilige Gees die kerk sal lei, maar u moet onthou dat ‘n mens ‘n belofte kan misloop deur ongehoorsaamheid. En u moet onthou dat die belofte nie sê dat die bystand van die Heilige Gees alleen aan die pous gegee word nie, maar dit geld vir die hele kerk, dit is: vir al die lede van die kerk. Ook u het tog, as u ‘n kind van God is, die Heilige Gees ontvang. Ook van u sal die Here vra wat u met die leiding van die Heilige Gees gemaak het. Is dit nie moontlik dat die kerk in sy geheel soms aan die Woord van God ongehoorsaam kan wees, terwyl slegs een of enkeles waarlik die Woord gehoorsaam nie? U weet tog van Elia in die dae van Agab? U weet tog hoe die hele Joodse Raad Christus verwerp het? U weet tog …

So worstel ons. Die horlosie stap aan. Maar ek moet hierdie man help insien dat hy gerus maar die innerlike kramp waarmee hy rondloop en wat dreig om sy lewe te verongeluk, van hom af kan stoot. Ek moet hom help om te sien dat ook sy vrou die reg het om te sê dat sy, en nie net hy alleen nie, aan die kerk van Christus behoort en dat dit daarom onsin is om te meen dat sy kindjie onder ‘n vloek sal wees as hy in haar kerk gedoop word. Ek moet hom help om te verstaan dat as die kerk van Rome sulke wette en reëls neerlê waarvoor daar geen grond in die Woord van God is nie, hy dit met ‘n goeie gewete kan verontagsaam. Ek moet hom help om te verstaan dat as hy maar rus op die soenbloed van Christus, hy geen vloek van die Roomse Kerk hoef te vrees nie.

Dit voer ons gesprek langs al die berge en dale wat Rome en die Reformasie van mekaar skei. Snaaks hoe alles tog saamhang met die sentrale vraag: Wat dink u van die Heilige Skrif? Terwyl ek met hom worstel om te verstaan dat die Heilige Skrif sentraal in die kerk moet wees en alle gesag in die kerk moet dra, dink ek met skaamte aan baie Protestante wat dit net so min verstaan as hierdie man.

Dit word in die gesprek ook vir my duidelik dat hy niks weet van Hans Küng, Schillebeeckx en die ander nuwe Rooms-Katolieke teoloë wat werklik probeer om die Bybel ernstig op te neem en daarna te luister nie. Hy weet ook niks van die nuwe beweging onder die Rooms-Katolieke in Nederland waar ‘n totaal ander klimaat begin heers as in die Roomse kerk van die eeue nie. Hy weet ook niks van die nuwe geluid wat die jongste Vatikaanse konsilie laat hoor het met betrekking tot die “geskeie broeders” nie. En tog staan dit vir my soos ‘n paal bo water: Al is hierdie man veel naïewer as daardie teoloë, rigting en konsilie, staan hy tog nog openlik vir dié dinge waarby Rome in werklikheid staan en val, ten spyte van al die tekens van vernuwing. Want ook Küng en Schillebeeckx en die Vatikaanse konsilie kan in die laaste instansie nie loskom uit die probleem waarvoor hulle verbondenheid aan hulle kerk hul altyd weer moet stel nie, nl. die gesagsvraag: Wie regeer waarlik in die kerk, Christus deur Sy Woord of die kerk self deur die pous?

Dit is soos ‘n kalf wat op lyn wei: hy kan tot sóver gaan, maar nie verder nie. Watter mooi dinge daar ook vandag in Rome gebeur en hoe seer die vryheid van die kinders van God sommige in die Roomse kerk ook mag wink, as hulle sou wil opstaan tot die ware vryheid van die Heilige Gees, trek die tou van die Roomse gesag hulle weer na die pen toe terug. Daarom kon die Roomse outoriteite in Suid-Afrika natuurlik ook vir hierdie man niks anders sê nie, al wil soveel vriendelike Roomse paters ons ook laat glo dat daar eintlik nie meer verskil tussen Rome en ons is nie, dat hulle die wesenlike doel van die Kerkhervorming ook in die Roomse kerk verstaan en verwerk …

Terwyl ek vir die hysbak buite wag, kyk ek ver uit oor die nagtelike stad. Hier voor my, naby, lê die Roomse katedraal, Daar ver weg, byna weggesteek tussen die geboue, is die eenvoudige lyn van die Irenekerk. Ek klem my Bybeltjie vaster in my sak. Dankie, Here, vir U Woord. Dankie vir ons gereformeerde erfenis. Bewaar ons tog daarvan om weer in Roomse vaarwater te beland, om u Woord van die troon af te skuiwe en kerk te wil wees sonder die volle heerskappy van u Woord.

Was die skoonheid van die Woord van God nie altyd die sieraad van die ware kerk nie?

WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker in Die Voorligter, vol xxx(11), Oktober 1967,
3, 8, 9]