Benoeming
Tydens en duidelik weens die afwesigheid van dr. A. P. Treurnicht het dit gebeur dat ‘n belangrike saak die aandag van Die Kerkbode ontsnap het. ‘n Mens voel dat dit ‘n gebeurtenis van soveel belang is dat dit sekerlik die moeite wend is om dit as ‘t ware na die ete weer ter tafel te bring.
Ek verwys na die beroeping van dr. W. D. Jonker tot hoogleraar aan die Theologiese (sic) Hogeschool te Kampen in die plek van prof. J. T. Bakker, wat weer prof. Polman opvolg – en Ook die bedanking daarvoor.
Dit is vir ons kerk van besondere belang, aangesien dit die eerste keer is dat ‘n Nederlandse kerk ‘n beroep op ‘n Suid-Afrikaner uitbring (dr. Jonker is deur die Sinode beroep). Dit het al gebeur dat ons ons tot Holland gewend het – toe Nicolaas Beets en F. G. Van der Ham in 1852 tot die eerste twee hoogleraars van ons eie Teologiese Seminarium in Suid-Afrika beroep is. Die twee manne het, soos dr. Jonker, na rype beraad vir die beroep bedank.
Ons kan ons voorstel watter geweldige saak dit vir dr. Jonker en sy huisgesin moet gewees het om oor so ‘n gewigtige stap te besluit te meer omdat daar met hom min of meer dieselfde gebeur het as destyds met die twee genoemde here uit Holland: pas na sy bedanking is die vriendelike versoek aan hom gestel of hy dit nie weer sou wil oorweeg nie.
Ons is saam met dr. Jonker verheug oor die besondere eer wat hom én ons te beurt geval het, maar veral dankbaar oor die besluit wat hy geneem het.
Murray Janson
[Artikel deur ds Murray Janson in Die Kerkbode, no. 20 Jaargang 119,
15 November 1967, 713]