Konflik in die Kerk

Konflik in die Kerk

Wie meen dat hy ’n taak het om in die kerk vir die waarheid en die suiwerheid te getuig, moet begin by die aanvaarding van sy verbondenheid aan die kerk en hy moet in ootmoed die ander hoër ag as homself.

Konflik in die kerk! Natuurlik kan dit maklik voorkom! Die geskiedenis ken talle voorbeelde van individue of groepe lidmate wat in ernstige botsings met die kerk gekom het oor kleiner of groter redes, dikwels met diep-tragiese afloop vir hulself én vir die kerk. Omdat die kerk ’n menslike samelewingsverband is, is dit byna vanselfsprekend dat verskil van insig sal voorkom en dat dit sal lei tot konflikte van ’n minder of meer ernstige aard. Die kerk is wel “die gemeenskap van die heiliges”, maar dié heiligheid sluit tog nie die ontstaan van sulke botsings uit nie, omdat dit vernaamlik ’n toegerekende heiligheid is, ’n heiligheid-in-belofte, ’n heiligheid wat meestal nie gesien kan word nie. Daarom is daar dikwels in die handel en wandel van die kerk niks te sien wat hom van ander menslike gemeenskappe onderskei nie. Niks mensliks skyn aan die kerk vreemd te wees nie. Ook konflikte nie. Dit wil net lyk asof konflikte in die kerk ’n ekstra graad van verhitting vertoon, omdat dit meestal gaan oor dinge wat diepgewortelde oortuigings raak, met absolute dinge te doen het en dus maklik tot uiterstes van verbittering aanleiding kan gee.

Tog is dit ’n ernstige vraag of dit altyd nodig is dat dit só moet wees. Die kerkgeskiedenis is dikwels ’n onverkwiklike geskiedenis, omdat daar rondom die stryd wat die twistende partye as ’n stryd om die waarheid verstaan het, soveel hardkoppigheid en moedswilligheid, soveel liefdeloosheid en selfhandhawing sigbaar word. Dit stem ’n mens tot droefheid om te sien dat daar in die kerkgeskiedenis haas geen geval voorkom waar die partye wat verskil het, mekaar met die Woord van God ken oortuig nie. Klaarblyklik is dit die gevolg daarvan dat die partye eintlik ook nie meer na mekaar kan of wou luister nie. Hoeveel doodgewone menslike trots en eiesinnigheid, hoeveel persoonlikheidsbotsings, hoeveel totaal onkerklike faktore het altyd weer ’n rol gespeel! Die kerkgeskiedenis is in ’n sekere sin die mees verootmoedigende dinge waarmee ’n mens jouself kan besig hou. En as jy dit alles voor jou sien: die brandstapels, die skavotte, die anathemas, en daarteenoor die eiegeregtigheid, hardkoppigheid en roekeloosheid waarmee daar soms teen die kerk ingegaan is, dan begryp jy opnuut hoe diep die kerk en sy lidmate soms die Gees van die Here bedroef het in die stryd wat dan die stryd om die eer van God en die waarheid van Sy Woord moet heet.

Daarom weer eens die vraag: Is dit nou werklik nodig? Al is dit dan waar dat daar altyd weer “partyskappe” in die kerk sal voorkom (1 Korintiërs 11: 19), ja selfs moét voorkom, omdat dit dien om die beproefdes openbaar te laat word, dan is dit tog nog steeds ’n saak van die grootste erns vir elkeen om te weet hoe hy hom onder sulke omstandighede moet gedra in die huis van God (1 Timoteüs 3: 15), sodat dit kan blyk dat hy werklik ’n beproefde is. Is dit nie ook ’n oordeel van God oor die geestelike toestand van Sy kerk, as dit nie moontlik blyk om konflikte en partyskappe só te hanteer, dat dit eerder tot bevordering van die evangelie dien, as tot skade van die koninkryk nie?

Dit wil voorkom asof daar enkele dinge is wat in hierdie verband die moeite werd is om onthou te word. Sonder om na volledigheid te strewe, word die volgende genoem:

Waarom Gaan Dit?

Dit is altyd van die grootste belang dat daar volledige helderheid moet heers oor die vraag waaroor die konflikte werklik gaan. Konflikte kan immers ontstaan oor sake wat óf die leer óf die heiligheid van die kerk raak. Daarby is dit sonder meer duidelik dat konflikte wat die leer van die kerk raak, die ernstigste is. Wanneer die kerk immers die Woord van God verkrag en verloën, verwerp hy sy eie wese en hou hy op om kerk te wees. Tog is dit selfs dan van die grootste belang om onderskeid te maak. Daar is, om met Calvyn te spreek, leerstukke van die kerk wat só sentraal is, dat as hulle aangetas word, die kerk daarmee tot valse kerk verval. Dit sluit sake in soos dat daar één God is, dat Christus God is en die Seun van God, dat ons saligheid geleë is in Gods barmhartigheid, ens. (Institusie IV, 1, 12). Miskien sou ons graag nog enkele dinge aan hierdie lysie van Calvyn wou toevoeg, maar dit is nie waarom dit hier gaan nie. Dit gaan hier om die feit dat daar waarhede is waarby die kerk staan en val, terwyl daar ander dinge is waaroor daar verskille kán voorkom, sonder dat dit die kerk tot valse kerk maak, of sonder dat dit diegene wat meen daaroor te moet verskil, tot ketters brandmerk wat uit die kerk verwerp moet word. As dit alleen maar in die geskiedenis altyd onthou is, hoeveel smarte sou nie gespaar gewees het nie? Enersyds moet hierdie siening die kerk daarvan bewaar om alle sterk te reageer op diegene wat op bepaalde punte ’n ander siening voordra as wat algemeen aanvaar is, solank dit nie die wesenlike boodskap van die kerk, die Woord van God, aantas nie. Andersyds moet dit diegene wat van die kerk meen te moet verskil, in hulle stryd teen wat hulle as dwaling by die kerk sien, matig en tot groot versigtigheid en verdraagsaamheid lei. Dit is moontlik om enige verskilpunt met die kerk op te blaas tot sodanige formaat, dat die kerk op die ou end as valse kerk aangemerk word, terwyl die kerk tog nog die evangelie suiwer bewaar het en die sakramente suiwer bedien.

So dwaas as wat dit vir die kerk sou wees om die libertas prophetandi, die vryheid om te profeteer, by die lidmate aan bande te lê en hulle tot uniformiteit te probeer dwing oor dinge waaroor ’n mens mag verskil sonder om die evangelie aan te tas, so dwaas is dit vir lidmate om teen die kerk te kere te gaan oor dieselfde soort dinge, asof die kerk alle reg om as ware kerk te geld, sou verbeur as daar bepaalde dinge is wat hy na hulle mening nie suiwer Skriftuurlik bely nie.

Heiligheid

Nog veel meer versigtigheid moet openbaar word wanneer daar besware bestaan, nie teen die leer van die kerk as sodanig nie, maar teen die uitlewing van die belydenis in die praktyk, dit wil sê: besware teen die heiligheid van die kerk.

Wanneer Calvyn hieroor praat, herinner hy daaraan dat die kerk tot op die laaste dag besmet sal wees met sonde en tekortkominge. Daar sal in die kerk ook altyd goeies én slegtes wees. Dit is dus dwaas om die kerk te verwerp vanweë die talle bewyse van onheiligheid in lewenswandel. Hy haal veral die voorbeeld aan van Paulus se optrede teenoor die gemeente in Korinthe, waar daar talle dwalinge voorgekom het, nie slegs in lewe nie, maar ook in leer (Institusie IV, I,13 – 15). Natuurlik wil Calvyn geen enkele vorm van sonde in die kerk goedpraat nie en hy dink nie daaraan om die lidmaat te ontslaan van die plig om hom te beywer vir die verwydering van wat in die kerk verkeerd is nie (Institusie IV, I, 12). Maar hy pleit vir gematigdheid, vir ootmoed en verdraagsaamheid teenoor die kerk. Hy beroep hom op Augustinus wat aan die vromes die raad gegee het om die foute van die kerk met liefde en met bewaring van die band van die vrede te bekamp, en om die dinge wat hulle nie uit die weg kan ruin nie, geduldig te verdra, met liefde daaroor te sug en te treur, totdat God dit verbeter of bestraf (Institusie IV, I, 16). Dit is duidelik dat Calvyn vir ’n diepe eerbied teenoor die kerk wil pleit en vir ’n optrede waarin liefde en respek vir die werk van God voortdurend sigbaar is, al weet hy ook dat daar êrens ’n grens is, nl. wanneer die leuen sodanig in die kerk ingedring het, dat die hoofsom van die evangelie weggeval het (Insttitusie IV, II, 1). Tot op dié tyd egter moet die gelowiges daarteen waak om nie hulleself teenoor die kerk te verhef en ’n toon teenoor die kerk aan te staan waarin maar min van die ootmoed en sagmoedigheid van die geloof merkbaar is nie.

Dit is natuurlik dwaas as die kerk geen gehoor wil gee aan enige ernstig bedoelde aanklagte teen die suiwerheid van sy lewenswandel nie. Die kerk kan alles daarby wen om altyd homself weer te ondersoek, of die dinge wat van hom gesê word, nie elemente van die waarheid besit nie. Dit is ’n gemeenplaas dat die sektes die onbetaalde rekeninge van die kerk is. In elke konflik sit daar dan ook elemente wat deur die kerk seker nie verwaarloos mag word nie. Maar dit is net so dwaas om die kerk af te skrywe, omdat daar in die lewe van die kerk dinge oorkom wat deur lidmate as lewensdwaling van ’n ernstige aard beskou word. Die kerk is nog altyd groter en méér as die dwaling van enkele figure in die kerklike samelewing, selfs al mag dit skyn of daardie figure die hele kerklike lewe oorheers. Calvyn herinner daaraan dat daar ook in ’n kerk wat vol goddeloses is, nog altyd talle is wat voor God waarlik heilig en onskuldig is, al is hulle vir die menslike oog verberg. Ons sou ook kon sê dat daar periodes in die lewe van die kerk mag voorkom, waarvan ons moet oordeel dat dit uitgesproke periodes van insinking is, periodes van ’n geestelike laagwatermerk. Selfs dan mag niemand om dié rede die kerk loslaat en aan die verderf oorgee nie. Die vloedgety sal weer kom. Gods Gees is magtig om weer nuwe dinge te doen. Wie hom op grond van sulke insinkings of op grond van allerlei persoonlike verskille met die kerk aan die kerk onttrek, die kerk afskryf en van ander metodes gebruik wil gaan maak om die kerk as ‘t ware van buite te beïnvloed, gaan ’n te maklike weg en versaak sy roeping en verantwoordelikheid met betrekking tot die kerk, op gevaar af dat hy uiteindelik buite die gemeenskap van die heiliges te staan mag kom. En wie waarborg dat hierdie “maklike weg” nie uiteindelik juis die moeilikste weg sal blyk te wees nie?

Ootmoed

Te maklik word allerlei konflikte in die kerk tot ’n onnodige skerpte opgevoer, omdat die ootmoed en die nederigheid en die geseglikheid te veel by die gelowiges ontbreek. Wie meen dat hy ’n taak het om in die kerk vir die waarheid en die suiwerheid te getuig, moet begin by die aanvaarding van sy verbondenheid aan die kerk en hy moet in ootmoed die ander hoër ag as homself. Niemand kan werklik vir die kerk iets beteken nie, tensy hy begin by die selfverloëning voor God en die broeders. Paulus verwyt die Korinthiërs dat hulle met mekaar allerlei sake het, terwyl die geestelike krag om onreg te ly, by hulle ontbreek (1 Korintiërs 6: 7). Daar is magtiger middele as menslike tegnieke om vir die waarheid en suiwerheid van die kerk te stry. Daar is die krag van die Gees soos dit uitkom in die liefde. Wie ten diepste oortuig is daarvan dat die kerk dwaal, sal in sy getuienis teenoor die kerk tog eers moet begin met ’n vrywillige onderwerping aan die kerk in liefde. Hy sal moet begin by ’n selfverloëning wat bereid is om ’n tweede myl te loop en die deurdrywing van eie oortuiginge af te 1ê voor die kruis van Christus. Dit is geen swakheid nie, maar ’n geweldige innerlike krag. Daar is geen krag sterker as die krag van liefde en selfverloëning nie.

Net so moet die kerk diegene wat na sy oortuiging dwaal, en wel in sake wat nie die wese van die evangelie aantas nie, beskaam maak met die innerlike ootmoed, die geestelike rus, die diepe nederigheid waarmee hulle tereggewys word. Ook die kerk word soms geroep daartoe om te verdra wat pynlik mag wees, ten einde met die krag van die liefde diegene terug te wen van wie die kerk glo dat hulle op ’n verkeerde weg voortren. Ook dit is geen swakheid nie, maar openbaring van ’n geweldige krag. Waar konflikte in die kerk met ’n vleeslike arm tegemoet getree word, kan geweldige ongelukke gebeur. Maar waar die Gees van die Here werksaam is, is dit moontlik om vestings in besit te neem en elke skans omver te werp tot gehoorsaamheid aan Christus.

WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker in Die Kerkbode, no 22 jaargang 119, 29 November 1967, 770 – 772]