Daar is geen onderskeid nie

DAAR IS GEEN ONDERSKEID NIE
IN
VERKONDIG DIE WOORD

52 Boodskappe deur 52 leraars

CHRISTELIKE UITGEWERSMAATSKAPPY
ROODEPOORT, 1968

Dr WD Jonker

  1. Daar is geen onderskeid nie

Lees: Romeine 3:9–31
Sing: Ps. 48:4; Ges. 32:4; Ges. 36:3, 5

Teks: Romeine 3:22–24 “Want daar is geen onderskeid nie want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”

Paulus waag dit doodgewoon om te sê dat daar geen onderskeid tussen die mense is nie.

Hoe kan hy dit doen? Weet hy dan nie van al die groot verskille tussen die mense en hoe belangrik dié verskille vir ons is nie? Weet hy nie dat daar op die aarde rykes en armes, slimmes en dommes, geleerdes en barbare, netjiese mense en slordiges, moreles en immoreles rondloop nie? Weet hy nie dat ons juis voortdurend besig is om dié verskille te aksentueer, ten einde te bewys dat ons hoër en beter is as die andere nie? Paulus sou onrealisties wees as hy nie rekening hou met die groot onderskeid wat daar tussen die mense is nie. Hy sou veral onrealisties wees as hy geen onderskeid erken tussen diegene wat hulle lewe in allerlei uitspattighede deurbring en hulle eie lewe verwoes deur in die vuilste sondes rond te ploeter én diegene wat opreg bedoel om eerlik, netjies, eerbaar en beskaafd – selfs godsdienstig – te lewe nie.

Ons moet egter nie te haastig wees nie. Ongetwyfeld weet Paulus ook van al hierdie verskille. Sou hy, as eertydse Fariseër, hierdie verskille nie nog veel beter ken as ons nie? Wanneer hy hier egter verklaar dat daar geen onderskeid is nie praat hy oor hoe die sake voor God staan. Wanneer ons voor God staan, verskrompel al die verskille tussen die mense tot onbenullighede, tot dinge wat hoogstens ‘n relatiewe betekenis het omdat hulle aan die buitekant lê. Sodra ‘n mens dieper kyk as die uiterlike, sodra ‘n mens afdaal na die hart, sodra ‘n mens vra hoe dit in werklikheid voor God met die lewe van die mense daaraan toe is – dan is dit duidelik dat daar geen onderskeid tussen die mense is nie. Daar bestaan dan ‘n doodse eenvormigheid waaraan geen mens homself uit eie krag kan onttrek nie. Dit is die eenvormigheid van die geestelike dood, van die verlorenheid, van die sonde. Paulus stel dit sonder enige reserwe: Daar is geen onderskeid nie want almal het gesondig. In ons sonde en skuld staan ons op dieselfde plek voor God. Dit mag waar wees dat ons in sommige opsigte van ander mense verskil en miskien beter as hulle daaraan toe is maar met betrekking tot die sonde is dit nie die geval nie want ons het almal gesondig. Ryk of arm, groot of klein, belangrik of onbelangrik – dit alles maak hier geen verskil meer nie. By God is geen aanneming van die persoon nie (Romeine 2:11). Ook die Jood met sy roem op die wet beklee hier geen uitsonderingsposisie nie.

Paulus doen juis moeite om in die eerste hoofstukke van hierdie brief aan te toon dat die sonde soos ‘n mag oor alle mense heers – ook oor die Jood met sy netjiese, moreel hoogstaande lewe. Ons het gelees dat hy in vs. 9 van ons hoofstuk vra: Het ons, dit is: die Jode, enige voorrang? En dan antwoord hy met oortuiging: “Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is.” Die mens staan magteloos teenoor die sonde. Dit het sy hele hart en wese deurtrek. Sélfs in sy netjies pogings om goed en netjies en godsdienstig te lewe, beheers die sonde hom só dat hy hom daarin vóór en téénoor God verhef. Juis die mens wat skynbaar beter as ander is en homself ook beter as ander waan, sondig in sy hooghartigheid op ‘n wyse waarby die dwase sonde van die skynbaar slegter mens dikwels kinderspeletjies is. Die trots van die morele mens, sy blindheid vir die feit dat hy met al wat hy “goed” doen nog steeds homself soek, sy blindheid vir die feit dat hy ook sy goeie dade en selfs sy godsdienstigheid wil gebruik om vir homself daarmee ‘n toring te hou waarin hy van God af kan wegvlug, waarin hy teen God kan skuil sodat hy nie die genade van God hoef aan te neem om gered te word nie is tienmaal meer hemeltergend as die laagste en vuilste sonde van die wellusteling of die wreedaard. Die wortel van alle sonde is die selfverheffing, die begeerte om te wil wees soos God, die verwerping van Gods genade. Die sonde ken talle uitingsvorme. By die één is dit só, by die ander weer anders. By die een is dit die sonde van die tollenaar, by die ander die van die Fariseër (Lukas 18:9–14). Bydie een lê die sonde uitgestal in sy naaktheid op ‘n lewe van onordentlikheld en afskuwelikheid, by die ander is dit geklee en verborge in ordentlikheid en skyn-godsdienstigheid sodat die dinge binne-in anders lê as wat dit van buite lyk. Dit alles verander egter aan die saak self niks: Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God! Die heerlikheid van God is die ligglans van vreugde en skoonheid wat God omring en wat volgens Romeine 2: 7 ook meegedeel word aan diegene wat in gemeenskap met God verkeer, soos dit met Moses gebeur het op die berg Sinaï. Waar die sonde egter heers, is die ligglans weg. Alles in en om die mens het donker en vreugdeloos en dof geword, alles het hol en sinloos geword toe hy sy rug op God gedraai het. Ook hierin is alle mense gelyk. Dit ontbreek hulle aan die één ding wat die lewe die moeite werd maak. En dan maak dit nie saak of die mens ryk of arm, beskaafd of onbeskaafd, ordentlik of on-ordentlik is nie. Daar is geen onderskeid nie: die lewe van almal is uitsigloos en troosteloos.

Dit is die wonder van die evangelie dat Paulus dan meteens sonder verdere omhaal van woorde kan sê: En hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Die boodskap van Gods genade is die hart van die Bybel. As ons die boodskap van Gods genade uit die Bybel wegsny, is die Bybel nie meer die moeite werd om gelees te word nie. Juis daarvoor is die Bybel immers aan ons gegee, om dit tydig en ontydig aan ons te sê dat God genadig en barmhartig is, lankmoedig en groot van goedertierenheid! Ook hier is daar geen onderskeid nie: sonder onderskeid stort God die mildheid van Sy genade uit oor ryk en arm, vuil en skoon, netjies en gemeen. Hy gee nie Sy genade net aan dié wat ordentliker as die ander kan lewe nie. Goddank, Hy gee ook nie Sy genade net aan die wat in uitspattigheid hulle lewe deurbring nie. Hy maak geen onderskeid nie: Sy genade is vir Jood én Griek! Die verlossing wat in Christus Jesus is, is daar vir almal wat sondaars is. Die versoening, wat Christus bewerk het, die loskoping deur Sy bloed hou nie halt by enige grense wat mense kan oprig of opblaas nie: Dit stoot oor al ons grense en verskille heen en roep die hele wêreld deur in paleise en krotte, in kerke en kroeë, in alle tale wat menslike tale kan heet: Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is!

Gods genade ken egter één grens: dit is genade en wil genade bly! Daarom is dit bedoel vir wie dit as genade wil aanvaar, vir die wat genade nodig het. Ook hier maak God geen onderskeid nie. Die verlossing wat in Christus Jesus is, kan nie anders ons deel word as deur die geloof nie. Uitdruklik stel Paulus dit dat God Christus voorgestel het as ‘n versoening “deur die geloof.” Daarmee bedoel Paulus dat die geloof noodsaaklik is om Christus se versoening aan te neem en deel daarin te ontvang. Maar wat is geloof? Geloof is dat ek met ‘n leë hand voor God gaan staan, sonder pretensies, sonder roem en net maar bereid is om Sy genade te ontvang. Geloof is dat ek my op Gods genade werp, op die liefde van God werp en vertrou dat Hy my al my sonde om Christus ontwil vergewe het. Daar is geen ander weg om gered te word nie. As iemand gered moet word, moet hy uit genade sonder verdienste deur die geloof in Christus Jesus gered word. Hier is geen onderskeid tussen die mense moontlik nie. Niemand in die hemel sal die roem hê dat hy op ‘n ander manier as enige ander sondaar in die heerlikheid gekom het nie. Almal wat in die hemel is, sal die eenvormige lied van die genade moet sing of hy sal nie daar kom nie. Daar is nie ‘n ander pad vir geleerde mense, vir rykes, vir belangrikes of moreel hoogstaande mense as die weg wat ook bewandel moet word deur die vuilste en snoodste, lelikste en laagste sondaar nie.

Laat ons maar afklim van ons troontjies. Laat ons alles wat ons vir onsself opgebou het om ons verhewenheid bo ander mense te probeer bewys skade ag om die uitnemendheid van Christus te verkry (Filippense 3:7–8). En laat ons ons plek inneem in die heerlikheid van Gods genade – die enigste plek vir sondaars soos ons.

Amen