Ontslae van die Wet

Ontslae van die Wet

Die verkeerskonstabel katkiseer

Herklaas was ‘n verkeerskonstabel. Ek het hom êrens in ‘n woonstel raakgeloop en na ‘n gesprek het hy belowe om te kom katkiseer.

Dit het my ‘n lang tyd geneem om uit te vind dat verkeerskonstabels ook mense is. Ek het op ‘n plaas grootgeword en vir my bly ‘n man met ‘n uniform nog steeds op ‘n eienaardige manier iets onmensliks, iets objektiefs, iets onpersoonliks. Ek het op Lichtenburg altyd ook so gevoel teenoor ons enigste verkeerskonstabel van daardie dae. Die mense het hom “Mind You” geneem, glo omdat hy, as hy voetbal gespeel en taamlik hard met die aarde kennis gemaak het, altyd “Mind You!” gebrom en weer verder gespeel het. Hoe dit ook sy, vir my was Mind You en sy soort mense altyd iets vreemds, sodat ek as predikant eers langsaam moes leer dat verkeerskonstabels doodgewone mense is.

Met Herklaas het ek dit dubbel-en-dwars ondervind. Veral op een punt. Hy kon maar nie verstaan dat ons gered word deur die genade, sonder die werke van die wet nie.

Dit is iets tipies mensliks. Ons almal wil tog so graag ons eie verlossing verdien. Ons is innerlik so trots, dat ons nie kans sien om verniet in die hemel te kom nie. Ons wil darem tenminste op grond van meriete daar kom.

Vir my was die eienaardige van Herklaas dat hy die kategismus so goed kon onthou. Onintelligent was hy beslis nie. Vra hom maar die vrae, een vir een op ‘n ry af, en pront en sonder omhaal kom die juiste antwoord, al is sommige van die swaar-kerklike terme dan ook maar vreemde goed in die mond van ‘n man wat nie gewoond is om met sulke sestiende-eeuse terme om te gaan nie. Hy het kennelik sy bes gedoen en ek moes hom altyd weer prys omdat hy, so entoesiasties die vrae geleer het.

Maar sy doodsteek het dáár gelê, waar ek van die vrae afwyk en meteens vra: “Herklaas, hoe word ‘n mens ‘n kind van God?”

Dan gaan daar meteens ‘n lig oor sy oë, Nou weet hy dit presies. “Jy moet die wet van God onderhou, Dominee!”

As dit net één keer gebeur het, sou dit niks gewees het nie. Maar telkens en telkens weer het Herklaas my met dieselfde antwoord of ‘n aanverwante antwoord die weg van die saligheid probeer wys. En elke keer het ek weer van voor af begin en gesê: “Maar Herklaas, jy kan mos nie vir my so sê nie. Kan jy die wet van God volkome onderhou?”

“Wel, ‘n mens moet probeer, Dominee.”

“Maar kan jy dit regkry, al probeer jy ook?”

En elke keer moet ek dit weer na lang gesukkel uit hom trek dat die mens natuurlik nie die wet van God kan hou nie, omdat hy geneig is om God en sy naaste te haat en die gebooie van God met gedagtes, woorde en werke te oortree; dat die mens onbekwaam is tot enige goed en geneig tot alle kwaad tensy hy deur die Gees van God wedergebore word; dat daar vir die mens géén ander manier is om van die straf op die sonde te ontkom nie, as deur die een Middelaar, Jesus Christus, ware God en ware mens …

Ja, dan weet hy dit nou weer vir vandag. Maar as ek hom volgende keer weer voorlê en ek vra hom dit ‘n keer weer anders, val hy in dieselfde strik.

“Kyk, Herklaas, jy is ‘n verkeerskonstabel. Jy kom op groot motorongeluk af. Jy doen die nodige, maar moet vir die ambulans wag. Jy is net alleen by ‘n jongman wat ernstig beseer is en oor enkele minute gaan sterwe. Meteens kyk hy na jou en vra jou: Ek gaan sterwe. Ek is nie gered nie. Ek kan God nie ontmoet nie. Wat moet ek doen om gered te word? Wat sal jy vir hom sê?”

Sonder om verder te dink, kom dit: “Wel, ek sal vir hom sê: Jy moet die wet van God aanneem. Jy moet jou bekeer …

“Maar Herklaas, die man gaan binne enkele minute sterwe. Hoe kan jy nou van hom verwag om met die wet te begin …”

Eers as hy die absurditeit van sy antwoord insien, val hy ‘n paar oomblikke rond, en dan onthou hy meteens, teoreties, van die Middelaar, van die geloof, van die genade.

Soms beweeg hy my tot groot ongeduld.

“Herklaas, jy met jou wet! Is dit omdat jy ‘n verkeerskonstabel is en heeldag met die wet besig is, dat jy ook hier elke keer met die wet kom peuter? Jy sal met die wet aanhou, totdat jy in die verdoemenis te lande kom. Die wet sal jou veroordeel, verdoem, vernietig. Jy kan nie met die wet voor God gaan staan nie. As jy met die wet voor God se regterstoel aankom, sal die wet teen jou getuig. Weet jy nie dat Paulus sê dat die wet die toorn wek nie (Romeine 4:15)? Hy bedoel daarmee dat ‘n mens wat probeer om die wet te hou, juis al hoe meer die wet oortree en al hoe dieper verstrik raak in die sonde, omdat die wet juis openbaar maak hoe sleg ons diep in werklik is. Die wet prikkel ons sondige hart tot sonde, nie omdat die wet sleg of verkeerd is nie, maar omdat ons so sleg en verkeerd is. Daarom is die wet vir ons ‘n gevaarlike saak. As jy sonder Christus na die wet toe gaan en die wet probeer hou, sal die wet jou al hoe dieper in die sonde vasgevang laat raak en sal die toorn van God al hoe duideliker oor jou openbaar word. Elke mens wat probeer om die saligheid te verkry deur wetsonderhouding, moet weet dat hy daarmee net op een plek kan beland: onder die toorn en die oordeel van God. Jy moet ophou om te dink dat ‘n mens gered kan word deur die wet. Jy moet na Christus vlug. Net Christus kan ons red, nie die wet nie!”

Dit gaan maar moeilik om hom dit in te skerp. By ‘n volgende geleentheid as hy weer onseker lyk en aarsel by die vraag: Hoe is jy voor God geregverdig? vind ek dit nodig om nogeens te sê: “Maar Herklaas, is dit dan nie vir jou ‘n lewenswerklikheid om net op Christus te vertrou nie? As jy so sukkel om dit te onthou, kan dit mos nooit vir jou ‘n werklikheid wees wat jy belewe het en ‘n saak wat jy vir jou toegeëien het, dat Christus klaar vir al jou sonde betaal het en dat jy niks meer daaraan hoef toe te voeg nie. As jy Christus aangeneem het, is jy werklik ontslae van die wet. Dit sê Paulus uitdruklik in Romeine 7:6. Ons is ontslae van die wet. Kyk self hoe dit daar geskrywe staan. Dit beteken nie dat ons glad nie meer die wet hoef te hou of dit nie moet probeer hou nie, maar ons moet dit nie meer sien as ‘n manier om gered te word nie. Ons is ontslae van die wet as ‘n eis waaraan ons moet probeer voldoen voordat ons gered kan word.”

Hy gee my die versekering dat hy verstaan. Hy herhaal my woorde. Ons gaan uitmekaar nadat ek nog eens aan hom verduidelik het dat ‘n mens nooit ‘n kind kan word deur die onderhouding van reëls nie, alleen maar deur geboorte of deur aanneming. Ons word Gods kinders deur die wedergeboorte, as die Heilige Gees in ons ‘n nuwe lewe begin. En ons word ook kinders deur aanneming, want as ons deur die geloof Christus aangeneem het, word ons deur God aangeneem as Sy kinders. Dit kan op geen ander manier gebeur nie.

By geleentheid dink ek dat ek vorder, want hy antwoord my pront dat ‘n mens alleen deur die Middelaar van die straf verlos kan word.

Toe kom die ouderling by. Was dit pure senuweeagtigheid? Ek weet nie. Maar toe die ouderling, asof gelei deur ‘n vreemde vermoede, meteens na Herklaas kyk en hom vra: “Herklaas, as iemand jou in die straat raakloop en jou vra of jy ‘n Christen is, wat sal jy sê?” toe antwoord hy: “Ek sal sê nee, Meneer.”

Ek spits my ore. Hoe is moontlik!

“Waarom sal jy dit dan sê?” dring die ouderling aan.

“Wel, omdat ek nie in staat is om die hele wet van God te onderhou nie. En as ‘n mens nie die wet van God onderhou nie, kan hy tog nie sê dat hy werklik ‘n Christen is nie. Hy kan net sê Ek probeer om ‘n te Christen wees …”

“Herklaas, Herklaas, is jy al weer met die wet aan die gang? Sal ek jou nooit leer dat die wet die toorn oor jou sal haal nie?”

“O ja, ek vergeet. Ek bedoel: Ek sal sê ek is ‘n Christen, want ek glo dat Jesus vir my sonde gesterwe het!”

Ek buig vooroor oor die tafel, sodat ons gesigte naby aan mekaar is. Binne-in bid ek dat die Here hierdie mens moet help om te sien, te verstaan, te vat wat hier gevat moet word. Dit is tog so moeilik, maar dit moet gebeur. Hy moet ophou met die wet. Hy moet rus in die genade.

“Herklaas, vertrou jy dan nie op die Here Jesus nie?”

“Ja, Dominee, ek vertrou op Hom.”

“Herklaas, jy kan nie op die Here Jesus vertrou én ook op die wet nie. Een van twee: óf Jesus, óf die wet. As jy Jesus, kies, is jy ontslae van die wet. As jy die wet kies, is jy buite Jesus. Wat kies jy?”

‘n Rukkie stilte. “Ek kies Jesus, Dominee.”

“Dan is jy ontslae van die wet. Dan kan die wet jou nooit weer veroordeel nie. Dan staan jy voor God in die bloed van Christus wat die wet in jou plek vervul het.”

Iets sê vir my dat hy dit verstaan, dat hy dit selfs vroeër al verstaan het, maar iets haper nog.

“Maar Dominee, die wet is tog nie heeltemal weg nie. Moet ‘n Christen dan nie die wet hou nie? Hier in die derde deel van die kategismus staan die wet dan weer?”

Meteens besef ek dat Herklaas se onverstand nie sy skuld alleen is nie. Dit is ook myne. Ek het aldeur maar klem gelê op die genade, op die verlossing sonder die werke van die wet, en te min gepraat oor die betekenis wat die wet tóg nog vir die kind van God het. Hy het dit wel gebrekkig uitgedruk toe hy gesê het dat ‘n mens tog nie werklik ‘n Christen is as hy die wet nie hou nie, maar iets daarvan is tog ook waar. Iets daarvan is tog ook waar dat ‘n Christen sy lewe lank mag wandel in die sekerheid dat hy ‘n Christen is en tóg ook moet sê: ek probeer om ‘n Christen te wees, bedoelende: ek strewe met my hele hart daarna om te wees wat ek is, om te lewe vanuit die verlossing wat my deel in Christus is.

“Ja, Herklaas, dit is waar. As jy in Christus glo, is die wet vir jou afgeskaf in die vorm van ‘n veroordelende, verdoemende aanklaer wat jou voortdurend by God beskuldig. Jy rus dan in die genade, en as die wet jou aankla, vlug jy na Christus. Maar daarby bly dit tog nie. As jy eers eenmaal ‘n kind van God is, gee Hy weer die wet aan Jou terug. Maar nou nie meer as ‘n middel om jouself mee te probeer red nie. Ook nie as ‘n aanklaer wat jou voortdurend beskuldig nie. Dit word nou aan jou teruggegee as Gods wil vir Sy kind. Dit is nou die huisreëls van die familie van God. Nou is dit heeltemal iets anders. Waar dit tevore hard was, is dit nou ‘n sagte juk. Waar dit tevore die toorn gewek het, roep dit nou in jou die vreugde op van ‘n kind wat gráág doen wat sy Vader wil hê. As jy sonder Christus met die wet te doen kry, is dit ‘n mag van die dood. As jy bedek met die bloed van Christus met die wet te doen kry, word dit jou verlustiging. Sê die psalmdigter dan nie ook: ‘Hoe lief het ek U wet’ nie?”

Nie met die wet nie, en tog ook nie sonder die wet nie. Ontslae van die wet, en tog ook begiftig met die wet. Herklaas en ek verstaan mekaar. Maar of alle lidmate van die kerk dit ook verstaan?

WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker, Die Voorligter, vol xxxi(4), Maart 1968, 12]