N.G. Leraar word Hoogleraar in Nederland

N.G. Leraar word Hoogleraar in Nederland

Dr. W. D. Jonker, leraar van Johannesburg-Oos, het beroep tot hoogleraar in Praktiese Teologie aan die Teologiese Skool in Kampen, Nederland, onlangs aanvaar. Dis die tweede beroep van dié aard nadat hy in die loop van verlede jaar die eerste bedank het. Hy sal nou waarskynlik teen die einde van Junie met sy gesin na Nederland verhuis.

Dat dr. Jonker by Gereformeerde teoloë in Nederland hoog aangeskrewe staan, is lank reeds goed bekend. Hy het immers in 1955 onder prof. G. C. Berkouwer aan die Vrije Universiteit te Amsterdam met lof gepromoveer en sedertdien Nederland weer ‘n studiebesoek gebring.

Graag wil ons blad dr. Jonker van harte gelukwens met hierdie vererende onderskeiding. Dis ons innige bede dat hy op akademiese en kerklike gebied die gawes van hoof en hart waarmee sy Skepper hom bedeel het, tot oorvloedige vrug en seën in Nederland sal kan gebruik. Ons koester tewens die vertroue dat hy ‘n aanmerklike bydrae sal kan lewer om ons kerk se verhoudinge met die Gereformeerde Kerk in Nederland te bevorder.

Redaksioneel
[Redaksionele Artikel in Die Kerkbode, No 16, Jaargang 120,
17 April l968, 517]