DIT IS SALIG OM GERING TE WEES
WD Jonker
Die Voorligter, vol xxxi(4), Mei 1968, 10
Natuurlik gaan dit direk teen ons grein in. Geen mens wil klein en gering wees nie.
Daar is vir die vlees niks so lekker as om groot en magtig, aansienlik en hoog te wees nie. Daarna streef ons dan ook almal van nature. Ons kan dit nie verhelp nie. Vanaf ons vroegste oomblik is dit ‘n drang in ons om bó te wil wees, om sterker en groter en belangriker as andere te wil wees. Dit is die vernaamste bron van die onrus in ons, dat ons voortdurend innerlik beweeg word deur die begeerte om bokant andere uit te staan en onsself oor andere te kan handhaaf. Ons kan dit maar moeilik aanvaar dat andere beter, sterker, intelligenter, vooruitstrewender en meer suksesvol as ons kan wees. Dit is die rede waarom ons altyd probeer om iemand wat bo ons uitblink, af te kam en ‘n swak plek in hom te ontdek, sodat ons vir onsself, en moontlik ook vir andere, genoegsaam kan aantoon dat hy nie is waarvoor hy homself uitgee nie. Ons is tog beter as hy. Ons is tog groter, al is dit nie met die eerste oogopslag vir almal duidelik nie …
Só is ons van nature almal. Maar dit is deel van ons sonde dat ons so is. Dit is ‘n simptoom van ons swakheid, van ons gebondenheid deur die kwaad. Ons móét nie so wees nie.
Miskien is dit waar dat hierdie sug om groot te wees, in die wêreld al veel goeie dinge tot stand laat kom het. Dit lê immers dikwels agter die ambisie van mense en agter hulle onvermoeide ywer. Deur hulle ambisie en ywer kom daar talle goeie dinge tot stand in die wêreld. Dit is waar. Maar daarom is dit nog nie in homself ‘n goeie ding nie. Daardie ambisie en ywer moes aangevuur gewees het deur reine motiewe, deur onselfsugtigheid en liefde, deur die drang om my allerbeste aan God en my naaste te gee. Dan was dit suiwer. Dan sou die vrugte daarvan ook heerliker gewees het. Dán sou dit ook die egte innerlike bevrediging kon bied aan diegene wat groot dinge tot stand gebring het.
Omdat dit egter meestal verkeerde motiewe is wat agter ons prestasies, ons ambisie en ons ywer skuilgaan, werp dit vir onsself en vir andere dikwels sulke wrange vrugte af. Daarom is dit vir onsself so min lonend in die ware sin van die woord. Dit het alles in diens gestaan van ons selfsug en selfverheffing, ons drang om deur die mense gesien en geëer te word. Uiteindelik bevredig die eer van mense ons egter maar baie kortstondig. Ons vind dit nie genoeg nie of nie duursaam genoeg nie. Ons bly in die bose sirkel gevang van: lewe om groot te wees en onrus om ons grootheid te verloor. Dit kan gees egte vrede bring nie.
Al is dit dus waar dat die begeerte om groot te wees, bepaalde nuttige vrugte afgewerp het in die wêreld, is dit vir diegene wat hulle daardeur laat beheers, ‘n oorsaak van veel ongeluk. Wie sy lewe inrig om deur die mense gesien en geëer te word en só onder die mense grootheid te verwerf, is besig met ‘n bitter spel.
Hy word absoluut van die mense afhanklik. Hy kan nie meer homself wees nie. Hy verloor sy eie innerlike vryheid. Hy moet gedurig vir die verhoog speel en probeer om die applous van die toeskouers uit te lok. Hy kan nie meer doen wat hy wil nie, want hy is nie seker dat dit almal se goedkeuring sal wegdra nie. Hy kan nie meer dink en sê wat hy wil nie, want hy weet nie of dit vir die toeskouers aanvaarbaar sal wees nie. Hy word op die manier ‘n slaaf, ‘n gebondene, wat soos ‘n hond staan en opkyk in die oë van sy baas wat hom moet streel en voed. Sy baas is die openbare mening. Hy moet altyd lewe met die vraag wat die mense van hom sal sê en dink.
Dit is die groot ironie van sy situasie, dat hy groot wil wees onder die mense, maar dat hy, om groot te kan wees, homself tot ‘n slaaf van die mense met hulle wense en grille moet maak anders sal hulle hom nie die grootheid skenk wat hy met sy hele hart begeer nie. Wat ‘n armsalige soort grootheid is dit tog, wat ‘n vernederende soort grootheid, wat ‘n nikswerd soort grootheid! Tog is dit feitlik altyd die kenmerk van alle grootheid wat die mense ons kan gee. Ons begeerte na grootheid onder die mense berowe ons van alles wat die mens ég groot kan maak.
Daarom is dit ook duidelik waarom Christus soveel klem daarop gelê het dat ‘n mens moet afsien daarvan om voor die oë van die mense groot te probeer wees. Hy spot met die Fariseërs wat lewe “om deur die mense gesien te word”. Hulle liefdadigheid, hulle godsdienstigheid, hulle vaste en gebede het geen betekenis hoegenaamd nie, omdat dit alles daarop bereken is om deur die mense gesien te word. Is dit eenmaal deur die mense gesien, dan is die waarde daarvan ook verby. Hulle het dan hulle loon daarvoor gehad (Mat. 6). Christus hekel ook die begeerte van die Fariseërs en skrifgeleerdes om die voorste plekke in te neem, om op die markte gegroet te word, om raakgesien te word as die behoudende en uitnemende leiers (Matteus 23). Hy gee aan hulle die vriendelike raad om altyd die agterste plek in te neem by ‘n maaltyd waarheen hulle genooi is, sodat hulle nie in die skande kan kom as iemand wat waardiger as hulle is, by die maaltyd opdaag nie (Lukas 14).
Sy prediking roep telkens weer daartoe op dat die mens homself moet verneder, homself gering moet ag, die minste moet wees. Wie die laagste kan buk, openbaar daarmee dat hy die grootste van almal is. In sy voorbeeld skerp Hy dit by sy dissipels oor en oor in. Selfs nog by die laaste maaltyd saam met hulle neem Hy die skottel om hulle voete te was (Joh. 13). Hy bestraf hulle omdat hulle met mekaar redeneer oor wie van hulle die grootste is en doen aan die hand dat die grootste onder hulle almal se dienaar moet wees, die oudste moet word soos die jongste, en wie ‘n leier is, soos een wat dien (Lukas 22:24-27).
In die koninkryk van God werk alles net mooi andersom as in die wêreld. In die wêreld is dit diegene wat hulleself die beste kan handhaaf, wat die grootste word. In die koninkryk van God is dit diegene wat hulleself die diepste kan verloën, wat die grootste is. In die koninkryk van God is daar geen plek vir die ongebore brutaliteit van die vlees wat op andere wil neersien en homself oor andere wil verhef nie. In die koninkryk van God is daar alleen plek vir die grootheid van selfverloëning en selfvernedering wat ons leer om almal se dienskneg te wees en andere hoër te ag as onsself. Egte grootheid is alleen daar waar die mens homself voor God en die medemens so laag kan neerbuk, dat by in homself niks meer is nie, sodat God alles in hom kan word.
Vir die wêreldse mens is niks so pynlik as om verneder te word en as die mindere van andere beskou te word nie. Hy haat dit om as klein en onbenullig gereken te word. Maar in die koninkryk van God is dit juis dinge wat nagestrewe moet word. Die kind van God wat werklik begeer om geestelik te groei en veel ruimte te hê vir die krag en heerlikheid van God in hom, moet prys daarop stel om nie na hoë dinge te strewe nie, maar hom te voeg by die nederige (Romeine 12:16).
Hy moet leer dat wat mense van ons sê en dink, uiteindelik nie soveel verskil kan maak nie. Of mense goeie of slegte dirge van ons sê, maak aan die vraag wat ons werklik voor God is, tog geen verskil nie. Ek word nie beter deur die roem van mense of slegter deur die belastering deur mense nie. Wat ek voor God is, dit maak ten diepste saak. Indien ek my daarop instel om deur die mense geëer en geprys te word, loop ek gevaar om God heeltemal uit die oog te verloor en my lewe nie meer in te rig met die oog op wat die Woord van God van my vra nie, maar met die oog op die opvattings van die mense. Wie honger is na die eer van mense, ly aan ‘n smartlike kwaal wat hom innerlik hoe langer hoe meer sal verteer.
Daarom is dit vir ons van die grootste belang om ons lewe nie voor die mense te leef nie, maar voor God. Dit is selfs vir ons uitermate nuttig as ons van die kant van die mense soms vernedering moet ondergaan, as hulle kwaad van ons spreek, as hulle ons geringer ag as wat miskien nodig is. Dit is vir ons goed as ons soms die onderspit moet delf, as ons vernedering moet belewe, as daar op ons neergesien word. Dan moet ons ons nie daaroor ontstel asof die ergste moontlike ding met ons gebeur het nie, maar ons eerder daarin oefen om onsself nog meer te verneder deur van onsself nog minder te dink as wat die mense van ons dink, en onsself voor God nog geringer te ag as wat hulle ons ag. Dit is geen sieklike self-negering nie, maar die hoogste vorm van realisme. Immers, die diepte van ons ellende voor God is veel groter as wat ander sondige mense ooit kan besef, en die kleinheid en swakheid van ons lewe is voor God veel erger as wat hulle beskimping van ons ooit tot uitdrukking kan bring.
Dit is kenmerkend vir die prediking van Christus dat Hy herhaaldelik oproep tot selfvernedering. Die vernedering wat ander mense my kan aandoen, kan nooit die diepste vorm van vernedering wees nie, juis omdat wat mense van my sê, geen wesenlike verskil kan maak aan wat ek werklik is nie. Maar selfvernedering is die diepste vorm van vernedering, omdat ek dan self, met my eie hande, my eie grootheid afbreek en myself ontledig van my gewaande voortreflikheid. Oor die vernedering wat ander mense my aandoen, kan ek myself nog in trotsheid verhef. Ek kan daarop neersien en dit verag. Maar die vernedering wat ek myself aandoen, gryp dieper as elke ander vorm van vernedering en bring my voete werklik op die grond.
Selfvernedering bestaan daarin dat ‘n mens voor God sy posisie inneem wat hy moet inneem, dat hy, homself in sy onwaardigheid voor God en mens deurskou en in eerlikheid op die plek gaan staan waar hy hoort. Daarom is selfvernedering geen vorm van ongesonde selfpyniging nie, maar die nugterheid waarmee ‘n mens homself sien en aanvaar as alle tooisel van hom afgestroop is en hy elke waandenkbeeld omtrent homself, afgelê het.
Die mens wat werklik selfvernedering ken, is dan ook innerlik vry. Hy het geen pretensies om op te hou, waarvan hy moet vrees dat hulle moontlik deur andere as blote pretensies herken sal word, en hy dus die vernedering van bespotting sal moet deurmaak nie. Trouens, hy hoef nie meer te vrees om deur die mense verneder te word nie. ‘n Mens wat homself voor God verneder het, ken nie meer die vrees vir die vernedering wat mens hom kan aandoen nie, net soos ‘n mens wat klaar deur God gebreek is, nie meer hoef te vrees dat hy deur die mense gebreek sal word nie. ‘n Mens wat homself in sy eie geringheid leer sien het, hoef nie meer angsvallig ‘n skyn van belangrikheid en grootheid voor die mense op te hou nie. Sy siel keer terug tot sy rus en hy weet dat hy nog net met God te doen het en met die oordeel van God wat tog alles van hom weet.
Die Bybel praat soveel van die saligheid daarvan om arm van gees te wees, om sagmoedig te wees, om klein te wees. Dit is salig om gering te wees voor God en mens. Dan kom daar plek in ons lewe vir God, vir Sy krag en grootheid. Dan kom daar plek in ons lewe vir die liefde en die barmhartigheid. Spanning, angs en stryd vlug weg, en ons word in staat om die lewe te benader met die mildheid van ‘n mens wat niks het om te verloor nie en alles om te gee. Soos dit saliger is om te gee as om te ontvang, soos dit saliger is om mild te wees as verbitterd, só is dit saliger om gering te wees as magtig.