Samesmelting van kerke

SAMESMELTING VAN KERKE

Die Kerkbode, 21 Julie 1971, p 76–77

Dr Dirk Fourie, Bryanston skryf:  (Sien ook WD Jonker se antwoord onderaan)

In ’n sekulêre blad wat hier in die Transvaal verskyn, behartig Willie Jonker (WJ) (na my beste wete die hoogleraar aan die Kweekskool te Stellenbosch) ’n rubriek met die treffende titel: ’n Woord onderweg. Ek kan my voorstel wat die primêre bedoeling van die redakteur met hiérdie rubriek is, maar WJ het verkies om daarin (BEELD, 21 Junie 1975) die besluit van die Sinode van die NG Kerk in Afrika, naamlik “dat daarop aangedring word dat die Kerke van die NG familie tot een Kerk saamgesnoer moet word”, hoog aan te slaan en om sy Kerk by voorbaat aan te raai om oor hierdie besluit “diep dankbaar te voel”.

(1) ’n Sodanige optrede is tog nie in orde nie. Die betrokke rubriek word nie slegs deur Ned Geref lidmate gelees nie. Hoewel hy die Evangelie van ons Verlosser op alle moontlike maniere kan en moet uitdra, is die opmerkinge van ons broeder oor ’n aktuele interkerklike ongeleentheid in sy rubriek onvanpas (om dit sag te stel), veral aangesien hy daarmee radikaal ’n streep trek sowel deur sy Kerk se sendingmetodiek van die afgelope eeu, as deur die besluite van Die Federale Raad van Ned Geref Kerke (Maart 1974) en van die Algemene Sinode (Oktober 1974) in hierdie verband. Indien hy sy stem wou laat hoor, was vir WJ die aangewese weg om hom na ons kerkvergaderinge te wend.

(2) Wat belangriker is, is dat die broeder betoog dat niemand vir die besluit van die, Sinode van die NG Kerk in Afrika moet skrik nie, aangesien geen Bybelse, teologiese of kerkregtelike beswaar daarteen bestaan nie. Inteendeel, die gereformeerde opvatting van die eenheid van die Kerk eis dit selfs”.

Oor die Bybelse en teologiese begrippe van die eenheid van en die verskeidenheid in die liggaam Van Christus, het ons Algemene Sinode duidelike riglyne neergelê (Kyk Ras; Volk en Nasie en Volkereverhoudinge in die lig van die Skrif, 47–52). Nie slegs die eenheid nie, maar ook die verskeidenheid in die kerk is die lering van die Skrif. Soos prof Hanekom dit destyds in sy polemiek met dr Jonker aangetoon het, moet onderskei word tussen die kerk in sy pluriforme gestalte en die sondige verskeurdheid van die liggaam van Christus. ’n Kunsmatige eenheid van kerke is slegs moontlik deur middel van ’n kerklike diktatuur en geestelike dwang soos by Rome. As WJ te kenne gee dat daar geen Bybelse of teologiese beswaar teen samesmelting van kerke op algemene sinodale vlak bestaan nie, onderskryf hy nie sy Kerk se standpunt oor die lering van die Skrif nie, hou hy by sy eertydse standpunt en laat hy hom dus ook nie in hierdie verband leer nie.

Volgens ons broeder bestaan ook geen kerkregtelike beswaar daarteen dat selfstandige kerke, in die NG familie in een algemene sinodale verband verenig word nie. Volgens watter gereformeerde beginsel word integrasie op sinodale en -ringsvlak dan afgewys? Die kerkverband (op die vlak Van die ring, die sinode en die Algemene Sinode) oefen deur sy organe in die kerklike instituut regeermag uit (KO art 19 en 20). Voetius het ons al geleer dat hierdie bindende regeerbevoegdhede veral betrekking het op gemeenskaplike sake en op partikuliere sake in besondere omstandighede; dit sê die meerdere vergaderinge is wetgewers in ’n besondere sin wat ordereëls en kerklike beleid neerlê waaraan die mindere vergaderinge, ampsdraers en lidmate van gemeentes onderworpe is (KO art. 35 en 43).

Laat ons ter wille van ons lesers prakties wees. Hoe sou die – volgens WJ – aan te pryse geïntegreerde Algemene Sinode saamgestel word? Die voor-die-hand-liggende metode is: Afvaardiging volgens lidmaattal, anders kom die verwyt van rassistiese diskriminasie in ’n koor. Maar … omdat die Koning van die Kerk ons sendingarbeid geseën het, behoort vandag meer gekleurdes as blankes aan die NG familie; dus sou hierdie kerke op ’n sodanige Algemene Sinode ’n meerderheidstem hê. As so ’n sinode deur ’n meerderheidstem sou besluit dat ons by die SARK aansluit en dat ons gemeentes vir hierdie polities-geïnspireerde liggaam pro rata moet bydra, of dat leraars van gemeentes ook sekulêre werk kan verrig (’n onbybelse besluit in die lig van 1 Korintiërs 9:14, ’n besluit wat die spesiale geroepenheid tot en die eiesoortigheid van die evangeliebediening aantas en besluit wat kontrakbreuk deur ’n beroepe leraar sanksioneer) – sal daar in dié Kerk vrede wees sodat die Evangelie van ons Heiland onverstoord sy loop kan hê? Natuurlik nie. Die geïntegreerde kerk sal skeur, aangesien sy samestellende lidkerke nie gelykstaan in hul kerkregtelike ontwikkeling en teologiese sieninge nie; die eenheid is ten koste van die verskeidenheid op die gedrywe. Daarom het ons Algemene Sinode tereg besluit “Alle gedwonge, demonstratiewe eenheidsopenbarings moet, verwerp word en kan selfs die orde in die kerk en in die gemeenskap ontredder” (49–50).

(3) WJ verklaar dat indien ons Kerk negatief teenoor die NG Kerk in Afrika se versoek sou staan, “sou hy in die hande speel van diegene wat ’n polarisasie tussen die wit en swart kerke probeer aanwakker”. Arrie nee! Probeer die professor ook op die rassisme-trom slaan? Die linkse propaganda: beoog ’n konfrontasie tussen swart en wit, met die doel om eventueel albei te verslaaf; die ware konfrontasie lê egter tussen swart en wit gesamentlik aan die een kant en die gemeenskaplike vyande, die kommunisme en sy frontorganisasies, aan die ander kant. Laat ons NG familielede mekaar hierdie eenvoudige waarheid leer, en laat ons almal weer ’n slag kyk na die blanke adviseurs van die kerkvergaderings van ons Dogterkerke, veraf diegene vir wie dr Jonker by die stigting van hul organisasie ’n telegram van seënwense gestuur het.

Dr Jonker antwoord

Ek verwonder my oor dr Fourie se reaksie op my stukkie in Beeld. Ek glo nie dit was onvanpas om in my gereelde rubriek ’n aktuele saak ter sprake te bring, wat beslis ’n geestelike kant het, deur die pers onder die algemene aandag gekom het: en, met die oog op ons onderlinge wit-swart-verhoudinge, veel meer as bloot binne-kerklike betekenis het nie.

Ek dink werklik ons behoort ons oor dié besluit te verbly – veral as ons dink aan die druk waaraan die swart kerk onderwerp is om van ons weg te breek. Dat die swart sinode ondanks alles – en ek voel net so sterk as dr Fourie oor die laakbare rol van adviseurs van buite wat hulle aan dié sinode opgedring het – die band met ons nog verder wil versterk, is iets waarop ons om Christus ontwil nie negatief mag reageer nie. Daarmee trek ek geen streep deur ons sendingmetodiek nie, maar bepleit dat ons die logiese konsekwensie in ʼn nuwe situasie daaruit moet trek. Ek gaan ook nie in teen genome besluite nie, want die Kerk het nog nooit voor ’n dergelike versoek van die swart sinode gestaan om daaroor te moet besluit nie. Ek ontken ook nie die verskeidenheid binne die kerk van Christus nie, want ook binne die één kerkverband kan die verskeidenheid ten volle geëer word. Juis die gereformeerde kerkreg met sy erkenning van die kerkverband as die één korrekte uitdrukking van die eenheid van ’n groot verskeidenheid van plaaslike en provinsiale kerke, bied die ideale patroon om eenheid en verskeidenheid albei te handhaaf (dink bv. aan die eenheid van Waalse en Nederduitse kerke in één kerkverband, terwyl elke groep tog sy eie vergaderinge tot op provinsiale vlak gehad het).

Daar is wel moeilike probleme om op te los, maar die dinge wat dr Fourie noem, lê op die praktiese vlak en kan met wysheid gereël word, terwyl ons juis binne één kerkverband kan meepraat en meebesluit oor alle verbintenisse wat na buite aangegaan word, Origens vind afvaardiging na ’n Algemene Sinode volgens gereformeerde praktyk tog nie grond op grond van lidmaattalle plaas nie, maar as verteenwoordiging van vergaderinge.

Ten slotte spyt dit my, maar ek het nog nooit ’n telegram van seënwense aan enige organisasie met sy stigting gestuur nie. Ek vind die laaste opmerking dus uiters vreemd.