VAN TEKS NA DIE PREEK
1972
WD Jonker
- Ons het in die vorige lesing daarop gewys dat die tekskeuse tot stand kom deur die biddende omgang met die Heilige Skrif en onder die invloed van ’n hele aantal faktore. Wanneer dit so is, sal die prediker waarskynlik al een of ander besondere rede hê waarom die teks hom getref het en waarom hy dit gekies het. Dit beteken dat hy implisiet al ’n ent op wee is vanaf die teks na die preek. Om egter daarvoor te sorg dat die preek werklik die verkondiging van die Woord van God sal wees, is dit nodig dat die prediker met groot sorg hierdie weg vanaf die teks na die preek sal bewandel en nie sommer oorhaastig en sonder kontrole sal gaan preek wat hom in sy eerste ontmoeting met die teks aangespreek het of opgeval het nie. Dit kan gebeur dat hy in die proses van kontrole en ontwikkeling wat tussen teks en preek ingebou moet word, dikwels tot die oortuiging kom dat hy nie oor die teks kan preek nie of heeltemal anders daaroor moet preek as wat hy aanvanklik gedink het. As dit goed gaan, moet die preek wat uiteindelik tot stand kom, in elke geval veel ryker en voller wees as wat die prediker aanvanklik kon vermoed het toe hy in eerste instansie die teks gekies het. Daarvoor is die teks immers ’n teks uit die Woord van God. Wie hier werklik moeite doen, sal altyd beloon word.
- Die eerste wat die prediker moet doen, is om seker te maak dat hy die juiste sin van die teks verstaan. Ook al het die teks ons op ’n bepaalde manier getref, is dit nog nie te so dat ons die juiste teologiese sin daarvan beet het nie. As dit ons erns is met die Woord van God, moet ons onsself voorneem om nooit iets anders as die Woord van God te verkondig nie. Ons eerbied vir die Heilige Skrif moet daarin uitkom, dat ons die Skrif nooit iets mag laat sê wat hy nie sélf sê nie. Om dit te kan doen, moet ons die Skrif reg lees en reg uitlê – moet ons die juiste hermeneutiese metode gebruik.
- Tot die juiste hermeneutiese motode moet ons in eerste instansie reken die vasstelling van die letterlike of historiese betekenis van ’n bepaalde teks of Skrifgedeelte. Dit kan alleen gebeur as ons nie alleen let op die betekenis van die woord wat in ’n teks of gedeelte gebruik word nie, maar ook vra na die verband waarin dit voorkom, die omstandighede waaronder dit neergeskryf of uitgespreek is, is hoorders of lesers van dié woorde ens. SIegs só is dit vir ons moontlik om daarmee erns te maak dat die Bybel ’n historiese moment en onder paalde omstandighede aan bepaalde mense gerig is. Dit is natuurlik ten volle waar dat daardie woorde ook aan ons gerig is, omdat hulle onder die inspirasie van die Heilige Gees te boek gestel is in die kanon van die Heilige Skrif en tot die kerk van alle tye bly spreek. Ons kan egter nie sonder meer vasstel wat daardie woorde vir ons wil sê nie. Ons is daarop aangewese om hulle boodskap aan ons te hoor via die betekenis wat hulle vir die eerste hoorders of lesers gehad het.
- Tot die bepaling van die sin van ’n bepaalde Skrifgedeelte kan ons egter alleen dán werklik kom, wanneer ons dié gedeelte nie slegs sien binne die engere verband van die hoofstuk of boek waarin dit voorkom nie, maar binne die raam van die totale Skrif. Dit beteken dat die hele Skrif moet meespreek by die uitleg van elke gedeelte daarvan. In die besonder is dit noodsaaklik om by die uitleg van elke afsonderlike teks van die Bybel rekening te hou met die doel of die skopus van die ganse Heilige Skrif, naamlik om Christus aan ons te verkondig en ons in Hom wys te maak tot saligheid. As dit egter waar is, dan is dit onmoontlik om enige gedeelte van die Heilige Skrif korrek uit te lê sonder om die vraag te stel hoe dit betrekking het op Christus en die heil wat in Hom geopenbaar is. Ons kan hierdie waarheid ook anders uitdink deur te sê: ons hele Skrifuitleg moet heilshistories van aard wees. Dit beteken dat daar by uitleg van die Bybel rekening gehou moet word met die voortgang van Gods heilsopenbaring in sy historiese omgang met die volk Israel wat uitgeloop het op die koms van Christus, terwyl daar spesifiek na Christus, rekening gehou moet word met die heil wat in Hom geopenbaar is en nog by sy wederkoms in groter volheid geopenbaar sal word. Konkreet uitgedruk: geen enkele teks in die Ou Testament mag uitgelê word, sonder om te vra watter vervulling Christus daarvoor beteken en watter verskil van posisie die koms van Christus aan die hoorders of lesers van daardie teks gemaak het nie, netsoos geen enkele teks in die Nuwe Testament uitgelê mag sonder om te vra watter vervulling die wederkoms van Christus daaraan sal toevoeg en watter verskil die voortgang van die geskiedenis na Christus aan die situasie van die eerste Iesers/hoorders en die huidige hoorders gemaak het nie, Doen ons dit nie, verval ons –wat die Ou Testament betref – maklik in wettisisme of moralisme en wat die Nuwe Testament betref, maklik in die poging om die situasie van die eerste gemeente te kopieer, in plaas van na Gods Woord aan hulle in ons situasie te luister, sodat ons vandag Gods Woord aan ons kan verneem.
- Die heilshistoriese benadering geld van die hele Skrif, maar kry ’n besondere toespitsing in verband met die verskillende genres (om ietwat verouderde taal te gebruik) die verskillende soorte “stowwe” wat ons in die Bybel aantref. Ons kan die Bybel nie benader asof alle uitsprake daarin op presies dieselfde wyse geïnterpreteer mag word, sonder om daarmee rekening te hou of ons te make het met die vertelling van ’n historiese gebeurtenis, met die bepalinge in ’n versameling van wette en voorskrifte, met ’n gedeelte uit die wysheidsliteratuur, met profesie of met ’n poëtiese gedeelte nie. Ook is dit noodsaaklik om te vra of ons te make het met saaklike mededelinge of met apokaliptiese literatuurvorme wat van ’n totale ander aard is as saaklike mededeling. In elke spesifieke geval sal opnuut die vraag gestel moet word wat die betrokke gedeelte presies bedoel om te sê en sal vervolgens gesoek moet word na die wyse waarop daardie uitsprake vanuit die feit van Christus verstaan moet word. As goeie voorbeeld kan hier genoem word die gebooie uit die Ou Testament, wat nie sonder meer gelees mag word asof hulle tydlose bepalinge bevat wat in dieselfde vorm vir die gemeente van die Nuwe Testament geld nie. Elke genre in die Bybel stel eie eise aan die uitleg en dus ook aan die verkondiging daarvan. Die prediker wat dit ignoreer, sal in groot probleme tereg kom.
- Wanneer die prediker vasgestel het wat die juiste historiese betekenis van ’n bepaalde teksgedeelte is en wanneer hy dit heilshistories reg “geplaas het , is dit die punt waarop gevra moet word watter boodskap uit dié gedeelte vir die gemeente van vandag verkondig moet word. Dit sal in hierdie stadium reeds vir die prediker duidelik wees dat hy nie alleen geen preek mag maak op die klank van ’n teks af nie, maar dat hy ook uiters versigtig moet wees vir die sogenaamde eksemplariese metode van prediking. Daarmee word bedoel dat persone en gebeurtenisse waarvan ons in die Bybel lees, as voorbeelde vir ons hanteer word en dat hulle ervaringe of die verloop van die gebeurtenisse in die Bybel as ’n normatiewe exemplum aan die gemeente van vandag voorgehou kan word as aanwysing van hoe dit vandag nog behoort te gaan. Dan word allerlei punte van vergelyking gesoek tussen Bybelse figure en hulle omstandighede en die gemeente vandag met sy omstandighede, terwyl hierdie punte van vergelyking dan die skarniere vorm waarop die teks as’t ware na die gemeente gedraai word, Die besware teen hierdie soort prediking is menigvuldig. Ons noem slegs die volgende: (a) Op hierdie manier word maklik.
(a) Op hierdie manier word die mens en sy handelinge en ervaringe gepreek, in plaas van dat God verkondig word, soos Hy in Christus aan die mens handel.
(b) Die prediking verval maklik in wettisisme of moralisme omdat dit feitlik altyd daarop uitloop dat ons bepaalde voorbeelde moet navolg of deur bepaalde voorbeelde gewaarsku moet word. Meermale sou gelyke preke gehou kan word aan die hand van ander voorbeelde uit die wêreldliteratuur en sou die Bybel heeltemal nie nodig wees nie.
(c) Die gevaar bestaan dat op allerlei wyse opmerkings oor psigologiese toestande en die denke van Bybelfigure meegedeel word, wat nie in die teks gevind kan word nie, maar op die vindingrykheid van die prediker berus.
(d) Die gevaar van allegörisering van die teks is hier altyd lewensgroot. Die hele Skrif word eintlik uitgelê asof dit één groot gelykenis of selfs één groot allegorie bevat. Dit kan nie die bedoeling wees dat die heilsgeskiedenis só geïgnoreer moet word nie.
(e) Hier dreig ’n groot verskraling in die prediking, omdat daar altyd weer dieselfde paar geestelilke waarhede aan alle moontlike tekste uit die Skrif verbind kan word. - Dit is dus sonder meer duidelik dat die prediker versigtig moet wees met die eksemplariese metode. Tog moet ook weer hier gewaak word teen ’n eensydige reaksie. Die heilshistoriese uitleg van die teks hoef nie daartoe te lei dat ons weer in die ander eensydigheid moet verval om in elke preek ons met heilshistoriese uiteensettinge besig te hou en só tot ’n objektivistiese prediking te kom wat nie altyd ’n duidelike boodskap en appèl aan die huidige hoorders bevat nie. Dit is die gevaar van ’n oortrokke en eensydige heilshistoriese preekmetode. Die juiste weg is daarin geleë dat die heilshistoriese eksegese ons moet help om die ware punt te vind waarop ons die hoorders vandag moet aanspreek. Hierdie ware punt het alyd daarmee te make dat hierde gemeente vandag – hier en nou – met God in Christus te make het en voor Sy aangesig staan. Dit het daarmee te make dat hierdie God voor wie se aangesig hulle staan, dieselfde God is waarvan die teks spreek, wat beteken dat Hy Homself lewende wyse as in die Bybelgeskiedenis met ons inlaat Ons verkeer egter in ’n ander situasie as die Bybelse figure of hoorders. Die prediker moet die boodskap van die Woord van God só oorbring, dat dit dieselfde God van die Bybel verkondig in die gewysigde situasie van die Nuwe Testamentiese kerk en in die gemeente van 1972. Dit beteken dat ons nie sonder meer ’n vergelyking moet trek tussen die omstandighede van Bybelfigure en ons omstandighede nie, maar dat ons daarop mag reken dat ons vandag nog met dieselfde God as hulle te make het. Die appèl tot die hoorders kan dus nie wees om te maak soos Abraham of David gemaak het nie, maar om te maak soos God vandag van hulle verwag om te maak. Die konfrontasie moet nie met Abraham of met Dawid geskied nie, ook nie met Petrus of Paulus nie, maar met die God van hulle almal. Die voorbeeld van Gods omgang met hulle beleer ons oor hoe ’n God Hy is. Daarin is die punt van vergelyking geleë en in hierdie sin is die eksemplariese prediking ook geregverdig. Ons mag egter nooit sonder meer onsself gelykstel aan Bybelse figure nie. In die besonder mag ons nooit ons volk met die volk van Israel op een lyn stel nie. Hoogstens is dit die gemeente wat, hoewel heilshistories in ’n ander situasie, die voortsetting is van Israel.
- Ten slotte ’n woord oor die sogenaamde Christosentrisiteit van die prediking. Negatief moet ons sê dat dit nie beteken dat (a) elke preek moet uitloop op die vraag of die mense Christus al aangeneem het nie; (b) elke preek op ’n min of meer gekunstelde manier Christus aan die einde bybring nie; (c) elke preek opnuut weer moet vertel hoe Christus gekom het en wat Hy vir ons gedoen het nie. Positief moet ons sê dat dit beteken: (a) dat elke preek op die basis van die heil in Christus gepreek moet word en dus nie die indruk mag wek asof ons nog in die Ou Testamentiese bedeling lewe of met ’n God buite Christus te make het nie. Dit beteken verder (b) dat ten volle met die heilshistoriese situasie rekening gehou moet word, want daarin is die posisie van Christus reeds in aanmerking geneem. Dit beteken ten slotte (c) dat elke preek evangelie moet wees en nie in wet of moralisme mag bly hang nie. Die indikatief van Gods heil moet in elke preek voorop staan en vandaaruit moet dit kom tot die imperatief van die geloof. ’n Christosentriese preek word nie daardeur gekenmerk dat daar op een of ander vreemde wyse iets aangaande Christus tóegevoeg word nie, maar deur die spontane manier waarop Christus implisiet en eksplisiet die hele verkondiging beheers.