NED. GEREF. TEOLOGIESE TYDSKRIF*, deel xiii(3), Junie 1972, 140–149
WD Jonker
Ten einde in ons blad ook aandag te kan gee aan Duitse publikasies, het ons die uitgewery Kreuz Verlag genader met die versoek om aan ons enkele van hulle publikasies tot beskikking te stel vir aankondiging en resensie in die NGTT. Die hoop wat ons daarby koester, is dat daar nie alleen van die resensies kennis geneem sal word nie, maar dat die boeke ook bestel en gelees sal word, sodat ons in ons land ‘n eerstehandse kennis van die Duitse teologie kan opbou. Of ons dit wil erken of nie, dit is nog steeds so dat Duitsland die voortou neem in die teologiese diskussies. Wat in die ander lande (Nederland ingeslote) aan die teologie gedoen word, vind meestal plaas in gesprek met wat in Duitsland gepubliseer word. In dié gesprek word daar uiteraard meestal baie skerp van die Duitsers verskil, maar die gesprek open tog nuwe gesigspunte en help dan die ander teoloë om teologies verder te kom, miskien selfs baie verder as die Duitsers self. Dat hulle daarby egter die gesprekstof aangebied en die gedagtes geprikkel het, kan nie ontken word nie. Hierdie rol van die Duitse teologie sal met dankbaarheid erken moet word.
Wanneer ons in Suid-Afrika steeds meer die verantwoordelikheid aanvaar om teologies selfstandig te dink en ons eie bydrae te lewer, sal dit vir ons noodsaaklik wees om ook deeglik kennis te neem van wat daar in die teologie regdeur die wêreld gedoen word, maar met name ook van wat daar in Duitsland geskryf word. In die verlede het ons natuurlik nog altyd kennis geneem van die Duitse teologie, maar dit het meestal geskied via die Nederlandse teologie wat eers vir ons die Duitse teologie deurgewerk het en dit in ‘n groot mate ook vir ons verwerk het, sodat ons kyk daarop ten diepste beïnvloed was deur wat ons van die Nederlandse teoloë gehoor het. Dit was baie voordelig vir ons solank ons ‘n onvoorwaardelike vertroue gehad het in die Nederlandse teoloë wat die teologie vir ons aangereik het. Wanneer dié vertroue in ons tyd meer en meer begin plek maak vir ’n (myns insiens baie gesonde en noodsaaklike) kritiese oorweging van wat die Nederlandse teoloë te sê het, is dit onontbeerlik dat ons veel meer direk met die nie-Nederlandse teologie in aanraking sal kom, sodat ons in staat kan wees tot die vorming van ‘n eie oordeel en tot die lewering van ‘n eie bydrae tot die gesprek.
Dit is hierdie oorwegings wat ons daartoe gelei het om op ‘n beskeie wyse ‘n begin te maak met die bespreking van Duitse teologiese werke wat ‘n oorsig kan bied van wat daar op die oomblik in Duitsland gedink word. Die probleme waarvoor ons daarby staan, is egter duidelik. Daar is naamlik baie van ons teologiese studente en predikante wat Duits moeilik vind om te lees en wat, as daar enigsins ‘n keuse is, liewer nie ‘n Duitse boek sal koop en bestudeer nie. Die Duitse uitgewers is dus nie besonder gretig om boeke vir resensie aan ons te stuur nie, omdat hulle vrees dat dit eenvoudig op ‘n verlies vir hulle sal uitloop. Die ander probleem is dat die Duitsers daarvoor bekend is dat hulle ingewikkeld skryf. Dit beteken dat ‘n mens daarop kan reken dat dit eintlik net die vak-teoloog sal wees wat egte Duitse teologie in sy naakte vorm sal wil lees. Die derde probleem is dat die Duitse teologie in baie opsigte taamlik ver van ons af staan. Selfs die mees behoudende Duitse teoloë mag vir die meeste van ons nog te progressief voorkom. Dinge wat vir ons groot moeilikhede inhou, word deur hulle as vanselfsprekendhede aanvaar – soos met name die gebruik van bepaalde eksegetiese en teologiese metodes. Daarom het ons ook aan die uitgewers laat verstaan dat hulle nie buitengewone resultate moet verwag van die bekendstelling van Duitse werke in ‘n Afrikaanse teologiese tydskrif nie. Tog hoop ons dat daar wel voldoende belangstelling sal wees om dit te regverdig. Ons het egter gedink dat dit goed sou wees om ‘n begin te maak met publikasies van Kreuz Verlag wat bereken is op ‘n taamlike wye leserskring. Uiteraard doen ons dit nie, omdat ons die teologiese kapasiteite van ons lesers onderskat nie, maar omdat ons die genoemde probleme in gedagte hou en hoop dat ons op hierdie wyse kennismaking met die Duitse teologie kan stimuleer op sodanige wyse, dat ons kan voortgaan tot werke van meer wetenskaplike en tegniese aard.
Die reeks Themen der Theologie is besonder geskik vir ons doel. Ons het hier naamlik ‘n reeks publikasies van jongere (en enkele ouere) Duitse teoloë oor onderwerpe wat op die oomblik in die sentrum van die teologiese belangstelling in Duitsland (en in die hele wêreld) staan. Die bedoeling van die reeks is om op ‘n min of meer populêre wyse hierdie temas ter sprake te bring ter oriëntering van belangstellendes uit ‘n wyer leserskring as die spesifieke vakteoloë, ten einde ook hierdie mense tot die vorming van ‘n selfstandige oordeel oor teologiese onderwerpe uit te lok. Die vyftien onderwerpe is met sorg gekies. Daar word agtereenvolgens gehandel oor: Jesus, die toekoms, vrede, opstanding, die rede, gebed, die Bybel (Ou Testament en Nuwe Testament afsonderlik), dood, God, mens, skepping, kommunikasie, leek en kerk. Die leser wat enigsins op hoogte is van die huidige diskussie sal weet dat aktueler temas moeilik gevind kan word. Die skrywers is almal manne van naam wat in ander, meer wetenskaplike publikasies hulle teologiese vermoë gedemonstreer het en tot die leidende teoloë van ons tyd gereken moet word. Nie almal van hulle gaan met die teologie om op ‘n wyse wat vir die Afrikaanse teoloog oor die algemeen aanvaarbaar sal wees nie. Dit neem egter nie weg nie dat dit die moeite werd is om kennis te neem van wat hulle na vore bring, veral ook omdat hulle almal deur één gemeenskaplike doel beweeg word, naamlik om só teologie te bedrywe, dat die mens van vandag daardeur geraak word en kan verstaan dat die sáák waarom dit in die teologie gaan, nie buite sy lewenswerklikheid geleë is nie, maar op die mees direkte wyse daarmee te make het. Al sal ons dan die manier moet afwys waarop hierdie doel dikwels nagestrewe word, kan dit daartoe dien om ons te stimuleer om die vraag te stel hoe dit dan wél behoort te gebeur ten einde die gestelde doel te bereik, sonder om aan die Woord van God ontrou te word.
Ons het drie deeltjies uitgesoek vir nadere aankondiging hier, en wel die deeltjies wat geskrywe is deur drie van die mees bekende en belowende jong dogmatici in Europa, naamlik Heinrich Ott (“Gott”), Jürgen Moltmann (“Mensch”) en Eberhard Jüngel (“Tod”). Hulle is al drie teoloë wat “van huis uit” ‘n sterk invloed van die dogmatiek van Karl Barth ondergaan het. Die interessante feit is egter dat hulle al drie op hulle eie wyse ‘n ander rigting in die dogmatiek ingeslaan het as wat in die tyd van die oorheersing van die invloed van Barth in die Duitssprekende wêreld geoorloof geag sou word. Omdat dit ons hier enkel om ‘n aankondiging gaan, is dit nie ons bedoeling om op allerlei besonderhede in hierdie boeke self in te gaan nie, maar volstaan ons met enkele opmerkinge van ‘n meer algemene aard wat meer betrekking het op die wyse waarop hier geteologiseer word, as op die konkrete inhoud van die boeke self. Ons hoop dat ons daardeur meer as een leser daartoe sal inspireer om nader met die skrywers self kennis te maak. Die boekies wat ons hier aankondig, is uitnemend geskik met die oog op ‘n eerste kennismaking, omdat ons hier beknopte werke het wat op ‘n bevatlike wyse voorbeelde bied van die teologiese aanpak en metode van die genoemde teoloë, en dikwels ons ook ‘n kykie gee in die vernaamste motiewe wat hulle in hulle grotere werke beweeg.
So is die boekie van Ott bv. in groot lyne ‘n bevatliker weergawe van die stof wat hy in die tweede deel van sy groter werk, Wirklichkeit und Glaube II, met die subtitel: Der persönliche Gott, aangebied het. Ott is naamlik van oortuiging dat die kern van die huidige uitsprake oor “die dood van God” eintlik daarin bestaan dat die geloof in ‘n persoonlike God by vele verdwyn het. In aansluiting by die vraag van Bultmann watter betekenis dit het om van God te praat, wil hy dus die vraag stel watter sin dit het om van ‘n persoonlike God te spreek. Wat hy probeer doen, is om teologies die vraag na hierdie sin te beantwoord en teenoor ateïsme, ateïsme en die geloof in God as ‘n onpersoonlike mag dit as ‘n wesenstrek van die Christelike geloof op die voorgrond te stel dat dit daarin om die geloof in die persoonlike God gaan. ‘n Mens kan hierdie intensie van Ott toejuig en met instemming daarvan kennis neem dat hy ‘n kragtige poging aanwend om te laat sien dat die tradisionele geloofswyse wat met God as ‘n persoonlike God reken, nog steeds onopgeefbaar is. Wat hy skryf oor die omgang met God en veral oor die gebed is in meer as een opsig uitstekend en ‘n mens is dankbaar vir die wyse waarop hy daarin slaag om so eenvoudig en helder oor hierdie dinge te spreek en duidelik te maak dat die instelling met betrekking tot die gebed in ‘n sekere sin ‘n toetssteen is vir die vraag of ons nog met ’n Bybelse teologie te make het.
Tog sal ‘n mens die wyse waarop Ott teologies te werk gaan, nie bepaald gelukkig kan noem nie. Dit hang saam niet sy hele teologiese metode of, anders uitgedruk, met sy visie op die verhouding tussen teologie en filosofie en die manier waarop die Bybel binne sy teologies-wysgerige denke funksioneer. Dit is bekend dat Ott in hierdie opsig ‘n ander weg wil gaan as sy beide groot leermeesters, Barth en Bultmann. In sy werk Denken und Sein het hy rekenskap afgelê van die feit dat hy ‘n ander instelling met betrekking tot die vraag na die verhouding tussen teologie en filosofie inneem as albei laasgenoemdes. 1 Vir ons doel hier is dit veral belangrik om op te merk dat hy, in teenstelling tot Barth, ‘n baie positiewe standpunt inneem ten opsigte van die vraag na die bruikbaarheid van wysgerige denke in die teologie. Trouens, Denken und Sein is geskrywe met die bedoeling om duidelik te maak dat daar uit ‘n ernstige gesprek tussen die teologie en die wysbegeerte van Martin Heidegger vir die teologie groot winste te behaal is. In teenstelling tot bv Bultmann is Ott naamlik van oortuiging dat teologie en filosofie met dieselfde waarheid besig is en dat hulle daarom mekaar oor en weer kan dien by die uitspreek van hierdie waarheid. Die gevolg van hierdie standpunt is dat hy in sy teologiese metode nie in eerste instansie eksegeties te werk gaan nie, maar in ‘n dialoog tree met ander denkers en só worstel om tot die waarheid te kom. Soos hy in Denken und Sein in ‘n dialoog getree het met Heidegger, so het hy dit in Wirklichkeit und Glaube I met Bonhoeffer gedoen en so was dit sy intensie om in Wirklichkeit und Glaube II weer met Martin Buber in gesprek te tree. Die boek het egter in die lig van die resente probleme rondom die Godsleer uitgeloop op ‘n meer sistematiese behandeling van dié leer, hoewel dit duidelik is dat die wysbegeerte van Buler ‘n baie sterk woord daarin bly meespreek het.2
Die wins wat Ott op hierdie wyse meen te behaal, is dat hy in die posisie kom om verskillende waardevolle elemente uit teenoorgestelde rigtings met mekaar te kan verbind. Hy is van oortuiging dat hy daarmee in die spoor van Bonhoeffer verder wandel, wat na sy mening die goeie van Barth én Bultmann met mekaar verbind het en dus soveel die gevare van die sogenaamde openbaringspositivisme van Barth as die ontmitologisering van Bultmann kon vermy. In elk geval bring dit mee dat hy ‘n teologie wil bedryf wat beantwoord aan die eis van “intellektuele redelikheid” soos wat Bonhoeffer dit as ‘n noodsaaklikheid vir ons religielose tyd gesien het. Dit bring mee dat hy nie by die Heilige Skrif begin nie, maar by die geloof, ervaring, nadenke en self-uitlegging van die geloof. Sy grond vir die verdediging van die persoon-wees van God soek hy dan ook nie in die selfopenbaring van God nie (vgl bv. wat Brunner in hierdie verband sê oor die feit dat God sy Naam bekend gemaak het),3 maar in die persoon-wees van die mens. Die feit dat daar in die Christelike tradisie op ‘n persoonlike manier oor God gespreek word, is ‘n implikasie van ons menssyn wat nie anders verstaan kan word as ‘n eksistensieel-in-ontmoeting-syn nie. Immers, die werklikheidsbelewing word deur Ott verstaan as ‘n inter-personele sin-belewing wat sy oorsprong het in die kategorie van die “Zwischen” wat hy van Martin Buber oorneem. Die mens word eers werklik mens in hierdie situasie van ontmoeting. Via die gedagte dat die werklikheid dus van ‘n personele aard is en God die werklikheid self is, kom hy tot die posisie dat God persoonlik is en tegelyk bowe-persoonlik.
Ons gaan hier nie verder in op die gevolge wat hieruit voortvloei nie. Dit is byvoorbeeld duidelik dat hierdie wyse van redenering daarop neerkom dat die teologie nie in eerste instansie daarop afstuur om behulpsaam te wees met die prediking van die Woord wat in die Heilige Skrif betuig word nie, maar om behulpsaam te wees met die prediking as ‘n handeling waarby die evidensie van Gods aanwesigheid en werklikheid in die vorm van ‘n Existenzerhellung in die lewe van die mens aangetoon of onthul moet word.
Ons weet dat Ott veel van Barth geleer het en vir Barth ‘n groot waardering het. Hy het selfs in sy Denken und Sein aangetoon dat hy in die Kirchliche Dogmatik van Barth veel meer tot openbaring sien kom van wat hy in die lyn van die latere Heidegger as die juiste teologiese metode wil verstaan, as wat by Bultmann en sy skool die geval is. Tog is die geweldige verskil tussen Ott en Barth op alle punte duidelik. ‘n Mens moet by die lees van sy boekie (en dit is ‘n besonder aangename ondervinding, omdat dit so onderhoudend, helder en vriendelik geskryf is) noodwendig dink aan die breuk tussen Barth en Gogarten en die teleurstelling van Barth in Gogarten, omdat hy, nadat hulle almal saam met ‘n egte teologie van die Woord wou begin het, weer uitgewyk het na ‘n spekulatiewe “Ich-Du-Philosophie” as die sleutel tot die teologiese problematiek.4 Nou is daar natuurlik duidelike verskille tussen Gogarten en Ott, maar daar is ook strukturele ooreenkomste wat Barth seker nie minder teleurgesteld sou laat staan nie. Daarmee is natuurlik nie alles gesê nie. Die teologie kan nie gemeet word aan Barth nie. Dit is duidelik dat daar in die werk van die jonger manne ‘n totaal ander gees aanwesig is as in die werk van Barth. Dit is goed dat daar verandering kom en dat daar na die oorwinning van bepaalde swakhede in die teologie van Barth gesoek word. Dit is egter ‘n ernstige vraag of dit langs die weg van Ott kan gebeur. Sy teologie is nie sonder ‘n sekere bekoorlikheid nie, maar dit verteenwoordig na my mening ‘n stap terug. Ek sien nog nie dat hy ons werklik verder help op die weg na ‘n egte Bybelse teologie nie. Dit wil nie sê dat sy boeke nie die moeite werd is om te bestudeer nie. Die leser sal ongetwyfeld ook uit hierdie klein boekie van hom veel wat bruikbaar is, kan leer en in elk geval ‘n goeie insig kan kry in een van die maniere waarop in die tyd ná Barth en Bultmann in Europa geteologiseer word.
Hierdie laaste opmerkinge geld ook van Jurgen Moltmann, wie se bydrae Mensch eweneens tot die belangwekkendste deeltjies in hierdie reeks gereken sal moet word. Net soos Ott is Moltmann ‘n gereformeerde, maar sy inslag as leerling van Otto Weber en as kenner van die Nederlandse gereformeerde teologie gee aan hom ‘n ander aard. Waar Ott vanweë sy besondere waardering vir die wysbegeerte van Heidegger nie kan wegkom van die eksistensialistiese dink-weg nie (al verskil hy ook baie ernstig van Bultmann en sy skool), is Moltmann wysgerig baie meer beïnvloed deur die selfstandige Marxistiese denker Ernst Bloch. Dit is seker nie die enigste rede vir sy verset teen die eksistensialistiese versmalling van die teologiese denke nie (hy is immers ook baie sterk beïnvloed deur iemand soos van Ruler), maar dit het tog sonder enige twyfel ‘n groot rol daarin gespeel en hom minstens bepaalde kategorieë aangereik wat hom in staat gestel het om op sy eie wyse uitdrukking te verleen aan die sin en betekenis wat die Christelike boodskap vir die mens van vandag het.5 Ons het hier dus weer, al is dit nie ‘n verklaring vir alle verskille nie, ‘n geval waar met die verwysing na die soort wysbegeerte wat deur ‘n dogmatikus aangehang word, al ‘n groot woord gespreek is oor die wyse waarop hy van ander teoloë met ander wysgerige beïnvloeding afwyk. Dit is ‘n saak wat werklik ons ernstige aandag werd is. Die verhouding tussen teologie en wysbegeerte is nog nie bevredigend onder ons bespreek nie.
In elk geval, by Moltmann het ons met ‘n totaal ander aanpak van die teologie te make as in die voorafgaande generasie. Is die weg van Bultmann vir hom onbegaanbaar, ook met Barth kan hy nie heeltemal meegaan nie, omdat ook by Barth die geskiedenis te veel uit die gesigsveld verdwyn. Moltmann wil juis laat sien hoe belangrik die geskiedenis is as die geskiedenis waarin God op weg is met die mense na die einde toe. Daarom kry die heil by hom allerlei konkrete dimensies wat dit in die teologie van enkele dekades gelede net nie kon hê nie. Teologie is nie maar ‘n soort wetenskaplike spel met allerlei wetenswaardige dinge nie: teologie moet meewerk aan die verandering van die wêreld waarin ons lewe, gedryf deur die mag van die hoop wat teen alles in bly vashou aan die toekoms van die vervulde heil.
Dat Moltmann hierdie deeltjie oor die mens moes skrywe, is verstaanbaar. Wat hom met die eksistensie-teoloë verbind, is die oortuiging dat die heilsboodskap moet aansluiting vind by die menssyn van die mens. Wat hom onder andere van hulle laat verskil, is die feit dat hy nie die mens verstaan vanuit die teenstelling tussen natuur en vryheid nie, maar vanuit die innerlike drang van die hoop wat in die hart van die mens gelê is en hom voortdurende onrustig maak, sodat hy hom nie kan neerlê by die bestaande nie, maar hom moet bly uitstrek na die toekoms.
Dit is ‘n interessante – meer nog – ‘n belangwekkende aanpak wat ons by Moltmann teëkom. Tog mag ons die oë nie daarvoor sluit dat ons hier eweneens met ‘n soort wysgerig-antropologiese sleutel te make het wat bedoel is om op alle teologiese slotte te pas nie. Nie die Christologiese konsentrasie van Barth wat die menssyn van die mens uit die Christologie afgelees het nie, en ook nie die eksistensialistiese benadering van die mens wat ons in die Bultmann-skool teëkom nie, maar die mens as wese wat ‘n roeping en ’n opdrag het en die toekoms ingedryf word deur sy hoop op die belofte van God – dit is die ontwerp van die mens waarmee Moltmann werk. Daarom vind ons by hom geen poging om ‘n beeld van die mens te teken en ‘n soort Bybelse antropologie te ontwerp nie, maar tref ons by hom die verdediging aan van die gedagte dat ons die mens eintlik leer ken as diegene tot wie God in sy ellende ja gesê het en as diegene wat daarom mag reken met Gods teenwoordigheid by hom in sy nood en vertwyfeling. Sy belangstelling in die mens is dus wesenlik iets anders as die tradisionele teologiese vrae na die “oorsprong, wese en bestemming van die mens”. Hy benader ook wel die mens vanuit Christus, en dan met name vanuit die kruis en opstanding van Christus, maar nie met die doel om te vra wat ons van die mens in homself kan sê nie, maar slegs met die bedoeling om vanuit die kruis en opstanding van Christus lig te laat val op die belofte wat daar van Gods kant aan die mens gegee is en die hoop waarmee hy aan daardie belofte moet vashou – waardeur hy op weg geplaas kan word die toekoms in.
Dit hang met hierdie benadering van Moltmann saam dat hy hom besig hou met die mensbeelde van die sosiologie, die psigologie en die gedragswetenskappe in die algemeen, maar ook met die antropologiese ontwerpe van die idealisme, die marxisme en die fascisme. Die rede vir hierdie belangstelling is dat in elkeen van hierdie mensbeelde bepaalde maatskaplike en politieke konsekwensies opgesluit lê. Dit is juis hierdie konsekwensies wat hom besig hou en waarteen sy kritiek uitgespreek word. Sy vernaamste vrees is dat die mens op homself beskou sal word en daarmee absoluut gestel sal word en selfs tot ‘n afgod gemaak sal word. Die mens kan nie bloot antropologies benader word nie, maar moet teologies benader word, omdat God die kritiek op die mens is. Slegs vanuit die roep en die belofte wat van Gods kant tot die mens uitgaan, is daar ’n moontlikheid om só oor die mens te praat, dat sy ware menssyn nie in die gedrang kom nie. Dit beteken egter dat Moltmann se antropologiese ontwerp die karakter dra, nie van synsvoordele oor die mens nie, maar van ‘n ontwerp van wat die mens behoort te word. Hy beoog ‘n teologie-in-aksie, ’n teologie wat in beweging bring, veral ook politiek en maatskaplik in beweging bring.6 Hy beoog ‘n teologie wat die mens kan help om hier en nou te lewe in die hoop wat reeds in die konkrete lewe tekens oprig van die toekomende heil.
Dat ons by Moltmann met eg-teologiese gesigspunte gekonfronteer word en bevry word van ‘n hele stuk wysgerige antropologie wat deur die eeue heen met die teologie saamgesleep is en soos ‘n net oor die Bybel gesprei is om sy boodskap te probeer vang, is duidelik. Dat hy tans weer vanuit ’n ander wysgerige benadering ‘n nuwe net oor die Bybelse verkondiging uitsprei om sy vangs te doen, is eweneens duidelik. Blykbaar kan ons net nie anders as om een of ander greep op die Bybelse inhoud te doen nie. Daardie greep hang dan onder andere saam met ons wysgerige instelling. Die tradisionele teologie was ewe-min vry van wysgerige voorveronderstellinge wat die Bybelse boodskap op ‘n bepaalde manier ingekort (of uitgebrei) het as die huidige teologie. Ons kritiek teen Moltmann kan dus nie sonder meer wees dat hy van bepaalde wysgerige veronderstellinge gebruik maak nie. Ons kritiek sal egter moet ingaan op die vraag of hy nie deur sy wysgerige veronderstellinge gelei word tot die daarstelling van ‘n versmalde greep op die Bybelse kerugma nie. Hy sny sulke wesenlike dinge aan, dat ‘n mens daarvoor dankbaar moet wees. Tog mis ‘n mens ‘n vol Bybelse benadering van die problematiek. ‘n Mens kry die gevoel dat Moltmann se ontwerp op baie punte direk op die Bybelse verkondiging aansluit, maar dat dit eensydig is en dat ook die Skrifgebruik daarom nie van ‘n bepaalde eensydigheid vrygespreek kan word nie. In elk geval is die bestudering van hierdie boekie van Moltmann die moeite werd en sal dit die leser onmiddellik in voeling bring met Moltmann se hele wyse van dink en teologiseer.
Ten slotte nog enkele opmerkinge oor die werkie van Eberhard Jüngel, naamlik Tod. Jüngel is ‘n paar jaar jonger as die twee genoemde teoloë. Van die drie het hy tot dusver nog die minste gepubliseer en hy het ook nog die minste aandag getrek, omdat hy nie met sulke opspraakwekkende teologiese vernuwinge na vore gekom het, dat hy geweldig moes opval nie. Tog word hy van alle kante as ‘n uiters belowende jong dogmatikus beskou. Sy tydskrifartikels getuig van groot geleerdheid en ‘n skerp teologiese insig, terwyl sy bekendste werk, Gottes Sein ist im Werden, as een van die belangwekkendste bydraes in die diskussie rondom die sogenaamde “Gegenständlichkeit Gottes” beskou moet word. Van die drie teoloë wie se bydraes ons hier bespreek, is Jüngel die mees getroue volgeling van die teologiese lyn van Karl Barth. Dit blyk ook weer in hierdie werkie, waarin die eindkonklusie saamgevat kan word in ‘n betreklike lang aanhaling uit Barth se Kirchliche Dogmatik.
Tog moet niemand hieruit aflei dat Jüngel ‘n onkritiese navolger van Barth is nie. Inteendeel, sy aanpak van die teologie is anders as die van Barth. Dit blyk al dadelik daaruit dat hy in sy spreke oor die dood nie begin met die vraag wat die Heilige Skrif ons daaroor leer nie, maar met die vraag waar ons ons inligting oor die dood vandaan moet haal om überhaupt iets oor die dood te kan sê, terwyl geen lewende mens al ooit die dood ervaar het en ons dus daaroor kan inlig nie. Sy antwoord op hierdie vraag is dan weer eens nie: Ons moet die Bybel daaroor raadpleeg nie, maar: Ons moet die lewende mens vra wat die dood is, omdat die lewe op een of ander manier uit homself die dood ken. Die lewende mens het reeds ‘n verhouding tot die dood en weet van sy eie dood en die begrensdheid van sy eie lewe. Uit hierdie antwoord blyk die metode van Jüngel reeds duidelik. Waar Barth altyd geweier het om sy teologie te bedrywe as ‘n gesprek met die ander wetenskappe of met die natuurlike kennis van die mens oor bepaalde aangeleenthede, vind ons by Jüngel die grootste vrymoedigheid om in te gaan op die algemene selfbesef van die mens, op die gegewens van die mediese wetenskap, die sosiologie en die wysbegeerte met betrekking tot die vraagstuk van die dood – en om sy teologiese posisie ook mede daardeur te laat bepaal. Natuurlik kom ook die Bybelse spreke oor die dood uitvoerig aan die orde – en in vergelyking met die genoemde werke van Ott en Moltmann doen hierdie uitvoerige behandeling van Bybelse gegewens weldadig aan – maar dit gebeur so te sê eers in tweede instansie. Dit beteken nie dat daarmee aan die kennis wat van elders verkry is, groter gewig toegeken word as aan die Bybelse spreke oor die dood nie, maar dit beteken wel dat die Bybelse spreke oor die dood nie die uitsluitlike voorwerp van besinning vir die teologie is of die enigste woord is waarna geluister word nie.
Jüngel sê dan ook in soveel woorde dat die Bybel nie ‘n boek is waarin ons na klinkklare antwoorde op ons vrae moet soek nie. Die Bybel dwing ons eerder tot denke, omdat dit aan ons bepaalde vrae stel. Wie die Bybel “met verstand” lees, kan dan ook nie daaraan verbykom om op eie verantwoordelikheid tot spreke oor te gaan nie. Die taak van die teologie is om ons by hierdie eie spreke behulpsaam te wees. Wie op eie verantwoordelikheid oor geloofsake spreek, doen dit deur na woorde te soek waarmee ander mense kan instem, sonder dat hulle daarmee hulle eie verantwoordelikheid ontneem word om self standpunt in te neem met betrekking tot die saak waarom dit gaan. Op ‘n ander plek sê hy dat die steekhoudendheid van ‘n teologiese antwoord op die vraag aangaande die dood gemeet moet word aan die vraag of dit vir ons gewete bindend is. Dit moet die gewete op sodanige wyse bind, dat dit terselfdertyd bevrydend is. Dit alles hang daarmee saam dat hy van oordeel is dat die teologiese antwoord wat daartoe in staat is om die menslike gewete op ‘n bevrydende manier te bind, slegs tot stand kan kom wanneer die hermeneutiese vraag na die voorwaardes vir die regte verstaan beantwoord is. Dit hang egter saam met die hele lewensinstelling van mense sodat die verkondiging (en dus ook die teologie) welbewus rekening moet hou met die tydgees en te midde van die tydgees daaraan moet meewerk om die geloof vir mense moontlik te maak deur hulle te help om te verstaan waarom dit in die Christelike boodskap gaan. Wanneer dit nou blyk dat die algemene tydgees dit vir die mens van vandag onmoontlik maak om die opstanding van Christus in die oorgelewerde terme te verstaan – omdat so iets as die opstanding uit die dood vandag steeds meer onvoorstelbaar en ongeloofwaardig word – dan is dit die taak van die teologie om die opstanding van Christus op sodanige nuwe wyse ter sprake te bring, dat dit ‘n nuwe instelling tot dood en lewe by die mens tot stand kan bring.
Dit alles is nie in sigself so merkwaardig nie. Dit is egter opvallend as ons daaraan dink dat Jüngel ‘n leerling van Barth is. Sy leermeester sou eenvoudig net nie so kón spreek nie.
Intussen bly dit staan dat Jüngel in sy eindresultate nie ver van Barth af te staan kom nie. Ook hy spreek indringend oor die begrensdheid van die menslike lewe. Van ‘n voortsetting van die lewe na die dood, van ‘n onsterflikheid of ‘n kontinuïteit van die mens oor die dood heen, wil ook hy nie weet nie. Volgens hom is dit egter só, dat die herstel van verhoudinge wat daar deur Christus tussen die mens en God en die mens en sy medemense tot stand kom, aan die dood as vloekdood ‘n einde gemaak word, sodat die dood van die gelowige weer ‘n “natuurlike dood” kan word, die dood as einde en voltooiing van die mens se lewe, waaragter nie die niks wag nie, maar God self. So kan hy spreek oor die vernietiging van die dood in die dood van Christus en van die hoop op die opstanding as die hoop daarop dat die lewe van die mens ook na sy dood nie “verlore” is nie, maar gered en verheerlik in God geborge sal wees. Die saligheid bestaan daarin dat God Hom met ons in ons dood identifiseer, sodat God ons toekoms is.
Dit is natuurlik baie “minder” as wat die Skrif sê. Die rede daarvoor lê uiteraard in bepaalde voorveronderstellinge waaraan ook Jüngel nie verby kan kom nie – voorveronderstellinge wat saamhang met die positivistiese instelling van die moderne mens. Dit is hierdie selfde instelling wat Jüngel bereid maak om op ‘n nogal radikale wyse Skrif-krities te werk te gaan. Die leser word onteenseglik geboei deur wat Jüngel te sê het, maar hy kom nie weg van die vraag of die tol wat hier aan die verstaanbaarheid betaal word, nie te groot is nie. En hy kom ook nie weg van die gedagte dat die afstand tussen Barth en sy leerlinge steeds groter word nie.
* Bibliothek Themen der Theologie, hrsg. von Hans Jürgen Schultz, Kreuz Verlag, Stuttgart-Berlin, 15 dele, elk ongeveer 176 bladsye. Prys D.M. 14,80 per deel, by intekening D.M. 9,80.
[1] Vir ‘n goeie bespreking van Ott se posisie in hierdie verband, vgl. die dissertasie van J. A. Stofberg, Teologie en Ontologie, Groningen, 1965, 146 e.v. Origens kan ‘n mens ook veel leer uit die diskussie rondom Ott se denkbeelde in Neuland in der Theologie, I, Der Spätere Heidegger und die Theologie, Stuttgart, 1964.
[2] Oor die twee dele van Wirklichkeit und Glaube het H. M. Kuitert insiggewend geskryf in Geref. Theol. Tijdschrift, Nov. 1968, 290 e.v. (Existential of Pneuma?) en Nov. 1971, 235 e.v. (Over de Vindplaats van God). Dit is jammer dat Kuitert nie meer aandag aan die vraag na die verband tussen die denke van Ott en die wysbegeerte van Buber bestee het nie.
[3] E. Brunner, Die Christliche Lehre von Gott, Dogmatik 1, 127 e.v.
[4] Vgl. K. Barth, Abschied von Zwischen den Zeiten, in: Anfänge der dialektischen Theologie, II, München, 1963, 313 e.v.
[5] Vir ‘n aantal insiggewende opstelle oor Moltmann se boek Theologie der Hoffnung waarvan verskillende herdrukke sedert die verskyning daarvan in 1963 moes plaasvind, vgl. die bundel Diskussion über die Theologie der Hoffnung, uitgegee by Chr. Kaiser in Munchen, wat ook in ‘n Nederlandse vertaling beskikbaar is onder die titel Discussie over theologie van de hoop, Ambo, Utrecht, 1968. Vgl. verder J. T. Bakker, Discussie over Theologie van de Hoop, G.T.T., Mei 1968, III e.v.; D. J. Louw, Toekoms tussen Hoop en Angs, diss. Stellenbosch, 1972.
[6] Die implikasies van die teologiese aanpak van Moltmann vir die teologiese metode in die algemeen word ter sprake gebring deur G. Sauter in sy werkie Vor einem neuen Metlzodenstreit in der Theologie? München, 1970.