Die Kerk en sy Diakenamp

Die Kerkbode
14 November 1973
Die Kerk en sy Diakenamp
Deur Prof WD Jonker

Inleiding
Dit is ’n verblydende saak dat daar in ons tyd soveel aandag aan die amp van die diaken gegee word. Sonder vrees vir teëspraak kan gesê word dat die amp van die diaken in die geskiedenis van kerk en teologie maar altyd ’n stiefmoederlike aandeel van die belangstelling geniet het. In die kerke van die Katolieke tradisie, bv. soos in die Rooms-Katolieke Kerk, die Oosters-Ortodokse Kerk en die Anglikaanse Kerk het die diakenamp verskrompel tot ’n voorstadium vir die priesteramp of tot ‘n liturgiese funksionaris in diens van die priester en biskop. Die diens van barmhartigheid word daar heeltemal nie aan hom toevertrou nie, behalwe miskien in die geval van enkele resente ontwikkelinge, met name in die Anglikaanse Kerk. En in die kerke van Luthers-reformatoriese afkoms kon die diaken nooit tot ’n afsonderlike amp uitgroei nie, al het Luther self teoreties ingesien dat dit eintlik so hoort.
Soos die diens van barmhartigheid in die Rooms-Katolieke Kerk aan bepaalde ordes toevertrou is, so geskied dit in Duitsland binne die Lutherse Kerk hoofsaaklik deur stigtinge wat ook ‘n missionêre motief daarop nahou (Innere Mission). By die Oosters-Ortodokse Kerk, soos trouens by alle kerke onder Kommunistiese owerhede. moet die kerk hom beperk tot sy liturgiese taak, sodat van ’n ontplooiing van ’n kerklike diens van barmhartigheid in die samelewing eintlik geen sprake kan wees nie. Wat dit betref, vorm die Gereformeerdes ’n seldsame en verkwikkende uitsondering in die wêreldkerk. Slegs by hulle kon die diaken tot ’n selfstandige amp uitgroei wat ’n definitiewe opdrag het op die terrein van die diens van barmhartigheid en sy selfstandigheid kon bewaar teenoor die owerheid met sy versorging van sy onderdane. Tog sal ons moet sê dat ook hierdie diaken nie altyd tot sy reg gekom het nie. Die diaken moes dikwels die diens van barmhartigheid alleen verrig, sonder dat die gemeente daarin self aktief betrokke was, en nog meer dikwels is aan hom allerlei ander take opgedra wat nie tot sy eintlike verantwoordelikheid gereken kon word nie.
In ons eie Ned. Geref. Kerk is die diaken selfs vir ’n lang tyd bloot as kollektant gesien en was daar selfs gemeentes waar daar ’n armesorgkommissie was om die werk te doen, waarop die diakens soms nie eens sitting gehad het nie. Voeg hieraan nog toe dat dit volgens die Dordtse Kerkorde nie so was dat die diakens in die kerkraad sitting gehad het nie, en u kan begryp dat hulle ook binne die Geref. familie nie altyd tot hulle reg gekom het nie, al ons mooi formuliere ten spyt. Daarom is dit so verblydend dat die diakonaat in die afgelope dekades so op die voorgrond getree het en dat ons op allerlei saamtrekke kan onderstreep dat dit in die amp van die diaken om een van die wesensfunksies van die kerk gaan. Dit is iets wat sedert die Tweede Wêreldoorlog in die hele wêreldkerk weer beter verstaan word en meer aandag geniet. Die feit dat dit óók by ons in hierdie tyd so sterk na vore gekom het, mag ander oorsake hê as die opkoms van die belangstelling in ander dele van die wêreld – feit bly egter dat ons in hierdie nuwe belangstelling nie alleen staan nie, maar in gelid verkeer met die Protestantse Kerke oor die wêreld.

(1) Die Sentrale Plek van die Diakonaat in die Roeping van die Kerk

In die nuwe belangstelling vir die diakonaat staan een oortuiging baie sterk op die voorgrond, naamlik dat dit in die diakonaat gaan om een van die wesensfunksies van die kerk wat nie aan die kant geskuiwe of verwaarloos mag word nie. Hierdie insig het veral deurgebreek na mate daar in die teologie ’n helderder besef gekom het van die betekenis van die Bybelse boodskap van die Koninkryk van God. In die negentiende-eeuse teologie is die koninkryk dikwels verstaan as die benaming vir die geestelike en morele vernuwing van mense, maar die allesomvattende betekenis daarvan is nie raakgesien nie. Dit is eers in ons eeu dat daar weer meer begrip gekom het vir die feit dat die koninkryk van God niks minder inhou nie as die absolute en totale heerskappy van God oor alle dinge, dus ook oor die materiële en stoflike dinge, en dat die koms van Gods Koninkryk ook beteken dat die ganse skepping vernuwe en herstel sal word. Dat Christus gekom het en verkondig het dat die Koninkryk van God naby gekom het, beteken nie slegs dat Hy gekom het om mense se siele te red nie, of om aan hulle ’n ewige lewe na hierdie lewe te skenk nie, maar dat Hy hulle hele lewe, hier en nou, reeds tot ’n teken wil maak van die heerskappy van God oor alle dinge.
Vandaar ook dat Jesus in sy hele optrede nie slegs gepreek het nie, maar ook soveel dade en wonders van genesing, uitdrywing van duiwels en selfs opwekking nie die dood verrig het (vgl. Matteus 9:35, Lukas 24:19 en Handelinge 10:38). Die Bybel vermeld dit uitdruklik, om ons te laat verstaan dat die heil wat Jesus bewerk het, nie slegs op die siel van die mens betrekking het nie, maar op sy ganse bestaan. Dit is dus nie genoeg om op die vraag waarom Jesus mense gesond gemaak het, alleen na Sy barmhartigheid en liefde te verwys nie. Natuurlik, dit is die motiewe waaruit sy hele heilswerk voortgekom het. Maar ons sal dadelik sê: daardie liefde en barm¬hartigheid was daarop gemik om die skepsels van God en die totale skepping van God te herstel tot wat dit moet wees en om alle gevolge van die sonde, soos siekte, armoede, lyding, honger en dood van die aarde weg te neem, totdat die volkomenheid van die Ryk van God sal kom.
Hierdie aspek van Christus se heilswerk kom dus veral uit in sy dade van diens aan die mense in hulle nood. Filippense 2 sê Christus het Homself verneder om die gestalte van ’n dienskneg aan te neem. Hy was die Kneg van die Here. Sy lewe was ’n lewe van diens. Die kwaad wat in die wêreld is, kon nie op ’n ander manier oorwin word, as langs die weg van nederige diens nie. Die kwaad het immers in die wêreld ingekom deur die mens se weiering om God te dien en aan Hom gehoorsaam te wees in nederigheid en onderworpenheid. Die mens wou soos God wees. Die herstel van die kwaad en die oorwinning daarvan kon dus alleen geskied langs die weg van die diens van Een wat die Kneg van die Here was en gekom het om te dien en so nie alleen aktief reg te maak wat ons deur ons diensweiering verbrou het nie, maar ook die straf daarvoor te dra en Homself oor te gee as ’n losprys vir vele. Die grondwet van die Koninkryk is dan ook dat die grootste moet wees soos een wat dien (Markus 9:35). Deur Sy diens aan die mens in allerlei opsigte het Christus die groot Diakonos (Romeine15:8) geword wat ons verlos het en die koms van Sy Ryk kom aankondig het. Sy dood en opstanding is die grootste tekens en kragdadige inwerkingstelling van sy dienskneggestalte en van die herstel van alle dinge.
Binne hierdie diepe verbande moet ons nou die kerk se diakonale taak fundeer. Christus het Sy dissipels opdrag gegee om te preek én te genees. Matteus 10:7–8 laat daar geen twyfel oor nie, dat die diakonale opdrag vanaf die begin behoort het tot die roeping van die kerk. Die vroegste Christelike Kerk het nie van iets anders geweet nie, as om hulp aan die naaste in sy liggaamlike bestaanswyse te betoon as deel van die proklamasie van die Koningskap van Christus in die hele werklikheid.
Dit spreek vanself dat hierdie diens aan die naaste in ’n besondere sin tot openbaring kom binne die gemeenskap van die gelowiges. Ons lees in Handelinge van die vrywillige afstand wat mense van hulle besittings gedoen het om andere te versorg. Hieruit het vele afgelei dat die diakonaat van die kerk eintlik op die werklikheid van die onderlinge liefde en gemeenskap in die gemeente gebaseer moet word. Nou sal niemand wil betwyfel dat die diakonaat binne die gemeente allerlei gestaltes kry wat nie so maklik na buite ook geopenbaar kan word nie. ’n Mens moet maar dink aan die versorging van die armes in die liefdesmaaltye (versorging van die tafels, Handelinge 6). Daar is dan ook van oudsher ’n besondere band tussen awendmaal en diakonie (vgl. ons Nagmaalsformulier). Uit die onderlinge verbondenheid van die lede van die liggaam vloei vanself die onderlinge diensbetoon voort. Tog lyk dit vir my asof die gemeenskap ’n te smalle basis is vir die fundering van die diakonale diens van die kerk. In die diakonaat kom meer tot uitdrukking as die verband tussen broederliefde en onderlinge hulpbetoon. Binne die gemeente kan die diakonaat op die gemeenskap gefundeer en versterk word, maar dit is ’n spesiale, ’n ekstra fundering van die diakonaat. Die diakonaat gaan verder as die gemeentegrense. Dit strek hom uit na alle mense wat in nood is en in dié sin is eerder die navolging van Christus in Sy dienskneggestalte en in Sy proklamering van die koms van Sy Ryk die begronding van die diakonaat, as wat dit gevind kan word enkel in die gemeenskap.

(2) Diakonaat: Bestaanswyse van die Gemeente of Amp?

Uit die bostaande vloei nou voort dat die diakonaat van die kerk iets is van die hele gemeente. Dit is nie maar net bepaalde dade van die gemeente nie, maar dit is die bestaanswyse van die gemeente as gemeente van Christus, en nie net die werk van enkele ampsdraers nie. Ons het in die afgelope tyd miskien meer as vroeër daarvoor oog gekry dat daar bepaalde funksies of take van die gemeente in die wêreld is wat so onafskeidelik met die wese van die gemeente gegee is, dat die gemeente eintlik nie ten volle gemeente kan wees daarsonder nie. Ook die diakonaat is so ‘n wesensfunksie van die gemeente wat meer is as maar net onder andere ’n taak wat deur die gemeente verrig moet word, maar ook sonder veel skade nagelaat sou kon word. Dit is eenvoudig ‘n bestaanswyse van die gemeente om diakonaal in die wêreld aanwesig te wees as ’n diensmag.
Daarom is die diakonaat veel meer as die taak van enkele ampsdraers. Die vraag kan nou ontstaan of die diakonaat dan ook nie maar deur die hele gemeente beoefen moet word, sodat daar eintlik nie meer plek is vir die amp van die diaken nie.
Wanneer ons egter na die Nuwe Testament luister, dan merk ons dat daarin aan die hele gemeente ook ‘n verkondigingsfunksie toegeskryf word. ’n Mens sou kon sê dat die verkondiging ook ’n wesensfunksie van die gemeente is en ’n bestaanswyse van die kerk in die wêreld. En tog twyfel niemand daaraan nie dat, hoewel die verkondiging van die hele gemeente moet uitgaan en deur alle lidmate elkeen op hulle eie wyse behartig moet word, daar terdeë ‘n behoefte bestaan aan ‘n besondere amp wat die verkondiging in die gemeente moet behartig om die gemeente toe te rus vir sy verkondigingsfunksie in die wêreld. Eweneens is dit duidelik dat die hele gemeente teen die sonde in die wêreld moet stry, maar dat die besondere amp van die herder-ouderling wat moet waak oor die suiwerheid van die gemeente daarmee nie opgehef word nie, maar juis noodsaaklik gemaak word.
Op dieselfde wyse moet ons redeneer dat die diakonaat as bestaanswyse van die gemeente ’n besondere amp eis om die diakonale arbeid in die gemeente en van die gemeente te stimuleer, te koördineer en te organiseer.
Daarom, al is dit dat daar allerlei uitlegkundige probleme rond¬om die bekende tekste vir die diaken bestaan (Handelinge 6; Filippense 1:1; 1 Timoteus 3), is dit tog duidelik dat daardie tekste – gelees in verband met die feit dat die Nuwe Testament ons duidelik leer dat die diakonaat in en deur die gemeente onderhou moet word – aan ons ’n sterk genoeg grond gee om die amp van die diaken daarop te fundeer.
Juis wanneer dit waar is dat die diakonale taak ’n wesensfunksie van die gemeente is, word dit duidelik waarom die eerste besondere amp wat in die vroeë kerk náás die amp van die apostel nodig geword het, ’n diakonale karakter dra (Handelinge 6).
In elk geval mag ons seker hieruit ’n ander konklusie trek. As dit waar is dat die diakonaat ‘n wesensfunksie van die kerk is, net so goed as die Woordverkondiging, dan is dit ook duidelik dat die diakenamp nie minderwaardig is teenoor die ouderlingsamp of die leraarsamp nie. Hoogstens mag ons sê dat daar ’n sekere orde is, omdat die Woord voorafgaan aan die daad en die daad interpreteer, maar dit beteken nie dat die diaken daarom ’n mindere amp beklee nie. In werklikheid sou ’n mens verdedigend kon sê dat die ampte in hulle verskeidenheid wesenlik een is: soos die apostelamp één was en alle funksies omvat het, so is die verskillende funksies wanneer hulle in verskillende ampte uiteenval, tog nie van mekaar los te maak nie. Ook die predikant sal hom nie heeltemal van die diakonaat kan losmaak nie – ewemin as die ouderling – terwyl die diaken hom weer nie kan losmaak van die woorddiens nie (hy moet, volgens die formulier, woorde van vermaning en troos spreek) en ook nie van die geregtigheid waaroor die ouderling moet waak nie. Soos alle ampte ’n diensstruktuur het, het ook alle ampte ’n woordstruktuur en ’n regeringstruktuur (vgl. art. 30 van die Ned Geloofsbelydenis).

(3) Wat is dan die Besondere Take van die Diaken?

Kort saamgevat kan ons sê:
(a) Die eerste taak van die diaken is om die gemeentelede te help opbou tot ’n diensmag – ’n diensgemeenskap wat oral waar daar nood is, die hand van hulp uitsteek. Dit vereis dat die diakens veel voorligting aan die gemeente sal moet gee en die gemeente sal moet lei in die vraag waar en hoe hulp verleen moet word.
(b) Die tweede taak van die gemeente is ’n liturgiese taak. Die diaken hoort by die erediens, wat die sentrum is van die gemeentelike lewe, sy regmatige plek in te neem. Nie alleen doen hy daar diens in die algemene sin nie, maar hy versamel daar spesifiek die gawes vir die diens van barmhartigheid. Sou dit nie oorweging verdien dat ’n diaken die afkondiginge doen oor die aard van die kollektes wat ingesamel word en daarby die nodige inligting verskaf oor die nood waarvoor daar gekollekteer word nie? En verdien dit selfs nie aanbeveling dat die diaken die voorbidding behoort te doen vir die siekes en lydendes, vir die nood van die kerk en die Christenheid, vir die verdruktes enssomeer, nie? Dit is tog sy terrein.
(c) Die derde taak van die diaken bestaan daarin dat hy self hulp en bystand verleen waar daar nie andere is wat spontaan kan help nie. Die hulpverlening sal meermale die karakter aanneem van inligting oor hulp wat van staatsweë verkry kan word. Die hulp sal meermale ook in samewerking met vakkundiges van die kerk se maatskaplike werk, of ander maatskaplike beamptes moet geskied. Hoofsaak is dat die diaken daarby betrokke bly om die barmhartigheid van Christus sigbaar te maak en aan te vul wat kortkom.
(d) Die vierde taak van die diaken bestaan in die hulpverlening na buite. In diens van die evangelisasie en sending doen ons kerk al jare lank veel diens van barmhartigheid na buite. Dit sal opgevoer moet word, omdat daardeur duidelik gemaak kan word dat ons aan alle mense die Koninkryk in sy herstellende krag wil betuig met woord en daad. Hier kan die grense nie wyd genoeg getrek word nie. Waar rampe of nood is, selfs in ander dele van die wêreld, behoort ons nie alleen voorbidding te doen nie, maar ook hulp aan te bied.
(e) Die vyfde taak van die diaken lê op maatskaplike gebied. Wanneer daar faktore aanwesig is wat mense se lewe in ’n toestand van nood bring, help dit nie alleen om die slagoffers te ondersteun nie, maar moet daar ook werk gemaak word van die verkeerde toestande wat dié slagoffers veroorsaak. So het ons Kerk in die verlede aandag geskenk aan die trek van ons mense na die stad, aan die armblanke-vraagstuk – en so staan Kakamas en ander monumente daar om te toon dat ons kerk meer gedoen het as alimentasie-verlenging. Die taak mag nooit verwaarloos word nie. Die diakens is die mense wat met wêreldlike owerhede (stadsrade ens.) moet skakel oor behuising en dergelike meer, wanneer dit nodig mag wees. Dit sal meermale in ’n groter verband moet geskied.