HEILIGE SKRIF EN SOSIALE ETIEK BY CALVYN
Artikel deur WD Jonker (Kweekskool, Stellenbosch) in:
Bulletin van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die bevordering van Christelike Wetenskap. Desember 1973, Nommer 39
Die vrae rondom die Skrifberoep in die etiek is in ons tyd weer ten volle aktueel. Daar heers vandag gelukkig ’n algemene consensus oor die feit dat ’n biblisistiese omgaan met die Skrif vir enige ernstige mens eenvoudig uitgeslote is. Dit is ’n misbruik van die Bybel om daarmee om te gaan asof dit ’n wetboek is wat op die klank af en sonder inagneming van die verband en situasie waarin bepaalde Skrifwoorde funksioneer, gesiteer kan word om die antwoord te bied op ons konkrete lewensvrae. Die skade wat in die verlede in hierdie opsig aangerig is, óók en juis deur mense wat in alle opregtheid bely dat hulle die gesag van die Skrif ten volle wil aanvaar, is byna onoorsigtelik groot. Die grootste ellende van die biblisis is dat hy, met alle moontlike goeie bedoelinge om na die Skrif te luister, nie eers agterkom dat hy vanuit sy eie vooropgesette idees die Skrifwoorde uitkies en manipuleer, totdat hulle uiteindelik presies bewys wat hy bewys wil hê nie. Niks kan die gesag van die Skrif meer ondermyn, as wanneer ons telkens weer bewyse lewer vir die stelling dat elke ketter sy letter het of dat die Skrif ’n neus van was is wat ’n mens kan buig soos jy wil nie. Biblisisme is dus na sy wese eintlik ’n verydeling van juis die één doel wat dit skynbaar nastrewe, nl. om aan die gesag van die Skrif op alle gebiede van die lewe ruimte te verskaf.
Wanneer ons dit egter met mekaar eens is oor die afwysing van die biblisisme, is ons nie aan die einde van ons probleme nie, maar in werklikheid eers maar aan die begin. Daarom het dit geen sin om op ’n triomfantelike manier die swakheid van die biblisisme aan te toon, maar niks verder as dit te gaan nie. Al wat dan bereik word, is dat mense wat in die verlede gedink het dat hulle te goeder trou met die Skrif kan omgaan in die oortuiging dat Gods Woord ’n lamp vir ons voet en ’n lig op ons pad is, onseker gemaak word in hulle Skrifgebruik. As hulle nie verder gehelp word nie, kan hulle hoogstens meer krities word teenoor hulle eie Skrifgebruik én dié van andere, maar hulle kan nie kom tot ’n positiewe uitsig op die normatiewe betekenis wat die Skrif wel vir ons hele lewe het nie. Daarom is dit van die allergrootste belang dat ons vir onsself helderheid moet verkry oor die vraag hoe ons die Skrif dan wel moet gebruik as ons in die lig daarvan wil wandel.
Nou kan dit nie ons bedoeling wees om binne hierdie kort bestek aan hierdie moeilike vraag reg te laat geskied nie. Daarvoor is die saak veel te belangrik en te moeilik. Wat ons egter graag wil beklemtoon, is dat ons by Calvyn ’n poging aantref om op ’n nie-biblisistiese wyse die lig van die Skrif te ontsteek oor die hele terrein van ons menslike lewe. ’n Indringende kennisname van die hermeneutiese beginsels van Calvyn kan vir ons tyd van groot betekenis wees, met name wanneer dit gaan om die moeilike vraag na die wyse waarop Calvyn die Skrif gebruik in sy spreke oor sosiaal-etiese vrae.
Gewoonlik is dit immers só, dat ‘n mens met die Bybel nog ‘n hele ent op weg kan kom wanneer dit oor vrae van die personele etiek gaan, eenvoudig omdat die aansluiting by die Skrif en die toepassing van die boodskap van die Skrif op ons persoonlike lewe soveel makliker lyk. Die grootste probleme duik egter op wanneer ons die lig van die Skrif oor sosiaal-etiese vrae soek. Daarom is dit tradisioneel waar dat die vraag na die normatiewe karakter van die Bybel vir ons sedelike lewe sy kritiese punt by die sosiale etiek bereik. In die geskiedenis het dit telkens geblyk dat dit veral op die terrein van die sosiaal-etiese vrae was dat daar na ander bronne of normatiewe instansies gegryp is om die vraag na die inrigting van die menslike gemeenskapslewe te beantwoord.
Dit is op hierdie terrein dat die tradisionele natuurregsleer sy grootste toepassingsmoontlikhede gevind het, net soos die leer van die skeppingsordeninge en die Lutherse twee-ryke-leer, wat albei variasies op die tema van die natuurreg is. Dit is opvallend dat ons in ons tyd weer ’n oplewing van die sgogenaamde natuurlike etiek belewe, ook binne die Christelike teologie en selfs in gereformeerde kringe. Ook by andere wat nie hierdie weg wil gaan nie en die natuurregsleer in sy tradisionele gestaltes afwys, lei ‘n afwysing van ‘n biblisistiese omgang met die Skrif meermale tot die standpunt dat ons vir die herkenning van die sedelike norme allermins op die Skrif alleen aangewese sou wees. Die sedelike norme sou ook herkenbaar wees in die strukture van die geskape werklikheid, waaruit ons veral in sosiaal-etiese kwessies die riglyne vir ons handelinge kan ontdek. In hierdie soort benadering word die betekenis van die Heilige Skrif vir die etiek allermins ontken. Dit word egter nie soseer gesoek in direkte uitsprake van die Skrif oor die inrigting van die maatskaplike lewe nie, maar in die perspektief wat die Skrifboodskap aan ons bied, in die verandering van hart wat deur die evangelie in ons tot stand gebring word en in die algemene betekenis wat die Skrifwoord het vir die vorming van die ethos as innerlike gerigtheid.
Dit is nie hier die plek om in ’n gesprek te tree met hierdie verskillende pogings om tot die ontdekking van die norme vir die sosiale etiek te kom nie. Ons noem hierdie moontlikhede slegs om te laat sien dat dit uiters interessant is dat Calvyn ’n ander weg probeer gaan het. Hy het doelbewus gekies vir die normatiwiteit van die Heilige Skrif – óók op die terrein van die sosiale etiek, hoewel hy ongetwyfeld goed genoeg bekend was met pogings om ander normatiewe instansies náás die Skrif aan te boor. Dit is selfs die opwindende van Calvyn se sosiale etiek, dat hy die eerste teoloog was wat werklik in alle erns probeer het om die Heilige Skrif as norm vir die sosiale etiek te hanteer. Die sosiale etiek van die Rooms-Katolisisme het homself op die natuurreg gebaseer en die Skrif het hoogstens daarby gekom as bevestiging en aanvulling van wat uit die natuurreg deur die lig van die rede reeds bekend was. By Luther – met sy onderskeiding tussen die ryk van Christus en die ryk van die wêreld – word die sosiale etiek na die gesonde verstand verwys as maatstaf vir wat reg en verkeerd is. Calvyn probeer egter in alle erns om die sola scriptura ook hier te laat geld. Dit maak sy aanpak van die sosiale etiek die mees belangwekkende in die hele geskiedenis daarvan.
Dat Calvyn daarmee ‘n weg probeer gaan het wat allermins eenvoudig is, sal vir elkeen duidelik wees. Wie nog meen dat hy die Bybel op ’n biblisistiese wyse as ‘n wetboek kan hanteer, waaruit deur die samestelling van ‘n aantal tekste tot ‘n bloudruk vir die inrigting van die maatskappy gekom kan word, mag miskien dink dat alles tog nie so moeilik is nie. Calvyn se Skrifgebruik lê egter nie op hierdie vlak nie. Daarvoor was hy veels te veel bewus van die historiese aard van die Skrifopenbaring. Baie van die probleme wat in ons tyd na vore gebring word in verband met die moeilikhede van die Skrifberoep in die etiek, was ongetwyfeld ook aan Calvyn bekend. Dat hy nogtans nie daarom afgesien het van ‘n indringende en praktiese gebruik van die Skriflig in vrae van sosiale en politieke aard nie, maak die hele saak so boeiend.
Sonder om te probeer om uitputtend die hermeneutiese beginsels van Calvyn te behandel, wil ons hier graag op enkele dinge wys.
(a) Dit is fundamenteel vir die Skrifgebruik van Calvyn dat hy deurgaans die Skrif as ’n eenheid en ’n totaliteit benader. Dit beteken onder meer dat Calvyn hom nie bv net tot die Nuwe Testament beperk as dit oor vrae van die sosiale etiek gaan nie. Ook die Ou Testament spreek op ‘n kragtige wyse mee. Dit is selfs waar dat Calvyn in sy benadering van sosiale en politieke kwessies in ’n baie groot mate op die Ou Testament leun. Calvyn se sterk aksent op die heiliging van die hele lewe voor Gods aangesig; sy groot belangstelling in die horisontale dimensie van ons lewe as die terrein waarop Gods eer in alles gesoek moet word; sy vreugde in die wet, getuig van hierdie betekenis wat juis die Ou Testament vir hom in maatskaplike vrae het. Natuurlik: die Ou Testament word daarby in die lig van die Nuwe gelees, soos die Nuwe Testament op sy beurt weer in die lig van die Ou Testament gelees word. Calvyn se Skrifbenadering toon daarom ’n groot fyngevoeligheid vir die groot lyne in die Skrifopenbaring. Ons kan Calvyn se hermeneutiek in die goeie sin van die woord heilshistories noem. Die Ou-Testamentiese Tora gaan by hom deur die bloed van die Nuwe Verbond heen. In Christus vind die Skrif sy middel- en fokuspunt. Calvyn se Skrifbenadering is daarom die doodsteek van elke wettisistiese en atomistiese omgang met die Skrif.
(b) Uit die bostaande vloei dit as vanself voort dat Calvyn dus nie probeer om die maatskaplike inrigting wat in die Ou Testament vir Israel voorgeskryf was, sondermeer op ons van toepassing te maak nie. In werklikheid stry hy hier teen twee fronte. Aan die een kant stry hy teen die Wederdopers wat die Ou-Testamentiese wette wil kopieer, maar aan die ander kant stry hy ook teen die Lutherse opvatting dat die wet van die Ou Testament vir Christene geen betekenis meer het nie. Die rigting wat hy inslaan, is om telkens te vra wat die substansie van die Ou-Testamentiese wette is, want dit het vir alle tye normatiewe betekenis. Die substansie van die wette is geleë in “die ewige pligte en gebooie van die liefde” (waarby Calvyn aan albei die tafels van die wet dink). Uit Calvyn se omgang met die Ou-Testamentiese wette en sy uitleg in die kommentare is dit egter duidelik dat hy hom nie maar daarmee tevrede stel om in die algemeen te konstateer dat die burgerlike wette van die Ou Testament gemik was op die bewaring van ’n stil en vroom lewe én op die beskerming van billikheid en menslikheid nie, maar dat hy ook die wyse waarop dit in dié wette geskied het, vir ons nog steeds van betekenis ag. So blyk dit bv dat hy oor allerlei sosiale en politieke vraagstukke heelwat lig opsteek juis by die Ou-Testamentiese burgerlike wette. In sy preke oor die boeke van Moses vind hy telkens beginsels in die Ou-Testamentiese wette wat ook op die ekonomie en die arbeid van sy tyd van toepassing gemaak moet word, net soos hy in sy opvattinge oor die verhouding tussen kerk en staat duidelik sterk beïnvloed is deur wat die wet en die profete daaroor leer. Op presies dieselfde wyse gaan Calvyn ook om met die Nieu-Testamentiese voorskrifte. Hy het ’n ope oog vir die “omstandighede” wat in elke tyd en land sal vra om ’n eie positivering van die beginsels wat volgens die Skrif die sosiale en politieke lewe moet beheers, maar in daardie “eie positivering” moet die menslikheid en die billikheid wat deur die voorskrifte van die Bybel geëis word, sowel as die erkenning van die gesag wat deur God ingestel is en die bedoelinge wat God met die menslike gemeenskapslewe het, nougeset bewaar word.
(c) Dit is in ooreenstemming met die bostaande as ons nou ook sê: Calvyn se benadering van die Skrif in sy totaliteit beteken prakties ook dat hy tot die etiek kom via die “dogmatiek”. Dit is misverstandelik uitgedruk. Die bedoeling is egter om te beklemtoon dat dit nie soseer die enkele teks van die Skrif met sy konkrete voorskrif is wat by Calvyn die basis van sy sosiale etiek vorm nie, maar die ganse “leer” van die Heilige Skrif oor God en mens, die sonde en die heilsplan van God, die skepping en die herskepping. In die geskiedenis is daar meermale gepoog om vanuit die skepping tot ’n etiek van skeppingsordeninge te kom. In ons tyd ervaar ons weer die poging om vanuit die eskatologie tot ’n etiek van die rewolusie te kom. By Calvyn word die protologie en die eskatologie egter albei met die hele Skrifboodskap verbind en tot basis van sy etiek gemaak. Daarom is dit dat Calvyn by die vraag hoe ’n Christelike maatskappy en ’n Christelike staat ingerig moet word, hom so sterk kan oriënteer aan wat die Skrif leer oor die nuwe mensheid wat in Christus en deur die Heilige Gees herstel is. Dáár, in die Liggaam van Christus, word die oorspronklike skeppingsbedoelinge van God, veral ook wat die onderlinge verhoudinge tussen die mense betref, in beginsel reeds sigbaar. Daar is die geestelike regering van God oor en tussen die mense reeds ’n beginnende en groeiende werklikheid.
Daarom kan daar met reg vir die ander gemeenskappe in die menslike samelewing lig opgesteek word by wat die Skrif in Ou en Nuwe Testament leer oor Gods bedoelinge met die herstelde mensheid. Al die gemeenskapsvorme in die menslike samelewing is immers volgens Calvyn se voorstelling van sake opgerig rondom die nuwe mensheid en ten nouste daarop betrokke. Hulle dra as orde-maatreëls in die tydelike werklikheid die mensheid tot die dag van die totale vernuwing. Hulle kan wel nie meer doen as om die kwaad te beteuel en ’n uiterlike orde te handhaaf nie, maar juis daarin is hulle dienstig aan Gods bedoeling met die ganse vernuwing van die mensheid. Geen wonder dat hulle dus ook in die lig van die komende vernuwing te staan kom nie. Natuurlik word hulle nie tot stukke “kerk” nie, maar vanuit die leer van die Skrif oor die aard van die nuwe mensheid lei Calvyn verskillende beginsels af vir die gestaltegewing van al die gemeenskapsvorme. Dit is of hulle almal, elkeen op sy eie wyse, geroep word om Gods beeld te vertoon en ’n gestalte van die liefde te wees. Om maar één ding te noem: die taak van die staat is nie slegs om geregtigheid te handhaaf nie, maar in die besonder ook om na die armes en verdruktes om te sien. In hierdie opsig moet staat en maatskappy selfs veel leer van die kerk (as instituut) met sy diakonaat, wat diep in die maatskaplike verhoudinge ingryp.
Maar ons breek af. Die hoofsaak van wat ons wou sê, is dat Calvyn nie op die natuurreg of die gesonde verstand terugval om aan hom die norme vir die sosiale etiek te verskaf nie, maar op die Heilige Skrif. Hy gebruik ’n bepaalde hermeneutiese metode om die Skriftuurlike norme vir die sosiale lewe te vind en hy is van oortuiging dat wat hy oor die verskillende menslike gemeenskapsvorme sê, eksegeties gefundeer is. Op hierdie manier het hy iets om te sê oor maatskaplike en politieke vraagstukke, selfs in kulturele omstandighede wat totaal van die Bybelse situasies verskil. In Calvyn se prediking het haas elke probleem van sy dae aan die orde gekom. Ekonomie, arbeid, lone, rente, woeker en dergelike dinge meer was nie onderwerpe waaroor op sy kansel geswyg is nie. Dit is selfs merkwaardig dat Calvyn reeds in sy tyd uitsprake gemaak het oor sake soos slawerny, kolonialisme, die eweredige verspreiding van eiendom en dergelike dinge meer, wat eers veel later in die geskiedenis die ernstige aandag begin geniet het van die breë lae van die volk – en dan meestal onder humanistiese aanvoering en in ’n gesekulariseerde gestalte. So was hy sy tyd eintlik vooruit.
In werklikheid is dit natuurlik nie so erg vreemd nie. Die Skrif is ons immers altyd vóór. Wie na die Skrif luister, sal nie eers agter die dinge aanloop, of geneig wees om die bestaande te sanksioneer, soos wat dit so maklik by aanhangers van ‘n natuurregsetiek kan gebeur nie. ‘n Mens kan seker heelwat kritiek op Calvyn hê en van sy hermeneutiese metode verskil.
Maar ‘n mens sal moet erken dat dit die moeite loon om ten minste eers goed na hom te luister, voordat jy dink dat jy beter weet as hy.