Die Selfliefde

DIE SELFLIEFDE

Die Kerkbode,9 Oktober 1974, p 482–483

Dr GH Roux, Saulspoort : (Sien ook prof Jonker se antwoord)

(Verwysing, prof W Jonker, Die Kerkbode 14 en 21 Augustus 1974)

Prof Jonker, ek weet nie waaraan hierdie twee artikels oor die selfliefde ontspring het nie. Waarskynlik aan ’n gesprek op hoë vlak oor die saak. Hoe dit ook sy dit is seker een van die moeilikste maar ook belangrikste gesprekke vir ’n deursigtige antropologie. Ek dink hier aan die pragtige en selfs hartroerende behandeling van die saak onder andere deur Karl Barth, Ridderbos, Augustinus, Geesink, JA Heyns, Helmuth Thielicke, Paul Tillich, Kasoh Kitamori, AA van Ruler, Kierkegaard, Pascal en ander.

Nou is dit baie duidelik dat u die begrip self-liefde radikaal wil afskrywe. En u redes? (i) Omdat dit so ’n gevaarlike begrip in ’n gevalle wêreld is en (ii) omdat ons in ’n wêreld is “wat siek is van selfliefde” (p 242). Maar hierdie twee redes verkeer myns insiens reeds in spanning met mekaar. U tweede rede moet insiens eerder lui: “dat ons in wêreld verkeer wat siek is aan ’n sieklike selfliefde” en dan sou u twee redes logies saam kon opereer.

U kan nie bloot omdat ’n begrip gevaarlik is, dit op ’n verkeerde wyse probeer herformuleer nie. Dit los geen probleem op nie en sou bowendien in sware spanning verkeer beide met die sedelikheid en met ’n gesonde kernleer. In elk geval skram die Heilige Skrif nooit weg van die gevaarlike maar die-tog-korrekte nie. Die Skrif boog op die Heilige Gees om ons altyd weer deur die gevaar en die probleme heen te dra.

Luther se siening van die siekgeworde self as ’n cor in se incurvatum is ’n pragtige en pregnante begrip. Die siek self het naamlik sy perspektief op God verloor. As Luther egter sonder meer sê: Est erim diligere scipsum odisse (Liefde beteken om die self te haat en te veroordeel) dan gaan hy al gans te ver.

As ek u probleem reg opsom dan is dit nie dat u die taal van die evangelie oor selfverloëning by die mens mis nie; inteendeel, u stel dit pragtig, korrek en skerp, maar wel dat u die mens, oor wie dit basies gaan, in die saak mis so ook sy situasie. En as ons die mens bly mis, dan boet die Christelike boodskap oor die mens uiteindelik ook veel in aan oortuigingskrag,

Ek het doelbewus gesoek na die punt waarop u betoog myns insiens moontlik ontspoor en dit wil my voorkom of dit geskied in u eksegese van daardie pregnante perikoop van Filippense 2:6–8 en ook in u siening van die liefde self.

In Filippense 2 verhaal Paulus van die ontlediging (kenosis) van Christus aan homself toe Hy waaragtig Mens geword, het U Sien hierin ’n daad van selfverloëning by Christus.

Ek dink werklik nie u het gelyk nie. God Was nooit en nêrens meer getrou aan Homself as in dié Raadsbesluit dat Hy sy Eengebore Seun sou skenk tot heil nie. Christus was nooit en nêrens meer getrou aan Homself as in die besluit dat Hy nié waarlik Christusof Messias of Middelaar of Verlosser kon wees anders as om Homself te gee – tot die dood toe nie. God die Vader was Sy (Jesus se) waarborg dat die dood Hom nie gevange sou hou nie. Jesus het dit immers self geleer! Hy het die Emmausgangers en Sy dissipels dit juis verkwalik dat hulle hierdie boodskap nie begryp het nie.

God kan Homself nie verloën nie en net so min kan Jesus (ook God en sondelose Mens) dit doen. Selfverloëning impliseer ’n radikale distansiëring van – ’n afsterwe of afsweer van die self omdat dit boos en verfoeilik is. Vergelyk hierteenoor die Goddelike Self-licefde in die Heilige drie-eenheid – anans, amatus, amor (Augustinus). Tereg sê Paul Tillich: “The divine life is a divine self-love” – veel verder kan ons Tillich egter ook nie volg oor hierdie saak nie.

Selfverloëning geld dus slegs gevalle mense wie se selfwaardering en selfliefde siek geword en radikaal ontspoor het.

Jesus leer dat waar jou skat is daar sal jou hart ook wees. En in die leer van selfverloëning trag Jesus om hierdie siek mens weer skatte dp die regte plek te laat vergader.

Ek sien dat u skrik vir die spook van ’n radikale selflikwidasie. U het natuurlik gelyk. U argumente lei onverbiddelik daarheen. En u verweer oortuig glad nie. Maar dit is tog ook nie die taal van die Skrif nie. Die Bybel vertel deurgaans van die ontsaglike waarde van ’n mens. ’n Mens wat God genadiglik wil terugtrek uit die dood waarin hy homself wil stort asof hy ’n nuttelose artikel is.

Dit is juis ons probleem met die siek self eers opgeblase en selfsoekend tot die onvermydelike oomblik van ontnugtering kom en dan is hy tevrede om maar net ’n siek, intelligente dier te wees. God evalueer ons gans anders.

As die Skrif sy prioriteite stel dan sê hy van die mens nooit net ek nie, maar juis ek én U én jy én julle én hulle almal! Dit is ’n Goddelik reggestelde self-evaluering. En hierdie self, omdat hy ook die waarde van die ander besef, kan nooit God probeer behaag sonder die ander nie. Hy glo, soos Christus en Paulus en Moses en Jona: “ek is bereid om self ’n vervloeking te word sodat die ander kan leef”’ wetende uit die geloof dat God altyd daar sal wees, ook in my dood. Maar waarom hierdie so ’n moeilike begrip in die Christelike leer en die antropologie is, is omdat dit hier gaan om sekondêre fasette van die antropologie – om genadebetoon aan ’n gevalle mensdom. Met ander woorde hier konkretiseer spesiale en unieke faset van die liefde – ons kan dit morele liefde noem – dit wat moet opsoek wat verlore, maar redbaar is en wat nie sterf as dit onbevredig gelaat word nie maar wat slegs pyn ervaar. Naasteliefde wat dus geen perspektief het op redding in Christus nie is nog geen ware naasteliefde nie maar wel sy verdemoniseerde surrogaat wat uiteindelik moet uitloop op ’n ontspoorde “social gospel”.

Selfverloëning is egter ook nog steeds ’n vereiste ook vir die wedergebore mens. Natuurlik! Dit is so omdat die wedergebore mens nog geen sondelose heilige is nie. Die Heilige Gees moet hom steeds bly leer hoe om die ou sondige self af te sterwe sodat Christus gestalte kan neem. Maar hierdie gestalteneming van Christus impliseer immers geen likwidasie van die ware self nie – slegs van die ou siek self! Dit beteken juis ’n vind van die ware self. Anders gestel; die ware selfliefde word juis openbaar in onselfsugtige naasteliefde, dit moet ons van God-in-Christus leer – sy teenpool is die egoïsme. Ware self-liefde soek ’n wilseenheid in God wat die chaos radikaal uitban – dit soek ’n gemeenskap van die heiliges. Ons moet nie die fout begaan om in die offer van die self ’n haat vir die self te lees nie! Ek meen dat u dit wel doen.

As die Bybel nie aarsel om te sê: jy mag nie lieg nie, jy mag nie steel nie ens, dan sou hy net so min geaarsel het om te sê: jy mag nie jouself wees nie, as hy dit wel wou sê. Die Skrif sê dit egter nie. Wat hy wel sê is: “Ag ’n ander soos jouself; bemin ’n ander soos jouself; doen aan ’n ander soos jy wil dat hy aan jou moet doen”. Dit is ’n gebod van God.

Ek vrees hiermee moet ons maar volstaan ofskoon dit ʼn baie groot onderwerp is. Oor die liefde gesels ons liefs op ’n ander keer verder.

Prof Jonker antwoord:

  1. Baie dankie vir u welwillende opmerkinge. U verstaan my egter verkeerd as u meen dat ek op ’n likwidasie of ’n haat van die self afstuur. Dat die mens wat homself kruisig, homself juis daarmee dankbaar uit die hand van God ontvang en op dié manier eers regtig ’n objektiewe en positiewe verhouding teenoor homself het, is uit my artikels duidelik. Ons moet dit, in navolging van, die Skrif, liewer nie selfliefde noem nie, omdat elke beklemtoning van selfliefde die liefdesgebod van God relativeer. Dit gebeur selfs waar ’n mens daarmee ’n geestelike selfliefde bedoel. Terwyl u Thielicke noem, vergelyk sy Theol Ethik, 1, pp. 567-570.
  2. Ek het probeer om eksegeties te werk te gaan. U werk met die antropologie. ’n Mens kan die gebod tot selfliefde nooit eksegeties fundeer nie. U noem Ridderbos – ek verlaat my graag op hom. Om soos u per analogie op grond van die goddelike “selfliefde” tot ’n regmatige menslike selfliefde te redeneer, is vir my spekulasie. U noem Karl Barth, maar hy kom via die analogie tot presies die teenoorgestelde gedagtes as u. Hierdie soort denke was baie geliefd by Augustinus en die skolastiek, maar ’n mens soek dit tevergeefs by Luther en Calvyn.
  3. Dit is waar dat ons die begrippe liefde en selfverloëning verskillend gebruik. Veral die Iaasgenoemde begrip het ek ruimer as u gebruik. Vandaar dat ek ook Bybelse uitsprake (Filippense 2 en Romeine 15) oor die feit dat Christus Homself nie gesoek en behaag het nie, daaronder laat val. Ek sal nie stry oor ’n woord nie. As die saak maar duidelik is dat ons nie met ons spreke oor die selfliefde voorsiening moet maak vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie (Romeine 13:14).