NED. GEREF. TEOLOGIESE TYDSKRIF, deel xv(1), Januarie 1974, 1 – 9.
WD Jonker
Voor my op die tafel lê die betreklik nuwe leerboek in die dogmatiek van Heinrich deur Kreuz Verlag in Stuttgart, 1972. By die lees daarvan het verskillende gedagtes hulle aan my opgedring, waarvan ek graag iets aan die lesers van ons blad wil deurgee. Alleen langs die weg van konfrontasie met andere kry ‘n mens vir jouself meer helderheid oor die weg wat ons in die teologie behoort te gaan. Hierdie nuwe leerboek, met sy tiperende ondertitel: Systematische Theologie in 50 Artikeln, daag ‘n mens eenvoudig uit tot ‘n gesprek oor die weg wat hier bewandel word in die beoefening van die dogmatiek. Die volgende min of meer “onsistematiese” gedagtes moet as ‘n eerste antwoord op dié uitdaging beskou word.
Die eerste wat ‘n mens by die lees van hierdie werk opval, is die feit dat dit heeltemal op die direkte gebruik deur studente afgestem is. Dit spreek nie alleen uit die goedkoop wyse waarop dit op die mark gebring word nie, maar ook uit die hele opset daarvan wat getuig van voorlopigheid, van ‘n byeenbring van ‘n groot hoeveelheid nuttige informasie ten einde die student so vinnig as moontlik en binne kort bestek te oriënteer met betrekking tot die vakgebied en die heersende probleme daarvan. In die Duitse spraakgebied is daar vandag – soos trouens ook elders (en met name ook by ons) – geen gesaghebbende handboek vir die dogmatiek beskikbaar, wat sonder enige probleem vir die studente voorgeskryf kan word nie.1 Die Kirchliche Dogmatik van Karl Barth, wat ‘n geslag lank inhoudelik die toon aangegee het in die Duitse wêreld, was nooit ‘n dogmatiese leerboek nie, omdat dit hopeloos te lank en onoorsigtelik is. Slegs wie die dertien dik bande van Barth gelees het soos hulle verskyn het, het vandag nog eintlik ‘n kans om Barth se dogmatiek te ken en te beheers. Vir ‘n aankomende student wat van voor af moet begin, is dit ‘n onmoontlikheid. Dit was dan ook al lankal duidelik dat Barth se onvermoë om homself bondig uit te druk, die vernaamste oorsaak daarvan sou word dat sy dogmatiek letterlik “’n geslote boek” vir ‘n volgende generasie sou word. En inderdaad: die jong geslag in Europa ken Barth net nie meer nie. Met die stroom mee oordeel hulle dat hy ’n “openbaringspositivis” was en veels te ortodoks vir ‘n moderne mens – dikwels sonder om by benadering te besef hoeveel Barth wel vir die moderne mens te sê gehad het en nog het. Die feit dat Emil Brunner vandag in sommige kringe in Europa meer bekend is as Barth, hang saam met die feit dat Brunner beknop en glashelder kon skryf. Sy Dogmatik in drie dele, maar veral die eerste twee dele daarvan, word nog dikwels in die teologiese studie in Europa as handboek gebruik. Die groot gebrek daarvan is dat dit nog nie kennis kon neem van alles wat sedertdien in die teologie gebeur het nie. Dit staan prakties nog in die situasie van voor die Tweede Wêreldoorlog wat die teologiese probleemstelling betref. Otto Weber se Grundlagen der Dogmatik (twee dele, 1955 en 1962) is ‘n formidabele werk, maar word selfs in die Duitse wêreld as te moeilik ervaar, omdat dit in ‘n geweldige beknopte vorm soveel stof aanbied en van ‘n taal gebruik maak wat eintlik net vir die ingewyde en gevorderde student werklik goed verstaanbaar is. Dit is in hierdie situasie net begryplik dat daar behoefte was aan ‘n beknopte leerboek wat maklik geskryf is, ‘n goeie oorsig oor die stof bied, en terselfdertyd in die heersende problematiek kan inlei. Wat hierdie doelstelling betref, moet ‘n mens professor Ott en sy medewerkers dit ter ere na gee dat hulle ‘n uitmuntende taak verrig het en ‘n uitstekende vorm daarvoor gevind het. In 480 klein bladsye word nie net die hele veld van die dogmatiek gedek nie, maar uitvoerige oriëntasie gebied oor die belangrikste standpunte van teoloë en oor die vernaamste boeke wat ‘n teologiese student eintlik behoort te lees. ‘n Mens sou wens om ook iets dergeliks te kon hê.
Die tweede wat ‘n mens dadelik na vore moet bring, is die feit dat hier ‘n span werkers saam verantwoordelik was vir die opstel van hierdie leerboek. Dit is tiperend vir ons tyd. Daar is seker niemand wat vandag die rus en die sistematiese volledigheid vir homself sou wil opeis, om soos Karl Barth of Herman Bavinck ’n Summa te skryf nie. Dit is net nie meer ‘n eenmanswerk nie.2 Daarvoor ontbreek enersyds die tyd om die hele stortvloed van literatuur te verwerk, maar andersyds ook die grootsheid van konsepsie wat vir so iets nodig is, as dit nie sommer ‘n saamflansing van ‘n aantal sitate en die oorname van die gedagtes van andere moet wees nie. Ons tyd met sy gewysigde onderrigmetodes maak dit ook steeds moeiliker om sulke groot, dik boeke te skryf. Karl Barth kon nog sy klasdiktaat aflees en dit agterna uitgee in sy dogmatiek, maar geen student is vandag meer gewillig om te sit en luister na sulke uitgeskrewe stukke van ‘n professor nie, laat staan nog om dit te probeer afskryf. Die seminaar en diskussiegroep het in Europa haas oral die hoor-college vervang. Die professor lees dus nie meer voor nie, maar staan in diskussie met die studente. Dit alleen al het ‘n geweldige effek op sy werk, met name ook op sy publikasie-arbeid. Wat van die pers kom, is vandag dikwels slapbandboekies, cahiers wat haastig geskryf is, monografieë miskien, maar nie meer hand-boeke en leerboeke wat stewig gebonde is en hopelik vir ‘n geslag lank voorgeskryf kan word aan die studente nie. Uiteraard speel ook die groot teologiese veranderinge van ons tyd ‘n rol in hierdie “voorlopigheid” van hedendaagse teologiese publikasies. Die teologie van die afgelope vyftien jaar het in ‘n groot mate destruktief gewerk ten opsigte van die aanvaarde standpunte van die verlede. Werklike groot positiewe vindinge is nog nie gedoen nie – of dit moet geleë wees in die sg. teologie van die hoop, waarvan ‘n mens egter begin vrees dat dit reeds oor sy hoogtepunt heen is. Ook Moltmann val maar rond en word telkens deur ‘n ander mode-beweging gemotiveer.3 Dit lyk dus voorlopig nog nie of daar ‘n dogmatikus in Europa opgestaan het wat nuwe impulse kan gee wat tot groot positiewe opset kan lei nie. Ott kan en wil so iets ook nie prentendeer nie. Vandaar dat hy saam met ‘n aantal helpers gewerk het aan ‘n leerboek wat in alle opsigte die tekens dra van sy eie voorlopigheid en karakter van ‘n blote handreiking te wees. Natuurlik is so iets nie te versmaai nie. Weer eens: ‘n mens sou wil wens dat ons in ons eie taal ook iets dergelike kon hê.
Die derde saak wat ‘n mens opval, is die vorm wat gekies is vir die behandeling van die stof. In hoofsaak word vasgehou aan die ou ideaal van die summa waarin die hele inhoud van die Christelike dogma sistematies ontvou word. Ook word gebruik gemaak van die behandeling van die stof volgens die tradisionele indeling in loci. Die hele veld van die dogmatiek word dus gedek in die vyftig artikels, al word bepaalde gedeeltes van die stof anders ingedeel onder die verskillende loci as wat tradisioneel die geval was. Wat nou egter merkwaardig is, is die feit dat daar in die behandeling van die stof teruggekeer word na die vorm van die disputatio, soos dit vir die Summa Theologiae van Thomas van Aquino kenmerkend is. Die uiteensetting vind dus plaas langs die weg van vraag en antwoord. In aansluiting by Gadamer se uitspraak dat ‘n mens eers ‘n opvatting verstaan, as jy dit leer sien het as die antwoord op ‘n moontlike vraag, terwyl ‘n mens eers ‘n vraag verstaan, as dit jou eie vraag geword het, meen prof Ott dat dit ‘n saak van eerste belang is om die student eers te leer om die regte vrae te stel. Hy moet leer om te verstaan dat die inhoud van die dogmatiek te make het met die antwoorde op die vrae wat in die kerklike praktyk en in die geloofslewe opduik. Daarom begin elke artikel eers met die uiteensetting van die vraag wat agter die antwoord sit, terwyl so ver as moontlik gepoog word om die “Sitz im Leben”, die plek waar ’n dergelike vraag aktueel is, onder die aandag van die leser te bring. Sodoende kan hy die vrae waaroor dit gaan, as legitieme vrae, ja as sy eie vrae ontdek. Dit spreek vanself dat dit ontsaglik veel sal bydra daartoe om die belangstelling van die student in die dogmatiek op te wek en te behou. Wanneer hy dan na die uiteensetting van die vraag ‘n hele aantal “antwoorde” van verskillende teoloë voor oë kry, sal hy hopelik begryp waarom die teoloë oor hierdie dinge praat en wat hulle beweeg om te sê wat hulle sê. Die behandeling van elke artikel sluit so ‘n afdeling in, waar in kleiner druk ‘n oorsig gebied word oor die standpunte en opvattinge wat as relevant vir die vraag beskou word. Eers dan volg in ‘n derde afdeling die “poging tot ‘n antwoord”. Die bedoeling is kennelik nie om finale antwoorde te gee nie, maar om die student aan te spoor om self verder te soek en te dink. Die skrywers verwag van hierdie metode nie alleen dat dit die student sal leer om met groot openheid en objektiwiteit na die opvattinge van andere te luister nie, maar ook dat dit hom sal leer om hom nie maklik af te maak van die beantwoording van teologiese vrae nie.
‘n Mens behoort groot waardering te hê vir Ott se praktiese instelling tot die dogmatiek. Die verband wat hy tussen teologie en verkondiging lê en die manier waarop hy dus ook die dogmatiek nie sonder duidelike verbindingslyne met die praktyk van die prediking, die pastoraat en die persoonlike geloofslewe wil behandel nie, is op sigself toe te juig. Dit is nie alleen pedagogies korrek om die student te laat sien dat die dogmatiese stof praktiese relevansie besit nie; dit is ook met die aard van die teologie as scientia eminens practica gegee. Maar ons moenie vergeet nie – en dit is ons vierde opmerking – dat hierdie metode by Ott gevul word vanuit sy eie teologiese standpunt. Dit gee ongelukkig aan die saak ’n ander kleur. Binne die opset van die hele boek is dit naamlik die teologie van Ott wat die deurslag gee. Hyself het die formulering van sowel die vraag as die voorlopige antwoorde in die verskillende artikels behartig. Die bydrae van sy medewerkers is beperk tot die versameling van die stof, en met name tot die uiteensetting van die opvattinge van ander teoloë. Ott verklaar dan ook in die inleiding dat, hoewel dit nie die bedoeling was om ‘n sisteem te ontwerp of van ‘n sisteem-prinsipe uit te gaan wat alle uiteensettings domineer nie, daar tog ‘n sistematiese grond is wat al sy uiteensettings deurtrek. Hyself tipeer dan sy dogmatiese posisie soos volg: “’n Mens kan dit personalisties noem, wat die Godsbegrip en mensopvatting betref, openbaringsteologies en Christosentries wat die inset betref, en eksistensiaal wat die metode betref” (p 24). Dit is sy bekende dogmatiese opset, soos dit ook al bekend is uit verskeie vorige publikasies en tevore ook in ons tydskrif aangeraak is.4 Wie egter hierdie proewe van Ott se dogmatiese arbeid bestudeer, moet al spoedig tot die oortuiging kom dat sy personalisties-eksistensialistiese inslag en metode sodanige rol by hom speel, dat die sogenaamde openbaringsteologiese en Christosentriese elemente in sy denke nie ‘n beslissende invloed uitoefen nie. Die hele teologiese vraagstelling word beheers deur die kriterium of ‘n bepaalde dogma vandag nog vir ons (vir my) iets wesenliks kan sê, of dit beantwoord aan ‘n vraag wat ek ook nog stel. Dit beteken dat die praktiese relevansie waaroor Ott spreek – en wat ons op sigself ook wil beaam – by Ott ‘n eksistensialistiese vulling kry waarmee ons nie kan saamstem nie. Dit bring ‘n verkorting aan in die dogmatiese stof, omdat die mens se eksistensiële en eksistensiale betrokkenheid uiteindelik die kriterium word vir wat wel en wat nie in die dogmatiek ter sprake kan kom nie. Enkele jare gelede het Berkhof aan die adzes van Berkouwer ‘n dergelike beskuldiging gerig na aanleiding van wat hy Berkouwer se korrelasie-metode genoem het.5 Ook vir Berkouwer sou dan in die dogmatiek uiteindelik net die eksistensiële nog betekenis hê. Hoewel dit nie altyd vir hom ewe maklik was nie, kon Berkouwer tog duidelik maak dat dit ‘n valse beskuldiging teen hom was en op ‘n misverstand en konstruksie berus het. Ott sou egter geen behoefte daaraan hê om soos Berkouwer homself teen ‘n dergelike beskuldiging te verweer nie. Hy spreek herhaaldelik in ronde woorde juis uit dat dit sy bedoeling is. Vir my is een van die mees opvallende voorbeelde hiervan gegee in sy behandeling van die uitverkiesingsleer (pp 199 ev, veral 203 ev). Dergelike voorbeelde kan egter uit die werk vermenigvuldig word. Die hele prolegomena (artt 1-7) sou as voorbeeld hiervan aangevoer moet word.
Daarmee hang dit saam – en dit is ons vyfde opmerking – dat Ott se dogmatiek tog maar in die subjektiwisme bly vassteek. Vir hom is teologie “Selbstexplikation des Glaubens”. Wanneer die woord Selbstexplikation ernstig opgeneem word, is dit duidelik dat die begrip geloof hier nie die objektiewe, geopenbaarde geloofsinhoud is nie, maar die subjektiewe geloof van die mens. Dié geloof probeer homself verstaan. Hy hou hom dus met homself en sy eie “ervaringe” besig. Dit kan ons nie anders sien nie, as subjektiwisme. Daar is niks mee verkeerd dat die subjek in die teologiese denke betrek word nie. Trouens, alle kennis waaroor ons dit in die belydenis van die kerk en in die teologie het, is geloofskennis. Dit kan alleen in en deur die geloof geken en verstaan word. As Ott slegs dit sou bedoel het, sou ons hom nie van subjektiwisme kon beskuldig nie. Want dan sou dit nog steeds moontlik gewees het om dit waaraan die subjek met sy geloof hang, heeltemal te sien as Gods openbaring wat van die “ander kant” kom en waarteenoor die geloof alleen reseptief kan staan. Soos sake nou egter staan in die opvattinge van Ott, bedoel hy klaarblyklik iets anders. Hy ontken nie dat daar gespreek kan word van ‘n “Woord van God” wat van buite die mens tot hom kom nie, maar die toets vir die waarheid van daardie woord en vir die egtheid daarvan, is tog gegee in die vraag: Is hierdie woord in staat om my te verander? (p 58). Dit beteken dat die Woord eintlik eers as Woord gekonstitueer word in my hoor daarvan. Ons het dan ook nooit die Woord van God anders as in die antwoord wat mens reeds op daardie Woord gegee het toe hulle dit gehoor het nie. Vandaar dat die titel van hierdie dogmatiek ook lui: Die Antwort des Glaubens. Dit is al hoe ons die waarheid het en kan hê, naamlik in die antwoord wat die geloof gee op die aangesprokenheid deur God. Volgens my insig het Ott daarmee – ten spyte van sy aanvaarding van die korrektheid van ‘n sgogenaamde openbaringsteologiese uitgangspunt – in werklikheid teruggekeer agter Barth na die subjektiwisme van die negentiende eeu, sy dit dan in ‘n personalistiese en eksistensialistiese vorm. Weliswaar sê hy dat die antwoord van die geloof ‘n reaksie is op ‘n woord wat nie uit onsself kom nie en dat die inhoud van die geloof daarom nie die skepping van die mens is nie (p 288). Maar dit neem niks weg van die feit dat die teologie hom besig hou met hierdie subjektiewe geloof, met hierdie antwoord van die mens nie. Die taak van die teologie is om rekenskap te gee van en duidelikheid te skep oor hierdie “ervaring” wat die mens opdoen aan en met die Woord. Ook die Heilige Skrif is so ‘n antwoord van die geloof op openbaring wat ervaar is (vgl 59). Daarom is dit ook nie vreemd dat alle uitsprake wat die geloof maak, volgens Ott nie verstaan moet word as uitsprake oor dinge wat ‘n mens objektief kan weet nie, maar dit is artikulasies van die geloof aangaande sy ervaringe in die dialogiese situasie van die ontmoeting met die persoonlike God. Geloof is eerder die grondbeslissing van die mens, die gronderkenning van die eksistensie (289). Die geloofsuitsprake kan nie verstaan word as “objekte” van die geloof, dit wil sê as die dinge waarin die geloof glo nie, maar moet verstaan word as beskrywinge van die situasie waarin die gelowende persoon hom in die wêreld ten oorstaan van God bevind. Hoeseer ons ook saam met Ott ‘n skolastieke opvatting van die geloof van die hand wys, tog is ons daarvan oortuig dat hy deur sy eksistensialistiese en personalistiese uitgangspunte gedwing word tot ‘n versubjektivering van die geloofsinhoud. Hierdie weg sal die dogmatiek – volgens ons verstaan – nie mag gaan nie. Die dogmatiek moet wel eksistensieel wees, maar nie eksistensialisties nie. Natuurlik mag dit nie in die dogmatiek gaan om ‘n objektiverende uiteensetting oor ‘n aantal “waarhede” wat geken en verstaan kan word buite die geloof om nie. Om dit in die terminologie van Berkouwer te sê: die korrelasie van geloof en openbaring mag in die dogmatiese spreke nooit losgelaat word nie. Dit is egter iets totaal anders as om op ‘n eksistensialistiese manier die geloofsuitsprake te versmal tot dit wat ekself ervaar, tot dit wat my eksistensie raak en verander. Gods openbaring is veel groter as my bevatlikheid daarvoor; dit gaan aan my bevatting daarvan vooraf en het in sigself betekenis en inhoud, ook al sou dit deur geen enkele mens in die geloof verstaan of aangeneem word nie. Die gelowige subjek maak nie eers die openbaring tot openbaring nie en het hoegenaamd geen kreatiewe funksie ten opsigte van die inhoud en omvang daarvan nie.
Dit bring my by my sesde opmerking. Dit raak die kwessie van die gesag van die Heilige Skrif in die denke van Ott. ‘n Mens kan op baie punte groot waardering hê vir wat Ott konkreet sê. Sy glashelder behandeling van allerlei kwessies en sy vermoë om te onderskei waarop dit in bepaalde probleem-komplekse aankom, toon dat hy oor besondere gawes beskik. Tog stel hy as teoloog teleur, omdat hy te veel onder die indruk is van die gesag van die outonome mens en daarom te weinig onder die indruk van die gesag van die Skrif. Uiteraard hang dit saam met sy oortuiging dat die dogmatiek beoefen moet word met intellektuele redelikheid en dat die dink- en verstaans-moontlikhede van die moderne mens ten volle in berekening gebring moet word in die teologie. Dit is nie verniet waar dat Bultmann een van sy geestelike vaders is nie. Die historiese kritiek word deur hom sonder enige reserwe in al die konsekwensies daarvan aanvaar. Dit beteken onder andere dat hy so diep onder die indruk is van die relativiteit van ons kennis van die geskiedenis en van wat aangaande Gods dade in die geskiedenis betuig word, dat hy homself nie aan die Heilige Skrif wil toevertrou nie, maar ‘n ander bron vir die gesag van die Christelike boodskap wil soek, naamlik die persoonlike ervaring van die aangesprokenheid van die mens hier en nou. Na my mening besef Ott nie genoeg dat hy daarmee die slagoffer bly van ‘n positivistiese geskiedenis-opvatting nie. In elk geval sluit dit vir hom die moontlikheid af om in enige positiewe sin die openbaring van God in die geskiedenis in sy teologiese opset te verdiskonteer. Hy kan met die historisiteit van ons lewe alleen rekening hou in die sin van die Geschichtlichkeit daarvan, maar nie in die sin van ons betrokkenheid in ‘n geskiedenis waarin God self ingegaan het en bly werk nie. Die korrelaat van enige positiewe waardering van die geskiedenis in die teologie, naamlik die pneumatologie, speel dan ook by Ott haas geen rol nie. Tog is dit duidelik dat ons aan die gesag van die Heilige Skrif alleen dán reg kan laat geskied, wanneer ons ons met die realiteit besig hou van hierdie histories-geworde Boek waarin die spreke van God in woord en daad deur die werking van die Heilige Gees op ’n onfeilbare wyse aan ons betuig is. Omdat die Heilige Skrif nie in sy gesag erken word nie, word die dogmatiek van Ott noodwendig dun en in ‘n laaste instansie ook vervelig. Alles word uiteindelik gemeet aan die mens se eksistensie. Alles word gespan voor die karretjie van die persoonlike verhouding tussen die siel en God. Dit is gelukkig dat daar in ons tyd ook nog ander tendense in die teologie na vore gekom het!
In ‘n Sewende opmerking. Ott gaan uit van die oortuiging dat die intellektuele redelikheid deurgaans in die dogmatiek gehandhaaf moet bly. Hoe vul hy egter die begrip “redelikheid”? Dit is duidelik dat hy daaronder veral verstaan: dit wat die moderne mens as redelik beskou. Klaarblyklik veronderstel so ‘n standpunt dat daar ‘n soort algemene redelikheid is waaraan geloof en ongeloof gelyklik deel het, sodat hierdie redelikheid as ‘n algemene verstaanskriterium in die teologie geldigheid behoort te geniet. Maar daarmee word nie rekening gehou met die feit dat geloof en ongeloof voorafgaan aan ons “redelikheid” en telkens hulle eie redelikheid met hulle saambring nie. Ott verklaar self ook dat daar nie so iets as algemene redelikheid bestaan nie (p 76). Tog werk hy in die praktyk met sulke begrippe soos: die mens van vandag kan dit of dat tog nie meer aanvaar nie. Die gevolg is dat hy (net soos Bultmann) in werklikheid die standpunt van die ongeloof tot ‘n kriterium maak vir wat in die geloofsdenke as redelik beoordeel kan word. Dit spreek dan ook byna vanself dat hy oor die wondere van Jesus, oor die liggaamlike opstanding van Christus, oor die eindgerig en die opstanding van die dode alleen kan spreek binne die grense wat gegee is met die beginsel: “Im Zeitalter des Todes Gottes … wo zahllose Menschen nicht mehr bereft sind, die Existent Gottes als eines obersten Gesetzgebers, Anklägers und Richters als unbefragte prämisse vorauszusetzen, muss auch die Vorstellung einer Gerichtsverhandelung am Ende der Zeit dahinfallen” (p 470). Al wat dan nog vir Ott oorbly, is om telkens te vra na die eksistensiële kern van dergelike uitsprake, na die lewensbehoefte wat daarin tot uitdrukking kom, na die moontlikheid of onmoontlikheid daarvan dat iets van die ou dogmatiese leerstukke nog vir die mens van vandag óók enige sin kan behou. Dit lyk my onmoontlik om die eis tot verstaanbaarheid in die dogmatiek op hierdie wyse te probeer nakom. Ons kan met Ott saamstem dat die teologie verstaanbaarheid moet nastrewe, maar nie teen elke prys nie en nie elke soort verstaanbaarheid nie. Wat ons moet soek, is die klare en heldere woord, wat in die taal van ons tyd kan vertolk wat die waarheid van die openbaring van God is en wat die volle implikasies daarvan is in ons situasie van vandag. Maar dit bly ‘n verstaanbaarheid vir die geloof. Die redelikheid van die dogmatiek is die redelikheid vir die geloof. Dit is onsin om te sê dat ons met so ‘n standpunt die moontlikheid van ‘n korrekte gesprek met die wêreld sou prysgee. Die waarheid is inteendeel dat God ons die belofte gegee het dat sy Gees die harte en die ore sal open vir sy Woord. Ons kan tog nooit geloof opwek, deur watter manier van spreke ook nie. Ons kan alleen in klare woorde getuig – en die res aan God oorlaat.
Ons eindig op ‘n positiewe noot. Die boek van Ott is ‘n toonbeeld van hoe netjies ‘n groot hoeveelheid stof in klein bestek gedek kan word. Dit is ‘n toonbeeld van helderheid en eenvoud. Dit bevat geweldig veel wat positief waardeer kan word. Al verskil ons van sy standpunt, kan ons nogtans sy gawes waardeer.
[1] Die Geref. Dogmatiek van Bavinck is nog steeds ‘n onoortreflike werk, maar dit is in ‘n groot mate ongeskik as handboek vir die huidige student, omdat dit eintlik van die hele teologiese ontwikkeling in die twintigste eeu geen kennis dra nie. Berkouwer se Dogmatische Studiën bied in hierdie opsig ‘n waardevolle aanvulling, maar bestaan reeds 18 dele en is na styl en opset nie geskik as leerboeke nie. Wat daar nog verder beskikbaar is, is óf te populêr geskryf, óf verouderd. Daar bestaan ‘n dringende behoefte aan ‘n beknopte leerboek van behoudende kant.
[2] Vandaar dat die nuwe Rooms-Katolieke dogmatiek, Mysterium Salutis, ook ‘n groots-opgesette gesamentlike poging is van ‘n uitgebreide aantal teoloë.
[3] Dit is nie ons bedoeling om die verdienstes van Moltmann gering te ag nie. Tog kan ‘n mens nie ontkom aan die vraag na die eenheid van sy teologie nie. Dit lyk of hy telkens weer op ‘n ander wyse in gesprek tree en deur elke gespreksgenoot ten diepste beïnvloed word. Agtereenvolgens het bv. Bloch, Harvey Cox en in sy jongste werk al weer die sg. kritiese teorie van Horkheimer, Adorno, Haberman e.a. sy koers bepaal. Dat daar ‘n diepgaande kontinuïteit sou wees tussen die teologie van die hoop en die huidige kruisteologie, kan ook alleen met ‘n groot mate van goeie wil orent gehou word. Ons sal maar moet afwag waarheen hy sy volgende tree sal gee.
[4] Vgl. Ned. Geref. Teol. Tydskrif, Junie 1972, 142 e.v.
[5] Vgl. sy artikel “De Methode van Berkouwers Theologie” in: Ex Auditu Verbi, Kok, Kampen, 1965, 37 e.v.