Die Kerkbode, 10 April 1974
VERNUWE TOT DIENS VIR CHRISTUS EN SY KERK
(’n Toespraak wat by die Streekkonferensie van die Vrouehulpdiens gelewer is.)
W D Jonker
Die Eis tot Vernuwing
Dit is tog iets merkwaardigs, dat die Bybel so uitdruklik na die gelowige mens kom met die eis tot vernuwing. Ons sou, suiwer logies denkend, eintlik kon meen dat dit nie nodig is nie. Is die gelowige dan nie ’n mens wat klaar vernuwe is nie? Is hy, om gelowige te kan wees, nie reeds ’n wedergebore mens (Johannes 3:3 en 1 Petrus 1:23), van wie ons op grond van die Skrif glo dat hy die eiendom van Christus is, dat hy in Christus is, en dat dan ook van hom geld dat hy ’n nuwe skepsel is en dat alle ou dinge vir hom verbygegaan en alles nuut geword het nie (2 Korintiërs 5:17)? Die Nuwe Testament is immers vol van sulke uitsprake waarin die gelowige beskrywe word in die mees positiewe terme as iemand wat oorgegaan het uit die dood in die lewe, as iemand wat vir God opsy gesit is, as iemand wat die Gees van God ontvang het – en nog baie dinge meer. En is dit nou nie onlogies dat dieselfde Nuwe Testament met eweveel klem die mens kom oproep om vernuwe te word, asof dit iets is wat ons nog heeltemal nie deelagtig geword het nie?
Kyk byvoorbeeld na die Brief aan die Romeine. Die hele voorafgaande elf hoofstukke is daaraan gewy om aan ons te vertel wat God in Sy genade alles gedoen het vir ons redding en vernuwing. Dit wys ons uitvoerig op die versoening wat Christus bewerk het en op die feit dat ons dit enkel uit genade en deur die geloof deelagtig word (Hoofstuk 3 en 4). Dit verseker ons dat Christus ons Verteenwoordiger is en dat ons in Hom begrepe is, sodat wat met Hom gebeur het, ook met ons gebeur het – en ons dus saam met Hom gesterwe en opgestaan het (hoofstukke 5 en 6). Dit laat ons verstaan dat ons in Christus nie meer onder die mag van die wet en die sonde staan nie, maar deur die krag van die Heilige Gees in ’n nuwe lewe mag wandel (hoofstukke 7 en 8). En na dit alles kom Paulus nou tog weer hier in hoofstuk 12 die Christen, die gelowige, die mens in Christus oproep tot vernuwing en dit as ’n verpligting aan hom stel, asof dit sy verantwoordelikheid is, asof hy daarvoor ’n verpligting op hom moet neem! Hoe moet ons dit verstaan?
Status en vernuwing
Die antwoord op hierdie vraag is alleen te gee as ons onthou dat daar onderskei moet word tussen die werk van Christus én die werk van die Heilige Gees. Die werk van Christus is die versoeningswerk wat Hy volbring het in Sy lewe van gehoorsaamheid aan God en Sy dood van betaling vir ons sonde; in Sy opstanding uit die dood en Sy triomf oor alle magte van die Bose. Dit het buite ons om geskied, sonder dat ons daarby aktief betrokke was. Passief was ons natuurlik wel ten volle daarby betrokke, want Hy is ons Verteenwoordiger en Hoof en in Hom was ons ingesluit, sodat letterlik alles wat Hy gedoen het en alles wat Hom oorgekom het, ook vir ons geld. Dit kan dus alles aan ons toegeskryf word. Van ons kan gesê word dat ons met Christus gekruisig en opgewek is, in die hemele saam met Hom is en dus ook dat ons in Hom nuwe skepsels is (vgl Efesiërs 2:47, Romeine 6: 4–10). Dit is ons status in Christus.
Maar, wat in Christus van ons waar is, is nog nie noodwendig ook in die praktyk van ons lewe en in onsself ook waar nie. Dit moet in ons eers waar gemaak word. Dit nou, geskied deur die werk van die Heilige Gees. Die werk van die Heilige Gees gaan egter nooit buite ons om nie, maar betrek ons self by wat moet gebeur en skakel selfs ons volle verantwoordelikheid daarby in. Daartoe maak die Gees ons lewendig in die wedergeboorte (waarin ons uiteraard nog passief is) en werk dan voortdurend só met ons, dat ons self aktief betrokke is by ons eie geloof, bekering, heiligmaking, vernuwing (vgl die Dordtse Leerreëls. 3de en 4de leerstukke, art. 16). Omdat dit so is, is ons self dus ook verantwoordelik vir ons toestand en kan daar ’n beroep op ons gedoen word om onsself vrywilliglik meer en meer aan die werking van die Heilige Gees oor te gee en onsself – soos dit in Romeine 12: 2 staan – te laat vernuwe, te laat verander, sodat ons in die praktyk van ons toestand kan word wat ons volgens ons status in Christus reeds is. Daarom staan die Nuwe Testament so vol bevele om onsself te vernuwe (vgl Romeine 6:11 ev; Romeine 8:12 ev).
Inhoud van die Vernuwing
Maar wat is nou die inhoud van die vernuwing waartoe die Bybel ons oproep? Waarin bestaan dit? ’n Mens kan seker uit die Nuwe Testament ’n veelheid van aspekte van hierdie vernuwing na vore haal. In ons teks word daar egter gespreek van die vernuwing van die gemoed, en daarmee is miskien die mees fundamentele aanduiding van die vernuwing gegee. Die gemoed is die sentrum van die oorlegginge, waardebepalinge en keuse. Vernuwing van die gemoed sou in Ou Testamentiese taal genoem kan word die vernuwing van die hart. Die sentrum van die lewe moet omgeset word. Waar dit gebeur, verander die hele mens.
Hierdie verandering het twee kante: (a) negatief beteken dit dat mens ophou om wêreldgelykvormig wees: (b) positief beteken dit dat die mens in staat word om te beproef wat Gods goeie wil is. Met hierdie twee aanduidinge is die hele inhoud van die vernuwing of heiligmaking geteken.
Wêreldgelykvormigheid, aanpassing by die “skema van hierdie wêreld”, is veel subtieler as wat ons self besef. Dit hoef heeltemal nie opvallend te wees nie. Tog is dit ’n opgaan in hierdie wêreld en die dinge daarvan. Wanneer ons dink soos die wêreldlike mens (dws die mens wat nog lewe volgens die beginsels van die “ou eeu” of “hierdie eeu” (soos dit letterlik in Grieks staan)), of redeneer of kies soos daardie mens, is ons tog self ook gelykvormig aan die skema van hierdie wêreld hoe “gesanksioneer” die vorme waarin ons dit doen ook al mag wees. Ons is te maklik geneig om self uit te kies waarin ons ons “andersheid” as die wêreld wil demonstreer – en dan kies ons meestal “onskuldige” dinge wat ons nie te veel pyn sal kos nie. Die egte Christelike vernuwing vra na die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God in elke situasie en in die totaliteit van ons lewe as enkelinge en as gemeenskap. Daar is niks van ons lewe wat nie deur die vernuwing in Christus aangeraak moet word nie. Paulus doen veel moeite om te konkretiseer dat die liefde die inhoud van ’n veranderde lewe is (12:9 ev). Die liefde het baie gestaltes in ons huislike en maatskaplike lewe. Veral die vrou sal haar rol hierin moet verstaan.
Waarom Vernuwing?
Afsluitend wys ons reeds in die rigting van die volgende boodskap. Paulus gee in vs 13 die redes vir hierdie vernuwing. Want, sê hy, ons moet los kom van onsself. Sy bedoeling in hierdie hele verband is om ons op te roep tot die diens aan God en aan die naaste en tot dié diens is geen mens in staat as hy nie eers vernuwe is nie. Vernuwing tot diens is egter ’n vernuwing waarin ek vry word vir diens, omdat ek vry word van myself en my eie-dunk. Paulus wys juis in die hoofstuk daarop dat elkeen ’n genadegawe ontvang het om God en die naaste mee te dien. Maar as daardie genadegawe tot sy reg moet kom, dan moet die mens nie van homself meer dink as wat hy hoort te dink nie. Dit is so tipies iets wat volgens die skema van hierdie wêreld is.
Wat sou daar nie kan gebeur as die boodskap van hierdie verse in ons lewe waar sou word en ons in ons konkrete lewe na Gods wil – in alle dinge – sou soek en vra en só God en die naaste dien nie?