Selfliefde en Selfhandhawing: Deel 1
WD Jonker (Stellenbosch)
Die Kerkbode, 14 Augustus 1974
Dit is verbasend dat daar onder ons nog so baie mense is wat op ’n verwarrende manier die standpunt voorstaan dat die Bybel ons sou gebied om onsself lief te hê en te handhaaf. Dit word gebaseer op die uitspraak in die dubbelgebod van die liefde wat lui dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Daaruit word afgelei dat ons ’n gebod het om onsself lief te hê, ja selfs dat die selfliefde die eerste sedelike plig van die mens sou wees en dat jou selfliefde die maatstaf vir jou liefde tot die naaste moet wees.
Dit is nie moeilik om te sien hoe hierdie interpretasie van die gebod vanself daartoe lei dat mense wat hulleself alreeds so mateloos liefhet soos wat dit in die sondige wêreld altyd die geval is, gerusgestel word met die gedagte dat hulle daarmee nog altyd op die goeie Christelike pad is nie. Die sorg vir hulleself, die uitbouing van hulleself en die handhawing van hulleself met alles wat hulle as “hulle eie” beskou, word dan ’n elementêre plig. Natuurlik sal daarby nie ontken word dat die naaste ook in die prentjie moet kom nie, selfs nie dat ons aan hom moet gun wat ons vir onsself opeis nie. In die praktyk van die sondige wêreld loop dit egter daarop uit dat die liefde tot die naaste begrens word deur die liefde tot die self en beskou word as iets wat eintlik eers begin nadat ek in my selfliefde aan myself en my selfhandhawing die nodige gedoen het. Die noodwendige gevolg hiervan is dat ’n mens jou hande so vol het met jou selfliefde en selfhandhawing, dat jy onmoontlik reg kan laat geskied aan wat die Bybelse gebod tot naasteliefde werklik bedoel.
Calvyn
Dit is kenmerkend dat Calvyn wat so ’n uitmuntende aanvoeling vir die ware betekenis van die Skrifwoord gehad het, nie hierdie uitleg aan die gebod gegee het nie.
Hy noem diegene wat redeneer – soos ons dit hierbo uiteengesit het – eenvoudig esels wat self geen greintjie liefde besit nie. God dink daar nie aan – sê Calvyn, om die vuurtjie van selfliefde wat vanself al helder genoeg in ons brand, met sy gebod nog aan te blaas nie: As Christus sê dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself, bedoel Hy nie om ons daarmee te gebied om onsself lief te hê nie. Christus gaan eenvoudig van die bestaan van ons selfliefde uit as iets wat met die natuur gegee is.
Ons sou kon sê dat Calvyn die selfliefde en selfhandhawingsdrang sien as iets wat eenvoudig in ons bloed sit. Ons kan daaruit die gevolgtrekking maak dat dit iets van dieselfde orde is as die seksdrang of die honger. Niemand dink daaraan om ons te gebied om ’n seksdrang te hê of om honger te kry nie – dit is dinge wat met ons natuurlike bestaan as mense gegee is. In sigself is die drang tot selfbehoud, net soos die seksuele drang en die honger, natuurlik nie verkeerd nie. Hoe sou dit verkeerd of sondig in sigself kan wees as God mens en dier so geskape het, met hierdie basiese drange wat die bestaan en die voortbestaan op aarde dien?
Die probleem is egter dat al hierdie drange in ons as sondige mense geperverteer is. Daarom moet God Sy gebod aan ons gee, juis om hierdie natuurlike drange in ons, wat deur die sonde onder die heerskappy van die vlees gekom het, aan bande te lê en tot hulle juiste proporsies terug te bring. Dit kan alleen gebeur as hierdie elementêre drange deur die wedergeboorte heengaan en onder die heerskappy van die Gees van God kom. Wat meer is, dit is eers deur die gebod van God dat ons werklik die sin en betekenis van ons natuurlike drange leer verstaan en dat ons begryp dat, ook afgesien van die verwoesting van die sonde in ons lewe, die natuurlike drange by die mens anders moet funksioneer as by die dier. By die mens moet alles, tot en met die basiese natuurlike drange toe, onder die tug van die liefde tot God en die naaste kom. En dít maak alles anders.
Sin van die Gebod
Wanneer ons dus gebied word om ons naaste lief te hê soos onsself, is dit nie die bedoeling om ons te gebied om iets te doen wat ons reeds van nature doen en deur die sonde boonop nog oormatig doen nie. Die sin van die gebod is om die sondige gestalte van ons selfliefde te deurbreek en ons natuurlike drang tot selfhandhawing en selfbehoud tot sy ware betekenis te bring deur dit onder die tug te plaas van die naasteliefde. Dit wil aan ons sê dat ons op dieselfde spontane, onberedeneerde manier die heil van die naaste moet soek as wat ons van nature vir onsself opkom en ons eie belange soek (Ridderbos). Dit beteken dus in geen geval dat ons op grond van hierdie gebod mag konkludeer dat Christus ons ook gebied om onsself lief te hê, of dat ons naasteliefde beperk mag word deur die verpligting om onsself lief te hê nie. Inteendeel, as die gebod iets beteken, dan hou dit juis in dat die naasteliefde eintlik geen plek het nie.
Dat Calvyn in die regte rigting beweeg het met sy interpretasie (in teenstelling met iemand soos Augustinus en baie Rooms-Katolieke en veral Lutherse teoloë wat van ’n plig tot selfliefde wil praat), blyk uit die feit dat Christus self in Matteus 22:40 praat van “hierdie twee gebooie”. Die twee gebooie is dan tog kennelik die gebod van liefde tot God en liefde tot die naaste. As dit die bedoeling was om hier ook nog ’n gebod tot selfliefde te gee, sou daar tog van drie gebooie sprake moes wees.
Wat liefde beteken
Bowendien is dit duidelik dat die begrip “selfliefde” eintlik nie inpas in die kader van Gods liefdesgebod nie. As ons immers vra wat die Bybel met liefde bedoel, dan blyk dit al gou dat die begrip selfliefde in sy normale betekenis op ’n uiters gespanne voet daarmee verkeer en eintlik glad nie daarmee op een lyn gestel kan word nie.
Die Bybelse liefde dra immers die karakter van gemeenskap met die ander, van die uittree uit die self om die ander te ontmoet, van die vereenselwiging van myself met die ander en sy belange, deurdat ek myself in sy skoene plaas en myself heeltemal vergeet ten einde aan hom te doen wat ek van nature eintlik aan myself gedoen sou wil hê.
Bybelse liefde beteken dat ek opgehef en bevry word uit die ban van die selfliefde en die ek- eensaamheid en dat van my gevra word om juis nie my eie belange te soek nie (1 Korintiërs 13:5, Filippense 2: 4). Dit hou in dat ek bokant my natuurlike aandrif sal uitkom deur gemeenskap met die ander te soek en my vir hom oop te stel, deurdat ek my hart, my gedagtes en geneëntheid op hom rig met agterstelling van myself en my eie begeertes en belange.
Wie in Bybelse sin liefhet, is juis vry van homself, sodat hy in staat is om af te sien van eie wense en selfs eie regte (1 Korintiërs 6:1-7; 1 Korintiërs 9). Hy behaag homself nie meer nie (Romeine 15:1) maar gee homself aan die ander (2 Korintiërs 8:5) in diens (vgl 2 Korintiërs 8:8 en 19) en is daarin selfs bereid om tot die uiterste van selfoorgawe te gaan (Romeine 9: 3). Wolfgang Schrage kom ná ’n uitvoerige opsomming van die Bybelse gegewens oor die liefde tot die slotsom dat dit nie bestry kan word nie, dat dit die wese van die Christelike liefde is om in teenstelling met die soek van die self, juis heeltemal aan die ander oorgegee te wees. Dit is presies waarin die Christelike liefde homself onderskei van die liefdesopvatting van die Stoïsynse wysbegeerte wat in die dae van Paulus in omloop was. Christelike liefde is nie selfhandhawing en selfverwerkliking nie, maar die ongereserveerde gerigtheid op die naaste.
Selfverloëning
Wie dit nie verstaan nie, sal nooit begryp hoe dieselfde Bybel wat volgens hom selfliefde gebied, sulke duidelike uitsprake oor die verloëning van onsself kan bevat nie. By die uitleg van die dubbelgebod van die liefde moet ons steeds in gedagte hou dat Jesus uiters radikale dinge gesê het oor Selfverloëning en selfkruisiging.
Bekend is die woord van Jesus dat as iemand agter Hom wil aankom, hy homself moet verloën en sy kruis elke dag moet opneem (Lukas 9:23). So kan Jesus ook sê dat as iemand agter Hom wil aankom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja selfs sy eie lewe nie, dan kan hy Sy dissipel nie wees nie (Lukas 14:26). Selfs wanneer ’n mens ten volle daarmee rekening hou dat Jesus die woord haat hier nie in ’n pregnante sin gebruik nie, dit volkome duidelik is dat Hy hier daarop wys dat die liefde tot Hom en sy Koninkryk elke ander lojaliteit volkome te bowe gaan en relativeer. Ook die liefde tot die eie – vader en moeder, vrou en kind – word gerelativeer in die lig van die liefde tot Hom. As dit op enige keuse aankom, mag daar vir die Christen geen twyfel oor bestaan dat hy vir Christus en sy Koninkryk moet kies, selfs al is dit ’n keuse teen sy “eie mense” in nie. Ja, wat meer is, hy moet volkome bereid wees om ter wille van Christus in te gaan teen sy eie lewe, dws teen alles wat vir hom die lewe is, teen sy hele lewensbegeerte.
Paulus het dit ten volle verstaan. Hy noem in Filippense 3 al die dinge op wat vir hom as Jood en Fariseër van die allergrootste betekenis was: sy afkoms, sy eie identiteit, sy godsdienstige roem. Toe hy werklik Christus leer ken het, het hy wat vir hom wins was – om Christus ontwil – skade geag. Dit het hom eintlik alles gekos wat vir ’n mens onder normale omstandighede waardevol is, want dit was ’n breuk met die hele tradisie van sy volk en ’n vernietiging van sy ideale as opkomende jong geleerde in die skool van Gamaliël. Tog het hy dit met blymoedigheid prysgegee, want die liefde tot Christus is meer as alles wat ’n mens op hierdie aarde kan besit. Dit alleen is die “pêrel van groot waarde” waarvoor ’n mens alles moet verkoop (Matteus 13:45–46), ja, waarvoor jy bereid moet wees om ’n streep te trek deur alles wat selfliefde in jou mag heet.
Lewe Verloor en Vind
Om Christus werklik te kan liefhê moet ’n mens jouself verloor. Voor die aangesig van God bly daar geen plek oor vir selfhandhawing en selfliefde nie. Daarom het Christus ook so duidelik gesê dat elkeen wat sy lewe wil red, dit sal verloor, terwyl elkeen wat sy lewe om Christus ontwil verloor, dit sal vind (Lukas 9:24).
Selfliefde kan net op één ding uitloop en dit is lewensverlies en selfvernietiging. Dit is die wet van Gods Koninkryk. Wie krampagtig aan sy eie lewe vashou, wie nie homself en wat hy as sy eie beskou, voor die aangesig van God kan loslaat en verloor nie, gaan ‘n gewisse ondergang tegemoet. Die koringkorrel moet in die grond val en sterwe, anders het dit geen opstanding of toekoms nie. Die Koninkryk van God kan nie ’n mens se deel wees as jy te bang is om jouself te verloor nie. Dit moet bo alles gesoek word, bo jou eie belang en bo alles wat van jouself is en vir jouself dierbaar is, of jy verloor alles. Die hele boodskap van die evangelie staan lynreg teenoor enige gedagte dat ’n mens jouself moet liefhê, soek en handhaaf. Wie selfliefde en selfhandhawing aan ons voorhou as ’n Christelike plig, praat in ’n ander idioom as die Bybel. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat as ’n mens selfhandhawing as ’n goed in sigself beskou, jy maar net die ondergang kan verwag.
Daarenteen is dit net so duidelik uit die Bybel dat wie bereid is om homself aan Christus te verloor, sy lewe eers werklik sal vind. Dit is die merkwaardige orde van die Koninkryk, waarin dit eers werklik duidelik word hoe God die mens geskape het, naamlik as ’n wese wat na buite gerig is. ’n Mens word eers werklik mens in die liefde, in die gemeenskap, in die gee van homself en die uittrede uit homself. Die evangelie roep die mens daartoe op om homself te verloën en sy lewe te rig op Jesus en sy naaste en – dit is die wet van die Koninkryk – eers dan vind hy homself. Hy vind sy lewe as hy dit opnuut ontvang het – anderkant die selfprysgawe – as ’n geskenk uit Gods hand, as één van die baie dinge wat vir ’n mens wat die Koninkryk bo alle dinge soek, eenvoudig “daarby gevoeg word” (Matteus 6:33).
Dit is egter nodig dat ons ’n volgende keer op enkele aspekte daarvan nog nader moet ingaan.