Selfliefde en Selfhandhawing: Deel 2
W D Jonker (Stellenbosch)
Die Kerkbode, 21 Augustus 1974
In ons vorige artikel het ons op die voetspoor van Calvyn daarop gewys dat die gebod om ons naaste lief te hê soos onsself, nie geïnterpreteer mag word as dat dit implisiet óók ’n gebod tot selfliefde bevat nie. Ons het daarop gewys dat die idee van selfliefde in stryd is met die Bybelse begrip van liefde en dit onderstreep deur te wys op die Bybelse oproep tot selfverloëning. Ons het daarop gewys dat nie die selfliefde en die selfhandhawing nie, maar die verloor van ons eie lewe om Christus ontwil,die wet van die Koninkryk is. Ons het afgesluit met die Bybelse waarheid dat alleen die mens wat homself verloën en sy lewe op Jesus en die naaste rig, homself werklik kan vind.
Ook die Naaste
Ons wil op hierdie laaste punt nog ’n bietjie nader ingaan. Die selfverloëning wat die Bybel van ons vra, geld nie net teenoor God of teenoor Christus nie, maar óók teenoor ons naaste. Calvyn het daar verruklike dinge oor geskrywe, weer eens vanweë sy diepe insig in die Skrif. Dit is die wese van die Christelike liefde dat ’n mens nie jou eie belang moet soek nie, maar moet omsien na die belange van die naaste. Wat dit konkreet beteken, het Christus nie net in sy duidelike uitsprake in die Bergrede aan ons bekend gemaak nie, maar ook op ander plekke in die Evangelies, soos met name in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan (Lukas 10) en in sy ontmoeting met die Ryk Jongman (Lukas 18).
Sowel in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan as in die gesprek met die Ryk Jongman word dit duidelik dat liefde tot die naaste nie iets is wat begin waar ek eers in my selfliefde vir myself gesorg het en myself gehandhaaf het nie. Wie dit wil doen, gaan soos die priester en die Leviet “anderkant verby” as hulle ’n verwonde mens langs die pad sien lê. Ongetwyfeld sou hulle albei goeie redes kon aanvoer waarom dit nie moontlik of verstandig vir hulle sou gewees het om aan die arme ellendeling hulp te verleen nie. Dit kon gevaarlik gewees het of dit sou hulle moontlik in ’n hele klomp beslommernis en onaangenaamheid kon betrek het. Die feit bly egter dat hulle nie die selfverloëning van die naasteliefde betrag het nie. Dit het die Samaritaan nou juis wél gedoen.
Liefde tot die naaste is dit dat die Samaritaan homself en sy belange vergeet en homself volkome met die belange van die gewonde man langs die pad besig hou, ongeag van wat dit hom sou kos of die moontlike tydsverlies en gevare wat daarmee gepaard sou gaan.
Net so het die Ryk Jongman ongetwyfeld goeie redenasies gehad waarom hy bedroef van Jesus moes weggaan. Hoe kon Jesus horn vra om sy sekuriteit prys te gee? Is rykdom dan nie ook ’n gave van God nie? Tog het die naasteliefde in sy geval duidelik net één ding beteken, en dit was dat hy al sy goed moes verkoop en dit aan die armes moes gee, sonder om te vra waarvan hyself dan verder moet lewe. Hy wou dit egter nie doen nie, omdat hy sy lewe wou behou. Daarmee het hy egter juis sy lewe in die ware sin van die woord verspeel.
Dieselfde liefde
Ook al is dit duidelik dat die Here nie van ons almal vra presies wat Hy van die Ryk Jongman gevra het nie, is dit nog ’n opvallende illustrasie – net soos die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan – van wat liefde tot die naaste in werklikheid beteken. Deur die ware betekenis van die liefde op hierdie wyse sigbaar te maak, het Christus maar net in die konkrete lewe van gewone mense toegepas wat die boodskap van Sy hele lewe en optrede was.
In en aan Christus word dit openbaar wat die ware liefde en die ware selfverloëning is. Paulus spel dit in die brief aan die Filippense in ronde terme uit dat Christus, wat in die gestalte van God was, dit geen roof geag het om aan God gelyk te wees nie, maar homself ontledig het deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word. En in die gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis (Filippense 2:6–8). Christus het Homself nie gehandhaaf nie, Hy het nie sy eie belang gesoek nie. Die merkwaardige is dat dit alles van Christus gesê word, wat tog sonder enige sonde was. Daaruit kan ons leer dat selfverloëning nie net iets is wat aan die sondige mens voorgehou word, terwyl selfliefde dan goed sou wees in die sondelose nie.
Dit is die wese van die. Christelike liefde dat dit homself ter wille van die ander ontledig en weggee.
Dit is nou juis in hierdie liefde van Hom dat Christus aan ons as ons Voorbeeld voorgehou word. Die navolging van Christus bestaan nie in allerlei dinge nie, maar in die feit dat ons van dieselfde gesindheid as Hy moet wees (Filippense 2:5). Ook Petrus roep die gelowiges daartoe op om Christus na te volg in Sy selfverloënende liefde. Toe Hy uitgeskel is, het Hy nie teruggeskel nie; toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie (1 Petrus 2:21–24). Hierdie boodskap kom egter die duidelikste na vore in die geskiedenis van die voetwassing. In dié simboliese gebaar vat Christus die hele geheimenis van die vleeswording en Sy aardse omwandeling en kruisdood saam as één magtige daad van selfontlediging, selfvernedering en diens in die reinste selfloosheid. Die merkwaardige is nou dat Christus juis in hierdie verband aan Sy dissipels sê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê “ (Johannes 13:34).
Ons skuld die naaste dieselfde liefde wat Jesus aan ons geskenk het. In hierdie liefde is daar geen plek vir selfliefde en selfhandhawing nie. Verre dus daarvandaan dat die selfliefde die norm of maatstaf vir ons liefde tot die naaste sou wees, stel die Bybel dit baie duidelik dat die liefde van Christus die maatstaf en norm van ons naasteliefde moet wees. Dit is duidelike taal waarby niemand wat die Skrif eerbiedig, verby kan kom nie.
Likwidasie
Maar beteken dit geen likwidasie van die self nie? Beteken hierdie opvatting van die gebod tot naasteliefde niks tot op die nulpunt, dat ek geen prys meer mag stel op my eie lewe, geen respek meer vir myself mag hê en myself dus nooit mag verdedig of die kwaad mag weerstaan nie?
Dit mag alleen so lyk vir wie die wet van die Koninkryk nie verstaan nie. Die wet van die Koninkryk – dit het ons tevore al gesê – is juis dat wie homself verloën en hom rig op Christus en die naaste, homself sal vind. Hy hoef homself nie meer te handhaaf nie, want God sal hom handhaaf, soos Hy Christus ook uit die dood opgewek het. Hy hoef nie meer oor homself in sorg en kommer te verkeer nie, want sy Hemelse Vader weet dat hy al hierdie dinge nodig het.
Daarby is dit waar dat mens eers werklik mens word as jy vry geword het van jouself, van die moordende ingekeerdheid in jouself en die matelose verknogtheid aan die aardse dinge wat jy jou “eie” noem. Jy word eers werklik mens as jy jou natuurlike drange onder die tug van die liefde bring en dit nie meer tot bevrediging van jouself uitleef nie, maar dit in die liefde en selfvergetelheid diensbaar maak aan die ander.
Eers binne die kader van die Koninkryk, eers binne die raamwerk van en as uitvloeisel van die liefde tot God en die naaste, word die mens vry om op die regte manier homself uit die hand van God te ontvang en dus ook homself te aanvaar soos hy is, met sy eenmalige stukkie geskiedenis, met sy besondere naam en omgewing, met sy besondere aard, gawes en roeping.
Die regte verhouding tot alle aardse dinge, óók tot onsself en die dinge wat ons so graag ons “eie” noem, kan alleen bestaan in ’n rein hart, d.w.s. in ’n hart wat totaal op God gerig is, wat Hom liefhet en homself deur God láát liefhê.
Wie só teenoor God staan, kan eers werklik reg teenoor die lewe te staan kom, omdat hy homself dan nie meer vashou nie, maar homself aan God en die naaste oorgee. As die liefde van God in ons harte uitgestort word deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is (Romeine 5:5), het ons God lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het – ook die lewe lief wat Sy gawe is, saam met alle dinge wat God gemaak het.
Dit is dan egter ’n liefde aan die ander kant van die selfverlies. Dit is geen selfliefde meer nie. Dit is geen soeke van onsself om onsself ontwil nie. Dit is ’n staan voor God en die naaste in ’n nuwe oorgegewenheid aan die wil van God en die beswil van die naaste.
Valse Profesie
Miskien sal diegene wat van mening is dat die Bybel aan ons ’n gebod tot selfliefde gee, op hierdie punt sê dat dit tog ook maar is wat hulle bedoel. Ook uit wat ons gesê het, word dit immers duidelik dan ons nie pleit vir ‘n likwidasie van die self nie.
Ook binne die raamwerk van die Koninkryk en in ’n rein hart kan daar sprake wees van selfaanvaarding, selfrespek, weerstand teen die bose, verrigting van die eie taak wat God aan ons gegee het en dus ook – vir sover dit met die oog op ons diens aan God en die naaste nodig is – selfverdediging en die handhawing van ons goeie naam en eer.
Ons wil graag aanvaar dat diegene wat vir selfliefde pleit, dit nie anders as só bedoel nie. Maar dan moet hulle dit ook besonder duidelik laat word dat hulle dit só bedoel en nie anders nie. Dit sou die beste wees as hulle liewer heeltemal van die term selfliefde wou afsien, omdat dit nooit Bybels gefundeer kan word nie en in ’n wêreld waarin selfliefde aan die orde van die dag is, altyd misverstande moet wek. En in die aangesig van die mens se sonde moet ons nie misverstande wek nie. Immers, selfliefde is juis die wese en innerlike kern van die sonde. Luther het die sonde van die mens na sy wese getipeer as in die ingeboënheid in die self (incurvatus in se). In ‘n wêreld wat siek is van selfliefde, moet ons versigtig wees om nie terme te gebruik wat mense wat reeds in die grootste selfliefde voortdurend hulleself soek, die gemeenskap met die naaste weier en hom nie as ’n medemens wil aanvaar nie, in hulle sonde en kwaad sal sterk, in plaas daarvan dat hulle goddeloosheid ontmasker word nie.
Dit doen ons egter as ons só oor die selfliefde spreek, dat mense dink hulle is op die Christelike weg as hulle net leef vir hulleself en vir hulle eie dinge, sonder om te sien hoe alles op hierdie aarde, tot ook die allermooiste en die allergrootste wat ons het, hartgrondig gerelativeer word vanuit die Koninkryk en dus deur ons alleen besit mag word asof ons dit nie besit nie (1 Korintiërs 7:29–31). Ons stimuleer met ons spreke oor selfliefde so maklik die sondige idee dat die aardse dinge van kultuur en afkoms dinge is met absolute waarde. Ons streel mense wat net op die aarde en die vlees gerig is en wat uit ons woorde oor selfliefde nog boonop meen dat hulle ’n Christelike basis het om in hulle selfdiens op te staan.
Ons moet voortdurend versigtig wees om ons nie aan valse profesie skuldig te maak nie. Kenmerkend vir die valse profesie is dat dit dinge wat in hulleself miskien waar mag wees, op die verkeerde tyd en plek sê (Van der Woude). Dit is valse profesie as ’n mens sommer in die algemeen die plig tot selfliefde en selfbehoud as ’n Christelike plig verkondig, sonder om daarmee saam die swaard van Gods Woord te trek oor die sonde van die weiering van liefde en gemeenskap met die naaste, oor die onbereidheid om afstand te doen van iets van die self ter wille van die naaste en dus ook oor die verkragting van alles wat God met die naasteliefde bedoel. Dit is valse profesie as ’n mens só oor die selfliefde spreek dat dit nie duidelik word dat ek myself eers reg kan aanvaar as ek myself uit die hand van God en uit die hand van my naaste ontvang nie. Wie sy naaste nie kan of wil aanvaar nie, toon daarmee onteenseglik dat hy nóg God, nóg sy naaste liefhet, omdat hy in ’n dodelike liefde net in homself ingekeer is.
’n Christen is Anders
In die hele wêreld heers die selfliefde, selfsorg en selfhandhawing op ’n ongebreidelde wyse. Dit is niks Christeliks nie. Die wortel van die kommunistiese ideologie is byvoorbeeld selfhandhawing en selfrealisering. Dit is egter lank nie net die kommunisme wat uit die selfliefde lewe nie. Die sondige hart van die mens is oral en die vlees wil op alles sy hand lê en uitroep: “Mea, mea est” (dit is myne, myne! – Luther).
Ons het Christus egter nie so leer ken nie (Efesiërs 4:20). Vir ons is die aardse heil iets uiters relatiefs. Vir ons moet die Koninkryk en sy geregtigheid voorop gaan, bokant alle selfbelang en selfsoeke uit. ’n Christen is anders as ander mense – as sy Christenskap die egte artikel is. Hy is geroepe tot ’n bestaan, nie vir homself nie, maar vir God en sy medemense.
As ons tyd ’n boodskap nodig het, dan is dit hierdie boodskap, nie ’n boodskap van selfliefde en selfhandhawing nie.