Die Bybel en Godswil vir ons lewe

Die Bybel en Godswil vir ons lewe
‘n Verwerking van vier praatjies gehou tydens ‘n CSV-Kamp op Bainskloof, September 1974

N.G. Kerk-Uitgewers Posbus 4539, Kaapstad 8000
Posbus 245, Pretoria 0001
Geset in 10 op 12 pt Times Roman
Gedruk en gebind deur CREDA PRESS, KAAPSTAD
Buitebladontwerp: Gunter Komnick
ISBN 0 86991 135 X

WAAROM ONS DIE BYBEL LEES

Ons lees die Bybel, omdat ons glo dat dit aan ons gegee is as die Woord van God. En van die Woord van God glo ons dat dit ’n krag van God tot saligheid is (Rom. 1: 16), maar ook ’n lig op ons pad en ’n lamp vir ons voet (Ps. 119: 105). Van die Heilige Skrif bely ons saam met die apostel dat dit nuttig is tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing en tot onderwysing in die geregtigheid (2 Tim. 3: 16).

Daarom gaan ons ook met die grootste vertroue na die Bybel as ons die Woord van God wil hoor — vir ons verlossing, maar ook vir ons daaglikse lewenswandel. Die voortdurende omgang met die Bybel is vir ’n Christen onontbeerlik. Ons moet doelbewus daarvoor tyd inruim in ons dagprogram en ons moet alle middele benut wat ons kan help om die Bybel beter te verstaan. As ons werklik glo dat ons die stem van God self in die Bybel tot ons hoor kom, mag ons die volhardende en indringende omgang met die Skrif nie verwaarloos nie.

God spreek ook wel tot die mens in die skepping en deur die geskiedenis, sowel as in die stem van ons gewete en in die lotgevalle van ons lewe. Ons kan die spreke van God op al hierdie maniere egter alleen reg verstaan, as ons dit leer interpreteer in die lig van die boodskap van die Bybel. Aan die Bybel het God ons gebind. Deur die Bybel wil Hy tot ons spreek om sy wil vir ons lewe aan ons bekend te maak.

En werklik, God het ’n boodskap vir ons. God spreek nog voortdurend tot ons. Hy is nie ’n swygende God wat Homself en sy wil vir ons verberg nie. Wie werklik ernstig vra na die wil van God vir sy lewe, hoef nie te vrees dat God hom tevergeefs sal laat vra nie. Die voorwaarde is egter dat ons gelowig daarna sal soek om Gods wil te verstaan soos Hy dit deur die Heilige Skrif aan ons bekend wil maak.

ONS OMGANG MET DIE SKRIF

Wie Gods wil vir sy lewe uit die Skrif wil leer ken, moet egter op die regte manier met die Bybel omgaan. Al glo ons dat die Bybel nog steeds ‘n boodskap vir ons het en al glo ons dat die Bybel duidelik genoeg is, sodat elkeen wat opreg vra na die weg wat hy moet gaan, ook ‘n antwoord sal ontvang, beteken dit nog nie dat die Bybel nie ook misverstaan kan word nie.

Ons sien dit daagliks rondom ons gebeur. Selfs Christene verskil dikwels onder mekaar oor die boodskap wat Gods Woord vir ons lewe het. Daar is ’n ou spreekwoord wat sê dat elke ketter sy letter het. Reeds Calvyn moes hom verset teen die stelling van sommige van sy teenstanders dat die Bybel soos ’n neus van was is wat ’n 3  mens kan buig soos jy wil — waarmee bedoel is dat ’n mens met die Bybel enigiets kan bewys.

Dit is natuurlik verkeerd om dit só uit te druk. Wat egter wel waar is, is dat die Bybel in die hande van sondige mense dikwels misbruik word. Wie op die regte wyse met die Bybel omgaan, sal ontdek dat die Bybel ’n duidelike boodskap vir ons het, nie alleen in die vraag hoe ons gered moet word nie, maar ook in die vraag hoe ons behoort te lewe.

Dit is om hierdie duidelike boodskap reg te verstaan, dat dit so belangrik is dat ons op die regte manier met die Bybel moet omgaan. Binne die bestek van hierdie paar bladsye wil ons probeer om iets meer te wete te kom oor die regte manier waarop ons met die Bybel moet omgaan, ten einde in die lig van die Bybel te leer sien wat Gods wil vir ons lewe met al sy vrae en probleme is.

DIE HEILIGE GEES

Die eerste en allerbelangrikste antwoord op die vraag hoe ons met die Bybel moet omgaan, is natuurlik dat ons ons deur die Heilige Gees by die verstaan van die Bybel moet laat lei. Die Bybel is deur die Heilige Gees ingegee en dit is eers as die Heilige Gees ons oë open, dat ons dit ten volle kan verstaan.

’n Natuurlike (of onbekeerde) mens kan nooit die Bybel in sy werklike betekenis verstaan nie (1 Kor. 2: 14). Ook die kind van God is dikwels nog so vleeslik, dat hy die Gees nie voldoende ruimte gee om hom in te lei in die ware bedoeling van die Skrif nie (vgl. 1 Kor. 3: 1-3). Wie hom deur die Heilige Gees laat lei, sal in staat wees om die sin van die Skrif reg te begryp. Hy ontvang ‘n geestelike fyngevoeligheid vir die bedoeling van die Gees en is om dit in staat om die ware boodskap van die Skrif vir homself en vir andere op te vang.

Tog moet ons ook hier goed onderskei. Die feit dat die Heilige Gees ons lei by die verstaan van die Skrif beteken nie dat ons self geen verantwoordelikheid in verband daarmee het nie. Die leiding van die Gees gaan nie buite ons bewussyn, denke, aktiwiteit en verantwoordelikheid om nie.

Daar is mense wat die werking van die Gees op so ’n manier verstaan. Ons noem dit gewoonlik spiritualisme. Daarmee word bedoel dat hulle die verband tussen die Heilige Gees en die mens se aktiwiteit deursny. Hulle glo dat as die Heilige Gees iets doen, die mens niks daaraan hoef te doen nie. Omgekeerd glo hulle dat as die mens deur sy inspanning iets doen, die Gees niks daarmee te make kan hê nie.

As gevolg van hierdie soort opvatting glo sulke mense dat ‘n mens homself nie hoef in te span om die Bybel reg te probeer 4 verstaan nie: hy moet wag op ’n ingewing van die Gees wat buite sy eie inspanning en verantwoordelikheid om sy deel moet word. Wie konsekwent op hierdie standpunt staan, moet eintlik gekant wees teen noukeurige en akkurate bestudering van die Bybel, omdat dit vir hulle ’n te saaklike manier is om met die Bybel om te gaan. Die mens met sy denke en verstand kry dan ’n té groot plek vir hulle besef. Hulle sou veel liewer sien dat die Gees ons op sodanige manier lei, dat daar so min as moontlik van ons eie aktiwiteit in betrokke moet wees.

In werklikheid is dit natuurlik verkeerd om die Heilige Gees en ons menslike aktiwiteit teenoor mekaar te stel. Ons is tog skepsels van God wat ons gemaak het soos ons is, met ons verstand en insig en vermoë om te kan lees en verstaan. Al is ons deur die sonde bedorwe, die vermoëns wat ons het, is tog gawes van God wat by ons verlossing deur die Heilige Gees in diens geneem en geheilig word. Ons eie aktiwiteit, verantwoordelikheid en oordeelsvermoë word dus nie uitgeskakel by ons lees en verstaan van die Bybel nie. Die Heilige Gees werk in en deur ons rede en begripsvermoë en sy leiding in ons lewe skakel ons eie inspanning om die waarheid te leer ken, volledig in.

Daarom is dit ook van die grootste belang dat ons op ’n saaklik-korrekte wyse met die Bybel moet omgaan as ons dit reg wil verstaan. ’n Noukeurige bestudering van die Bybel staan nie teenoor die leiding van die Heilige Gees nie, maar word juis deur die Heilige Gees gebruik as die weg waarlangs Hy ons wil laat verstaan wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God vir ons lewe is (Rom. 12: 2).

Die vraag is nou net: Wat is dan die saaklik-korrekte manier om met die Bybel om te gaan?

EERBIED VIR DIE SKRIF

Wie op die regte wyse met die Bybel wil omgaan, moet die Bybel neem soos dit aan ons gegee is en eerbied hê vir die eie-aard van die Skrif. Wat is hierdie eie-aard van die Skrif?

Wel, klaarblyklik dat dit Gods Woord is wat tot ons kom in die gestalte van ‘n boek wat deur mense geskryf is in menslike taal en met die bedoeling dat dit deur mense verstaan moet kan word vol-gens die gewone reels van die verstaan van taal.

Die Bybel is nie ‘n geheimsinnige boek nie. Dit bevat die verkondiging van die woorde en dade van God wat in die geskiedenis van die omgang tussen God en die mense uitgespreek is en tot stand gekom het. Die mense wat dit te boek gestel het, was deur die Gees geïnspireer om dit op ’n onfeilbare wyse te doen. Dit beteken egter nie dat wat hulle neergeskryf het, duister of geheimsinnig was 5 nie. Hulle het self verstaan wat hulle geskryf het en hulle het bedoel dat hulle lesers dit ook sou verstaan op die gewone wyse waarop ons mekaar se woorde verstaan.

Dat ’n “natuurlike” mens nie die volle betekenis van die Bybel kan verstaan nie, beteken nie daarom dat die Bybel in sigself ’n duister of onverstaanbare boek is nie, maar hang saam met die feit dat die natuurlike mens se verstand deur die sonde verduister is (Ef. 4:18), sodat hy miskien ewe goed as ’n ander mens die woorde kan verstaan wat hy in die Bybel lees, maar dit nooit met sy hart kan verstaan en daardeur verbrysel kan word nie. Paulus kon in sy verdediging van die evangelie sê dat die woorde wat hy spreek, woorde van gesonde verstand is (Hand. 26: 25). Die Nuwe Testament wek ons ook dikwels op om verstandig te wees, ten einde die woorde van die verkondiging te kan verstaan (1 Kor. 10: 15; Jak. 3: 13; Ef. 4:17).

In elk geval is dit duidelik dat die bedoeling van die Gees van God in die Bybel aan ons in bepaalde, verstaanbare woorde bekend gemaak word. As ons die bedoeling van die Gees wil verstaan, moet ons daardie woorde van die Bybel leer verstaan soos hulle aan ons gegee is. As ons die Bybel in sy eie-aard wil eer, moet ons nie vra na betekenisse agter en bokant die letterlike woorde van die Bybel nie, maar ons moet alles in ons vermoë doen om daardie woorde volgens hulle ware bedoeling te verstaan.

Dit beteken dat ons die Bybel baie noukeurig moet lees en voortdurend moet vra na die bedoeling van die skrywer, omdat ons alleen só die bedoeling van die Gees kan leer ken. Om dit te kan doen, moet ek, soos by enige ander geskrewe stuk wat ek lees, altyd in gedagte hou dat die betrokke woorde in ’n bepaalde verband voorkom, dat hulle onder bepaalde omstandighede geskryf is. dat hulle in ’n bepaalde stylvorm geskryf is, dat hulle in eerste instansie aan ’n bepaalde adres gerig was en iets spesifieks aan daardie eerste lesers wou oordra. As ek al hierdie dinge in berekening bring, kan ek die woorde van die Bybel volgens hulle ware bedoeling verstaan. Eerbied vir die Skrif eis van ons dat ons só met die woorde van die Skrif moet omgaan.

DIE BYBEL ‘N ORAKEL-BOEK?

As ons dit verstaan, is dit al dadelik duidelik dat die Bybel nie ’n soort orakel-boek is wat op een of ander geheimsinnige manier aan ons boodskappe of beslissings in ons lewensvrae wil gee niet Die woord “orakel” dui die geheimsinnige antwoord aan wat priesters in die Griekse oudheid namens hul gode aan mense gegee het wat die leiding van die gode gesoek het. As iemand die wil van die gode te wete wou kom, het die priester of priesteres sy saak aan die gode 6 voorgelê, waarop die priester of priesteres dan, dikwels in ’n toestand van geesverrukking, ’n duister en dubbelsinnige spreuk as antwoord van die gode aan die vraesteller gegee het.

As één ding vir ons duidelik moet wees, dan is dit dat die Bybel nie in hierdie soort atmosfeer tuishoort nie. Tog is daar baie opregte Christene wat die Bybel of bepaalde Bybelwoorde op ’n manier gebruik wat baie sterk herinner aan die raadpleging van ’n orakel. Hulle glo naamlik daarin om ná ernstige gebed die Bybel oop te slaan en die eerste teks waarop hulle oog val, of soms ook die eerste teks waarin woorde voorkom wat min of meer met hulle probleem in verband gebring kan word, as Gods direkte antwoord aan hulle te beskou. Andere hou weer ’n dosie vol tekste aan, waaruit by geleentheid van ’n beslissing wat geneem word, één uitgetrek word en as Gods direkte leiding in hulle probleem beskou word.

Niemand sal wil beweer dat daar op hierdie manier nie soms (of dikwels) regte beslissings gemaak word nie. Die Bybelwoord is so ryk, dat selfs by misbruik natuurlik nog baie troos en lig daaruit kan straal. Veral in die geval van ’n dosie kaartjies met uitgesoekte tekste, kan ’n mens daarop reken dat daar meestal tekste op die kaartjies sal staan wat in ’n algemene sin troos aan ’n soekende mens kan bied en hom dus inderdaad vrymoedigheid kan gee om ’n goeie en verstandige beslissing te neem. God kan ook met ’n krom hout ‘n reguit hou slaan.

Tog moet hierdie soort omgang met die Bybel as verkeerd en skadelik van die hand gewys word. Dit verlaag alte maklik die Bybel tot ’n soort magiese voorwerp op die vlak van die primitiewe religie. Dit is nie in ooreenstemming met die soort respek vir die Woord van God wat van ons verwag word nie. Dit is ook oneerbiedig teenoor die Heilige Gees wat ons nie deur geheimsinnige spreuke wil lei nie, maar ons wil bring tot ’n volwasse omgang met die Skrif en ons lewenswerklikheid.

Die duidelikste teken dat ons hier met ‘n verkeerde manier van omgang met die Skrif te make het, is tog seker die feit dat tekste wat op hierdie manier “gekry” word, meestal in hulle verband en letterlike betekenis niks te make het met die manier waarop hulle in hierdie proses geïnterpreteer word nie. Dit wil sê dat daar aan sulke tekste betekenisse toegeskryf word wat hulle nie volgens die bedoeling van die Heilige Gees het nie. In werklikheid kom dit dan daarop neer dat ’n mens vanuit die begeerte van jou eie hart soms betekenisse in ’n teks inlees. Watter gesag het so ’n teks dan vir ons? Hoe kan ons ooit seker wees dat ons werklik met Gods wil te make het, en nie net met ons eie wil wat in ’n bepaalde woord ingelees word nie? 7

OP DIE KLANK AF

Wie die Bybel op hierdie manier gebruik, doen nie moeite om te vra na wat ’n teks in sy konkrete verband in die Bybel beteken nie, maar interpreteer dit eenvoudig op die klank af. Dit is op sigself reeds ’n groot euwel. Ons maak dikwels beswaar daarteen dat mense ons woorde uit verband haal en ons dan dinge laat sê wat ons nooit bedoel het om te sê nie. Ons hoor byna daagliks die beskuldiging aan die adres van die pers dat dit iemand se woorde uit verband geruk het, omdat die geheel van sy toespraak nie in aanmerking geneem is nie.

Tog is daar baie opregte Christene wat daagliks dieselfde met die Bybel doen. Natuurlik is hulle bedoeling daarmee nie verkeerd nie. Hulle wil graag ‘n woord van God vir vandag hê. Ons wil in ons stiltetyd ’n les ontvang waarmee ons die dag kan binnegaan. Die kringleier wil ’n opbouende gedagte in die byeenkoms uitspreek. Die predikant wil ’n aktuele preek lewer. Om dit te kan doen, soek hulle na ’n teks wat iets sê wat klink soos dit was ons graag gesê wil hê. Sonder om rekening te hou met die werklike, objektiewe betekenis van die teks, word dit op die klank af aangewend om ‘n boodskap te bring waarvoor daardie spesifieke teks nooit bedoel was nie.

So is dit tog ontoelaatbaar as ‘n predikant die woorde van Gen. 22: 8 (“So het hulle twee dan saam geloop”) wat van Abraham en Isak op pad na Moria geskryf is, gebruik vir ’n preek by ’n huweliksbevestiging. Net so ongehoord is dit om die woorde van Josef in Gen. 37: 16 (“Ek soek my broers”) te gebruik vir ‘n preek oor die noodsaaklikheid van evangelisasie. Om uit sulke tekste die gewenste boodskap te kan haal, moet hulle omgedui en vergeestelik word, sodat hulle totaal losgemaak word uit hulle letterlike betekenis en konkrete verband. Dit getuig tog nie van eerbied vir die Skrif nie.

As ons só met die Bybel omgaan, verskraal ons die betekenis daarvan. Ons grawe nie meer in die Skrif totdat ons die werklike betekenis van ’n teks in sy geestelike diepte verstaan nie, maar ons skryf op die klank af daar allerlei mooi geestelike betekenisse aan toe uit die skat van ons eie gedagtes oor wat God aan ons deur Sy Woord wil sê. Maar daarmee bly ons net binne die sirkel van ons eie gedagtes. DieBybel sê dan eintlik op alle plekke vir ons presies dieselfde Die werklik moeilike (maar dan ook werklik verrykende) aspekte van die Bybelwoorde word deur middel van die vergeesteliking gladgestryk. Wat oorbly, is dan dieselfde wat ons ook op baie ander plekke in die Bybel sou kon vind. Die grootste gevaar van die vergeesteliking is dat ‘n mens op die manier met die Bybel ‘n soort vroom spel kan speel, in plaas daarvan dat jy eerlik soek om die wil van God uit die Skrif te leer ken. 8

DIE BYBEL GEEN WETBOEK

As ons werklik in alle erns die wil van God uit die Skrif wil leer ken, moet ons die Skrif eer in sy karakter as verkondiging van die woorde en dade van God soos dit in die geskiedenis van sy omgang met die mense verkondig is en plaasgevind het. Alleen as ons hierdie verkondiging in sy ware en historiese sin verstaan, kan ons daaruit lig ontvang oor wat Gods wil vir ons lewe is.

Die Bybel is nie ’n wetboek met artikels wat volgens bepaalde trefwoorde nageslaan kan word om te sien wat God in ’n bepaalde “geval” van ons verwag nie. Daar is Christene wat die Bybel op hierdie manier probeer gebruik, maar dit berus op ’n misverstand oor die ware aard van die Skrif.

Die Bybel is in eerste instansie die verkondiging van die bevrydende evangelie van Gods heilsdade soos dit voortgevloei het uit sy liefde en genade teenoor ons. Die bevryding wat God aan ons wil skenk, het egter direkte konsekwensies vir ons lewenswandel, want dit is juis ook ’n bevryding uit sonde tot die vryheid om te kan lewe soos ’n mens behoort te lewe, naamlik in ooreenstemming met die wil van God. Om die Bybel as ’n wetboek te hanteer, is ’n miskenning van die feit dat die verhouding tussen God en ons nie ’n wettiese verhouding is nie, maar ’n verhouding van liefde. Die Bybel wil ons leer verstaan wat die regte verhouding tussen God en ons is en watter konsekwensies daar volgens die wil van God vir ons uit die verhouding moet voortvloei. Die gebooie en voorskrifte van die Bybel is bedoel as die leefreëls van die kinders van God, die huisgenote van die geloof.

Die Bybel het dan ook nie die vorm van ’n wetboek nie, maar dit bestaan vir die grootste gedeelte uit geskiedenisse, verhale, briewe, liedere, spreuke, gebede en profesieë. Dit vertel aan ons die verhaal van Gods omgang met die mense en laat ons daaruit sien wie God is en wat sy wil vir die mense is. Gods wil vir ons lewe is volgens die Bybel altyd ingebed in die verkondiging van sy verlossingsdade en staan ook in direkte verband daarmee.

Daarom kan ons ook vir ons kennis van die wil van God nie maar net gaan kyk na die wette en voorskrifte wat in die Bybel voorkom nie. Wat Gods wil vir die mens is, blyk ewe goed uit die Bybelse verkondiging aangaande die skepping, die verlossing uit die sonde en die beloftes van God vir hierdie en die toekomende lewe. Elke daad van God in verband met ons bestaan, voortbestaan, verlossing en verheerliking hou sekere implikasies in vir ons lewenswandel. Daarom kan die Bybel Gods wil vir ons lewenswandel ook onder so baie gesigspunte tot uitdrukking bring wat niks met geformuleerde wette te make het nie, soos bv. dat ons lewe ’n lewe van hoop, van vryheid, van blydskap en van liefde moet wees. 9

Die Bybel is dus nie ’n wetboek waaruit ’n mens maar net ’n artikel of ’n teksvers kan opsoek wat op jou geval pas nie. Die Bybel wil verstaan en geïnterpreteer word met die oog op die vraag wat Gods wil vir ons lewe is. Lank nie alles wat in die Bybel staan, het vir ons normatiewe (verbindende) betekenis nie. Alles wat die Bybel meedeel, is wel die waarheid, maar nie alles verplig ons tot ’n bepaalde manier van lewenswandel nie. Die veelwywery van die Ou-Testamentiese vromes, die vloek wat Noag oor sy seun Gam uitgespreek het of die gemeenskap van goedere waarin die eerste Christelike gemeente geleef het, word nie aan ons voorgehou as voorbeelde wat ons moet navolg nie, maar skets vir ons die situasie waarin Gods Woord tot mense gekom het, of toon ons die reaksie van mense in ’n bepaalde situasie.

Wie uit die Skrif die wil van God vir ons lewe wil leer ken, moet die hele Skrif tot hom laat spreek en dan daarop let hoe die wil van God vir ons uit sy dade, maar ook uit sy gebooie sigbaar word. Dan word dit duidelik dat die Bybel aan ons sekere algemene motiewe of gesigspunte voorhou wat vir ons lewenswandel rigtinggewend moet wees. Dit laat ons ook ’n groot variasie van gevalle sien waarin daardie gesigspunte en motiewe in die lewens van bepaalde mense of in bepaalde voorskrifte hulle konkrete toepassing gevind het. Daarmee wil die Bybel ons leer om self ook in die lig van die Skrif te beproef wat die goeie en volmaakte wil van God vir ons in ons eie situasie is (Rom. 12: 2).

WANDEL IN WYSHEID

Die doel waarmee die Bybel aan ons gegee is, is dus klaarblyklik nie om vir ons presies voor te skryf wat ons in elke situasie in ons lewe moet doen nie, maar om ons op te voed in die kennis van die wil van God vir ons lewe, sodat ons op grond van dié kennis in alle wysheid mag wandel. So lees ons in 2 Tim. 3: 16-17 dat die hele Skrif deur God ingegee is en nuttig is tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Die Bybel wil hê dat ons sal verstaan dat ons mense van God is en watter lewenswandel by die mens van God pas. Die Bybel wil ons wys maak — en dié wysheid bestaan nie net in die kennis van die weg van die saligheid nie, maar ook in die kennis van wat geregtigheid en volkomenheid van lewenswandel beteken. Dit is opmerklik watter groot plek daar in die Bybel vir die begrip wysheid ingeruim word, in die Ou Testament sowel as in die Nuwe Testament. Dit is alleen die wyse mens wat in staat is om te onderskei wat die wil van God vir ons in elke situasie van ons lewe is. Jesus stel in sy prediking herhaaldelik die wyse en die dwase mens teenoor mekaar 10 (vgl. Matt. 7: 24-26; Matt. 25: 1-13 ens.). Met sy prediking en voorbeeld wil Hy die mens verlos uit sy dwaasheid en hom bevry tot wysheid, sodat hy die wil van God kan verstaan en doen.

Dieselfde element kry ons ook by Paulus, waar hy nie net die gelowiges herhaaldelik oproep daartoe om wys te wees nie, maar ook om volwasse te word in die geloof (vgl. Ef. 4: 13; 1 Kor. 14: 20; Kol. 1: 28). Met hierdie geestelike volwassenheid hang die vermoë saam om in wysheid te beproef wat die wil van God vir ons lewe is (vgl. Rom. 12: 2; Ef. 5: 15-16; Fil. 1: 9-11). Die mens wat deur Christus verlos en vernuwe is, moet verander word in sy gemoed, sodat hy die dinge kan onderskei waarop dit aankom en in elke situasie kan sien wat presies die wil van God vir hom is.

Daar rus dus op die mens self ’n groot verantwoordelikheid by die ontdekking van wat die wil van God vir hom is. Hy mag dit nie van hom afskuif deur die Bybel óf as ‘n orakel-boek, óf as ’n wetboek met pasklare artikels te hanteer nie. Hy is self verantwoordelik daarvoor om in wysheid te onderskei wat in sy geval die wil van God is. Gelukkig hoef hy dit nie in eie wysheid te doen nie. Die hele Bybel is aan hom gegee om hom te onderrig en hom wys te maak, terwyl die Heilige Gees hom daarby in alle waarheid wil lei (vgl. Joh. 16: 13-14).

DIE BYBEL AS NORM

Omdat die Bybel die Woord van God is, bied dit aan die mense van alle eeue die norme waarvolgens hulle hul lewenswandel in wysheid moet inrig. Die God van die Bybel is nie willekeurig nie. Sy wil vir die mens verander nie.

Wat natuurlik wél verander, is die situasie waarin die wil van God gedoen moet word. Die mens is ’n historiese wese. Sy lewensomstandighede verander voortdurend. Daar is nie twee mense wat presies dieselfde is nie en daar is nie twee situasies wat presies gelyk is nie. Wat God van die mens verwag, is om onder alle omstandig-hede en in elke konkrete situasie sy wil te doen. Hoe die wil van God in elke situasie gedoen moet word, hang van die situasie af. Al is dit dus dieselfde wil van God wat deur alle mense en in alle omstandighede gedoen moet word, is dit duidelik dat die wil van God telkens weer verskillend gedoen sal moet word, al na gelang van die verskil in situasie.

Dit is juis om hierdie rede dat die Bybel geen wetboek met artikels is wat altyd en onder alle omstandighede op presies dieselfde wyse uitgevoer kan word nie, maar ’n bron van wysheid wat aan ons bekend maak wat die blywende wil van God vir ons is, sodat ons ons lewe in ons eie situasie volgens die norme van die Skrif kan inrig. 11

GOD WIL SLEGS EEN DING

Wie met die Bybel omgaan, sal merk dat daar in die Bybel ’n groot hoeveelheid gebooie, vermaninge, opdragte, voorskrifte en teregwysinge voorkom. Nie net die spesifieke gedeeltes wat as wettiese gedeeltes bekend staan nie, maar ook die wysheidsliteratuur, die Psalms, ja selfs die Bybelse geskiedenisse bevat sulke vermaninge of opdragte en gebooie.

Tog is dit duidelik dat ons nie verstrik hoef te raak in die veelheid van gebooie en voorskrifte, met die gedagte dat dit tog onmoontlik is om aan alles wat God vra, gehoorsaam te kan wees nie. In werklikheid is dit immers só dat God in hierdie veelheid van gebooie en insettinge eintlik net één ding van ons vra. Daardie één ding is die totale oorgawe van ons hart en lewe aan die Here God. Dit is ten diepste één-voudig, want daarin is die totale heiliging van ons lewe opgesluit.

Daarom kan die Bybel ook telkens die veelheid van die gebooie op ’n verhelderende manier sáámvat onder ’n enkelvoudige noemer. In die Ou en die Nuwe Testament word herhaal dat die één ding wat God eintlik van ons vra, die liefde is (vgl. Deut. 6: 5; Lev. 19: 18; Matt. 22: 37-40; Rom. 13: 10). In teenstelling met die Fariseërs wat gebod op gebod en reël op reël gestapel het, omdat hulle op ’n wettiese wyse met die gebod van God omgegaan het, is dit uit die prediking van Jesus duidelik dat Hy ten diepste net die eenvoudige oorgawe van die hele mens aan God vra. Ook Paulus spreek in die enkelvoud oor die vrug van die Gees (Gal. 5: 22) en die werk van die liefde (1 Kor. 3: 13). Wie God werklik van harte liefhet, het alle gebooie vervul.

TOG ‘N VEELHEID

En tog moet hierdie één ding wat God volgens die Bybel van ons vra, hierdie één norm wat vir alle tye en alle mense onveranderlik geld, ook in ’n veelheid van fasette en kante geopenbaar word as dit werklik betekenis wil hê. Omdat die lewe nie eenvoudig is nie, maar baie kante en fasette het, moet die één wil van God uit-één gelê word in baie norme en gebooie. Die één vrug van die Gees neem baie vorme aan (Gal. 5: 22) en die één werk van die liefde omvat na die aard van die liefde ’n veelheid van gesindhede en dade (1 Kor. 13: 4-7).

Dit is reeds duidelik dat God net één ding van ons vra. naamlik die liefde nader toegespits: die liefde tot Hom. Die Bybel leer ons egter dat God só liefgehê wil word, dat ons ook ons naaste moet liefhê. Wie sy naaste nie liefhet nie, het ook God nie lief nie. so blyk die één ding wat God van ons vra, reeds twéé duidelik-onderskeibare vorme aan te neem wat albei eweseer deur God gewil word. 12

Ons het hier te make met ’n onderskeiding in die één gebod van God wat teruggevoer kan word tot sy wil as Skepper. God het die mens as ’n gemeenskapswese geskep. Die mens is nooit sonder ’n naaste nie. God wil dus dat ons liefde tot Hom óók die vorm van naasteliefde moet aanneem (1 Joh. 4: 20).

Met die manier waarop God die mens geskep het, hang nou ook ander onderskeidinge binne die één wil van God vir die mens saam. Die liefde tot die naaste moet baie gestaltes aanneem, omdat dit rekening moet hou met die verhoudinge waarin mense tot mekaar staan op grond van die manier waarop hulle geskape is. So is ons geskep as kinders van ouers en ons word self weer ouers van kinders. Ons is geskep met die behoefte aan die liefde van ’n lewensmaat. Ons het voedsel, kleding en versorging nodig en is dus vanself aangewese op ons medemense om saam met hulle te arbei, om saam ’n gemeenskap te vorm wat almal se belange behartig. Daarom vind ons dat Gods één gebod dat ons ons naaste moet liefhê, opgedeel word in die gebod dat ’n kind sy ouers moet liefhê en eer. dat ouers hulle kinders moet liefhê en versorg, dat huweliksmaats aan mekaar getrou moet wees, dat arbeidsgenote mekaar billik en regverdig moet behandel, ens.

Die Tien Gebooie is ’n pragtige voorbeeld daarvan hoe die dubbelgebod van die liefde vertak in ’n veelheid van gebooie om die verskillende terreine van die menslike lewe te dek. Ons kan daaruit leer dat die liefde wat God van ons vra, ’n omvattende betekenis het. Die liefde wat die Bybel van ons vra, is nie sommer ’n emosionele opwelling of ’n gevoel van aangetrokkenheid tot iemand of jammerte vir hom nie. Dit is eerder ’n innerlike grondhouding wat daarin bestaan dat ons in elke situasie van ons lewe die regte ding wil doen wat God van ons vra. Liefde teenoor God beteken dus dat ek sy Naam nie ydel sal gebruik nie, dat ek geen ander gode in my lewe sal erken nie, dat ek die dag en die diens van God getrou sal onderhou (vgl. die eerste vier van die Tien Gebooie). Dit beteken egter óók dat ek reg aan my naaste moet doen, wáár ek ook al met hom in aanraking mag kom. Daaroor handel die laaste ses van die Tien Gebooie.

DIE INVLOED VAN DIE SONDE

As die mens nie ’n sondige wese was nie, sou hy vanself geweet het watter vorme en gestaltes die liefde moet aanneem in al die verhoudinge waarin ons as mense teenoor mekaar staan. Deur die sonde het dit egter vir hom onmoontlik geword om dit vanself te weet. Sy lewensrigting het verkeerd geraak. In plaas daarvan dat hy God en sy naaste liefhet, is, hy geneig om net homself te soek. Sy insig in wat goed en kwaad is, is deur die sonde verduister. 13

 

Onder hierdie omstandighede was dit nodig dat God in sy openbaring dit aan die mens deur sy wet moes uitspel wat Hy van die mens vra. In die Bybel vind ons ‘n groot aantal gebooie, insettinge en vermaninge wat aan die mens voorgehou word. Daarnaas vind ons ook ’n groot aantal gebooie waarin God aan die mens duidelik maak wat hy nie mag doen nie. As ons weer na die Tien Gebooie kyk, sal ons merk dat God daarin bepaalde dinge pertinent verbied, soos bv. doodslag, egbreuk, diefstal, ens. Dit was noodsaaklik om dit te doen, sodat die mense se oë geopen kon word vir die baie gestaltes wat die liefdeloosheid kan aanneem. Omdat die sonde homself in baie vorms vertoon, was dit nodig om die gebooie te vermenigvuldig, sodat die mens die sonde reg kon leer ken. Dit verklaar die feit dat daar in die Ou Testament so ’n groot hoeveelheid wette en insettinge voorkom. Dit alles het ten doel om die lewe in stand te hou en die mens na die liefde terug te lei te midde van die verwoesting wat die sonde op alle terreine van ons lewe saai.

Omdat die sonde so erg is, het God die staat ingestel om die sonde in sy ergste openbaringsvorme en deurwerking te stuit. Ook daarvan lees ons in die Ou Testament. ’n Hele aantal van die Ou-Testamentiese wette is eintlik staatswette of burgerlike wette van Israel wat bedoel is om die uiterlike sondes te bestraf. Ook dit moet ter wille van die liefde gedoen word.

Op al hierdie maniere word die één gebod van die liefde dus in die Bybel uit-één-gelê in ’n groot aantal gebooie en insettinge, vermaninge en voorskrifte, wat daarop bereken is om die omvattende karakter van die liefde en sy baie gestaltes aan die mens voor te hou.

GODS VERLOSSINGSDADE

Tog is dit nie net die sonde wat ’n invloed het op die manier waarop die liefdesgebod in baie gebooie uiteengesit word nie. Ook die verlossingsdade van God het ‘n groot invloed daarop.

In die Bybel word die feit dat God die mens uit sy nood en ellende verlos, nie net as ’n rede aangegee waarom hy God moet liefhê en gehoorsaam nie, maar dit word ook gebruik om vir hom te sê hoe hy God en sy naaste moet liefhê. So word die feit dat God die Israeliete uit die slawerny van Egipte verlos het, in die vierde gebod gebruik as ‘n rede waarom Israel die Sabbat moes onderhou, maar óók om hulle te leer hoe hulle dit moes hou (vgl. Deut. 6: 14-15). Baie van Israel se seremoniële en reinheidswette het te make gehad daarmee dat hulle as die volk wat deur die Here verlos is, anders moes lewe as die ander volke rondom hulle.

Die verlossingsdade van God het konsekwensies vir die mens wat deur God verlos is. In sy lewenswandel moet hy blyke van daardie verlossing gee. Die manier waarop hy aan God se liefdesgebod 14 gehoorsaam moet wees, word gestempel deur Gods verlossingsdade. Dit kom veral duidelik uit in die Nuwe Testament.

Die verlossing deur Christus stempel die manier waarop die Christen in die liefde moet wandel. Die Bybel roep die Christen daartoe op om Christus na te volg, om in sy voetspore te wandel. Die Nuwe Testament sê aan ons dat die Christen met Christus gekruisig en opgewek is en dat hy daarom sy ou natuur moet kruisig en ’n nuwe lewe in die krag van die Gees moet lei. Die groot gebod vir die Christen in die Nuwe Testament is dat hy aan Christus gelykvormig moet word in gesindheid en daad. Dit is nie ’n ander gebod as die ou gebod van die liefde wat reeds in die Ou Testament bekend was nie, maar dit is die ou gebod in sy nuwe toespitsing deur die verlossing in Christus (Joh. 13: 34).

Net so bring ook die belofte van sy wederkoms en die nuwe hemel en aarde ’n bepaalde aksent in Christus se bevele aan sy dissipels. Omdat die Christen op die totale verlossing in Christus mag hoop, moet hy anders gaan lewe (vgl. 1 Joh. 3: 3; 2 Pet. 3: 11).

Ons sien dus: ook Gods verlossingsdade bring mee dat die één gebod van die liefde baie kante vertoon en in baie gebooie en vermaninge nader omskryf moet word.

OP WEG IN DIE TYD

Hier kom nog iets by. Ons het reeds opgemerk dat die mens ’n historiese wese is. Sy lewe verloop in die vorm van ’n geskiedenis waarvan nie twee momente presies dieselfde is nie. Hy verkeer aanhoudend in ander omstandighede en nuwe situasies. Hoe die één wil van God in die verskillende situasies gedoen moet word, hang af van die omstandighede. Die liefde vra in elke geval die regte houding en daad van ons, maar wat daardie houding en daad is, word in ’n groot mate deur die omstandighede bepaal. So sal ons bv. Gods gebod om ons naaste lief te hê, anders vervul teenoor ’n ryke wat aan niks gebrek het nie, as teenoor ’n arm man wat honger en nakend is.

Omdat die omstandighede van die mens in die loop van die geskiedenis voortdurend verander, bring dit dus mee dat die één wil van God op verskillende momente in die geskiedenis op verskillende maniere gehoorsaam sal moet word. Elke tyd bring nuwe situasies waarin die sonde nuwe gestaltes aanneem en ook die versoekings in nuwe vorms openbaar word. Gehoorsaamheid aan die wil van God sal altyd met hierdie nuwe situasies rekening moet hou.

Dit is om hierdie rede dat die Bybel nie aan ons voorskryf presies hoe ons in elke omstandigheid moet optree nie. Dit sê aan ons wat die één wil van God vir ons lewe is; dit vestig ons aandag op bepaalde grondgestaltes van die liefde wat altyd weer in die 15 menslike lewe sal voorkom; dit gee aan ons sekere algemene riglyne waar-aan ons ons moet hou en verbied bepaalde grondvorme waarin die sonde homself altyd weer openbaar. Dit spesifiseer egter nie in die besonder hoe ons ons aan al hierdie riglyne moet hou nie, maar hou rekening met die feit dat ons telkens in nuwe omstandighede onder die leiding van die Heilige Gees en in wysheid sal moet uitmaak watter konkrete toepassing van daardie algemene riglyne vir ons die weg van gehoorsaamheid is. Daarom is die gebooie en vermaninge van die Bybel so dikwels in algemene terme geformuleer: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word, ens. Hierdie geld altyd en oral, maar presies hoe hulle in ons lewe in praktyk gebring moet word, hang van die historiese en individuele omstandighede af.

KONKRETE VOORSKRIFTE

In die Bybel vind ons nie net algemene formuleringe nie, maar ook ’n groot aantal baie konkrete voorskrifte. Dink maar aan die baie voorskrifte van die Ou Testament oor reinheidsgebruike, oor die offerdiens, oor die straf op sekere oortredinge. ens. ’n Mens kan ook dink aan baie van die vermaninge wat Paulus aan die einde van sy briewe aan konkrete gemeentes of selfs aan bepaalde persone in dié gemeentes rig.

Hierdie soort konkrete voorskrifte is nie bedoel om deur alle mense van alle tye op dieselfde manier uitgevoer te word nie. Ons het hierin te make met konkrete toepassings van die wil van God vir bepaalde mense onder bepaalde omstandighede op ’n bepaalde moment in die geskiedenis. Sulke voorskrifte kan vergelyk word met die spesifieke opdragte wat God in sy ontmoeting met bepaalde mense aan hulle gegee het, soos bv. aan Abraham om sy seun Isak te gaan offer of aan Moses om Israel uit Egipte te gaan lei. Al is Gods wil vir alle mense deur die eeue wesenlik dieselfde, neem sy wil vir konkrete mense onder spesifieke omstandighede ook vorme aan wat onherhaalbaar is, omdat dit rekening hou met ’n bepaalde onherhaalbare situasie.

DIE HISTORIESE FAKTOR IN DIE BYBEL

In ons omgang met die Bybel moet ons dus leer om te onderskei tussen die blywende wil van God vir ons lewe én bepaalde konkrete voorskrifte wat in die Bybel aan bepaalde mense onder bepaalde omstandighede gegee is, maar nie op dieselfde manier deur ons gehoorsaam hoef te word nie.

Die Bybel self gaan ons daarin voor dat dit rekening hou met die feit dat gehoorsaamheid aan die wil van God in verskillende historiese situasies ook verskillende vorme kan aanneem. Daarom tref 16 ons in die Bybel self ’n groot mate van variasie en wisseling in die konkrete voorskrifte en vermaninge aan. Hierdie variasie en wisseling het te make met die historiese ontwikkelinge en die verskil in die situasies waarin die volk van God telkens verkeer het.

Dit kom reeds uit in die groot verskille tussen die Ou en die Nuwe Testament. Die feit dat die Bybel in ‘n Ou en ‘n Nuwe Testament verdeel is, bevestig dat die Bybel ’n historiese boek is waarvan die verskillende dele in totaal verskillende situasies ontstaan het. Tussen die Ou en die Nuwe Testament lê die groot wending in die geskiedenis wat teweeggebring is deur die koms van Christus. Christus het die Ou Verbond vervul en die Nuwe Verbond opgerig. In Hom het die volle lig van Gods openbaring vir die eerste keer deurgebreek. Die gelowiges in die Nuwe Verbond verkeer in ’n totaal ander posisie as die gelowiges in die Ou Verbond.

Die Brief aan die Hebreërs is geskryf om aan ons die groot verskille tussen die Ou Verbond en die Nuwe Verbond duidelik te maak. Wat nou opvallend is, is dat dit uit die Nuwe Testament duidelik word dat baie van die wette en voorskrifte van die Ou Testament net eenvoudig nie meer op die gelowige van die Nuwe Ver-bond van toepassing is nie. Om te weet watter insettinge van die Ou Testament nog vir die gelowige in die Nuwe Verbond geld, moet die Ou Testament in die lig van die Nuwe Testament gelees en geïnterpreteer word.

IN CHRISTUS VERVUL

Almal weet dat daar in die Ou Testament baie wette staan oor die tempeldiens, oor offers, priesters, reinheidspraktyke en dergelike meer. Ons noem hierdie soorte wette gewoonlik die seremoniële wette, omdat hulle te make het met die instandhouding van die Ou-Testamentiese godsdienstige handelinge.

Uit die Nuwe Testament leer ons nou dat al hierdie wette in Christus vervul is. Die Christen ken geen tempel en offer, geen priester en geen reinheidswette meer nie, omdat die sin van al hierdie wette in Christus vervul is. Daardie wette het vir Israel in hulle historiese situasie betekenis gehad as heenwysing na die verlossing wat God in Christus vir hulle sou bewerk. Dit was dus in daardie situasie Gods wil dat daardie wette nougeset onderhou moes word. Toe die volheid in Christus aangebreek het, was daardie wette nie meer nodig nie, ja, sou dit selfs ongehoorsaamheid aan die evangelie beteken as ’n mens hulle nog op dieselfde wyse wil onderhou (vgl. Paulus se briewe aan die Galasiërs en die Filippense).

So is daar in die Ou Testament ook wette wat spesifiek op die volksbestaan van Israel betrekking gehad het. Dit bevat bepalinge oor die verdeling van die land, oor die sabbatsjaar, oor slawe, 17 regspraak en dergelike sake. Toe die volksbestaan van Israel met die koms van Christus nie meer die bedding was waarbinne die stroom van Gods verlossingswerk gevloei het nie, het ook daardie wette hulle verbindende karakter vir die volk van God verloor. In Christus is ook die posisie wat die Israelitiese koning in die Godsregering oor die volk Israel beklee het, vervul. Die koninkryk van God word sedert die Pinksterdag universeel van aard. Die volk van God lewe verspreid in baie volke en lande. Die burgerlike wette van Israel geld dus nie meer op dieselfde wyse vir die gelowiges in die Nuwe Verbond nie.

DEUR CHRISTUS VERDIEP

Daar is egter nóg ’n saak waarop ons moet let. As ons in die Nuwe Testament lees dat Christus gekom het om die wet te vervul (Matt. 5: 17), dan beteken dit nie net dat Hy die seremoniële en burgerlike wette kom vervul het, of selfs dat Hy die ganse wet van die liefde in ons plek kom onderhou het nie. Dit beteken óók dat Hy die wet kom “vervul” het deur die volle betekenis daarvan in sy verkondiging en voorbeeld aan die lig te bring.

Ook dit is ’n feit van die allergrootste belang as ons let op die vraag watter voorskrifte en gebooie in die Bybel vir ons nog geldig is. Dit word immers uit die Bybel duidelik dat daar ’n sekere voortgang in die geskiedenis van Gods omgang met die mense is, waarin die betekenis van die wil van God vir die mense steeds duideliker geword het. Dit beteken dat bepaalde maniere waarop mense in ’n bepaalde stadium van die geskiedenis Gods gebod konkreet gehoorsaam was, later nie meer as goed genoeg kan geld nie. Namate die lig van Gods openbaring vermeerder, moet die konkrete gestalte van die liefde wat die vervulling van die wet is, ook verfyn en verdiep word.

Toe Christus die volle lig van die betekenis van Gods liefdesgebod kom openbaar het, het Hy in baie opsigte krities gestaan teenoor die gangbare manier waarop die Jode van sy dae met die wet van God omgegaan het. In sy kritiek op die geveinsdheid en die bloot uiterlike wetsvolbrenging van die Fariseërs lê Hy die ware kwaliteit van die liefde soos God dit van ons vra, ten volle bloot. In die bergrede illustreer Christus aan ’n aantal voorbeelde hoe radikaal ons die liefde tot die naaste moet opneem en waartoe ons onder bepaalde omstandighede bereid moet wees (’n slegte mens nie weerstaan nie, die ander wang draai, ’n tweede myl loop, ens. — Matt. 5: 21-48).

Deur só radikaal oor die liefde te spreek, het Christus die ware kwaliteit van die liefde veel duideliker blootgelê as wat dit in die Ou Testament ooit gebeur het. Daarom beteken die prediking van Christus ook ’n verdieping (en meermale ook ’n verandering) van 18 wat in die Ou Testament as gehoorsaamheid aan Gods wet gegeld het. In die burgerlike wetgewing van die Ou Testament kon die liefde wat God van die mens vra, nie in alle opsigte die konkrete uitdrukking kry wat dit eintlik volgens Gods wil behoort te hê nie, vanweë wat Christus noem “die hardheid van julle hart” (Matt. 19: 8). As ons na die Ou-Testamentiese wette oor egskeiding en egbreuk kyk, en ons dink aan wat daar in die Ou Verbond alles geduld is op die gebied van poligamie en dergelike dinge, dan besef ons dat ’n Christen onmoontlik nie meer volgens die standaarde van sommige konkrete voorskrifte van die Ou Testament mag lewe nie.

Ook hier blyk dit dus weer dat ’n mens nie sommer alle voorskrifte uit die Ou Testament op die Christen van toepassing kan maak nie. ’n Mens moet die Ou Testament in die lig van die Nuwe Testament lees as jy wil vasstel wat daarin vir ’n Christen nog geldig is.

KULTUUR-HISTORIESE VERSKUIWINGE

Ons noem nog ’n laaste faktor wat meebring dat ’n konkrete voorskrif wat vir bepaalde mense op ’n bepaalde tydstip in die geskiedenis as die uitdrukking van Gods wil gegeld het, dit op ’n later tydstip vir ander mense nie meer hoef te wees nie. Dit is die faktor van die kultuur-historiese ontwikkeling waaraan die menslike geslag onderworpe is en wat groot verskille laat ontstaan in die situasies waarin mense in verskillende eeue kan verkeer.

Israel het bv. in ‘n heidense omgewing gelewe waaruit bepaalde versoekinge vir hulle na vore gekom het. Sommige van die reinheidswette in die Ou Testament is bedoel om hulle teen daardie spesifieke versoekinge te beskerm. In die Nuwe Testament leef die Christene in ’n ander kulturele en godsdienstige atmosfeer. Sekere van die versoekings waarvoor die reinheidswette van Israel gemaak is, bedreig hulle nie meer nie. Dit beteken dat daardie spesifieke voorskrifte van die Ou Testament vir hulle nie meer verpligtend is nie. Wat hulle nodig het, is weer nuwe konkrete voorskrifte om hulle te beskerm teen die nuwe versoekings waaraan hulle in hul eie situasie blootgestel is.

Ons vind in die Nuwe Testament dan ook geen herhaling van die reinheidswette van die Ou Testament nie. Die rede daarvoor is gedeeltelik dat die reinheidswette in Christus vervul is, maar gedeeltelik is dit ook omdat die Christene in ’n ander wêreld as Israel geleef het, sodat dieselfde versoekings tot afgodediens nie meer vir hulle aan die eet van bepaalde voedselsoorte (bv. varkvleis) vasgekleef het nie. In Hand. 15: 28-29 lees ons dat die eerste “kerkvergadering” in Jerusalem besluit het om nie van die gelowiges uit ander volke te verwag om hulle aan die reinheidswette van Israel te hou nie, 19 behalwe dat hulle geen afgodsoffers of bloed of iets wat verwurg is, moes eet nie. Hierdie paar dinge is in daardie stadium “verbied”, omdat dit vir Christene toe nog versoekinge ingehou het of vir ander Christene aanstootlik sou wees. Dit was egter konkrete bepalinge wat met ’n bepaalde godsdienstige en kulturele situasie saamgehang het en vir latere Christene hulle bindende betekenis verloor het. Paulus leer reeds die Christene hoe hulle onder bepaalde omstandighede tog vleis mag eet wat aan afgode gewy is (vgl. 1 Kor. 10). Origens het Christene al eeue lank geen gewetensbesware meer om bloed te eet nie.

Ook hieruit is dit duidelik dat bepaalde konkrete voorskrifte in die Bybel nie bedoel was as algemene wette vir mense van alle tye nie. Trouens, die evangelie self het in die kulturele ontwikkeling van die Westerse mens groot verskille teweeggebring, wat op hulle beurt bepaalde konkrete voorskrifte uit die Nuwe Testament (bv. dié oor slawe en here) vandag vir ons nie meer letterlik toepasbaar maak nie. Ons moet daarmee rekening hou dat ook sommige voorskrifte wat Paulus oor die gedrag van die vrou gee, afgestem was op die spesifieke situasie van sy tyd met die sedes en gebruike wat toe gegeld het (vgl. 1 Kor. 11 en 14).

ONDERSKEI TUSSEN BLYWENDE EN EENMALIGE

Die groot kuns in die omgang met die Bybel is dus om te onderskei tussen die blywende wil van God soos dit in die algemene rig-lyne van die Bybel voorkom, én die eenmalige opdragte of tydelike reëlings soos dit in die konkrete voorskrifte van die Bybel voorkom.

Op grond van wat ons tot nou toe gesê het, kan ons dit min of meer soos volg formuleer:

(a) Gods wil vir die mens in alle eeue en in alle situasies is dat hy God bo alles moet liefhê en sy naaste soos homself. Die Bybel volstaan egter (gelukkig) nie daarmee om net dit aan ons te sê nie. Die Bybel laat ons ook sien (i) dat die liefde bepaalde gestaltes het wat saamhang met die grondverhoudinge waarin God die mens geskep het; (ii) dat daar bepaalde gestaltes van die sonde is wat altyd weer die beoefening van die liefde bedreig en daarom deur God verbied word; (iii) dat die heilsdade van God waardeur Hy ons uit die sonde verlos, ’n bepaalde vorm aan ons beoefening van die liefde gee, soos bv. dat ons geroep word om onsself te kruisig en Christus na te volg; (iv) dat God se beloftes vir die toekoms aan ons beoefening van die liefde die vorm gee van ’n hoopvolle bestryding van die sonde en diens aan die geregtigheid. Alle algemene uitsprake en gebooie wat die Bybel ons met die oog op hierdie dinge bied, het vir ons blywende en bindende betekenis.

(b) Met die konkrete voorskrifte en opdragte van die Bybel is 20 dit egter anders gesteld. Daarin kom ons in aanraking met die toepassing wat die blywende wil van God in ’n spesifieke situasie in die lewe van ’n bepaalde persoon, of in die lewe van Israel of die eerste Christelike gemeentes gevind het. Daardie toepassings het nooit willekeurig plaasgevind nie. Hulle agtergrond is altyd die liefdesgebod soos dit in die grondverhoudinge van die menslike lewe en in die lig van Gods verlossingsdade gestalte behoort te vind. Tog gaan dit om konkrete toepassings in eenmalige persoonlike en historiese situasies. Daarom geld sulke konkrete voorskrifte nie op presies dieselfde wyse vir alle mense van ander tye nie. Die blywende wil van God moet in gehoorsaamheid aan die leiding van die Gees in nuwe omstandighede opnuut “gekonkretiseer” word. Die Bybel self wys ons hierdie weg.

TÓG BETEKENIS

Dit beteken nou nie dat die baie konkrete voorskrifte en gebooie van die Bybel nie meer vir ons betekenis sou hê nie. Nee, hulle behou hulle betekenis vir ons, nie in die sin dat ons hulle letterlik moet uitvoer soos hulle daar staan nie, maar in die sin dat hulle ons op ’n gesagvolle manier toon hoe God gewil het dat sy wil in bepaalde situasies gedoen moes word. Hulle laat ons die talle fyner skakeringe van die doen van Gods wil verstaan soos dit in die ingewikkelde, sondige lewe moet plaasvind. Ons noem ‘n paar voorbeelde:

Ons word nie geroep om ons seun te offer soos Abraham nie, maar ons kan uit Gen. 22 leer hoe God wil dat ons Hom bo alle dinge, ja selfs bokant ons eie kind moet liefhê en Hom in alles moet gehoorsaam, selfs al sien ons nie waarheen die weg lei nie. Ons hoef nie die seremoniële wette van Israel te gehoorsaam nie, maar ons kan daaruit baie leer oor hoe ons God met ons hele hart moet liefhê, oor hoe ons moet leef uit die verlossing wat Christus vir ons bewerk het en oor hoe ons hele lewe heilig moet wees, omdat God heilig is. Ons hoef nie meer die burgerlike wette van Israel te onderhou nie, maar ons kan — ondanks die ontsaglike kulturele afstand tussen Israel en ons — uit die wette van Israel veel leer oor die soort geregtigheid, billikheid en menslikheid wat God van ons in ons politiek verwag.

As ons die verskillende konkrete gebooie en opdragte van die Bybel noukeurig ondersoek, sal ons merk dat hulle altyd heenwys na die blywende wil van God wat óók vir ons geld en dat hulle selfs in hul konkrete vorm aan ons wil toon waarmee ons rekening moet hou in ons gehoorsaamheid aan die wil van God in ons eie situasie.

Daarom moet ons die hele Bybel bly lees en nie te gou dink dat ons maar die wettiese gedeeltes van die Ou Testament kan oorslaan, of dat ons nie belang het by spesifieke opdragte wat aan bepaalde 21 mense in die Bybel gegee is nie. Die Heilige Gees kan daardie gedeeltes gebruik om ons vandag nog te oortuig van wat Gods wil vir ons in ons eie situasies is. Wat Christus aan die ryk jongman gevra het — om al sy goed te verkoop en aan die armes uit te deel — vra Hy sekerlik nie van elkeen van ons nie (vgl. Luk. 18: 18 e.v.). Maar die kwaliteit van die liefde tot God en die naaste wat in daardie opdrag tot uitdrukking kom, vra Hy beslis nog van elkeen van ons.

Ook die radikale uitsprake van Christus in die bergrede (Matt. 5) is seker nie bedoel as ’n algemene wet nie. Dit sou die funksionering van die staat bv. onmoontlik maak as geen eed gesweer mag word en ’n slegte mens nie weerstaan mag word nie. Die kwaliteit van die liefde waarop dié uitsprake afstuur, word egter van almal gevra. Daar mag selfs situasies wees waarin ons ook letterlik so sal moet handel. Hier kom die wysheid en die leiding van die Heilige Gees te pas.

MET ONS VRAE NA DIE BYBEL

Wanneer ons wil weet watter lig die Bybel aan ons gee oor die wil van God vir ons lewe, kan ons op twee maniere te werk gaan, nl. die deduktiewe en die induktiewe manier. In die eerste geval bestudeer ons die Bybel en probeer vanuit die Bybelse boodskap die lyne deurtrek na ons eie probleme. In die tweede geval (die induktiewe metode) begin ons by ons probleme en gaan soek by die Bybel ’n antwoord op die moeilike vrae wat ons in verband daarmee het. Albei hierdie metodes is geoorloof. Eintlik moet hulle ook voortdurend in verbinding met mekaar gebruik word. Slegs wie voortdurend intensief met die Bybel omgaan, sal in staat wees om vanuit die Bybel die konsekwensies vir die praktyk te trek én vanuit die praktyk die regte weg na die Bybelse gebod te vind.

Wanneer ons met ons vrae na die Bybel gaan, is dit van die grootste belang dat ons die juiste insig sal hê in ons vraag. Ons moet die situasie waarin ons die Bybelse gebod opnuut moet konkretiseer, reg verstaan. Ons moet die motiewe, die sake wat daarby op die spel is, die gevare wat ons daarin bedreig, die versoekings wat daarin aan die orde kom, op sodanige wyse deurskou, dat ons in staat sal wees om ons probleem te vertaal in die terme waarin die Bybel spreek. Alleen só kan die historiese afstand tussen die Bybel en ons oorbrug word. Oor baie van ons probleme sal ons nie direkte uitsprake in die Bybel vind nie. Selfs as ons bepaalde woorde gebruik wat in die Bybel ook voorkom, kan dit nog wees dat daar in die Bybel iets anders mee bedoel word as in ons mond. Daarom moet ons die fyn kuns aanleer om nie op uiterlike woorde af te gaan nie, maar om ons probleme en situasies tot op hulle wesenlike kern af te tas en hulle dan in die lig van die Skrif te beoordeel. Dan sal ons 22 vind dat die Bybel as geheel wél iets te sê het oor ons probleme en vrae en aan ons die regte weg kan wys.

Om ons situasie en probleme só te kan ontleed, het ons ’n geoefende geestelike insig nodig, die wysheid waaroor ons tevore gepraat het. Ons moet verligte oë van die verstand hê, ’n gevoelige gewete. ’n groot sensitiwiteit vir die dinge waarom dit wesenlik gaan. Dit kan ons alleen ontvang in ’n voortdurende omgang met die Skrif en deur die werking van die Heilige Gees in ons lewe. Dit is ’n wesenlike deel van ons heiligmaking dat ons in hierdie opsig tot geestelike volwassenheid sal kom.

Dit is wat Paulus vir sy gemeentes begeer het. Hy wou hulle tot ’n punt bring waarby hulle self in staat sou wees om op grond van Gods Woord hul eie lewensituasie te beoordeel en te beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is (vgl. Rom. 12: 2; Fil. 1: 9-11; 1 Kor. 7; 1 Kor. 11 ens.). Die gebod van God moet vir die gelowige nie iets wees wat van buite al op hom gelê word en wat hy as ’n sware las ervaar nie. Dit moet deur sy omgang met die Skrif en sy innerlike vernuwing deur die Heilige Gees vir hom sy eie oortuiging en begeerte word, sodat die konkretisering daarvan in sy daaglikse lewe steeds meer iets spontaans word en steeds minder ’n saak van ingewikkelde redenasies.

DIE GEMEENSKAP VAN DIE HEILIGES

Uiteraard behoort dit alles nie te geskied as iets van die individuele gelowige alleen nie. Dit is die bedoeling van God dat ons “saam met al die heiliges” (Ef. 3: 18) nie net die omvang van die liefde van Christus moet leer ken nie, maar ook die wye implikasies van die gebod van God.

Natuurlik sal dit altyd weer in ons sondige wêreld gebeur dat gelowiges verskillend oordeel oor die situasie waarin hulle verkeer en oor die wyse waarop Gods gebod daarin toegepas moet word. Ons sien dit selfs daagliks rondom ons gebeur dat Christene uit diepe oortuiging verskillend oordeel oor politieke, ekonomiese en ander maatskaplike vraagstukke. Die grootste ellende is nie dat hulle van mekaar verskil in hulle siening nie, maar dat hulle dan dikwels mekaar veroordeel, die gemeenskap met mekaar verbreek en weier om na mekaar te luister.

Die aangewese weg is om in geduld met mekaar om te gaan en telkens weer saam met mekaar die weg te bewandel vanaf die Skrif na ons situasie en vanaf ons situasie na die Skrif. Alleen só is dit moontlik dat ons mekaar kan vorm en verskerp in ons insig in die bedoeling van die Gees, totdat daar onder ons ‘n konsensus kan wees oor wat presies die implikasies van die gebod van God in ons lewensituasie is. 23

Ons moet nie vergeet dat die Heilige Gees aan die gemeente geskenk is nie. Hy bly werksaam in die kerk. Aan Hom sal ons dit moet toeskryf dat daar van tyd tot tyd onder die Christene ooreenstemming kom oor die betekenis van Gods gebod vir die groot vraagstukke van ons lewe. In die vorige eeu het dit gebeur met die kwessie van slawerny. In ons tyd gebeur dit weer met die vrae rondom die armoede, honger en diskriminasie waaronder die mensheid ly. Geen Christen mag hom onttrek aan die klem van die insigte waartoe die Heilige Gees die Christendom op ’n bepaalde tydstip in die geskiedenis lei nie.

Ook afgesien van die groot wêreldvraagstukke, is daar elke dag talle beslissings waarvoor ons gestel word. Die individuele gelowige kan hierin dikwels onseker wees oor wat die regte weg in die lig van die Skrif sal wees. Wat ons dan veral nodig het, is die gemeenskap met ander Christene wat saam met ons kan bid, die situasie waarin ons verkeer, kan ontleed en die lig van die Skrif daarop kan laat val. In elke geval sal ons moet besef hoe noodsaaklik dit is dat ons saam met Paulus daarvoor moet bid dat ons “vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat ons waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag, en ons in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van sy wil mag groei” (Kol. 1: 9-10).

Hoe diep is ons behoefte aan ’n kerklike gemeenskap waarin daar ’n groot sensitiwiteit vir die wil van God bestaan! Mag die Here gee dat sy kerk in hierdie tyd die geestelike onderskeidingsvermoë sal besit om leiding te gee aan ’n wêreld wat moreel in ‘n ontsettende krisis verkeer!

24