’n Eietydse geloofsleer

NED. GEREF. TEOLOGIESE TYDSKRIF, deel xvi(2) Maart 1975, 99-107

WD Jonker

(Na aanleiding van: H. Berkhof, Christelijk Geloof, Callenbach, Nijkerk, pp. 586, prys R9,80, én: Weerwoord; reacties op Dr. H. Berkhof’s Christelijk Geloof, Callenbach, Nijkerk, pp. 255, prys: R9,20. Die twee werke is onderskeidelik in 1973 en 1974 gepubliseer.)

Dit is eintlik ’n onbegonne taak om binne die ruimte van enkele bladsye iets sinvols te skryf oor ’n werk soos Berkhof se Christelijk Geloof – Een inleiding tot de geloofsleer. Die rede daarvoor is dat Berkhof aan ons hier binne die bestek van 600 bladsye ’n stuk dogmatiese besinning bied wat so boeiend is, dat die bespreking daarvan eers oor die loop van jare werklik na waarde sal kan geskied. Dit was al lankal bekend dat Berkhof besig was om ’n dogmatiese kompendium te skryf waardeur in die behoefte aan ’n beknopte inleiding in die dogmatiek voorsien sou kon word. Met groot spanning is daarop gewag, omdat elkeen wat met die vroeëre werke van Berkhof vertroud is by voorbaat daarop kon reken dat hy met sy besondere gawe om kort en helder te skryf, en bowendien met sy belangstelling en ervaring as ekumeniese teoloog, in staat sou wees om iets besonders van so ’n kompendium te maak. Noudat die werk verskyn het, kan sonder vrees vir teenspraak gesê word dat hy inderdaad iets besonders daarvan gemaak het. Die feit dat die eerste oplaag van die boek so vinnig uitverkoop was, getuig van meer as net van die dringende behoefte aan ’n dogmatiese leerboek. Dit getuig óók van die aktualiteit en verrassende toeganklikheid daarvan vir baie meer mense as net vak-teoloë. Dit is ’n boek wat op ’n besondere wyse daarin slaag om lewende teologie te bied, onskolasties en direk van betekenis vir die gewone geloofslewe.
Dat ’n dergelike boek nie in ’n enkele resensie afgehandel kan word nie, kan die beste blyk uit die verskyning van die bundel kritiese bydraes tot ’n gesprek oor Berkhof se boek wat by dieselfde uitgewer verskyn het. Hierdie bydraes, aangebied onder die titel Weerwoord, is bedoel as ’n huldigingsblyk aan prof. Berkhof by geleentheid van sy sestigste verjaarsdag. Terselfdertyd is dit egter ’n kritiese deelname aan die gesprek oor die geloofsleer wat deur die verskyning van Berkhof se boek op gang gekom het. Dit is ’n veelseggende getuienis aangaande prof. Berkhof as persoon dat hy ’n dergelike kritiese gesprek met hom verkies het bo enige ander vorm van huldiging wat hom aangebied sou kon word. Daar spreek ’n groot mate van geestelike volwassenheid uit sy bereidheid om krities in sy arbeid begelei te word. Dat hy bereid is om kritiek aan te hoor, is ’n blyk daarvan dat die saak waarom dit gaan, vir hom groter is as sy eie persoon of die prestige van sy eie arbeid.
Die bundel Weerwoord is op sigself ’n pragtige voorbeeld van die soort kritiese gesprek wat in die teologie moontlik behoort te wees. Daar word dikwels gepraat oor die otium theologicum, maar in hierdie bundel sien ’n mens ’n voorbeeld van kritiek, soms selfs baie skerp kritiek, wat gelewer word in ’n gesindheid van eerbied en waardering vir die persoon en arbeid van die jubilaris. Terselfdertyd is die bundel ook ’n getuienis van hoe breed die vriendekring van Berkhof is. As ’n mens dink aan die rol wat hy oor jare heen in die ekumeniese beweging gespeel het, is dit nie vreemd nie. Teoloë uit ’n hele aantal lande en uit ’n nog groter aantal konfessies en rigtinge het hier hulle bydraes gelewer. Om maar ’n paar bekende name te noem: ’n mens kom hier James Barr en Schillebeeckx, Berkouwer en Schoonenberg, Kuitert en Haarsma, Velema en Graafland, M. M. Thomas en Moltmann teen – en nog vyftien ander wat elkeen op sy eie gebied die reg het om te kan spreek. Dit is dus by voorbaat duidelik dat ons hier ’n werk het waarin ’n groot hoeveelheid deskundigheid, kritiese sin en variasie van insig byeengebring is.
Dit sal in die toekoms dan ook waardevol blyk te wees om die bundel Weerwoord as ’n kommentaar saam met Christelijk Geloof te lees. Dit kan die leser help om uit die staanspoor bepaalde probleme in Berkhof se uit-eensetting en denkpatroon in die oog te kry, selfs al sal hy hom uiteraard nie altyd kan verlaat op die oordeel wat deur ’n bepaalde skrywer oor Berkhof gevel word nie. Die opset van die bundel is dat dit die boek van Berkhof min of meer van voor na agter deurwerk. Dit begin met ’n paar algemene bydraes wat hulle besig hou met die verbond, i.c. die ontmoetingsdenke as die stramien waarop Berkhof se hele geloofsleer gebaseer is (Barr, Geense, Flesseman-van Leer, Graafland). Daarna volg nog ’n algemene bydrae van Posthumus Meyjes oor Berkhof en die dogmageskiedenis. Vanaf daardie punt word dan die geloofsleer op die voet gevolg. Dit beteken dat daar eers gehandel word oor die prolegomena (Schillebeeckx, Heering, Rasker), daarna oor Skrif en tradisie (De Knijff), oor die Godsleer (Berkouwer), skepping en onderhouding (Meijering), die Christologie en Triniteitsleer (De Jonge en Schoonenberg), die Heilige Gees (Hoenderdaal), die kerk (Haarsma, Visscher en Thomas), regverdiging en heiliging (Velema en Török), die vernuwing van die wêreld (Kuitert en Moltmann). Aan die einde volg nog ’n paar algemene bydraes oor die betekenis van Berkhof se boek vir die ekumene (Van den Heuvel), vir die etiek (H. M. de Lange), vir die praktiese teologie (Bolkestein) en vir die gewone gemeen-telid (Kist). In die laaste bydrae is ook ’n aantal opmerkinge verwerk oor die één tema uit die boek wat origens onbehandel gebly het, nl. Israel.
Die leser sal uit hierdie oorsig merk hoe wyd die oriëntasie is wat die bundel Weerwoord t.o.v. die geloofsleer van Berkhof bied. Hy sou egter ’n fout maak as hy sou meen dat hy dus maar net hierdie kritiese bydraes kan lees en Berkhof se boek self ongelees kan laat. Nie alleen sal hy homself daarmee beroof van die voordeel wat ’n eie omgaan met Berkhof se boek vir hom kan beteken nie, maar hy sal tog ook nie ’n volledige indruk van Berkhof kan kry nie. Die verskillende bydraes bied geen opsomming van wat Berkhof skryf nie, al gebeur iets dergelike miskien hoogstens ’n enkele keer. Daar word direk ingegaan op probleme en punte van verskil of ooreenstemming. Sonder kennis van Christelijk Geloof sal die leser dus ook nie soveel aan Weerwoord hê nie. Bowendien kan hy ook mislei word as hy net Weerwoord sou lees. Nie alle bydraes daarin is naamlik ewe sterk nie. Ook is die byval wat soms aan Berkhof betuig word, nie altyd krities genoeg gesuiwer nie. Ook die kritiek is nie altyd tereg nie. Wie ’n eie oordeel oor Berkhof se geloofsleer wil vorm, moet maar die langsame weg volg om dit self rustig deur te lees – nie te haastig nie, sodat daar tyd vir nadenke is. Weerwoord kan daarby uiteraard veel hulp bied om tot ’n eie oordeel te kom. Dié hulp sou groter gewees het, as die medewerkers nie net tot enkele bladsye, en dan nog meestal net oor één onderafdeling van die boek beperk was nie. Hierdie beperkinge (wat origens begryplik is vanweë die aard van die bundel) het meegebring dat daar dikwels nie tot die gewenste helderheid deurgedring kon word nie. Natuurlik is daar uitsonderinge. Bepaalde bydraes munt uit deur helderheid en saaklikheid. Ander dra egter net allerlei materiaal vir die diskussie aan, sonder om tot die eintlike gevoelige punte deur te stoot.
Dit is inderdaad ’n leemte. Immers, as daar iets is wat die jubilaris werklik kan help, maar wat ook by so ’n gewigtige gebeurtenis as die verskyning van ’n nuwe inleiding in die geloofsleer noodsaaklik is, dan is dit eerlike en duidelike kritiek. Dié kritiek mag ook nie net tot enkele onderdele beperk bly nie, maar sal die geheel van die werk in oënskou moet neem, aangesien die werk van Berkhof ’n hegte eenheid vorm wat rondom die sentrale tema van die verbond opgebou is. Dit is te voorsien dat daar in die toekoms nog meermale pogings aangewend sal word om deur te dring tot wat presies die problematiese van Berkhof se posisie is. Dát Berkhof se geloofsleer op meer as een punt ernstig kritiese vrae opgeroep het en nog sal oproep, dáároor kan geen twyfel bestaan nie.
Dit is juis die rede waarom ’n mens, by al die waardering wat jy noodwendig vir die outeur en vir sy werk moet hê, tog nie jou teleurstelling heeltemal kan onderdruk nie. Ek het tevore opgemerk dat daar met groot spanning na die verskyning van Berkhof se kompendium uitgesien is. Dit is al ’n geruime tyd dat ons in die posisie verkeer dat daar net nie ’n geskikte handboek in die dogmatiek is wat ’n mens met vrymoedigheid aan studente kan voorskryf as ’n leerboek nie. ’n Mens het dus gehoop dat Berkhof met sy besondere gawes van hoof en hart ons ’n handboek sou bied wat vir hierdie doel geskik sou wees. Miskien is daar fakulteite wat Berkhof se boek ook as geskik vir hierdie doel sal beskou. In ons land, vrees ek egter, sal dit nie kan gebeur nie. Die rede daarvoor is dat Berkhof so uitgesproke sy eie weg gaan en gevolglik ’n kompendium gelewer het wat in so baie opsigte afwyk van die tradisionele gereformeerde en reformatoriese dogmatiek, ja selfs van die algemeen-Christelike tradisie, dat sy boek reeds om die rede in elk geval nie geskik is vir gebruik as ’n leerboek in ons fakulteite nie.
Dat die geloofsleer van Berkhof in meer as een opsig van die dogmatiese posisie van, laat ons maar sê, die reformatore sou afwyk, kon ’n mens reeds verwag het op grond van die ontwikkeling van sy denke soos dit uit sy publikasies gedurende die afgelope aantal jare geblyk het. Dit het vir Berkhof in die afgelope jare steeds meer gegaan om die vraag hoe die geloofswaarheid in ons tyd opnuut geformuleer moet word. In die paragrawe “Ter Verantwoording” voor in Christelijk Geloof heet dit: “De klassieke dogmatiek gaf diepgaande antwoorden op vragen die niemand meer stelt. Een moderne geloofsleer zou eindelijk een christelijk antwoord moeten zoeken op vragen die nu iedereen stelt. Maar daarmee is nauwelijks een begin gemaakt” (p. XVII). Reeds hieruit kan afgelei word dat Berkhof doelbewus na nuwe weë gesoek het, weë waarlangs die moderne mens bereik kan word en op sy spesifieke vrae antwoorde gegee kan word. Daarom meen hy ook dat hy in meer as een opsig die dogmatiek uit die tyd van die Reformasie nie meer kan navolg nie, “omdat we in een andere tijd leven. Tussen de Reformatie en ons ligt de Aufkärung en alles wat daarop volgde” (p. 4). Hierdie oortuiging van Berkhof bring mee dat hy probeer het om ’n eietydse geloofsleer te skrywe, d.w.s. ’n vertolking van die evangelie in ons tyd en situasie, sonder die pretensie dat dit die volle waarheid van die evangelie tot uitdrukking kan bring of vir alle tye en situasies bevredigend sou kon wees. Dit beteken dat die moderne werklikheids-opvatting en die selfbesef van die moderne mens, deurgaans deur hom hanteer word as die raamwerk waarbinne die vertolking van die evangelie moet plaasvind. Hoewel hy Tillich se korrelasie-opvattings krities bejeën, kom hy tog baie naby aan Tillich of, om met Heering te spreek, staan hy tog digter by Tillich as by Barth. Dit hang saam met sy opvatting dat die goddelike heil en die aardse werklikheid komplementêre begrippe is (p. 4), wat op sy minste beteken dat Gods heil en die aardse werklikheid alleen in terme van mekaar uitgelê kan word. Nader gepresiseer: wat Gods heil vir ons is, kan ons alleen uitdruk in terme van hoe ons ons aardse werklikheid verstaan. Dit het tot gevolg dat die werklikheidsbesef van elke tyd dus vanself ’n beslissende rol sal speel in die vertolking van die evangelie.
Hoe dit in die geloofsleer van Berkhof funksioneer, sal vir die leser op alle punte in die boek duidelik word. Om maar enkele voorbeelde te noem: dit vorm vir hom een van die gewigtigste redes waarom hy, anders as Barth byvoorbeeld, nie sommer met die deur in die huis wil val en ’n uiteensetting wil gee van wat die Christelike geloof inhou nie, maar eers ’n prolegomena bied waarin aan die leser hulp gebied word, sodat hy die heil en die werklikheid op mekaar kan betrek. Dit hang ongetwyfeld ook daarmee saam dat Berkhof nie van ’n dogmatiek spreek nie, maar liewer van ’n geloofsleer, omdat hy hom voortdurend bewus is van die klimaat waarin hy werk (p. 5) as ’n klimaat waarin die mens nie meer ’n outoritêre waarheidsbegrip kan gebruik nie, maar met die waarheid net kan werk as dit subjektief, eksistensieel by hom aanklank kan vind. Daarom sluit hy hom aan by Schleiermacher en gaan in sy prolegomena werk met die verskynsel van die religie as iets waarvan die mens kan weet en wat hy kan ervaar (p. 5 ev). Maar hierdie voorbeelde kan vermenigvuldig word. Trouens, dit is vir my duidelik dat baie van die nuwe weë van Berkhof in die Christologie, die Pneumatologie, die Triniteitsleer, die soteriologie ens, gaan ten diepste na hierdie punt teruggevoer kan word.
Dit sou egter te oppervlakkig wees om te meen dat ’n mens die nuwe weë wat Berkhof gaan, alleen kan verklaar uit die moderne mentaliteit, veral as daarby aan enkele dinge soos die selfbesef van die moderne mens, sy mondigheid en outonomie gedink sou word. Dit lê by Berkhof alles veel dieper en ingewikkelder, omdat die moderne klimaat waarbinne hy werk, vir hom nie net verteenwoordig word deur die “gewone man” nie, maar veral ook deur die teologiese en wysgerige denke van die moderne tyd. Dit is juis een van die aspekte van die “komplementariteit” wat die denke van Berkhof kenmerk, dat hy probeer om alles wat in die wêreld van die denke gegee is, tot ’n sintese saam te verbind. Miskien is dit hierdie trek in Berkhof wat hom deur die jare so ’n geslaagde man in die ekumeniese beweging en so ’n bruikbare man binne sy eie kerklike gemeenskap gemaak het. Dit is blykbaar ’n passie by Berkhof om die waarheidsmomente in elke standpunt te probeer onderken en die verskillende gesigspunte, hoe teenstrydig ook by die eerste ontmoeting, met mekaar te probeer verbind. Daar sit natuurlik die volkome juiste insig agter dat ons almal maar ten dele ken en ten dele profeteer, slegs na die mate van die genade wat aan ons gegee is (vgl p. XVIII – XIX). Soos Berkhof vanuit hierdie waarheid te werk gaan, beteken dit egter dat hy soms bymekaar probeer bring wat innerlik teenstrydig is, maar dit beteken veral dat hy in sy geloofsleer sover as moontlik alle heersende moderne strominge tot hulle reg wil laat kom en terselfdertyd die kontinuïteit met die algemene Christelike geloof wil bewaar. Dit wil nie sê dat Berkhof eenvoudig alles probeer aksepteer nie – hy kan ook skerp-krities afwys wat nie vir hom aanvaarbaar is nie – maar dit beteken tog konkreet dat sy nuwe vertolking van die evangelie ten diepste beïnvloed is deur heersende gedagterigtings en strominge in teologie en wysbegeerte wat nie maar net iets eietyds is nie, maar meermale ook nie die toets van die Skrif kan deurstaan nie.
Dit mag na ’n besondere harde oordeel klink omdat Berkhof tog juis daarvoor bekend is dat hy soveel prys daarop stel om met die Skrif om te gaan en hom deur die eksegese en die Bybelse teologie te laat voorlig. Die probleem is egter dat die eksegese en die Bybelse teologie in die “moderne tyd” op ’n dergelike manier deur die Skrifkritiek beheers word, dat die gesag en betekenis van die Skrif op baie maniere aangetas is. Berkhof stel hom ten volle op die standpunt van die Skrifkritiek en volg die leidinggewende figure op hierdie gebied. Hy doen dit uiteraard nie radikaal nie – per slot van rekening is sy dogmatiek in vergelyking met wat elders gelewer word, tog nog ’n ernstige poging om so naby as moontlik aan die “klassieke” antwoorde van die Christelike dogmatiek te bly. Tog is die invloed van sy Skriftuurlike standpunt op baie punte in sy geloofsleer merkbaar, nie slegs in sy leer oor die Skrif, waarvan hy sê dat dit die menslike reaksie op die openbaring van God is, en wel as produk van ’n bepaalde vertolkingsgeskiedenis wat in sigself altyd gebrekkig is nie (vgl pp. 90–92). Dit kom ook uit in sy vrymoedigheid om te kies tussen bepaalde openbaringsgetuies en byvoorbeeld aan Johannes op ’n bepaalde moment voorkeur te verleen bó Paulus ensovoorts. Hy maak gewag van die reg wat ons het “om ook misgroei en ontsporing in de canon aan te wijzen” (p. 90). Hy ag dit dan ook nie meer moontlik om, soos dit in die klassieke dogmatiek gebeur het, dicta probantia te hanteer nie. Die beroep op die Skrif, sê hy tereg, sal baie meer genuanseerd moet wees. Wanneer hy dan egter hierdie genuanseerdheid wil bereik deur ook sááklike kritiek op die Skrifboodskap uit te oefen, word sy Skrifberoep natuurlik problematies en in meer as een geval iets subjektiefs, hoeseer hy ook daarop ingestel is om dit nie te laat gebeur nie, maar na die volle getuienis van die hele Skrif te luister.
Die leser sal dit van my aanneem dat ek met hierdie paar opmerkinge nog maar net begin raak het aan wat vir my die problematiese in Berkhof se geloofsleer is. Die ruimte ontbreek hier uiteraard om op alles in te gaan. As ’n mens selfs na die lees van ’n hele bundel soos Weerwoord die gevoel het dat daar nog baie dinge ongesê en onaangeraak gebly het, hoeveel te meer is dit nie die geval by ’n enkele artikeltjie nie? Ek moet dus daarvan afsien om hier enigsins dieper in te gaan op die struktuur en die konkrete inhoud van Berkhof se boeiende boek waarin soveel dinge inmekaar verstrengel lê – dinge waarmee ’n mens van harte kan saamstem, formuleringe wat die saak in die kol tref, maar ook dinge waarmee ’n mens eenvoudig nie kan saamstem nie en tendense waarvan ’n mens vrees dat dit uiteindelik tog maar na die vrysinnigheid moet voer.
Tog moet ek net nog verwys na die dinge wat by my die meeste belangstelling opgewek het, maar ook die grootste bedenkinge. Dit is sy behandeling van die leer aangaande God, die leer van die Drie-eenheid, die Christologie, die Pneumatologie en die soteriologie. By Berkhof se behandeling van hierdie leerstukke trek hy bepaalde lyne deur wat reeds vroeër in sy werk oor die Heilige Gees, in sy boek oor die antropologie en in verskillende artikels oor die Christologie en die Godsleer sigbaar geword het. ’n Mens kan nie ontken dat Berkhof met ’n groot mate van konsekwensie vanuit sy uitgangspunte dink en dat sy behandeling van al hierdie leerstukke dus in formele opsig ’n toonbeeld van vindingrykheid en tegniese bekwaamheid is nie. Maar uit die gesigspunt van die reformatoriese teologie gesien, is daar tog juis op hierdie punte bedenkinge van ’n byna onoorkomelike aard.
Dit is interessant dat Berkhof probeer om sy geloofsleer veel meer Pneumatologies as Christologies te konstrueer. Dit blyk al daaruit dat Berkhof nêrens in sy geloofsleer ’n spesiale hoofstuk oor die Heilige Gees bied nie. Omdat sy hele geloofsleer Pneumatologies benader is, was ‘n spesiale hoofstuk oor die Heilige Gees nie nodig nie (soos Hoenderdaal tereg opmerk). Hierdie Pneumatologiese opset van die geloofsleer het verskillende gevolge. Die gewigtigste daarvan is dat hy in die leer aangaande God, in die Christologie en in die soteriologie op ander punte uitkom as wat in ’n Christologiese dogmatiek sou gebeur. Dit is onmoontlik om alles hier nader aan te toon. ’n Mens moet egter daarop let dat die idee van die weerloosheid van die Heilige Gees ’n groot effek het in die Godsleer, omdat dit hom by voorbaat oor God laat dink in terme van sy worstelstryd met die weerstande van die skepping en die mens, die magte en die eindigheid, en nie in terme van Sy almag en transendensie nie. In Berkhof se Godsleer val ’n baie sterk aksent op God se kondesensie, op Sy mee-beweeg met die wêreld, selfs op die feit dat Hy mee-verander met die wêreld waarin Hy weerspreek en teengestaan word, maar waaraan Hy nogtans in sy liefde en trou vashou. Berkouwer merk tereg op dat daar in Berkhof se behandeling van die leer aangaande God ’n groot mate van bekorting van die tradisionele Godsleer plaasvind. Die volle Bybelse getuienis aangaande God word op bepaalde punte weggewerk uit vrees vir objektiverende denke oor God en vir die spook van die sogenaamde Griekse denke. Die vraag is egter of Berkhof in sy vrees vir die Griekse denke, nie die prooi geword het van ’n ander tipe wysbegeerte, naamlik van die idealismes nie.
Maar die Pneumatologiese inset het ook gevolge vir die Christologie. Omdat Christus vanuit die Gees benader word, loop Berkhof op die grens van die adopsianisme langs, selfs al is dit duidelik dat hy nie in die tradisionele sin van die woord ‘n adopsiaanse Christologie voorstaan nie. Die feit bly egter dat Christus meer aan die kant van die mense stel as aan die kant van God. Christus is die Nuwe Mens, die Vere Homo Eschatologicus. Hy is ons Representant, die vervuller van die Verbond, die enigste en egte “Partner” van God onder die mense. Natuurlik was Hy dit alleen kragtens die feit dat Hy ’n nuwe skepping van God was en as Persoon volkome deur God deurdring was, egter sonder dat God daarmee Sy menslike Persoon verdring het. Wat dit egter in concreto beteken, is dat Berkhof die ou leer van die enhypostasie en die anhypostasie verwerp, dat hy die twee-natureleer nie meer kan gebruik nie en dat die hele Bybelse leer van die preëksistensie van Christus by hom omgedui word.
Dat dit groot gevolge het vir die leer van die Drie-eenheid is vanselfsprekend. Nóg die Logos, nóg die Pneuma is volgens Berkhof Persone wat in ’n verhouding staan tot die Persoon van die Vader. In albei gevalle het ons te make met onpersoonlike Magte van God wat op ’n besondere manier in die geskiedenis werksaam is en ingryp. Dit lyk dan ook onmoontlik om Berkhof nie in lyn te sien met die ou dwaling van die modalisme nie. As hy vanuit sy opvatting van die verbond die Triniteit soos volg ter sprake bring: “De Vader is de goddelijke partner, de Zoon de menslijke representant, de Geest de band tussen beiden en tegelijk en daarom de band tussen de Zoon en de zonen die hij tot de Vader trekt” (p. 348–349) – dan is dit duidelik dat hy in werklikheid die leer van die Drie-eenheid in sy basiese intensie prysgegee het. Dit is dan ook vir my besef duidelik dat Berkhof in meer as een opsig ingaan teen die ekumeniese simbole, selfs op punte wat minder opvallend is as die afwysing van die geloof in die maagdelike geboorte van Christus (vgl p. 308). Hy probeer om agter die kerklike beslissings terug te gryp op die patres, maar dit is duidelik dat daarmee ’n stap van die grootste gewig gewaag word, waarin hy nie deur ons gevolg kan word nie.
Dit alles het ook gevolge vir sy behandeling van die soteriologie. Dit is duidelik dat Berkhof se Pneumatologiese inset hom meer simpatiek gemaak het teenoor ’n analitiese regverdigingsleer as teenoor ’n sintetiese. Hoewel hy die forensiese karakter van die regverdiging handhaaf, is dit tog merkwaardig dat hy nie kan aanvaar dat Christus ons skuld en straf gedra het nie, maar alleen daarop wys dat Christus in ons plek gehoorsaam was tot die dood toe en daarin die kreatuurlike patroon vervul het, naamlik dat die lewe altyd eers deur die dood heen bereik kan word. Wat ons toegereken word, is Christus se nuwe humaniteit, Sy verheerlikte humaniteit. Geloof is dan ook nie maar net ’n hang aan wat Christus vir ons gedra en gedoen het nie, maar dit is die daad van die mens waarin hy as’t ware sy egte humaniteit aanvaar (só altans verstaan ek bepaalde uitdrukkings op p. 459). Hoe ver kom ‘n mens nie daarmee te staan van Luther af nie? Of begryp ek Berkhof miskien verkeerd?
Hoe dit ook sy, daar lê bepaalde agtergronde agter die geloofsleer van Berkhof wat waarskynlik eers langsamerhand ten volle uitgepluis kan word. So met name is dit die vraag of sy hele opvatting van die heil nie veel meer aan die patres ontleen is, as aan die Reformasie nie. Die element van die elevatio as dit waarin die heil eintlik bestaan, speel by Berkhof deurgaans ’n groot rol. Dit laat ’n mens vraagtekens stel oor sy visie op die skepping en op die sonde. Maar voorlopig moet ons dit hierby laat. Hopelik kan hierdie aantal opmerkinge daartoe dien om die leser daarvan te oortuig dat dit die moeite werd is om Berkhof se geloofsleer self noukeurig te gaan bestudeer. ’n Mens kan ongetwyfeld veel by Berkhof leer. Maar ek hoop dat ek die leser ook daarvan oortuig het dat dit ’n moeilike saak is om ’n eietydse geloofsleer te skryf. Wie nie net wil herhaal wat al vroeër gesê is nie, begeef hom natuurlik altyd op die riskante weg van ’n ontdekkingsreis wat hom maklik ook by ’n verkeerde adres kan uitbring. Dit wil nie sê dat ons daarom maar altyd moet bly staan by wat al vroeër gesê is nie. Dit wil wel sê dat ons met die grootste versigtigheid te werk moet gaan om die Skrif in al sy volheid daadwerklik tot ons te laat spreek en nie ongemerk tog op een of ander wyse naas die Skrif te staan te kom nie.