Gedagtes rondom die Genadedood: Deel 1

MY TYE IS IN U HAND
WD Jonker

Stellenbosch
Die Kerkbode, 4 Junie 1975

Die belangstelling in die sogenaamde genadedood (euthanasie) het in ons tyd weer sterk opgevlam. Van verskillende kante word daar gepleit vir ‘n wettiging van een of ander vorm van genadedood. Andere is weer sterk daarteen gekant. Wat moet ‘n Christen hieroor dink? Dit is goed dat ons aan onsself daarvan rekenskap sal gee.

Mediese mag

Één van die redes waarom die gesprek rondom die genadedood so dringend geword het moet gesoek word in die opkoms van wat JH van den Berg die “mediese mag” genoem het. Daaronder verstaan hy die skouspelagtige toename in mediese kennis en vaardigheid waarvan ons gedurende die afgelope aantal jare getuies was. Daardeur het dit vandag moontlik geword vir die medici om verstommende dinge te presteer op die gebied van die instandhouding en verlenging van die lewe van die mens.

Van der Berg vergelyk in sy boekie Macht en Medische Ethiek ons tyd met vroeër tye, toe die medikus wel baie morele en ander steun aan sy pasiënt kon bied –  selfs sy lyding op bepaalde maniere kon verlig – maar in werklikheid tog onmagtig was om enige ernstige siektetoestand doeltreffend te bestry. Die tegniese en farmakologiese vooruitgang van die mediese wetenskap dateer maar eers vanaf 1870. In die afgelope eeu het dit egter so toegeneem, dat daar vandag werklik sprake kan wees van mediese mag, veral na die opsienbarende vordering wat in die afgelope aantal jare gemaak is.

Van den Berg twyfel nie daaraan dat ons almal baie dankbaar behoort te wees vir hierdie vooruitgang nie. Hy stel egter die vraag of daar genoegsaam aandag gegee word aan die skadu-sy van hierdie veelgeprese mediese mag.

Skadu-sy

Tot die skadu-sy van die mediese mag reken Van den Berg die feit dat daar te dikwels deur die medici ‘n geweldige stryd gevoer word om ‘n mens aan die lewe te hou, sonder dat hulle aan daardie mens self dink en die vraag stel of dit sinvol is om daardie mens se lewe teen elke prys te wil verleng. Die medikus staan in ‘n ou tradisie van taaie volharding in die stryd teen lyding en dood. Hy word geskool in die sedelike kode van sy professie om alles wat moontlik is te doen om menslike lewe te spaar en te verleng. Volgens Van den Berg was hierdie sedelike kode in die tyd van die mediese onmag heeltemal bruikbaar, omdat die moontlikhede van die medikus om mens se lewe te verleng so beperk was. In die tyd van die mediese mag het dit egter anders geword. Nou kan die medikus inderdaad soveel doen om die menslike lewe verleng, dat hy moontlik aan sy doel verby kan skiet. Hy kan ’n menslike lewe aan die gang hou wat eintlik nie werklik menslike lewe meer is nie. Hy is in staat om mense wat eintlik al lankal dood moes gewees het nog te laat voortbestaan, tot oorlas van hulleself en sonder werklike betekenis vir enigiemand.

Van den Berg dink hier vernaamlik aan gevalle soos die van kindertjies wat swaar gebreklik gebore word. In vroeër tye sou sulke kindertjies nie kon bly lewe nie, maar vandag is dit moontlik om deur ingewikkelde operasies hulle lewe te red. Die vraag is egter of dit sinvol is om dit te doen. Hulle kan nooit werklik mense in die volle sin van die woord word nie. Hulle vorm miskien ‘n ondraaglike las op die skouers van die ouers en staan in die pad van die lewensgeluk van die hele gesin. Moet die medikus ‘n dergelike kindjie teen elke prys in die lewe probeer hou as hy by die geboorte merk dat die kindjie hopeloos abnormaal is?

Hy dink ook aan die slagoffers van verkeers- en ander ongelukke. Hulle word met ernstige breinbeskadiging in die hospitaal gebring. Vroeër sou hulle eenvoudig gesterwe het. Vandag kan hulle egter in die lewe gehou word, dikwels vir ‘n onbepaalde tyd. Baie van hulle herwin nooit hulle bewussyn nie. Hulle kan nooit weer met ander mense kommunikeer nie. Hulle lê maar net daar in die hospitaal en ly vir alle praktiese doeleindes net ‘n soort plantaardige lewe. Is dit reg?

Hy dink ook aan demente bejaardes. Ons leef vandag oor die algemeen veel langer as vroeër. Daardeur neem die getal demente bejaardes toe. Baie van hulle weet niks meer nie, maar bestaan eenvoudig net voort. As hulle dan siek word – sê byvoorbeeld van longontsteking of iets dergeliks – moet die geneesheer probeer om sulke kwale te genees en hulle tog langer aan die lewe te hou, of moet hy hulle toelaat om daaraan te sterwe?

Sinvolle lewe

Wanneer Van den Berg hierdie vrae gestel het, gaan hy ook nog verder en dink daaraan dat die medikus nou meermale in sy eksperimenteer-drang en verwoede-tryd teen die dood, mense in die oneindige vermink deur operasies en behandelinge wat hulle hele menslike waardigheid aantas, sowel as hulle moontlikheid om nog sinvol te lewe. Hy vra dan of die tyd nie gekom het om die sedelike kode van die medikus in heroorweging te neem nie. Hy pleit daarvoor dat die medikus dit nie sy roeping moet ag om onder alle omstandighede die lewe in stand te hou en te verleng nie, maar net wanneer dit sinvol is om dit te doen.

Is hy eenmaal so ver, dan gaan hy ook die vraag stel of dit nie so behoort te wees dat die medikus oral waar die lewe sy sin verloor het, ’n rol behoort te speel in die beëindiging daarvan nie. Hy dink dan nie net daaraan dat die mediese behandeling in ‘n bepaalde stadium gestaak kan word nie, maar pleit ook daarvoor dat die medikus aktief behoort te kan ingryp in die lewe van ‘n mens wat hom versoek om dit te doen, of wie se familie hom versoek om dit te doen, ten einde sodanige sinlose lewe te beëindig.

As voorbeeld kan hier geld die geval van ‘n bejaarde of van iemand anders wat geen uitsig op herstel meer het nie, of die geval van swaar gestremde kinders vir wie daar geen hoop is om ooit ‘n behoorlike menswaardige lewe te kan ly nie, of die geval van mense wat in ‘n blywende toestand van bewusteloosheid verkeer, sonder dat daar enige teken van beterskap kom.

Ooreenstemming

In die gesprek oor euthanasie wat op die verskyning van die boekie van Van den Berg gevolg het, sowel as in die stroom van publikasies oor hierdie onderwerp wat nog steeds van die pers kom, is dit duidelik dat daar dinge is waaroor almal dit eens is, maar ook punte waarop daar diepgaande verskille tussen die gespreksgenote sigbaar word.

Almal is dit daaroor eens dat daar ’n skadu-sy aan die mediese mag kan wees. Dit is waar dat die medikus vandag in staat is om die lewe van ‘n pasiënt met tegniese middele te verleng en dat dit dikwels die vraag is of hy daarmee ‘n diens aan daardie mens gelewer het, of ‘n ondiens. Ons weet immers almal dat blote voortbestaan nie die hoogste waarde is waarna gestrewe kan word nie. Daarom sê ons ook dikwels dat ons dankbaar is dat die Here iemand liewer weggeneem het na ‘n ernstige ongeluk, omdat hy soveel breinskade opgedoen het en so vermink was dat sy lewe verder net een stuk smartegang sou gewees het. Ons sê ook dat dit maar goed is dat ‘n kindjie wat gebreklik gebore is, maar liewer kort na sy geboorte gesterf het, omdat die ellende van die voortbestaan van so ‘n mismaakte mensie byna nie te oorsien is nie.

Is dit verkeerd om so iets te sê? Dit hang uiteraard af van die gesindheid waarmee ‘n mens dit sê, maar op sigself hoef dit natuurlik nie verkeerd te wees om dit te sê nie. Ons lewe immers nie by ‘n filosofie van “eerbied vir die lewe” wat daarvan uitgaan dat lewe as sodanig die hoogste waarde is nie. Daarom kan ons ook erken dat dit vir iemand beter is om te sterwe as om in sy omstandighede verder te lewe. Vir ‘n gelowige wat weet dat die einde van die liggaamlike lewe nie die einde in absolute sin is nie, maar die oorgang tot die hemelse heerlikheid, is dit selfs ‘n natuurlike ding om onder bepaalde omstandighede bly te wees as iemand deur die dood verlos word uit ‘n lewe van ellende en pyn.

Daarom kan ons as Christene heeltemal saamstem daarmee dat die medikus nie teen elke prys moet probeer om die lewe van ‘n mens to verleng nie, selfs al sou hy tegnies in staat wees om dit te doen. In die geloof verstaan ons die tegniek as ‘n middel wat God ons geskenk het tot diens aan die menslike lewe. Dit beteken dat die tegniek nie ‘n doel op sigself is nie, maar altyd net gebruik mag word om ‘n diens aan die menslike lewe te lewer. Daarom sou dit verkeerd wees om op die menslike liggaam te eksperimenteer en die menslike liggaam so lank as moontlik biologies aan die lewe te hou, as dit duidelik is dat dit geen werklike doel kan dien vir die verligting van daardie mens se lyding of vir sy moontlike herstel nie.

Ons kan dus sê dat ons met Van den Berg kan meegaan as hy waarsku teen ‘n mediese tegniek wat sy grense oorskry en nie daarvan weet dat ‘n mens se einde kan kom en dat hy dan toegelaat moet word om te sterwe nie.

Verskille

Tog moet ons onmiddellik hieraan toevoeg dat daar ook diepgaande verskille tussen ons en Van den Berg bestaan. Alles wat ons tot nou toe gesê het, rus daarop dat ons aanvaar dat daar ’n tyd kom wanneer God in sy beskikking oor dood en lewe ‘n einde aan ‘n mens se lewe bring. Wanneer dit gebeur, wanneer dit duidelik is dat God, in wie se hand ons tye is (Psalm 31:16), dit so beskik het dat ons einde gekom het, dan moet die geneesheer dit eerbiedig en sy hand terugtrek. Hy moet dan nie voortgaan met ‘n mediese behandeling wat so-iemand nog biologies aan die lewe hou, terwyl dit duidelik is dat so ‘n behandeling nie kan hydra tot die verligting van lyding of tot die herstel van die sieke nie. Dan het dieselfde immers gebeur as wanneer ons sê dat dit maar beter is dat die Here iemand weggeneem het.

Die punt waarom dit dus gaan, is die vraag of ons die oortuiging het dat dit die Here is wat iemand weggeneem het. Slegs dán mag ons sê dat dit goed is, want wat God doen, is welgedaan. Wat Van den Berg egter wil, is dat die geneesheer onder bepaalde omstandighede mag ingryp om die lewe van ‘n pasiënt te verkort of selfs te beëindig, omdat die pasiënt self, of die familie, of die gemeenskap, of die medikus self oordeel dat daardie lewe nie meer ‘n sinvolle lewe kan heet nie. Dit is egter vir ons totaal onaanvaarbaar. Dan aanvaar die mens immers nie meer die beskikking van God oor lewe en dood nie, maar besluit hy om self lewe en dood in sy hand te neem en daaroor te beskik.

Gewoonlik word in hierdie verband tussen passiewe en aktiewe euthanasie onderskei. Passiewe euthanasie is dan die staking van alle spesialistiese behandeling van ‘n pasiënt – wat nie beteken ‘n staking van verpleging en versorging nie – waardeur die pasiënt oorgelaat word aan die genade van God, sodat die siekte sy verloop kan neem en hy kan sterwe. Aktiewe euthanasie kom daarop neer dat die medikus ook aktief ingryp om die lewe van die pasiënt te beëindig.

Waarom?

Die rede waarom aktiewe euthanasie vir ons sonder meer verwerplik is, is dat dit ‘n eie-magtige ingryping van een mens in die lewe van ‘n ander is. Dit is begryplik dat aktiewe euthanasie volgens ons reg-stelsel as moord geld, en sommige noem dit ook liewer genademoord as genadedood, om daarmee duidelik te maak hoe onaanvaarbaar dit is. Ook al weet ‘n mens dat die intensie van die geneesheer nie dieselfde as die van ‘n moordenaar in die gewone sin van die woord is nie, is dit nog steeds ‘n wederregtelike beëindiging van die lewe van ‘n ander en as sodanig ontoelaatbaar.

Buitendien sit daar agter die gedagte van die aktiewe euthanasie ook die humanistiese benadering van die mens as ‘n outonome wese wat nie alleen self oor sy eie lewe mag beskik nie, maar wat ook die reg het om oor die lewe van andere te beskik wanneer hulle aan sy verantwoordelikheid toevertrou is. Dit is vir ‘n Christen onaanvaarbaar. Daar is wel Christene wat die standpunt verdedig dat ‘n mens self kan besluit of die moment vir jou gekom het om van die lewe afskeid te neem. maar hierdie opvatting staan onder die invloed van die humanisme en kan nooit in die lig van die Bybel verdedig word nie.

Die maatstaf van sinvolheid wat Van Den Berg wil aanlê by die vraag of iemand se lewe verleng of beëindig moet word, is daarby heeltemal onhanteerbaar. Dit is ’n uiters-subjektiewe saak om oor die sinvolheid van ’n lewe te oordeel. As ’n mens se lewe beëindig mag word, wanneer dit nie meer deur homself of deur andere as sinvol beoordeel word nie, dan is die pad nie alleen na ’n regverdiging van selfmoord nie, maar dan is dit ook moontlik om die lewe te beëindig van idiote en gestremdes, demente bejaardes en baie andere wat nie meer ’n volwaardige menslike lewe kan lei nie. Dan is dit maar ’n klein stappie na die beëindiging van die lewe van almal wat ’n las van versorging en verpleging op die menslike samelewing lê, sonder dat daar ooit hoop is dat hulle ’n “sinvolle” lewe kan lei.

’n Mens vra jouself af wat dan oorbly van die veelgeroemde barmhartigheid as motief vir die genade dood. Aan wie word dié barmhartigheid dan bewys – aan die pasiënt wat moet sterwe, of aan die gemeenskap wat sy ellende nie kan aansien nie of die las om hom te verpleeg, nie kan dra nie? As ons daaraan dink dat baie van diegene wat as kandidate vir die genadedood gesien word, dikwels nie van veel lyding bewus is nie, word hierdie vraag nog soveel klemmender. Trouens, dit is so dat die vertraagdes en die gestremdes, die demente bejaardes en die bewusteloses meestal van geen of weinig lyding bewus is nie. Wat die pasiënte betref wat werklik pyn ly, is dit vandag reeds sover dat die mediese wetenskap in beginsel feitlik elke soort pyn doeltreffend kan verdof. Dit beteken dat iemand dus nie uit barmhartigheid gedood hoef te word, om hom verligting van pyn te verskaf nie.

Maar genoeg. Ons hoef seker nie verder argumente aan te voer om duidelik te maak waarom aktiewe euthanasie vir ons totaal onaanvaarbaar is nie. Ons moet egter nog ’n aantal opmerkinge maak oor die sogenaamde Passiewe euthanasie.