MY TYE IS IN U HAND
WD Jonker
Stellenbosch
Die Kerkbode, 11 Junie 1975
Wanneer ons die sogenaamde aktiewe euthanasie sonder meer van die hand wys, beteken dit nog nie dat ons geen probleme het met wat gewoonlik die passiewe euthanasie genoem word nie. Dit is wel waar dat baie Christelike etici en ook verskillende kerke hulle ten gunste van passiewe euthanasie uitgespreek het. Wanneer daarmee alleen bedoel word wat ons vroeër beskryf het as die afsien van verdere gespesialiseerde behandeling in gevalle waar die einde van die pasiënt klaarblyklik gekom het, terwyl dit duidelik is dat sulke gespesialiseerde behandeling geen werklike betekenis kan hê vir verligting van lyding of vir genesing nie – dan kan ons daarmee akkoord gaan.
“Passiewe euthanasie?”
Maar dan is dit tog ‘n ernstige vraag of ‘n mens dit passiewe euthanasie moet noem. Die term euthanasie beteken oorspronklik “skone dood” of “sagte dood”. In die loop van die geskiedenis het dit egter die aanduiding geword vir ‘n doelbewuste verkorting of beëindiging van die lewe van ‘n ander, ten einde hom lyding of verdere aftakeling te bespaar. Dit wil dan voorkom asof die term euthanasie sleg pas vir die houding wat ons tevore beskryf het, naamlik dat die medikus erken dat God beskik oor lewe en dood en daarom self niks doen om opsetlik die lewe van sy pasiënt te verkort nie, maar hom toelaat om te sterwe as sy einde klaarblyklik gekom het. Dit wil voorkom of dit beter is om daarvan uit te gaan (soos Douma en andere doen) dat ons die term euthanasie reserveer vir wat gewoonlik “aktiewe euthanasie” genoem word, terwyl ons die staking van gespesialiseerde behandeling liewer nie euthanasie moet noem nie, selfs nie eers passiewe euthanasie nie. Op die manier kan ons duidelik maak dat ons elke gedagte van ‘n vrymagtige beskikking deur die mens oor die lewe van die mens van die hand wys en in geen enkele opsig wil ingryp in die lewe van die mens om dit doelbewus te verkort of te beëindig nie.
Is dit ‘n groot verskil?
Die rede waarom ook hierdie staking van gespesialiseerde behandeling dikwels euthanasie genoem word, is omdat mense redeneer dat die verskil tussen aktiewe en passiewe euthanasie tog nie so groot is as wat voorgegee word nie. Hulle wys dan op die gevalle waar staking van gespesialiseerde behandeling feitlik seker die dood van die pasiënt sal beteken, soos byvoorbeeld wanneer die hart-long-masjien waaraan die pasiënt verbind is, afgeskakel sou word. Dikwels geld dit ook in ander gevalle dat die resultant van die staking van gespesialiseerde behandeling én die aktiewe beëindiging van die lewe van die pasiënt prakties op dieselfde neerkom. Daarom redeneer sommige ook dat as ‘n mens bereid is om toe te gee dat behandeling onder bepaalde omstandighede gestaak kan word, jy in werklikheid reeds euthanasie goedgekeur het, en dat as jy euthanasie in ‘n passiewe sin goedkeur, jy net konsekwent sou wees as jy ook aktiewe euthanasie sou aanvaar.
Tog glo ons dat hier wel deeglik van ‘n groot verskil sprake is. Om mee te begin: Wie ten gunste is daarvan dat gespesialiseerde behandeling in bepaalde gevalle gestaak kan word, maar aktiewe euthanasie afwys, sal nooit kan toestem daartoe dat daar ingegryp mag word in die lewe van gestremde of gebreklike kinders of van ander persona in die samelewing wat skynbaar nie ‘n sinvolle lewe kan ly nie. Hy sal ook nooit daartoe kan toestem dat ‘n mens op jou eie versoek ‘n dodelike inspuiting van die geneesheer mag ontvang, of dat die familie op ‘n bepaalde moment kan besluit dat ‘n demente vader of moeder of ‘n ander ernstig lydende familielid aan sy einde gehelp kan word nie. Dit beteken dus dat die hele gedagte van beskikking oor menslike lewe deur die mens afgewys word. Hierin lê die diepste verskil tussen die twee genoemde standpunte.
Daarom is dit ook duidelik dat diegene wat kan aanvaar dat die medikus onder bepaalde omstandighede gespesialiseerde behandeling mag staak, ‘n baie kleiner aantal mense in aanmerking sien kom vir die beslissing wat in hierdie verband geneem sal moet word. Dit gaan dan immers nie meer om die vraag of mense wie se lewe skynbaar sinloos is, se lewe beëindig mag word nie. Dit gaan ook nie om die vraag of iemand wat swaar ly, uit sy lyding gehelp moet word deur hom om die lewe te bring nie. Dit gaan nog slegs om die vraag of iemand wie se lewenseinde klaarblyklik reeds gekom het, nou ook toegelaat moet word om te sterwe, en of daar nog met allerlei mediese tegnieke probeer moet word om sy lewe te verleng, sonder dat daar rede is om te hoop dat dit betekenisvol kan wees. Daar sit dus ‘n groot verskil van houding en instelling tussen die twee standpunte.
Tog moeilik
En tog, ook al erken ons hierdie groot verskil en al gaan ons daarmee akkoord dat die mediese behandeling onder bepaalde omstandighede gestaak mag word, bly dit nog steeds moeilik om hierin ‘n beslissing te neem. Juis die gewetensvolle medikus sal dit altyd ‘n groot probleem vind.
Die rede is nie alleen dat die medikus dikwels nie veel tyd het om oor die saak te besluit nie. Dit is natuurlik ‘n wesenlike faktor. Iemand word in die ongevalle-afdeling van die hospitaal ingebring na ‘n ongeluk of met hartversaking. Die dokter het nie tyd om oor die saak na te dink, om met kollegas te raadpleeg of om eers ‘n deeglike gevallestudie van die saak te maak nie. Hy moet binne enkele minute handel, anders is dit te laat. Eers later blyk dit of hy goed gedoen het om tog weer die lewensprosesse in die pasiënt op te wek, en of hy dit liewer moes gelaat het, omdat die persoon geen hoop op herstel of selfs ook maar ‘n gedeeltelike herstel het nie. So ontstaan dan die baie gevalle in die hospitale waar pasiënte wel in die lewe gehou word en asemhaal, maar permanent bewusteloos is. Daar kan geen kommunikasie tussen hulle en ander mense meer plaasvind nie. Op die oog af sou ‘n mens sê die dokter moes hulle liewer maar laat sterwe het toe hulle tog reeds in die hande van die dood was. Maar hoe moes hy dit geweet het? As hy hulle nie probeer help het nie, sou hy nie dan juis sy plig versuim het nie? Is daar nie ook baie wat wel weer herstel het nie?
Dit wil voorkom of die tydsfaktor dit in baie gevalle vir ‘n medikus onmoontlik maak om te besluit om van gespesialiseerde behandeling af te sien. Omdat ons mense is en nie alwetend is nie, het hy geen ander keuse as om alles in die stryd te werp om die lewe te probeer red van mense wat voor hom gebring word en in ‘n dringende nood verkeer nie.
Die tydsfaktor is egter nie die enigste probleem nie. Ook die onsekerheid van die diagnose skep ‘n groot probleem. Gestel die medikus staan voor ‘n pasiënt wat permanent in ‘n koma verkeer. Nou is tyd nie sy probleem nie. Sy probleem is die regte diagnose. Daar is omstandighede waaronder die dokter kan vasstel dat die pasiënt se brein reeds gesterf het, al word sy hart en asemhaling nog aan die gang gehou deur tegniese apparate. Wanneer dit die geval is, is daar vir hom geen moeilike beslissing nie. As die brein gesterf het, is die mens dood. As hy dan die apparate afskakel, het dit niks te make met euthanasie nie. Die mens is klaar dood. Dit word egter baie moeiliker in gevalle waar die medikus nie seker kan wees dat die breindood reeds volledig ingetree het nie. Daar is gevalle bekend waar mense wat lank in ‘n koma gelê het, weer herstel bet. Die voorwaarde waaraan voldoen moet wees voordat die behandeling gestaak mag word, moet werklik niks minder wees nie, as dat die medikus oortuig moet wees dat hierdie persoon se einde klaarblyklik gekom het, en dat hy daarom toegelaat moet word om te sterwe.
Verantwoordelikheid
In elk geval bly dit vir die geneesheer ‘n groot verantwoordelikheid om te besluit om gespesialiseerde behandeling verder te staak. As hy aan sy pasiënt enige hulp sou onthou wat redelikerwyse van hom verwag sou kon word, sou dit neerkom op ‘n opsetlike verkorting of beëindiging van die lewe van die pasiënt, en hy sou selfs voor die wet daarvoor aanspreeklik gehou kon word. Daarom mag hy net tot so ‘n stap besluit, wanneer dit duidelik is (en deur ander medici bevestig word) dat sy pasiënt reeds in ‘n onomkeerbare sterwensproses verkeer.
Natuurlik het ons daarmee ook nog nie alle probleme opgelos nie. Immers, dit is nie so eenvoudig om met sekerheid vas te stel wanneer die pasiënt in ‘n onomkeerbare sterwensproses verkeer nie. Bowendien is daar gevalle waarin daar nie so maklik gesê kan word dat ‘n pasiënt in ‘n sterwensproses verkeer nie, waarby die vraag óók gestel kan word of dit reg is om so ‘n persoon se lewe te probeer verleng, as daar ‘n faktor opduik wat dit sou kon beëindig nie.
‘n Mens dink hier aan die voorbeeld van ‘n demente bejaarde wat op hoe ouderdom in die hospitaal opgeneem word met ‘n longontsteking. Dit is vir die geneesheer moontlik om die longontsteking te bestry en moontlik ook te genees. Maar móét hy dit doen? Wanneer die pasiënt daarvan genees word, bly hy nog steeds in ‘n toestand van ellende voortbestaan. Die probleem word nog moeiliker as so ‘n bejaarde byvoorbeeld ook nog aan ‘n ongeneeslike kwaal sou ly wat uiteindelik tog die dood sal veroorsaak. Moet die geneesheer dan nie maar in so ‘n geval die pasiënt toelaat om liewer aan die longontsteking te sterwe nie?
Kommunikasie
Daar is Christene wat redeneer dat dit die enigste juiste ding sou wees om te doen. Hulle is van mening dat die geneesheer sy diskresie in so ‘n geval moet gebruik. As dit tog duidelik is dat hy wel die longontsteking kan genees, maar daarmee die pasiënt nie uit sy werklike groter ellende kan help nie, dan moet hy die longontsteking sien as ‘n beskikking van God om ‘n einde te maak aan ‘n lewe wat tog besig is om langsamerhand maar net weg te kwyn.
Hulle voel dikwels ook nog dat hulle soveel te meer rede het om só te redeneer, as dit om iemand gaan wat nie meer kommunikasie met andere kan hê nie. As kenmerk vir wat egte menslike lewe is, word dan die moontlikheid van kommunikasie met andere geneem. Indien ’n bejaarde gevolglik verstandelik so verswak is, dat hy geen kontak neer met ander mense het nie, is dit vir hulle logies dat so-iemand nie spesiaal in die lewe gehou moet word as daar ‘n natuurlike faktor opdaag wat sy lewe kan beëindig nie.
‘n Mens moet egter baie goed daaroor nadink of dit reg is om so te redeneer. As die moontlikheid om te kommunikeer, tot die kenmerk vir menslike lewe gemaak word, val daar natuurlik baie meer mense onder as net ‘n aantal bewustelose pasiënte en ‘n aantal demente bejaardes. Dan val daar ook ’n groot aantal idiote en gestremdes binne hierdie kategorie. Konsekwent deurgevoer sou so ‘n standpunt dan eintlik daarop neerkom dat ‘n mens in ‘n groot mate sulke mense nooit gespesialiseerde mediese hulp moet bied nie, maar hulle behoort toe te laat om aan die eerste die beste ernstige kwaal wat hulle opdoen, te sterwe. So ‘n standpunt sou dan inderdaad nie sover verskil van die standpunt van diegene wat aktiewe euthanasie voorstaan nie – dit volg net ‘n passiewe weg. In werklikheid word ook dan maar volgens ‘n maatstaf van “sinvolheid” geoordeel en gehandel.
Wysheid
Dit bly dus in elk geval maar moeilik. As ons al hierdie gesigspunte in gedagte hou, wil dit voorkom of ons maar sal moet volstaan met die reël dat die geneesheer in alle gevalle moet probeer om die lewe te red en te verleng, behalwe wanneer dit vir hom volgens ‘n eerlike diagnose vasstaan dat hy met niks wat hy kan doen, die proses van sterwe waarin die pasiënt betrokke is, meer kan omkeer nie. In die praktyk sal dit beteken dat hy nie alle moontlike nuwe tegnieke op ‘n kankerlyer hoef toe te pas, as hy tog by voorbaat weet dat dit nie werklik kan help nie, maar net die lyding sal verleng. Dit sal beteken dat hy inderdaad by geleentheid daarvan sal kan afsien om ‘n hoog bejaarde persoon teen longontsteking te behandel, maar dan nie net omdat die persoon dement is nie, maar alleen as dit vir hom duidelik is dat die pasiënt liggaamlik so swak is en so naby die dood, dat dit in werklikheid betekenisloos is om een kwaal te bestry – as die dood tóg deur ‘n ander binnekort sal intree.
Maar as dit alles gesê is, moet ons erken dat ons hier nie klinkklare antwoorde het nie. Dit gaan hier dikwels om ‘n saak van wysheid, insig en oordeel. Vir ons almal is dit van die grootste belang om te weet dat die geneesheer in wie se hande ons onsself en ons dierbares toevertrou, ‘n gewetensvolle en wyse mens is wat erken dat die Here alleen mag het oor lewe en dood en dat ons daarom geen reg het om eie-magtig met die lewe van ‘n mens om te gaan nie. Dit is ook vir ons van belang om te weet dat hy ‘n mens is en nie ‘n slaaf van die tegniek, wat nie daarvan weet om die mens in die pasiënt raak te sien nie.
In elk geval is ons van oortuiging dat die Staat nie wetgewing moet oorweeg om euthanasie in enige vorm te wettig nie. Die wetgewing is goed soos dit nou is. Dit bied heeltemal genoeg ruimte vir die geneesheer om onder bepaalde omstandighede gespesialiseerde behandeling te staak, maar dit verplig hom om dit slegs te doen wanneer dit absoluut duidelik is dat dit verantwoord is om dit te doen.