EEN ALGEMENE SINODE?
Die Kerkbode, 26 Januarie 1977, p 118–119
WD Jonker, BA Müller, HW Rossouw en W P Esterhuyse, Fakulteit van Teologie, Stellenbosch:
Teenoor die standpunt van dr JD Vorster in sy artikel ’n van 15/12/76 (“Een Algemene Sinode?”) wil ons graag hiermee verklaar dat ons die instelling van één kerkverband vir die familie van Ned Geref Kerke in ons land in ooreenstemming met die Heilige skrif en die beginsels van die gereformeerde kerkreg beskou, en dat ons meen dat, alle praktiese besware daarteen in belang van Gods koninkryk oorkom behoort te word. Ons is van oordeel dat teologiese oorweginge wat op Skrifgetuienis gebaseer is, deurslaggewend behoort te wees vir die beantwoording van die vraag wat dr Vorster in die titel van sy artikel, stel. Dr Vorster grond sy afwysende antwoord op die teologiese argument dat die eenheid van die Kerk van Christus wesenlik ’n saak van geloof is, en dat die pleidooi vir ’n organisatoriese eenheid in ’n algemene sinode Rooms is en nie in ooreenstemming is met die leer van die Reformasie nie.
Ons is dit met dr Vorster eens dat die eenheid van, die Kerk van Christus wesentlik ’n saak van geloof is Die Nuwe-Testamentiese geloof is egter nie alleen maar ’n kwessie van verborge, innerlike belewing of van loutere intellektuele toestemming wat geen aanwysbare gestalte in die lewe van gelowiges aanneem nie. Die geloof in die eenheid van die Kerk is hierop geen uitsondering nie. Die eenheid in Christus dring noodsaaklikerwys tot ’n sigbare openbaring daarvan, soos die Algemene Sinode van 1974 dit ook beklemtoon het.
Dr Vorster erken wel dat ’n kerkverband as sigbare openbaring van eenheid tot die “welwese” van die Kerk behoort. So ’n institutêre openbaring van eenheid moet egter in ooreenstemming wees met “die Godgewilde etniese verskeidenheid”. Volgens dr Vorster is dit ’n “Skriftuurlike gedagte” dat “elke volk die Godgegewe reg het om die Here in eie Kerk na sy samestelling, aard en karakter te dien”. Dr Vorster Iaat ons ongelukkig in die duister hoe die beweerde Skriftuurlikheid van hierdie gedagte verantwoord sou kon word. Na ons mening is dit eksegeties eenvoudig net nie wáár te maak nie. In die Nuwe Testament is daar sprake daarvan dat elke gelowige die groot dade van God in sy eie taal mag verkondig, maar nêrens word institutêre kerklike eenheid op ’n etniese grondslag òf as ’n Godgegewe reg òf as ’n Godgegewe eis gestel nie.
Om die strewe na een kerkverband tussen Kerke met dieselfde gereformeerde belydenis binne dieselfde landsgrense as Rooms af te maak, is ’n gedagtegang wat ons begrip te bowe gaan. As etniese grense die Reformatoriese kriterium is vir watter Kerke tot institutêre eenheid aaneen mag sluit en watter nie, dan moet dr Vorster konsekwent wees en ook die kerkverband van die Ned Geref Kerk in Afrika as Rooms beskou. In hierdie Kerk is daar tog ook gelowiges uit verskillende volke met verskillende tale in één organisasie verenig, dan nie?
Ons wil dit betwis dat die Reformasie die eenheid van die Kerk van Christus as ’n suiwer geestelike saak gesien het en die pluriformiteit van Kerke, op ’n nasionale grondslag georganiseer, as ’n Skriftuurlike eis of ideaal verkondig het. ’n Mens kan hoogstens sê dat die Hervormers hulle neergelê het by die ontstaan van nasionale Kerke in die Verskillende lande as die gevolg van praktiese en historiese omstandighede. Ons eie gereformeerde belydenisskrifte gaan duidelik uit van die één algemene Kerk waarvan alle eienskappe (dus óók die eenheid en katolisiteit) ’n sigbare kant het (vgl NGB art 27–32). Die idee van ’n pluriformiteit van Kerke, georganiseer op ’n nasionale of etniese grondslag en sonder ’n duidelike verband met mekaar, laat nie reg geskied aan die gereformeerde kerkverband soos dit in die bloeityd van die Reformasie verstaan is nie. Wie die independentisme verwerp en die noodsaaklikheid van die kerkverband vir die welwese van die Kerk aanvaar, kan tog nie op prinsipiële gronde halt roep by volksgrense nie (vgl H Bouwman, Geref Kerkrecht II, p 196 ev).
Dr Vorster maak die saak nog bonter wanneer hy die strewe na een algemene sinode nie net Rooms afskilder nie, maar dit ook nog op die rekening plaas van “die liberalistiese instelling en standpunt” van die Wêreldraad van Kerke. Dr Vorster se konotasie van die term “liberalisme” laat blykbaar toe dat een en dieselfde saak tegelyk Rooms en liberalisties kan wees. Met die bietjie kennis wat ons het van die leer en organisasie van die Rooms-Katolieke Kerk, vind ons hierdie konotasie, om die minste daarvan te sê, vreemd en verwarrend.
Die feit dat dr Vorster nie teen die Federale Raad gekant is nie, maar wel teen ’n algemene sinode, dui daarop dat hy dit eintlik het teen ’n institutêre liggaam waarin blank en nie-blank saam bindende besluite kan neem. Hierdie teenstand motiveer hy deur te verwys na die moontlike vorming van “magsblokke” en aparte koukusvergaderings” wat vrede en goeie orde kan skaad en die verhouding tussen volksgroepe kan vertroebel. Dit is ’n kerkpolitieke argument waarvoor ons allesins begrip het. Dié begrip beteken egter nie dat ons die argument as deurslaggewend beskou of kan beskou nie. Indien kerklike beslissinge op die basis van sulke argumente geneem sou word téén die eise van Gods Woord in, kom ons status as kerk van Jesus Christus in die gedrang.
Moet ons nie juis deur ’n beslissing ten gunste van ’n algemene sinode as “Moederkerk” toon dat ons nie in ons kerklike organisasie en besluitnemingsprosesse sekulêre en partikuliere groepsbelange wil laat oorweeg bo die eise van die Skrif en die belange van Gods Koninkryk nie? En mag ons dan nie op die Woord en Gees vertrou om ’n dergelike vergadering so te lei, dat Gods wil gehoorsaam sal word dwars teen alle sondige groepsvorming en eiegeregtige menslike motiewe in nie?
As ons werklik bekommerd is oor vrede, goeie orde en onvertroebelde verhoudinge tussen volksgroepe, dan kan ons tog nie onaangeraak wees deur die toenemende spanning en vervreemding tussen “Moeder-” en “Dogterkerke” juis binne ons huidige kerklike bestel nie. Ons wil daarom graag met die beskeidenheid wat ons pas, ’n dringende beroep op dr Vorster doen om sy standpunt te heroorweeg, en sy groot invloed en ervaring te gebruik om ’n saak te laat slaag wat in ons historiese situasie so klaarblyklik deur die belange van Gods koninkryk geëis word.