DIE AKTUALITEIT VAN DIE SENDING VANDAG
Toespraak gehou op 4-05-1978
Daar is ’n sin waarin die sending altyd vir die kerk aktueel is. Die roeping tot sending is immers met die wese van die kerk gegee. Albei staan direk in verband met die koms van die koninkryk van God in die wêreld. Die sending is die wyse waarop God sy koninkryk in die wêreld laat uitbrei. Die kerk is enersyds die resultaat van die sending, maar andersyds ook weer die instrument van die sending. As teken, voorpos en die eerstelinge van die komende koninkryk kan die kerk nooit van die sending losgemaak word nie. As daar ’n kerk is wat nie brand vir die sending nie, kan ’n mens miskien nie dadelik sê dat dit nie meer ’n kerk is nie, maar dan is so ’n kerk tog ’n dodelike siek kerk.
Die kerk vervul sy sendinggetuienis op twee maniere deur woord en daad. Dat die kerk deur Christus beveel is om in die prediking van Hom te getuig teenoor alle mense (Matteus 28:19) en dat die Heilige Gees die kerk op Pinksterdag toegerus het met tonge om te kan getuig en met al die gawes wat vir dié getuienis nodig is (Handelinge 2) is sonder meer duidelik. Die Woordverkondiging staan dan ook altyd in die sendinggetuienis van die kerk voorop en is van die allergrootste betekenis. Maar die getuienis met die daad is nie minder belangrik nie. Die kerk getuig nie net deur wat hy sê nie, maar ook deur wat hy is en doen. Daarom het Christus nie net gesê: Julle is die lig vir die wêreld (Matteus 5:14) nie, maar het Hy ook in Johannes 13:34–35 aan sy dissipels gesê: “Hierdie nuwe gebod gee Ek vir julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle lief – gehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle My dissipels is, as julle liefde onder mekaar het”.
Die broederliefde wat in die kerk sigbaar word, is die kragtigste denkbare getuienis van die veranderende en vernuwende werking wat die verlossing deur Christus in die wêreld tot stand bring. Dit is vir die sendingtaak van die kerk net so belangrik as die getuienis deur die Woord, selfs al gaan die getuienis deur die Woord in orde daaraan vooraf. Immers, dit is hierdie liefde wat die getuienis deur die Woord geloofwaardig maak. Al sou die kerk op die allerduidelikste manier deur die woord getuig; al sou die kerk bereid wees om derduisende traktaatjies uit te deel en derduisende rande vir Bybelverspreiding te gee, maar die kerk het die liefde nie, dan sou hy tog maar ’n klinkende metaal en ’n luidende simbaal wees (1 Korintiërs 13). Dit is spesifiek die onderlinge liefde tussen die gelowiges wat die kerk stempel as iets nuuts in ’n wêreld van haat, vyandskap, agterdog en verdeeldheid, wat daaraan die geloofwaardigheid gee wat noodsaaklik is vir die effektiwiteit van die sendinggetuienis van die kerk.
En nou is dit juis in hierdie sin dat die sending vandag vir die Ned Geref Kerk in ’n besondere mate aktueel geword het, brandend aktueel. Die Ned Geref Kerk was immers dwarsdeur sy hele bestaan nog altyd ’n getuigende kerk, ’n kerk wat die sending taak gesien en met ’n groot inset van kragte probeer uitvoer het. Maar die Ned Geref Kerk word vandag gevra na sy geloofwaardigheid as sendende kerk. Hy word gevra na die kwaliteit van sy liefde – in die besonder van die broederliefde teenoor diegene wat deur sy sendingaksie vir Christus gewin is. Die verhouding van die Ned Geref Kerk tot die kerke wat uit sy sendingwerk voortgekom het, het vandag skielik geweldig aktueel geword en stel die kerk voor ’n krisis wat homself tot in sy wese raak en wat vir sy toekoms as sendende kerk eenvoudig beslissend gaan wees, omdat hy met betrekking juis tot hierdie verhouding gevra word na sy geestelike integriteit en geloofwaardigheid as draer van die Woord van God.
Die Ned Geref Kerk se geskiedenis is onder meer ook ’n geskiedenis van sendingywer. Dit is bekend genoeg en hoef hier nie weer uitgespel te word nie. Dit hang ongetwyfeld saam met die besondere vroomheidstipe van die Ned Geref Kerk wat ontstaan het uit die samevloeiing van verskillende invloede uit allerlei geestelike tradisies uit die lande van ons herkoms. Onder Gods hand het hier ’n kerk ontstaan wat van die vroegste tye af ’n roepingsbesef gehad het wat die sending betref. Die verhaal van die sending van die Ned Geref Kerk is ’n heerlike verhaal van gebed en offers, van liefde en oorgawe. Diep in Afrika, maar ook elders in die wêreld, is daar die grafte van mans, vrouens en kinders wat gesterf het in die uitvoering van die sendingtaak. Oral in Afrika is daar nog die monumente van die geestelike arbeid van die Ned Geref Kerk. Wie sal die seën meet wat uitgegaan het van die arbeid van hierdie kerk? Dit het vandag so ver gevorder, dat selfs as ’n mens Tiv-Kerk wat deur die arbeid van die Ned Geref Kerk tot stand gekom het buite rekening laat, die gesamentlike getal van doop- en belydende lidmate in die twaalf selfstandige kerke wat uit die Ned Geref Kerk se sendingwerk voortgekom het, die aantal lidmate van die “moederkerk” self met ongeveer 400 000 oortref. En met sy jaarlikse sendingbegroting van meer as R6 000 000 is die Ned Geref kerk miskien een van die mees aktiewe sendende kerke in die wêreld.
As ons dit alles gesê het, kom die erns van die krisis waarvoor die Ned Geref Kerk vandag staan, soveel klemmender op ons af. Dit maak immers duidelik dat die Ned Geref Kerk nie meer sonder sy sendingwerk gedink kan word nie – en ook nie sonder die resultate van sy sendingwerk nie. Dink die sending van die Ned Geref Kerk weg, en wat sou van hom oorbly? Dink die sendingaktiwiteit weg uit die lewens van ons gemeentes, en watter betekenis sal dit hê? Die siel van die Ned Geref Kerk sal aangetas word, sy karakter sal verlore gaan, as sy sendingarm afgesny word. Maar nou is dit juis die dreigement wat oor ons hoofde hang. Want daar is allerlei faktore werksaam wat, as hulle nie gestuit word nie, sal uitloop op ’n verwydering tussen die Ned Geref Kerk en dié kerke wat uit sy sendingarbeid voortgekom het. En dié verwydering sal nie maar aan ons koue klere gaan sit nie, omdat dit prakties ons weg na die voorwerpe van ons sendingaksie sal versper, omdat dit ons geloofwaardigheid op sodanige wyse sal aantas, dat ons woord daarna eintlik geen invloed meer sal hê nie.
Die faktore waaroor dit hier gaan, hang almal saam met ’n gebeurtenis van wêreldhistoriese betekenis: die ontwaking van die sg “Derde wêreld”, en wat ons betref, meer spesifiek – die bewuswording van homself by die swartman van Afrika. Die swartman het bewus geword van homself en sy eie menslike waardigheid. Hy het tot die ontdekking gekom dat hy geen tweede- of derderangse mens is nie; dat hy voor God en mens die verantwoordelikheid het om op te staan en sy regmatige plek tussen die ander mense onder Gods son in te neem; dat die tyd verby is dat hy as die mindere van die Westerse mens beskou en behandel kan word, en dat dit van sy kant af ontrou teenoor homself as skepsel van God sou wees as hy nie sy rol in die geskiedenis van die mensheid met bewustheid en bekwaamheid sou speel nie. Daarmee het ’n splinternuwe uur in die geskiedenis geslaan. Dit is die einde van eeue van gedienstige onderworpenheid van die swartman aan die witman. Dit is die einde van sy gevoel van minderwaardigheid en sy bereidheid om bevoeg te word. En daarmee het elke vorm van diskriminasie en degradering, van neerbuigende paternalisme en van weiering om hom as ’n volwaardige medemens te aanvaar vir hom onaanvaarbaar geword. Dit is ’n eenvoudige, eenduidige realiteit, selfs al kan dit nog nie oral uitgeleef en sigbaar genaak word nie. Die uur van die swartman het geslaan, en niemand of niks sal dit meer ongedaan kan maak nie.
Maar daarmee het vir Afrika ’n besonder kritieke aangebreek. Die Eerste Minister het onlangs gesê dat dit in ons tyd gaan om ’n stryd om die siel van Afrika. Gaan Afrika gewen word vir die Christelike geloof of vir ’n goddelose ideologie? In Afrika het die Christelike sending dus vandag besonder aktueel geword en is die invloed van die kerke van die allergrootste belang. As ons glo dat ons van Godsweë ’n roeping het om aan dié stryd om die siel van Afrika mee te doen, dan moes ons nou eintlik in staat gewees het om meer as ooit tevore impak by die mense van Afrika te maak. Terwyl die mag van die ideologie reeds in meer as een land in Afrika ontplooi word, moes ons nou eintlik sterker as ooit tevore die boodskap van die verlossing in Christus geloofwaardig en oortuigend in Afrika kon laat weerklink. En ons het eintlik ’n voorsprong bo die ander magte. Ons is langer in Afrika besig as hulle. Ons het ’n magtige wolk getuies rondom ons: die vrugte van die sendingwerk van die Ned Geref Kerk. Tussen hulle en ons is ons ’n gedugte mag tot getuienis van wat die liefde van Christus aan die lewens van mense kan doen. Afrika moet in hierdie uur gehelp word om werklik vry te word, innerlik vry, geestelik vry – vry van die sondige bande wat mense bind en hulle lewens vernietig. In dié sin is die sending in Afrika vandag aktueler as ooit tevore.
Die krisis waarvoor ons staan, is dat mense meer en meer ons reg om saam te praat, betwyfel, omdat hulle ons geloofwaardigheid in twyfel trek. Dit is geen geheim dat ons in Afrika en in die wye wêreld nie meer in ’n gunstige reuk staan nie. Ook by ons eie “dogterkerke” is daar ’n diepgrypende twyfel oor die vraag of ons dit werklik goed met hulle bedoel, en dan spesifiek in die sin van of ons hulle werklik liefhet en daarom nie alleen verstaan wat met hulle besig is om te gebeur nie, maar hulle daarin ook bystaan, sodat hulle as Christene hierdie tyd kan hanteer. Die vraag wat aan ons gestel word, is of ons werklik die swart mede-Christen aanvaar, bereid is om met hom die gemeenskap van die heiliges te beoefen en so gesamentlik met hom duidelik te maak dat ons dissipels van Jesus is. Ons reg van saampraat in Afrika met die Christelike kerk word vandag gemeet aan die gehalte van ons liefde – en dit beteken konkreet: aan die verhouding wat ons tot ons Ned Geref susterkerke in die ander bevolkingsgroepe het. As ons hierin faal, is ons vir ons eie “sendingkerke ’n oorsaak van verleentheid en sal hulle op die lang duur nie anders kan as om hulle van ons te distansieer nie. Maar as hulle hulself van ons distansieer, word daarmee vir ons die weg na die swartman in Afrika feitlik totaal afgesluit. Daaroor moet ons geen illusies hê nie.
Ons “susterkerke” sê hierdie dinge steeds duideliker aan ons. Hulle kan met reg voel dat hulle dit juis as Christene aan ons kan sê. Is dit dan nie waar dat dit juis die Christendom is wat ons aan hulle help deurgee het, wat mede-verantwoordelik is vir die ontwaking van hulle selfbewussyn en die besef dat ’n mens wat deur Christus duur gekoop is, geen slaaf van mense meer kan wees nie (1 Korintiërs 7:23)? En is dit nie so dat die Nuwe Testament ons leer dat elke vorm van diskriminasie, elke vorm van veragting van die medemens, elke vorm van neersien op hom – en dus ook elke vorm van weiering van die gemeenskap van die heiliges met ’n mede-broeder en -suster in die geloof op grond daarvan dat hy tot ’n ander volk of ras sou behoort, deur die Bybel by die wortel afgesny word nie? Daarom word Christene eintlik nog pynliker as ander mense getref deur elke vorm van weiering om hulle te aanvaar wat hulle by die blanke kerk opmerk. Vanuit hulle gesigspunt staan die geloofwaardigheid van die blanke kerk daarmee sonder meer op die spel. Daarom praat hulle steeds harder en duideliker met ons oor hierdie dinge.
Ons moet nie vergeet dat hulle daarby op hulle eie manier onder druk verkeer nie. Van buite die land en vanuit hulle eie geledere word die druk op hulle steeds sterker om hulle van ons los te maak. Dit is werklik so dat dit vandag in ons land vir ’n blanke baie minder kos om hom met nie-blankes te assosieer – ja, dat dit soms selfs aangeprys sal word – as wat dit vir ’n swartman kos om hom nog met die blankes te assosieer. En dit sal steeds meer so word. Daar is reeds baie binne die kringe van ons eie susterkerke wat voel dat dit reeds te laat is, dat die Ned Geref Kerk reeds te duidelik getoon het dat hy bereid is om baie vir die sending te gee, maar dat hy nie bereid is om die liefde te gee wat nodig is vir die gemeenskap van die heiliges soos dit in die kerk hoort nie. As daar van liefde by die Ned Geref Kerk sprake is, voel hulle is dit altyd liefde op ’n afstand, liefde wat tog nie werklik bereid is om die mede-Christen as mens te aanvaar en met hom te verkeer soos die broederliefde dit van ons vra nie. Daarom het baie hulle reeds innerlik losgemaak van die Ned Geref Kerk en kry ’n mens die indruk dat hulle dankbaar sal wees as ons dit nou eens en vir altyd duidelik wil sê dat ons nie kans sien om met hulle saam te wees op die wyse waarop Christene in die kerk saam behoort te wees nie, sodat hulle met ’n goeie gewete die rug op ons kan draai.
Natuurlik is daar nie altyd suiwer motiewe by die swart Christene op die spel nie. Ons as blanke Christene weet maar alte goed dat daar ook by ons nie altyd suiwer motiewe aanwesig is nie, hoe sou dit ons dan kan verbaas dat daar ook by swart Christene onkruid tussen die koring gesaai kan wees? Hoe sou ons kan dink dat hulle nie ook ontvanklik sou wees vir verkeerde invloede, vir bose influisteringe, vir verdagmaking, vir die kweking van haat en agterdog, vir die opsweping van die gemoedere, vir die uitbouing van die eie stamtrots op ’n wyse wat self weer ’n stuk kleurvooroordeel bevat en in alle opsigte blootgestel is aan ’n omgedraaide diskriminasie teen die witman nie? Al hierdie dinge sal uiteraard in die situasie aanwesig wees waarin die Ned Geref Kerk sy verhouding tot sy susterkerke as ’n verhouding van die egte liefde sigbaar moet laat word. Juis daarom is dit so ’n delikate saak waarin nie die planne van die vlees nie, maar slegs die wysheid van die Gees ons sal kan help om die regte weg te vind.
Intussen is dit tog seker waar dat daar nog ’n meerderheid van ons lidmate uit die ander bevolkingsgroepe is wat nie die band met ons wil verbreek nie, en dit daarop uithou teen die druk. Maar wat hulle van ons vra, is om tog net ’n woord te spreek en ’n daad te verrig wat onmisverstaanbaar duidelik sê dat ons hulle by ons wil hê en dat ons bereid is om met hulle die gemeenskap van die heiliges te beoefen op elke plek en op elke wyse soos dit volgens ons manier van inrigting van die gemeenskap van die heiliges normaal is – ook wat die strukture van die kerk betref. Dit sal aan hulle die geleentheid bied om die druk te weerstaan en aan die mense wat op ’n breuk aandring te sê dat die Ned Geref Kerk nie is wat hulle dink of sê dat hy is nie. Ons moet onthou dat ons jonger susterkerke, ja dat die Christenheid in Afrika ons ook nodig het. Afrika het nie net ons tegnologie nodig nie, maar ook ons teologie. In die warrelwind van geestelike strominge wat oor Afrika heengaan, is dit dringend nodig dat ons die swartman moet help om ’n Christen te kan bly, om weerbaar te wees teen die ideologiese aanslag wat op hom gemaak word. Terwyl haat en geweld by hulle gepropageer word, moet hulle gehelp word om te sien dat haat geen mens vry kan maak nie, dat diskriminasie geen mens vry kan maak nie, dat elke vorm van afkeer van andere ’n teken is van innerlike onvryheid en gebondenheid. En ons – juis ons sal hulle daarin moet help. Ons kan dit egter alleen doen as ons onsself as geloofwaardig bewys het, en as dit duidelik is dat ons hierdie boodskap van die evangelie verstaan het.
Die uitdaging waarvoor ons en ons susterkerke dus gesamentlik staan, is om die broederliefde van Johannes 13:3–35 sigbaar te maak. Dit sal na albei kante toe ’n prys kos. Dit sal na albei kante die prys van verwerping deur die ekstremiste kos. Maar dit sal iets vreesliks wees as ons sou toelaat dat ons deur die ekstremiste van regs en links, wat van weerskante die volle gemeenskap van die heiliges met mense van die ander bevolkingsgroepe afwys, uitmekaar geskeur moet word. Dit sal die hele breë middelgroep in wie die egte gees van die Ned Geref Kerk leef, op ’n onberekenbare wyse skade aandoen en die kerk tot in sy hart aantas. Juis in hierdie tyd het ons mekaar en die gemeenskap van die heiliges nodig; ons as blanke kerk het dit nodig ter wille van die geopende deur wat dit vir ons bring, en die susterkerke het dit nodig om bewaar te word van die eensydigheid en die skeefgroei wat van so baie kante by hulle aanbeveel word.
Die gemeenskap van die heiliges. Daar is so bale mense wat dit verkeerd verstaan. Hulle ken mos net politieke terme. Hulle dink daarby dadelik alweer aan integrasie. Maar wanneer die Bybel oor die liefde en die gemeenskap van die heiliges praat, gaan dit om die goddelike liefde wat nog iets anders is as die natuurlike liefde of die erotiese liefde. Dit gaan om die vrug van die Gees. Dit gaan om liefde wat bereid is om, soos die Heidelbergse Kategismus sê, die mede-broeders en -susters met al ons skat en gawes van harte en bereidwillig te dien (Sondag 21). En ons kan daaraan toevoeg: Dit gaan ook om die bereidheid om ons deur die mede-broeder en -suster met al hulle skatte en gawes te laat dien. Die gemeenskap van die heiliges vra wederkerigheid. Te lank het ons gedink dat dit genoeg liefde is om geld te gee vir die sending. God vra van ons om onsself te gee, ons persoonlike belangstelling, aanwesigheid, toegeneentheid, én die bereidheid om van die andere te leer. Daar is so oneindig veel wat ons van ons swart broeders en susters kan leer, Het hulle dan nie ook die Gees van God ontvang nie? Deel hulle dan nie saam met ons in al sy skatte en gawes nie?
God vra groot dinge van ons in hierdie tyd. Dit is vandag nie makliker om Christen te wees as in die tyd toe Christus op aarde was nie. Toe het Hy van die ryk jongman gevra om alles te gaan verkoop en Hom dan te volg, omdat dit daardie jongman se aardse goed was wat tussen hom en sy dissipelskap gestaan het. Vandag is dit nog so dat ons allerlei dinge het wat tussen ons en gehoorsaarmheid aan Christus staan. Elkeen het dit op sy eie wyse. Christus vra van ons om dit ondergeskik te ag aan die koninkryk en om ’n volle, onbeskaamde keuse vir sy saak te doen.
Maar die ryk jongman het bedroefd weggegaan …
Moet tog nie bedroefd weggaan in hierdie keuse waarvoor ons as kerk tans gestel is nie. Wat by die mens onmoontlik is, is moontlik by God.