DIE AKTUALITEIT VAN DIE SENDING
Sendingkonferensie – Algemene Sinode, Bloemfontein, 1978
WD Jonker
Die feit dat u my gevra het om iets te sê oor die aktualiteit van die sending hang waarskynlik saam met die gevoel wat vandag by meer as een bestaan dat die tyd van die sending in ons land in ’n groot mate verby is. Ons sê almal dat ons in ’n nuwe sendingsituasie gekom het. Die ou metodes waarvolgens ons sendingwerk gedoen het, het tot op sekere hoogte uitgedien geraak. Ons het te doen met selfstandige swart kerke en ’n groot sensitiwiteit vir blanke inmenging (ja selfs vir blanke inisiatief) in die voortgang van die kerstening van lede van ons swart bevolking. Sendingskole en sendinghospitale is oorgeneem deur die staat. Sekere funksies wat vroeër vir ons besef onafskeidelik by ons sendingaksie gehoort het, het weggeval. Dit voel behoorlik asof ons in meer as een opsig in ’n soort vakuum te lande gekom het, en die vraag word gestel: Kan ons nog voortgaan met die sending, en hoe moet ons dit doen?
As ek die situasie reg opsom en dit inderdaad die rede is waarom u my gevra het om oor die aktualiteit van die sending iets te sê, dan wil ek u vooraf waarsku dat ek geen sendingkundige is nies Ek kan dus nie op al die vrae antwoord wat u miskien graag sou wil stel nis. Veral wat die praktyk van die sending betref, is ek eenvoudig nie in staat om pas-klare antwoorde te gee nie Gelukkig is daar in die kerk genoeg manne wat hulle voltyds daarmee besig hou en dus leiding aan ons almal kan gee, Al wat ek wil probeer doen, is om enkele algemene redes te gee waarom die sending vandag volgens my mening in ons situasie so aktueel as ooit tevore is. En as dit dan waar is dat die sending aktueel is, dan staan ons voor die uitdaging om die regte strategie te vind vir die uitvoering van die opdrag wat op ons gelê is.
Ek wil kortliks graag vier algemene redes noem waarom die sending vandag in ons situasie uiters aktueel is.
Eerstens: die sending is vandag so aktueel as wat dit ooit was, eenvoudig omdat daar nog steeds miljoene mense is wat sonder Christus sterwe en dus ewige verlorenheid tegemoet gaan.
In die soort wêreld waarin ons lewe, word hierdie eerste en groot rede vir die aktualiteit van die sending vandag dikwels verwaarloos. Ek glo nie dat iemand dit sal betwis nie, maar dit word as veronderstelling aanvaar en dan dikwels op die agtergrond gelaat. Baie ander belangrike dinge skuif in ons tyd op die voorgrond. Daar is die dringende vrae van sosio-ekonomiese aard wat hulleself aan ons opdring. Daar is die groot vraagstukke van armoede en honger, van die soeke na identiteit, van die roep na politieke, maatskaplike en persoonlike vryheid, van die bekamping van rassisme en dergelike meer wat die aandag boei. En niemand van ons moet hierdie soort vrae gering ag of meen dat die sending hom heeltemal nie daaraan hoef te steur nie, Maar dit is ’n wesenlike gevaar dat hierdie soort vrae ook vir die sending so op die voorgrond kan tree, dat sy eintlike taak, naamlik die prediking van die verlossing deur die bloed van Christus, op die agtergrond kan raak.
Daarom is dit goed dat ons dit vanaand weer ’n keer aan mekaar s dat die sending sy aktualiteit nie in eerste instansie te danke het aan die wyse waarop hy met hierdie genoemde vrae worstel nie, maar aan die feit dat daar mense is wat verlore gaan. In die sending gaan dit in eerste instansie om die roep van mense tot die koninkryk van God – en al die ander dinge, hoe belangrik ook al, behoort tot die dinge wat vir ’n mens daarby gevoeg word as hy voor alles die koninkryk van God soek. Die mens het maar één lewe, en hy kan die heilige spel van die lewe verloor en daarmee homself vir ewig verloor. Die feit is dat alle mense dié spel verloor het, vir sover dit hulleself betref, en dat dit alleen deur die genade van God in Christus Jesus is dat ’n mens uit hierdie verlorenheid verlos kan word, Die sending is die hand waarmee God na die verlorene gryp. En omdat die lewe die kosbaarste is wat bestaan vir ons, omdat die ewige lewe as ons bestemming ver meer is as enigiets anders wat ons kan ontvang, dáárom kan ek nie sien dat daar iets kan wees wat méér aktueel kan wees as die taak om uit te gaan op die strate en in die gangetjies met die uitnodiging dat daar nog plek is aan die feesmaal van die Lam nie.
Natuurlik weet ek dat ons teologies so slim geleerd geraak het dat ons dié soort taal as “piëtisme” afmaak en sê dat die sending tog veel meer is as om “siele te wen vir die Lam”. Ons kritiseer dan die heilsindividualisme wat in dié soort taal tot uitdrukking kom en ons sê dat dit in die sending natuurlik om die eer van God gaan en om dinge wat baie groter is as die heil van die enkeling. Pragtig. Maar ons moet versigtig wees dat die korrekte teologiese opvattings nie die doodsteek word van die nalewe sendingywer wat gebore word uit liefde vir God en liefde vir mense wat verlore gaan nie. Solank daar nog mense is wat elke dag rondom ons lewe sonder om Christus te ken, ja sonder dat hulle miskien ook nog maar één enkele keer die voorreg gehad het dat iemand tyd geneem het om rustig, indringend en verstaanbaar met hulle te praat oor hulle verhouding tot God – solank is die sending brandend aktueel.
Tweedens: die sending is vandag so aktueel as ooit tevore, omdat die mens van die derde wêreld in ’n situasie van ontworteling verkeer.
Ons mag ons oë nie daarvoor sluit, dat die mense van die derde wêreld teen ’n ongekende vinnige tempo binnegeslinger word in die vertegniseerde Westerse kultuur nie. Dit het die Westerse mens eeue geneem om sy soort beskawing en tegniese beheersing van die natuur op te bou, en selfs vir hom is die tempo van verandering so vinnig dat hy nie altyd daarmee tred kan hou nie, en dat baie van ons in die Westerse samelewing volgens Alvin Toffler aan “Future Shock” blootgestel is. Maar geld dit dan nie nog meer vir die swartman wat uit ’n agrariese stamagtergrond kom, animisties is in sy godsdiens en ’n totaal ander lewensinstelling het as die Westerling nie?
In Asië en Afrika word die Westerse tegniese beskawing oorgeneem deur mense wat hoegenaamd nie daarop voorberei is deur hulle agtergrond en geskiedenis nie. Hulle moet dit eenvoudig doen, anders kan hulle nie leef nie. Maar daardeur ontstaan geweldige sosiale veranderinge en ontwrigting en – meer nog – religieuse ontworteling. Op hierdie ontworteling het die tegnici van die Westerse lande wat binne die skemas van ontwikkelingshulp na die derde wêreld uitgestuur word, of ook die werkgewers in ons blanke stede wat sulke mense in diens neem en oplei, geen antwoord, as dit nie vanuit die Christelike godsdiens gegee kan word nie. Ons het as Christene hier ’n groot verantwoordelikheid. Enersyds is dit ons soort beskawing wat hierdie mense ontwrig, en andersyds het ons tog reeds ’n bietjie meer ervaring as hulle van hoe ’n mens jou menswees in die vertegniseerde wêreld kan behou. Ons kan hulle nie net nuwe tegniese beskawing aanreik en daardeur die moontlikheid om brood te bekom nie: ons moet aan hulle die evangelie óók deurgee, want die mens sal van brood alleen nie lewe nie.
In hierdie opsig verrig die sending ’n dubbele taak. Enersyds moet dit in die voorste linie veg om deur die verkondiging van die evangelie en pastorale hulp aan talle ontwrigte en verwarde mense in ons stede, in die kampongs, in die groot hostelle, in die plakkersdorpe, in die groot onpersoonlike stede, in die talle bediendekamertjies of waar ook al op te vang. Dit is feitlik ’n onmoontlike en onbegonne taak. Maar andersyds moet die sendingaksie van die kerk die oë en ore van die kerk wees wat die kontak met hierdie onoorsienbare groot stuk menslike ontwrigting en nood behou en die kerk daarvan bewus moet maak en bewus moet hou. Anders sou dit maklik kon gebeur dat ons kontak verloor met die werklikhede rondom ons, omdat ons in ’n betreklik af gelote wêreldjie van ons eie leef en meen dat almal maar net so gelukkig is as ons. Visser ‘t Hooft het eenmaal gesê dat ’n kerk wat nie sendingwerk doen nie, ’n kerk is wat niks meer met die werklike wêreld te make het nie. En dit is waar.
Ek dink ons sal almal daarvan bewus wees dat dit in die verlede so was en vandag ook nog so is dat dit die sendingaksie van ons kerk was en is wat ons as kerk bewus maak en bewus hou van die werklike nood van mense – sodat ons kan gee vir die sending en kan bid vir die sending en onsself bereid kan verklaar om te werk vir die sending. Ons glo tog immers dat die evangelie van Christus die antwoord kan bied op die wonde van mense se lewens. En daarom is die sending so uiters aktueel.
Derdens: die sending is vandag so aktueel as ooit tevore, omdat daar ’n geweldige aanslag gemaak word op die gees van die mens van Afrika.
In ons geslag beleef ons die ontwaking van die swart reus van Afrika. Die veranderinge wat hulle in ons tyd in Afrika voltrek, is van onoorsienbaar gewigtige aard. Die drang na vryheid en selfbeskikking, die opkoms van swart bewussyn en swart nasionalisme, die afskud van die minderwaardigheid van die swartman teenoor die witman, die herontdekking van die ou waardes van die Afrika-kultuur – dit alles is faktore wat in hulle afsonderlike en gemeenskaplike werking nie onderskat moet word nie. Die mens van Afrika wil homself hervind, maar dit gaan gepaard met groeipyne en krisisse van ’n ingrypende aard. Juis in hierdie situasie is dit so maklik vir die mens van Afrika om ’n prooi te word van vreemde ideologieë. Daar word vandag ’n stryd gestry om die siel van Afrika, en daar is baie opsigte waarin Afrika blootgestel is aan manipulasie van buite en pogings om die gees van die swartman te beheers.
Juis in hierdie tyd lyk dit soms asof die Marxisme vir die Afrika-mens veel aantreklike besit. Daar bestaan in Afrika ’n sekere aansluiting by bepaalde gedagtes van die sosialisme. Die politieke situasie in die derde wêreld leen homself bowendien vir ’n marxistiese interpretasie waarvolgens die swartman gelykgeskakel word met die onderdrukte en uitgebuite proletariaat van die marxistiese ideologie. ’n Mens kan jou voorstel dat dit veral vir die jeug van Afrika moet lyk asof die Marxisme presies die sleutel is wat pas op die slot van Afrika se probleme. Hoe meer gegrief en gefrustreer die jeug word deurdat hulle aan die een kant deel ontvang aan ’n opvoeding wat hulle inlei in die Westerse vertegniseerde wêreld met sy baie voorregte, maar aan die ander kant nie die geleenthede kan verwesenlik wat daarin vir hulle voorgetower word nie, hoe makliker kan hulle die prooi word van ’n revolusionêre denke wat die uitsig open op ’n toekomstige gelukstaat as die bestaande werklikheid maar net vernietig kan word.
Hierdie faktore maak die taak van die sending uiteraard baie moeiliker as tevore. En tog: hoe groter die uitdaging vir die sending, hoe aktueler word dit. Die sending staan voor die uitdaging om die mens van Afrika daarvan te oortuig dat daar in ’n mens se lewe méér op die spel is as die bereiking van binne-wêreldse ideale. Niemand van ons misgun die Afrika-mens seker ook maar iets van wat ons self graag geniet nie. Daarvan moet ons hom natuurlik óók oortuig, al is dit miskien nie direk die taak van die sending nie. Maar ons gun hom in werklikheid veel méér as dit. Ons gun hom om tot die werklike ontplooiing van homself te kom, om homself werklik te kan vind. En ons verkondig aan hom dat ’n mens jouself alleen werklik kan vind as jy jouself aan Christus verloor. Dit is noú die tyd om dit aan Afrika te sê. Die vraag is natuurlik of ons die nodige geloofwaardigheid het om dit te kan doen, of ons dit nie net met die mond nie, maar ook met die daad verkondig. Maar dát ons dit moet verkondig, staan soos ’n paal bo water.
Vierdens: die sending is vandag so aktueel as ooit tevore, omdat die nood ons opgelê is, en wee ons, as ons die evangelie nie sou verkondig nie (1 Korintiërs 9:6).
Hierin gaan dit eintlik om die kern van die saak. Baie van die ander dinge wat ons sou kon noem om die aktualiteit van die sending aan te toon, is voorlaaste dinge. Die sending kan vir baie dinge nut hê. Maar dit is uiteindelik nie die nut wat die sending het, wat dit so aktueel maak nie. Dit is die goddelike “dwang” wat ons as Christene opgelê is en waaronder ons nie kan wegloop nie. Ons sou as Christene ontrou wees aan ons Christenskap as ons nie die evangelie sou verkondig nie. Dit is uiteindelik dus ook nie die vraag hoeveel moeilikhede daar in die weg van die sending is, hoeveel sukses ons met ons sendingwerk het of hoeveel entoesiasme daar van ons kant vir die sending bygebring kan word nie. Om sendingwerk te doen, is uiteindelik vir ons ’n kwessie van gehoorsaamheid aan Christus en die verlossing wat Hy ons geskenk het. Egte sending is iets wat ’n mens doen, omdat jy eenvoudig as Christen nie anders kan nie. Daarom bly dit altyd aktueel, al verander tye en situasies ook.
Om hierdie rede is dit ook waar dat ons besef van die aktualiteit van die sending groter of kleiner is na mate ons geestelike lewe op ’n hoër of ’n laer vlak verkeer. Mag die Here aan ons die genade gee om só met Christus te wandel deur die Gees, dat ons die ervaring sal hê dat ons deur die liefde van Christus gedring word om meer as ooit tevore onsself vir die sendingtaak te gee.