Ons vergeet so gou

ONS VERGEET SO GOU
Die Burger, 18 Maart 1978, bladsy 10

Dit is deel van die menslikheid van die mens dat hy meegevoel kan hê met andere. Ons word dikwels diep in die hart gegryp deur die smart van ’n medemens, juis ook omdat ons onsself in sy of haar omstandighede kan verplaas en indink. Vir diegene wat in leed verkeer, is hierdie medelye van groot betekenis, selfs al kan ons weinig doen om die omstandighede waarin hulle verkeer te verander.

Ongelukkig is dit ook weer waar dat ons gevoel van medelye so maklik kan verdof en verdwyn. Ons staan by ’n vriendin wat haar eggenoot deur die dood verloor het, en terwyl ons saam met haar trane stort, neem ons onsself voor om in die tyd wat voorlê, vir hierdie persoon ’n steun te wees. Ons beloof haar ons gebede, ons ondersteuning en ons hulp. En ons bedoel dit ook werklik.

Maar ná ′n dag of twee kom ons eie lewe met sy veelheid van indrukke so sterk op ons af, dat ons nog moeilik met dieselfde intensiteit by die leed van iemand anders kan stil staan, selfs al het daardie leed ons ook hoe diep in die hart gegryp. Na verloop van tyd laat ons die persoon langsamerhand oor aan haar eie droefheid. Ons dink haas nooit meer daaroor nie. Wat ons betref, is die wond genees. En ons besef nie hoe diep dit nog by die ander aanwesig is nie.

Ons vergeet so gou. Wie van ons dink nog dikwels aan die leed van ’n groepie krygsgevangenes en hulle ouers? Wie bid meer as een of twee keer vir mense wat daagliks om ons heen deur die dood van hulle dierbares getref word? Wie dra oor ’n langer tyd mee aan die smart van die gebroke huwelik van vriende? Ons almal gaan so gou weer oor tot die alledaagse dinge en ons lag weer en leef weer voort in ons eie wêreld, terwyl talle mense rondom ons behoefte het aan die steun van ’n “hart wat verstaan”.

Natuurlik kan ons maar net tot op seker hoogte die leed van andere help dra. Dit is nie net ons sondigheid wat ons so gou vergeet nie, dit is ook ons menslike beperktheid wat dit vir ons onmoontlik maak om baie meer as ons eie las en die van allernaastes aan ons te kan dra. Uiteraard beteken dit nie dat ons dus maar net met ’n skouerophaal aan die leed van ander moet verbygaan nie. Ons moet voortdurend daarvoor bid en daarna strewe om sensitiewer te word vir die leed van andere en om breër skouers te ontwikkel om die laste van ander te help dra. Maar selfs as dit alles gesê is, bly dit tog waar dat ons maar mense is en nie God nie.

Net God kan die hele las van lyding van hierdie wêreld op sy skouers neem. Gelukkig is die mens wat ly en wat weet om sy smart te deel met God, wat nooit vergeet nie en wat aan sy volk die versekering gee dat Hy in al hulle benoudhede saam met hulle benoud is (Jesaja 63:9). – WDJ