Drieërlei oordeel

DRIEËRLEI OORDEEL
Die Burger, 20 Oktober 1979, bladsy 6

Ons lewe word voortdurend van die drie kante af aan ’n oordeel onderwerp.
Die eerste hiervan is die oordeel wat ons medemense oor ons het. Dit is van die minste gewig. Dit sou verkeerd wees om ons hele lewe in te rig met die oog op wat ander mense van ons sê. Dan word ons ’n slaaf van andere se opinies en verloor ons eie sin vir wat reg en verkeerd is.

Die oordeel van andere oor ons is dikwels kortsigtig, bevooroordeeld en daarom ook onjuis. Maar dit is nie altyd die geval nie. So verkeerd as wat dit sou wees om die slaaf van andere se opinies te word, so verkeerd is dit ook om die beoordeling van ons woorde en dade, ons opvattings en ons gesindhede deur andere te verwaarloos. Medemense kan soms vlymskerp met die mes van hulle kritiek insny tot waar die werklike wondplek in ons lewe is. Veral die onsimpatieke kritiek van ’n teenstander of ’n vyand lê soms ons lewe op ’n manier bloot wat deur ons nie verontagsaam mag word nie, omdat dit dinge kan aanwys waarvoor ons in ons simpatieke selfbeoordeling volkome blind kan wees. En die waarde van die liefdevolle, maar indringende kritiek van die kant van iemand wat ons deur en deur verstaan, is onberekenbaar groot.

Tog bly dit waar dat die tweede soort oordeel – ons beoordeling van onsself – belangriker is as die oordeel wat andere oor ons het. Waar dit om goed en kwaad gaan, kan ’n mens nie onder ’n vreemde oordeel of selfs onder ’n vreemde maatstaf lewe nie. Die wet van God moet in ons eie hart toestemming vind en in die oordeel van ons gewete oor onsself “geïnternaliseer” word. Berou en bekering – verandering van ons doen en late – is in elk geval eers werklik moontlik waar ons in ons selfbeoordeling deurstoot tot wat verkeerd is en kies vir wat reg is. Selfs andere se oordeel oor ons, hoe korrek ook al, kry vir ons eers wesenlike betekenis as ons hulle in ons selfbeoordeling gelyk gee en daarom besluit om hulle beoordeling ernstig op te neem.

Om hierdie rede is die derde soort oordeel waaronder ons lewe – die oordeel van God – vir ons van die allergrootste gewig. Wat andere van ons sê en selfs wat ons oor onsself dink, is nog maar voorlaaste oordele. Dit bly altyd gebrekkig. Maar die oordeel van God is die radikale en finale oordeel waaronder ons staan. Aan God sal ons rekenskap moet gee van alles wat ons was en gedink het, gedoen en gesê het, begeer of gehaat het. En sy oordeel is skerper as ’n tweesnydende swaard.

Daarom kan ons nie die Woord van God ontbeer nie, want in en deur die Woord van God getuig die Gees van God in ons harte aangaande die wil van God vir ons lewe. Die Heilige Gees bring reeds nou in ons gewete die oordeel van die Laaste Dag oor ons lewe ter sprake. Wee ons as ons nie na Hom luister nie. – WDJ