Die klok het gelui

DIE KLOK HET GELUI
Die Burger, 27 Oktober 1979, bladsy 14

Die mees ingrypende gebeurtenisse in die geskiedenis kan dikwels ’n baie onopvallende begin hê. So was dit ook met die Kerkhervorming in die sestiende eeu. Niemand sou kon dink dat die worsteling met die Bybel deur Martin Luther in sy kloostersel wêreld-historiese betekenis sou kon hê nie. Die kerkleiers van dié dae het dit allermins vermoed. Luther self sou dit nooit verwag het nie. Dit het vir homself slegs gegaan om die persoonlike vraag hoe hy die Bybel moes verstaan en hoe hy vrede kon vind met God.
Die antwoord wat hy uit die Bybel gehoor het, het egter geblyk van beslissende betekenis vir sy tyd te wees en vir die geskiedenis van die kerk en die hele Westerse wêreld.

Dit laat ’n mens dink aan ’n beeld wat Karl Barth vier eeue later sou gebruik toe hy gesê het dat hyself soos ’n man was wat in die donker toring van ’n kerk teen ’n smal leer opgeklim het. In die donker het hy gegryp na iets om aan vas te hou en in die proses het hy onbedoeld die tou van die klok raak gegryp, met die gevolg dat die kerkklok begin lui het in die nag.

So het ook Luther in die donker van sy eie geestelike worsteling getas na iets om aan vas te hou, en in die donker is dit genadiglik aan hom gegee om die evangelie raak te gryp. Die gevolge daarvan was vir homself totaal onverwags. Nie alleen is hyself deur die boodskap van die Woord bevry nie, maar die boodskap van die onverdiende guns van God vir sondaars het die wêreld van sy tyd met ’n onvoorstelbare krag getref. Miljoene mense het sedertdien die weg na die lig gevind en die blye boodskap leer verstaan dat ons enkel deur Christus, enkel uit genade, enkel deur die geloof, voor God geregverdig is.

Daar is al baie verklarings aangebied vir die opsienbarende effek wat Luther se ontdekking van die eenvoudige waarheid van die evangelie gehad het. Daar is gewys op die samehang tussen die Reformasie en die geesteshistoriese ontwikkelinge in Europa, die algemene ontevredenheid met ’n verwêreldlikte kerk en die groot invloed wat politieke faktore in die verbreiding van die Reformasie gehad het. Al hierdie faktore het seker ’n rol gespeel. Maar dit kan nie ontken word nie, dat die diepste geheim van die krag van die Reformasie gesoek moet word in die herontdekking van die Woord van God. Net die Woord van God kan werklik helder lui soos ’n klok in die nag.

Wie dit verstaan, sien ook die Reformasie in ’n nuwe lig. Dit was nie Luther se talente of eie worsteling wat hom die Woord van God laat herontdek het nie. Gods Woord is altyd ’n gawe van God self aan die mens. Dit is genade as ons die Stem hoor. Geestelike krag kan nie gefabriseer word nie. Daarom kan ons alleen maar vrá. Wat die kerk vandag nodig het om weer werklik betekenisvol te wees, is nie meer organisasie nie, maar meer gebed om die Woord te kan hoor en in die krag van die Gees te kan verkondig. – WDJ