BEGINSELS
Die Burger, 4 November 1979
Oor die algemeen is dit waar dat beginsels goeie dinge is. ’n Beginsellose mens is ryp vir allerlei vorms van onheil. Ons het dit uit ons hele kulturele agtergrond geleer dat ’n mens beginsels moet hê waarby by moet lewe. Dit het min of meer vir ons ’n vanselfsprekendheid geword dat ’n mens altyd eers moet vra wat die juiste beginsels is wat by ’n saak ter sprake kom, voordat jy kan bepaal wat die regte manier van optrede in verband daarmee is. Veral as Christene sê ons dikwels dat ons nie die bestaande praktyk tot die maatstaf mag maak van wat goed en kwaad is nie, maar dat ons vanuit die beginsels moet dink soos dit uit die Woord van God afgelei kan word. Dit geld vir alle terreine van ons lewe.
Die probleem is nou egter dat beginsels nie sonder meer gegewe is nie. Mense kan onder mekaar verskil oor wat die regte beginsels is. Selfs die Bybel formuleer nie beginsels nie, maar bied aan ons die Woord van God soos dit op die lewe afgestem is, en dit bly nog altyd ’n menslike werksaamheid om uit die Bybelwoorde beginsels af te lei.
Selfs al sou mense egter ook met mekaar saamstem oor wat objektief gesproke die regte beginsels is, is dit nog lank nie seker dat hulle met mekaar sal saamstem oor watter beginsels in ’n spesifieke geval ter sake is of watter beginsel in daardie geval die swaarste moet weeg nie. By die toepassing van die beginsels kan daar nog altyd ’n groot verskil tussen mense sigbaar word. En dan moet ons ook nie vergeet nie, dat die sondigheid van ons hart juis hier ’n groot rol gaan speel. Die manier waarop ons met ons beginsels omgaan, word bepaal deur ons hart met sy wense en voorkeure, sy verborge motiewe en sy vooroordele. Dikwels is dit juis waar dat ons vir ons eie besef geweldig prinsipieel redeneer, maar dat ons in werklikheid besig is met ’n prinsipiële rookskerm om ons onwil te verberg om te doen wat werklik van ons gevra word.
Beginsels is goeie dinge, maar beginsels kan deur ’n sondige mens misbruik word om juis te ontduik wat die Woord van God van hom in ’n konkrete situasie vra.
Die fout lê nie by die beginsels as sodanig nie, maar by ons hart wat dinge tot beginsels kan verhef wat glad nie beginsels is nie, of wat suiwer beginsels op ’n verkeerde manier kan hanteer om ons onwil te verberg om die goeie te doen. Daaruit kan ons leer dat ons nooit ons beginsels mag losmaak van die voortdurende luister na die Woord van God self nie.
Slegs wanneer ons deur die Woord en die Gees van God gelei word, leer ons hoe om met ons beginsels om te gaan en word ons daarvan bewaar om nie allerlei skyn-argumente te gebruik om ons ongehoorsaamheid te bedek nie. Ons bly voortdurend afhanklik van God self om ons die weg van gehoorsaamheid te laat sien.
Net ’n ootmoedige hart kan die regte weg vind. – WDJ