’N BEREKENINGSFOUT
Die Burger, 10 November 1979, bladsy 8
Dit sou ’n berekeningsfout wees as gedink sou word dat die sogenaamde emansipasie van die vrou daartoe lei dat sy ’n groter invloed in die samelewing kan uitoefen. Die feit is immers dat die invloed van die vrou op die samelewing deur die eeue been geweldig groot was en dat vroue twee keer moet dink voordat hulle die soort invloed wat hulle altyd uitgeoefen het, moet verruil vir ’n nuwe soort invloed wat miskien nie by benadering so fundamenteel is as die waaroor hulle reeds beskik nie.
In die Westerse samelewing het die vrou deur die eeue as moeder van die gesin ’n stabiliserende faktor gevorm waarsonder die samelewing uitmekaar sou val. Sy was in groot mate verantwoordelik vir die opvoeding van die kinders en daarmee vir die moraal en karakter, die godsdienstige vorming en die lewensuitkyk van die nuwe geslag. Sy het nie op die voorgrond getree nie – behalwe in uitsonderlike gevalle – maar sy het die man beïnvloed op ’n wyse wat nie bereken kan word nie.
’n Mens wonder hoeveel dekadensie en sedelike verval die wêreld bespaar is deur die invloed van vroue in die samelewing. ’n Mens sou verbaas wees as jy iets kon sien van die rol wat die dikwels ongenoemde vrou agter elke groot man in die geskiedenis gespeel het.
Die Bybel sê dat die vrou geskape is as ’n hulp vir die man. In die mees letterlike sin is dit waar dat ’n man in groot mate hulpeloos is sonder die bystand, troos, aanmoediging en hulp van ’n vrou. Uiteindelik keer die man met al sy aktiwiteit en voortvarendheid tog maar weer na haar terug, en onder al die uiterlike vertoon van sy kragdadigheid weet hy en sy albei hoe klein hy tog maar is, hoe afhanklik van die troos en rus, die begrip en liefde wat sy kan bied. Mans is danig groot, en tog bly hulle in ’n sekere sin maar almal babas tot hul dood.
Niemand misgun die vrou ’n groter mate van bewegingsvryheid, groter ruimte vir die ontwikkeling van haar talente en die moontlikheid om haarself uit te leef op ’n ander plek as agter die kospotte nie. Ons kultuur het bowendien so verander dat ons net nie meer kan klaarkom sonder die rol wat vroue in die openbare lewe as die gelykes van die man moet speel nie. Maar die vrou moet onthou dat sy deur God aan die mens gegee is as die sement van die huisgesin en die samelewing en dat daar niemand is om haar posisie in te neem as sy dit sou verlaat nie.
Dit is nie omdat die vrou iets misgun word nie, maar dit is juis omdat ons haar die vervulling van haar onvervangbare roeping gun, dat ons pleit daarvoor dat haar eie aard as vrou bewaar moet bly. Die karakter van ’n volk word in groot mate bepaal deur die kwaliteit van sy vroue en moeders. Geen vrou moet dit gering ag nie. Dit sou ’n kwade dag vir ons almal wees. – WDJ