Skuldbesef

SKULDBESEF
Die Burger, 17 November 1979, bladsy 8

Dit is onmoontlik om in die volle sin van die woord gelukkig en vry te wees as daar verborge sondes in ons hart is wat ons nie wil bely en regstel nie. Dikwels is ’n mens van sulke dinge maar baie vaag bewus, en as die gedagte by jou opkom dat jy dalk ongeluk kan hê of dat daar in jou lewe dinge is wat nie reg is nie, is jy geneig om die soort gedagte te onderdruk of weg te redeneer.

So kan dit gebeur dat ’n mens stelselmatig kan probeer om skuldbesef uit jou lewe te verdring, en dit is selfs moontlik om in groot mate daarin te slaag. Maar solank as wat jy daarin volhard, bly daar ’n innerlike blokkasie in jou hart wat in die weg staan van jou vryheid en geluk.

Dit is selfs waar dat baie van ons psigiese en liggaamlike kwale saamhang met die probleem van skuld in ons lewe. Daar is geen mens wat nie ’n gewete het nie. Op die een of ander manier registreer ons gewete dat alles nie pluis is nie. Selfs al is ons gewete maar ’n baie onbetroubare instrument om die grootte van ons skuld te meet, en selfs al is dit waar dat alle mense se gewete nie op dieselfde manier funksioneer nie, is dit tog waar dat ons gewete ons skuld êrens in ons binneste vashou en die inkomende rekeninge dag na dag en maand na maand op lêer plaas vir die dag van afrekening.

Dit kan in ons word soos ’n verborge sweer, wat des te gevaarliker word namate die vel daaroor al hoe taaier en dikker groei om die kwaal te verberg. Baie mense lewe skynbaar al hoe roekeloser en ongevoeliger op die oppervlak, omdat die innerlike druk van hut verdronge skuld al hoe groter word. Maar baie mense moet op die een of ander wyse, psigies of liggaamlik, ’n uitlaatklep vir hul innerlike kwaal vind in die vorm van spanning, maagsere, hartkwale, verslawing aan allerlei middels en nog baie meer dinge.

Daarmee bedoel ons nie om te sê dat hierdie kwale in alle gevalle, of selfs in die meeste gevalle in verband staan met ’n onderdrukte gevoel van skuld nie. Ons mag egter nie ons oë daarvoor sluit dat dit soms wel die geval is nie. Die dokter en die psigiater weet dit ook dikwels. Hulle merk dat hul naalde en tablette, hul tegnieke en hul voorskrifte nie kan deurdring tot die wortel van die kwaad wat ’n mens se gestel ruïneer nie. Maar die pasiënt sou hulle dit bitter kwalik neem as hulle dit eerlik teenoor hom sou uitspreek.

Wat ’n mens onder dié omstandighede nodig het, is dat die verborge sweer in jou binneste oopgesny moet word. Genesing is alleen moontlik as daar ’n egte, deurtastende skuldbesef kan deurbreek en alles wat verkeerd is, eerlik voor God en mens bely kan word. Vergiffenis van sonde maak alles weer nuut. Dit bring vryheid, vreugde en ’n nuwe begin. Die Bybel is vol van die jubeling van mense wat die blydskap daarvan ervaar het. – WDJ