Valse skuldgevoel

VALSE SKULDGEVOEL
Die Burger, 24 November 1979, bladsy 12

’n Egte gevoel van skuld oor dinge wat in ons lewe verkeerd is, is absoluut noodsaaklik as ons die vreugde van vergiffenis en herstel deelagtig wil word. Daarom moet die wet van God altyd weer op ’n ontdekkende manier aan ons verkondig word, sodat ons bewus kan word van ons sonde en ons toevlug kan neem tot Hom wat ons al ons sonde wil vergewe.

Tog is daar ook so iets as valse skuldgevoelens. Dit kom voor wanneer ’n mens ’n gevoel van skuld het oor iets wat op sigself nie verkeerd is nie. Dikwels gaan dit om dinge wat nie in die wet van God verbied word nie, maar wat op grond van ons opvoeding of die kodes van die groep waartoe ons behoort, vir ons gemoed as ongeoorloof geld.

Wanneer ons dan om die een of ander rede tog sulke dinge doen, kan dit in ons gemoed tot ’n groot stryd aanleiding gee en selfs tot ’n valse gevoel van skuld. Dit voel asof duisend oë van ouers en voorouers, familie en vriende brandend van beskuldiging op ons neersien, en ons word innerlik geteister deur die kramp van selfbeskuldiging oor iets wat tog geen sonde voor God is nie.

So is daar talle mense wat in hulle huwelik onder valse skuldgevoelens ly, omdat hulle opvoeding hulle geleer het dat seks altyd vuil en verkeerd is. Binne die huwelik is hulle dan nie in staat om hulself sonder ’n gevoel van skuld werklik aan hulle lewensmaat te gee nie. ’n Mens kan hier ook dink aan die beskuldiginge wat die Fariseërs gerig het aan die adres van die dissipels van Jesus, omdat hulle geëet het sonder om hulle hande te was. Sulke “oorleweringe van die ou mense” kan soms daartoe lei dat mense skuldig voel oor dinge wat nie sonde is nie, terwyl hulle geen skuldgevoelens het oor dinge wat wel sonde is nie.

Daar word beweer dat mense in ’n primitiewe samelewing so gebonde is aan die taboes van hulle stam, dat hulle by oortreding daarvan letterlik wegkwyn en sterf. Maar ook in ’n gesofistikeerde, moderne samelewing kan daar taboes bestaan wat dit vir mense uiters moeilik kan maak om sonder ’n gevoel van skuld spontaan en vry soos Christene op te tree. Dink maar aan hoe moeilik dit soms vir mense van een rasgroep kan wees om sonder ’n ongemaklike gevoel met lede van ’n ander groep te verkeer.

Dit is een van die redes waarom die vryheid van Jesus vir mense so vreemd was. Hy wat geen sonde geken het nie, wat ten volle in die wil van sy Vader gewandel het, het Hom nie deur mensgemaakte taboes daarvan laat weerhou om te doen wat die Vader van Hom vra nie. Hy het sy liefde bewys teenoor tollenaars en sondaars en, tot groot aanstoot vir die Fariseërs, selfs saam met hulle geëet. Hy het ’n gesprek aangeknoop met ’n Samaritaanse vrou en toegelaat dat ’n berugte sondares sy voete met haar trane was. Hy was vry om te doen wat Kajafas nooit sonder die slegste denkbare gewete sou kon doen nie. – WDJ