Is dit so maklik?

IS DIT SO MAKLIK?
Die Burger, 1 Desember 1979, bladsy 1

Enige predikant sal daarvan kan getuig dat dit soms vir hom uiters moeilik is om die boodskap van die vrye genade van God vir mense aanneemlik te maak.

Terwyl hy verduidelik dat God ons enkel uit genade red, sonder enige verdienste of prestasie van ons kant, merk hy al in hul oë die twyfel of dit werklik waar kan wees. En hy kan dan ook verwag dat hulle in die een of ander stadium van die gesprek sal vra: Maar is so ’n boodskap darem nie baie maklik nie? Kan ’n mens werklik alles doen wat jy wil, en dan maar net bely dat dit verkeerd was, en só gered word?

Hierdie vrae is begryplik. Dit kom voort uit die oortuiging dat verlossing darem meer veronderstel as ’n blote erkenning van skuld en ’n goedkoop toesegging van genade as daar niks in ’n mens se lewe verander nie. Dit sou inderdaad te maklik wees.

As iemand ons verduideliking van die verlossing uit genade dus met hierdie soort vraag beantwoord, moet ons weet dat ons dit nog nie goed genoeg verduidelik het nie. Die boodskap van verlossing uit genade veronderstel immers juis die grootste denkbare verandering in ’n mens se lewe. Dit is allesbehalwe ’n boodskap van ’n goedkoop skulderkenning en ’n nog goedkoper toesegging van genade. Dit is niks minder nie as die boodskap van ’n radikale omkeer van ’n mens se lewensrigting.

Maar die boodskap van genade wil eintlik vir ons sê dat die verandering wat God van ons vra, só groot en radikaal is, dat ons dit nooit self kan bybring of in ons lewe kan bewerk nie. Ons wortelsonde is immers dat ons nie van Gods genade wil lewe nie, dat ons te trots is om onsself maar net op God te verlaat. Ons wil ten minste self ook iets presteer, sodat ons verlossing op die een of ander manier darem ons eie verdienste is. Maar solank as wat ons in die houding volhard, is alle lewensverbetering wat ons self tot stand kan bring (selfs al sou dit geweldige dade van selfkastyding en restitusie wees) hoogstens van “kosmetiese” aard.

Die werklike eis wat die boodskap van genade aan ons stel, is om aan die einde van onsself en ons selfhandhawingsdrang te kom, en onsself eenvoudig in die hande van God te werp.

En dit is nie so maklik nie. Inteendeel, dit is vir die mens soos hy van nature is, totaal onmoontlik. Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan, as vir ’n natuurlike mens om by die einde van sy selfhandhawing teenoor God te kom.

Die boodskap dat ons uit genade alleen gered word, word dan ook nie aan ons verkondig met die veronderstelling dat ons uit onsself in staat is om dit aan te neem nie, want ons is nie. Dit word aan ons verkondig met die gebed om die Heilige Gees wat alleen in staat is om ’n mens tot ’n punt te bring waar hy só totaal anders word dat hy op niks anders meer hoop nie as net op die genade. – WDJ