Ons verantwoordelikheid

ONS VERANTWOORDELIKHEID
Geloftedag
Die Burger, 15 Desember 1979, bladsy 10

Dit is vir ons onmoontlik om te weet wat sou gebeur het as die Boere die Slag by Bloedrivier sou verloor het. Dat dit die einde sou beteken het van die witman se pogings om hom in die binneland te vestig, is onwaarskynlik. Miskien sou die vestiging vertraag gewees het, of miskien sou dit ’n ander karakter aangeneem het. Maar waarskynlik sou dit uiteindelik tog maar gebeur het.

’n Mens moet dus nie Bloedrivier oor-dramatiseer deur dit voor te stel asof daar werklik alles vir die witman en selfs vir die Christelike godsdiens in Suider-Afrika op die spel was nie. Wat egter wel waar is, is dat die oorwinning by Bloedrivier die gang van die geskiedenis van hierdie subkontinent op sodanige wyse laat verloop het dat die Afrikaner ’n beslissende rol daarin sou speel.

Bloedrivier het dit moontlik gemaak dat dit die Afrikaner was wat die binneland oopgebreek en makgemaak, huise gebou en dorpe laat verrys, kerke opgerig en republieke gestig het. Dit was die Afrikaner met sy godsdiens en kultuur, sy lewens- en wêreldbeskouing, sy geloof en sy vryheidsdrang wat die slapende reus van Afrika wakker gemaak het. Dit was sy psalms wat vroegdag saam met die eerste rook uit die hartbeeshuisies opgestyg het. Dit was hy wat onder God die toekoms van hierdie stuk van die aarde sou help bepaal.

Op Geloftedag kom ons saam om met dankbaarheid hierdie werklikheid van die geskiedenis te herdenk. Met dankbaarheid – maar ook met vrees en bewing. As God dit aan ons volk toevertrou het om die geskiedenis van hierdie land te help maak op ’n beslissende wyse, sal Hy ongetwyfeld van ons rekenskap vra oor hoe ons dit gedoen het. Dit is ’n Bybelse waarheid dat van elkeen aan wie veel toevertrou is, ook veel rekenskap gevra sal word. Ons het veel ontvang.

Ons sal op die skaal van Gods geregtigheid afgeweeg word teenoor die vraag wat ons met ons verantwoordelikheid vir hierdie stukkie van Gods wêreld gemaak het.

Ons grootste sorg kan nooit wees wat ander mense of selfs die VVO van ons sê en dink nie. Dit is wel nie sonder betekenis nie, maar is uiteindelik tog maar uiters relatief. Ons grootste sorg moet wees wat God van ons rentmeesterskap oor hierdie gedeelte van sy wêreld dink. Daarmee behoort ons onsself op Geloftedag besig te hou, eerlik en sonder verskoning.

God sal ons oordeel op grond van die vraag of ons onsself van ons taak in hierdie land gekwyt het deur onbaatsugtige diens aan geregtigheid, opbou en vrede, en of ons maar net daarop uit was om onsself te dien. Miskien moet ons by Geloftefees meermale preek oor die gelykenis van die dienskneg wat die Heer oor sy diensvolk aangestel het (Matteus 25:45–51). Mag God ons die genade gee om te doen wat Hy van ons verwag! – WDJ