Alles of niks

ALLES OF NIKS
Die Burger, 22 Desember 1979, bladsy 8

Geloof en ongeloof is twee onversoenlike dinge, maar in ons hart probeer ons hulle altyd weer saam huisves. Ons slinger heen en weer tussen sekerheid en twyfel, tussen aanvaarding en verwerping van wat die Bybel sê, en dikwels probeer ons een of ander vorm van kompromis maak tussen geloof en ongeloof.

’n Mens kan dit op duisend maniere in jou eie lewe waarneem, maar miskien word dit nêrens so helder as rondom die boodskap van Kersfees nie.
Die boodskap van Kersfees vra van ons om te glo dat hierdie Kindjie, gebore in ’n stal êrens in Betlehem tweeduisend jaar gelede, die Seun van God is, of nog duideliker gesê: dat Hy God self is wat in die vlees tot ons gekom het. Dit vra van ons om te glo dat God werklik mens geword het, dat Hy ons armoede en ellende, ons dood en verderf op Hom geneem en weggedra het en dat die beslissing oor die hele wêreld en die hele geskiedenis in hierdie mens, Jesus van Nasaret geval het. Dit roep ons daartoe op om te aanvaar dat ook oor ons persoonlike lot daar eens en vir altyd in Jesus beslis is en dat daar werklik niks is wat ons meer van die liefde van God kan skei of wat op die ou end hier tot ons beswil sal wees en vir ons in vreugde verander sal word nie.

As ’n mens hierdie boodskap glo, maak dit jou lewe radikaal anders. Dit sal ’n mens loon om ’n tydjie lank stil te gaan sit en dink wat die volle implikasies vir jou sal wees as jy dit werklik heelhartig en sonder voorbehoud glo. Dit is byna onvoorstelbaar groot. In elk geval sal dit aan die meeste van ons se lewens ’n verskil maak wat letterlik alles vir ons ingrypend sal verander.

Ons probleem is egter dat ons dit nie werklik glo of wil glo nie. Ons speel hoogstens met die gedagte dat dit miskien ’n bepaalde element van waarheid kan bevat. Ons doen mee aan die feestelikhede van Kersfees, ons sing die groot woorde van die liedere mee, maar ons hou tog nog ’n slag om die arm. Ons wil ’n veilige afstand bewaar. Ons meen dat ons tussen geloof en ongeloof ’n midde-posisie kan inneem.

Maar juis dit is nie moontlik nie. Geloof en ongeloof sluit mekaar uit, selfs al is dit waar dat die geloof altyd weer deur ongeloof aangeveg en bedreig word. Tog is daar ’n duidelike skeiding. ’n Mens glo dit of jy glo dit nie. Dit gaan hier werklik om ’n skeiding van die geeste en ’n skeiding in ons eie gees. Hier is dit alles of niks.

’n Mens kan nie probeer om geloof en ongeloof te versoen nie. ’n Mens kan nie die boodskap van Kersfees prysgee of verwater of omdui, omdat dit vir die ongeloof ’n onverteerbare boodskap is en dan nog meen dat jy die troos daarvan kan ondervind nie. Dit is net die kinderlike oorgawe aan die boodskap van Kersfees wat egte Kersvreugde bring. Dit is so naby aan ons. Dit wenk ons na die rus. – WDJ