MET DANKBAARHEID
Die Burger, 29 Desember 1979
Dit is natuurlik dat ’n mens aan die einde van die jaar sal terugdink aan die jaar wat verby is. Diegene onder ons wat reeds middeljarig is of ouer begin word, sal ook die neiging hê om nog verder terug te kyk oor ons lewensjare. Dan is dit dikwels so dat ’n mens met ’n gevoel van weemoed vervul word. Dit vervul ’n mens met weemoed as jy besef dat nog ’n jaar verby is, nog ’n kosbare jaar van jou lewe. As ’n mens jonk is, maak dit nie soveel indruk op jou nie, want dan lyk dit of die toekoms nog ver voor jou uitstrek. ’n Mens dink nog nie eens aan die einde van die weg nie.
Maar as ’n mens ouer word, besef jy maar alte goed dat ons lewe nie oneindig is nie. Elke jaar wat afgetel word, bring die einde vinniger nader. Dit vervul ’n mens dalk dikwels met allerlei nostalgiese gevoelens wat ’n mengsel is van heimwee en verlange na ons jeug, ’n gevoel van verydeling omdat ons besef hoe min ons werklik in ons lewe bereik het en die pyn van die wete dat ons kortstondig is soos die gras van die veld.
Hierdie soort gevoelens is begryplik en dit is ook nie altyd verkeerd dat ons dit vir ’n oomblik toelaat in ons hart nie. Dit toon immers dat ons gevoelig is vir die lewe, dat ons die lewe liefhet en – wat die belangrikste is – dat die ewigheid in ons hart gelê is.
’n Mens is nie maar ’n dier wat kan leef en sterf asof dit niks is nie. ’n Mens se lewe wys bokant homself uit en is gerig op ’n voltooiing wat ons nie in ons aardse bestaan kan vind nie. Die heimwee en die verlange in ons, wat dikwels juis so onomlynd is omdat dit nie op iets konkreets gerig is nie, is ’n spoor daarvan dat ons weet, soos Totius gesing het: Die wêreld is ons woning nie.
En tog mag ’n mens jouself nie oorgee aan jou nostalgiese gevoelens nie.
Daar is per slot van rekening alle rede om liewer positief na die verlede te kyk as negatief. ’n Christen behoort immers dankbaar te wees, dankbaar vir al die goeie van die verlede, want dit was net genade. Maar ook dankbaar omdat ons selfs in alles wat sleg en donker was, nooit losgelaat is deur die Hand wat ons vasgehou het nie. Selfs as ons aan ons eie sonde en dwaasheid van die verlede dink, moet ons dankbaar wees, want as ons dit bely het, is dit so ver van ons verwyder as die Ooste van die Weste.
’n Mens moet jou selfs bekeer van jou weemoed af tot die dankbaarheid. Solank ’n mens in die weemoed bly vassteek, is jy nog net met jouself besig. As jy jou lewe liewer onder die gesigspunt van die dankbaarheid beskou, kan jy nie anders as om ook aan God te dink nie. En hoe kan ons dan weemoedig wees as ons aan God dink? Sal die toekoms saam met Hom dan slegter wees as die verlede? As sy genade in die verlede so groot was, sal dit dan minder wees in die dae wat kom? – WDJ