Afhanklikheid

AFHANKLIKHEID
Die Burger, 5 Januarie 1980, bladsy 8

Oor die belangrikste dinge van ons lewe beskik ons nie self nie. Die blote feit dat ons lewe, wanneer en waar ons lewe, die aard van ons intellektuele en fisieke begaafdhede die invloede en omstandighede van ons eerste vormende jare – dit is eenvoudig gegewenhede waaraan ons self niks kan doen nie. Ons vind onsself en ons lewensituasie as iets wat aan ons buite ons eie wil of toedoen om toebedeel word en waarmee as sodanig reeds in groot mate oor die gang van ons lewe beskik is.

Natuurlik lê daar ’n groot verantwoordelikheid op ons om die gegewene te hanteer en die beste daarvan te maak wat binne ons vermoë is. Dit is deel van ons mens-wees dat ons in die omstandighede ingryp, dat ons woeker met ons talente en dat ons nie maar passief die lewe oor ons heen laat gaan nie.

Maar ook in hierdie opsig is ons moontlikhede beperk. Daar is duisend faktore wat buite ons beheer val, wat tog ons lewe beslissend beïnvloed. Die dinge wat met ons gebeur, kan in die meeste gevalle nie deur ons bepaal of selfs beïnvloed word nie. Ons is afhanklik van ander mense, van die moontlikhede van ons situasie, van die gang van die geskiedenis, van die onberekenbare sameloop van omstandighede.

’n Mens hoef maar ’n geringe tydjie af te sonder om daaroor na te dink, om te besef dat ons afhanklikheid in werklikheid ’n totale karakter dra. Dit is nie vreemd dat Schleiermacher – die vader van die negentiende-eeuse teologie – godsdiens omskryf het as die gevoel van totale afhanklikheid nie. Want as ’n mens diep genoeg tot die besef van jou afhanklikheid deurdring, moet jy noodwendig stuit op die wete dat ons uiteindelik nie maar net afhanklik is van die wêreld en die mense en die dinge rondom ons nie, maar dat ons saam met alle dinge afhanklik is van God, wat oor alle dinge regeer.
Dit behoort tot die wese van die geloof in God dat ons hierdie totale afhanklikheid van Hom as vreugde ervaar. As ons afhanklik was van ’n blinde noodlot, sou dit ons of tot magtelose opstand teen ons lot óf tot berusting daarin gebring het. Maar as ons weet dat ons totaal afhanklik is van die wil en die regering van die Vader van Onse Here Jesus Christus, van wie ons weet dat Hy ons onuitspreeklik liefhet, dan word ons afhanklikheid van Hom ’n rede vir diepe dankbaarheid en vertroue.

In die begin van hierdie nuwe jaar kan ons gerus dink aan die vermaning van Christus om ons nie te kwel oor die dag van môre nie. Ons is nie in staat, sê Jesus, om deur al ons kwellings ons lewe met één uur te verleng nie. As ons dan nie eens tot die geringste in staat is nie, sê Hy, behoort ons onsself ook nie te kwel nie, want ons Hemelse Vader weet wat ons nodig het.
Daar is ’n vaste hand aan die stuur. Die verantwoordelikheid vir ons lewe rus in laaste instansie nie in ons eie hand nie, maar by God. – WDJ