Dit is te veel gevra

Die Burger, 19 Januarie 1980, bladsy 12
DIT IS TE VEEL GEVRA

Daar sal seker niemand van ons wees wat nie in hierdie tyd ons hart vashou vir wat in Zimbabwe-Rhodesië gebeur nie. Daar sal min van ons wees wat nie openlik of in die stilte bid dat daar op vreedsame wyse ’n werklik nuwe begin gemaak mag word en dat ’n gelukkige en voorspoedige staat en samelewing tot stand mag kom nie. Wat daar gebeur, raak ons so intens, omdat ons op duisende maniere daarby betrokke is. Daarom hoop ons ook vuriglik dat die donker skaduwees wat ons buurland nou al so lank omring, deur die lig van ’n nuwe dag verdryf sal word.

As ons egter nugter na die situasie daar kyk, besef ons maar alte goed dat dit veel gevra is. Die probleem is dat daar tans ’n eksperiment van samewerking gewaag word met mense en groepe wat tot op datum mekaar se bittere vyande is. Daar is wel ’n skikplan om ’n konferensietafel beding – en met hoeveel gesukkel het dit nie gepaard gegaan nie – maar niemand kan tog glo dat daar ’n werklike hartsverandering by die verskillende opponerende partye plaasgevind het wat kan uitloop op ’n wedersydse vertroue en aanvaarding van mekaar as burgers van een staat en lede van een gemeenskap wat in gesamentlike lojaliteit die sware las van die opbou van die nuwe staat kan dra nie. Die vrede is ’n gewapende vrede waarin die verskillende groepe mekaar nie vertrou nie en die klimaat ontbreek vir ’n egte demokratiese proses.

Dit is daarom dat ons almal diep ongerus is oor die toekoms van daardie mooi land. As Christene weet ons dat die wederbarende en vernuwende genade van God die enigste werklike antwoord is op alle probleme van die onderlinge verhoudinge tussen mense. Maar ons weet ook dat, selfs waar alle lede van ’n gemeenskap nie die verlossende genade van God deelagtig is nie, daar tog so iets is as God se weerhoudende genade, waarin Hy mense daarvan terughou om die volle teuels te gee aan die verkeerde drifte wat in hulle aanwesig is.

Daarom is dit dat ons daarop hoop en daarvoor bid dat, selfs al weet ons dat geen hartsverandering plaasgevind het waardeur alle betrokkenes bereid sal wees om mekaar oor en weer in trou en lojaliteit te aanvaar en te dien nie, daar tog van Godsweë ’n wonder mag geskied deurdat Hy die kragte van redelikheid, billikheid, eerlikheid en verdraagsaamheid in daardie verskeurde gemeenskap sal opwek en versterk. Ons hoop selfs dat dit mag gebeur dat die betrokke partye sal insien dat hul eie wel berekende eiebelang daarmee gedien sal word as hulle tans mekaar kan aanvaar en aan mekaar oor en weer rede kan gee vir wedersydse vertroue.

As ons alleen met die betrokke mense rekening hou, is dit te veel gevra. Maar as ons met die genade van God rekening hou, mag ons daarop hoop. Ons behoort in hierdie tyd ’n muur van gebed rondom Zimbabwe-Rhodesië te bou. – WDJ