GEESTELIKE KWALITEIT
Die Burger, 11 Oktober 1980, bladsy 10
Ons hoor in ons tyd dikwels die stelling dat die kerk sy betekenis in die samelewing verloor as hy nie politiek betrokke raak, die kant van die armes en verontregtes kies en desnoods die gewelddadige pogings steun om onregverdige stelsels omver te werp nie.
Dit lyk ook of daar duisende kerkmanne oor die wêreld is wat hierdie soort standpunt aanvaar en daarom meen dat hulle Christus op die beste wyse kan navolg deur hulle veral aan politieke aksies en politieke prediking te wy. Vir die gedagte dat die kerk in sy prediking veral die verlossing van die mens uit sonde en skuld moet verkondig en dat hy moet aandring op wedergeboorte en bekering, persoonlike heiligmaking, die najaag van die liefde en die uitleef daarvan, het hulle hoogstens ’n hoonlaggie oor. Dit is individualisme en piëtisme, sê hulle dan, ’n poging tot ontvlugting uit die werklike wêreld en die oorsaak daarvan dat die kerk irrelevant geword het.
Intussen is dit egter nodig dat ons goed moet leer onderskei. Die feit dat die kerk irrelevant sou geword het, moet waarskynlik nie daarin gesoek word dat hy in die verlede te min aan politiek gedoen het nie. Alle kerke is altyd tot oor hulle ore, teen wil en dank, by die politiek betrokke. Die vraag is juis of van hulle verlies aan betekenis nie juis daarmee saamhang nie, dat hulle betrokke was by ’n politieke opset wat later verouderd geraak en hulle dan op ’n doodloop-spoor gelaat het nie.
As die kerk hom op die regte wyse by sy geestelike taak bepaal, kan daar geen sprake wees dat hy irrelevant kan word vir die samelewing nie. Die kerk kan nie relevansie in die samelewing verdien deur politieke betrokkenheid nie, want dan word hy altyd net die kerk van ’n bepaalde seksie of party of groep.
Die kerk se relevansie in die samelewing hang saam met sy geestelike kwaliteit en integriteit. As hy dit nie het nie, sal hy nie alleen sy geestelike boodskap verwaarloos nie, maar hy sal selfs politiek verkeerde en kortsigtige keuses doen – hom deur ideologieë aan die neus laat lei en voortdurend op ’n nuwe wyse weer moet probeer om relevansie te herower op maniere wat nie tot sy eintlike taak behoort nie.
As die kerk egter die regte geestelike kwaliteit het, sal sy woord en gesindheid, sy wyse van bestaan, sy ingaan in die daadwerklike nood van die swakkes en verontregtes, sy aanspraak van die rykes en die magtiges oor hulle sonde, sy hantering van die swaard van die Gees aan hom ’n relevansie vir alle terreine van die lewe gee, dus óók vir die politiek. Hy kan dit egter nie doelbewus soek as ’n middel om homself weer ter sake te maak nie, want dan span hy die kar voor die perde. Hy moet eers die koninkryk van God en sy geregtigheid soek, en dan sal alle ander dinge vir hom bygevoeg word.
Geestelike kwaliteit is onvervangbaar. Dit begin by die individu en die gemeente. Dit vra persoonlike omkeer en verandering. Laat ons maar daarvan erns maak, en kyk wat gebeur. – WDJ