DIE GEWONE DINGE
Die Burger, 1 November 1980, bladsy 8
Dit moet ’n mens opval in die vermaninge wat Paulus aan sy gemeentes rig, dat hy hulle oproep om sulke doodgewone dinge te doen, soos byvoorbeeld dat hy die mans vermaan om hulle vrouens lief te hê, die kinders om aan hulle ouers gehoorsaam te wees, die gemeentelede om nie leuens vir mekaar te vertel nie ens. ’n Mens sou verwag het dat hy tog baie ingewikkelder dinge van die Christene sou gevra het, soos groot dade van geloof, selfopoffering, die verandering van die samelewing en sulke dinge meer.
Natuurlik, soms vra God ook sulke groot dinge van ’n mens. Dit kan gebeur dat God ’n mens kan roep om jou huis en jou land te verlaat en in die vreemde ’n sendeling te gaan word. Dit kan gebeur dat God dit op ’n mens se hart kan bind dat jy, soos die Ryk Jongman, al jou besittings moet verkoop en dit onder die armes moet uitdeel.
Waarom nie? As Jesus destyds van mense sulke groot en radikale geloofsdade gevra het, is daar geen rede waarom Hy dit nie vandag ook sou doen nie. Miskien vra Hy dit ook van sommige van ons, maar ons gaan bedroef weg, omdat ons nie kans sien om dit te doen nie.
Tog is dit in die reël nie so dat die Here buitengewone dinge van ons vra nie. Hy vra van ons die gehoorsaamheid aan sy gebooie in die klein en skynbaar onbelangrike dinge. Wat help dit dat ’n mens ’n groot prediker wil wees, maar jy kan nie eens jou eie vrou liefhê of met haar klaarkom nie? Wat help dit dat ’n mens daaroor dink om die slegte samelewingsorde te probeer verander, en jy is nie eens bereid om in jou eie huis die minste te wees en die teekoppies te was nie?
Daar is baie jongmense wat dink dat hulle bereid is om na verre lande te vertrek om daar hulle kragte aan ontwikkelingsprojekte te wy om hele bevolkings op te hef, maar hulle is tuis nie eens bereid om hul eie bed op te maak en só saam te werk aan die ontwikkeling van goeie gesinsverhoudinge nie. Die buitengewone ding wat God van ons vra, is gehoorsaamheid aan sy liefdesgebod, in die kleine en in die grote, in die buitengewone en in die gewone dinge. Die apostel Paulus sê dat dit ’n mens niks baat as jy die tale van mense en engele kan spreek, as jy al jou goed uitdeel, as jy jou liggaam oorgee om verbrand te word – almal baie buitengewone dinge – en jy het nie die liefde nie. Die liefde is die vervulling van die wet. Maar die wet word nie net in groot dinge vervul nie. Hy word juis in die klein en onbelangrike dinge vervul.
Wanneer iemand sou dink dat hy met sulke belangrike dinge besig is dat hy nie die tyd het om in die klein dingetjies liefde en gehoorsaamheid te betoon nie, is dit ’n duidelike teken daarvan dat wat hom tot die groot en belangrike dinge dryf, waarskynlik nie onbaatsugtige liefde vir andere is nie, maar nog altyd maar die liefde vir homself. – WDJ