Dit is ons troos

DIT IS ONS TROOS
Die Burger, 15 November 1980, bladsy 8

Dit is een van die pynlikste ervarings om te sien hoe ’n persoon wat ons geken het as ywerig, toegewyd, intelligent, belangstellend, deur die ouderdom afgetakel word tot die vlak van seniliteit. Die wêreldjie van die bewussyn word al hoe kleiner. Dit kring later net om die mees onmiddellike behoeftes. Uiteindelik is daar feitlik niks meer oor nie.

Dit is een groot stuk pynlikheid om te hoor en te sien hoe die verpleegsters in die hospitaal of ouetehuis dan nog met “oupatjie” of “oumatjie” omgaan en praat: ’n lomp kind, weinig meer van ’n mens.

Tussen die trane en die hartseer deur omdat “ouderdom wat alles breek”, ook hier weer die oorhand gekry het oor ’n mens se eie vlees en bloed of oor jou beste vriend of vriendin, kom die vraag by ’n mens op wat tog geword het van hul geestelike lewe. Bid en lees en sing is daar nie meer nie. Miskien is die naam van Jesus nog ’n werktuiglike herinnering. Maar van omgaan met God, van ’n bewussyn van God, kan daar nie meer sprake wees nie.

As ons sou moet glo dat hul verhouding tot God afhanklik is van hul bewussyn daarvan, sou ons moes aanneem dat daar nie meer so iets bestaan nie. Gelukkig hoef ons egter heeltemal nie so te dink nie. Die werklikheid val gelukkig nie saam met ons bewussyn daarvan nie.

Toe ons babatjies was, het ons ook niks geweet van die groot verbande waarin ons lewe staan nie: Adam aan die een kant, en Jesus aan die ander.
Tog was dit ’n werklikheid oor ons. Waarom sal dit dan anders word as ons weer terugkeer na die aarde waaruit ons geneem is en ons op weg daarheen langsamerhand óók weer alles vergeet wat ons eenmaal gehoor en geweet het?

As die ouderdom ons klein stukkie bewussyn terugskroef tot ’n minimum en ons miskien nie eens meer kan onthou om te bid of wat om te bid nie, beteken dit tog geensins dat Gods werklikhede oor ons verdwyn het saam met ons bewussyn daarvan nie.

Die apostel Paulus praat êrens daarvan dat ons God ken, maar verbeter onmiddellik sy woorde deur te sê: “of liewer: noudat ons deur God geken word… ” Dit is belangriker dat God ons ken as dat ons God ken. As ons bewussyn in die ouderdom God loslaat, het God ons nog lank nie losgelaat nie. Voordat ons was, het Hy ons reeds in liefde geken. En as ons nie meer van onsself of van God weet nie, sal Sy liefde ons nog steeds vashou.

Dit is ons troos as ons deur die gang van die hospitaal of ouetehuis terugstap na buite, na die lug en die son en die lente. Bo-oor ons klein lewe staan die ewige liefde van God wat nie soos ons onderworpe is aan die kom en die gaan van die dinge nie. Soos Sy hand oor ons was toe ons in aansyn geroep is en uit die wêreld van die ouetehuis na die volheid van die lig van die bewussyn gegroei het, so sal Sy hand ook oor ons wees as ons bewussyn weer langsamerhand weg-eb en die stilte oor ons kom. – WDJ