Waarom is dit so?

WAAROM IS DIT SO?
Die Burger, 22 November 1980, bladsy 8

Waarom is dit tog so dat ’n mens jouself so ongelukkig kan maak? Ons wil almal tog graag gelukkig wees. Daar is selfs hele denksisteme in die wysbegeerte opgebou op die oortuiging dat die drang tot geluk – die mees wesenlike drang in die mens is – sodat haas alles daaruit verklaar kan word.

Tog is dit nie moeilik om te sien dat ons almal ook weer op die een of ander manier die grootste ondermyners van ons eie geluk is nie. Dit is selfs so erg dat ’n mens soms daaraan kan twyfel of dit werklik waar is dat mense graag gelukkig wil wees. Kom ons neem maar die voorbeeld van die huwelikslewe. Daar is ontsettend baie ongelukkige huwelike, maar ook die wat normaalweg vir gelukkige huwelike deurgaan, ken hulle minder gelukkige kante en tye. As ons vra na die diepste oorsaak van hierdie ongelukkigheid, dan stuit ons altyd weer op ’n sekere onvermoë by ons almal om dié dinge te doen wat die sekerste resep vir geluk is, en ’n sekere binding daaraan om op ’n wyse op te tree wat met die grootste trefsekerheid sal uitloop op ons eie ongeluk.

Dit hang saam met ’n diep-gewortelde drang by ons almal om onsself te soek, in plaas daarvan om onsself te gee. Omdat ons onsself soek, is ons baie gou om te voel dat ons te na gekom word. Baie mense loop rond met ’n gevoel van verontregting en gevolglike selfbejammering. Hulle gevoel van verontregting kan volledig illusionêr wees of miskien ’n baie klein stukkie grond hê. Deur dit egter te vertroetel en daaroor te bly maal, neem dit in hulle eie gemoed reusagtige proporsies aan.

Dit veroorsaak dat hulle verkeerd reageer, tot emosionele uitbarsting kom, pogings tot weerwraak aanwend om hul lewensmaat of ander mense te straf. In die proses word hulle egter al hoe meer ongelukkig. Hulle vervreem mense van hulle, sluit die weg van die liefde af en kweek so in die praktyk die situasie wat oorspronklik net in hulle verbeelding bestaan het.

As hulle anders sou kon optree, net ’n klein bietjie anders, sou hulle baie meer bevrediging en lewensgeluk geken het. As ’n mens byvoorbeeld daarin kan slaag om nie net jou eie kant van die saak te sien nie, maar ook die van die ander; as jy dus in plaas van ’n gevoel van verontregting liewer ’n gevoel van verantwoordelikheid vir die ander kon ronddra; as jy in plaas van selfbejammering bereid kon wees om vir jou lewensmaat jammer te wees – dan sou alles anders wees. Dan gee ’n mens jouself en dien jy, eerder as om gedien te wil word. Dan maak ’n mens ander gelukkig en word jy ook self gelukkig.

Geluk is eintlik nie iets wat ’n mens ontvang as jy daarop aandring om dit te hê nie. Dit is ’n gawe wat jou ten deel val as jy nie jou eie geluk soek nie, maar die van die ander.

Christene is in beginsel vrygemaak daartoe om só te kan leef. Dit is so ontsettend jammer dat ons dit so min doen. Ons blokkeer ons eie vreugde deur ons onvermoë om te word wat ons in Christus is. – WDJ