Christelike nugterheid

CHRISTELIKE NUGTERHEID
Die Burger, 29 November 1980, bladsy 10

’n Mens kom soms mense teen wat so vroom is dat hulle jou ongemaklik laat voel. Daar is ’n soort glans in hulle oë, ’n soort entoesiasme in hulle stem, ’n soort familiariteit met God en ’n soort ekshibisionistiese tentoonstelling van hul eie godsdienstige ervaringe wat ’n gewone Christenmens tot die uiterste verleentheid dryf.

Jy weet nie waar jy moet kyk of hoe jy moet reageer nie. Jy het maar een begeerte, en dit is om weer so gou as moontlik van hulle ontslae te raak. So eenvoudig is dit egter nie, want dié soort mens laat homself nie so maklik afskud nie. Hy keer jou min of meer in ’n hoek vas, dring homself aan jou op en is gewoonlik dikvellig genoeg om nie eens aanstoot te neem aan die manier waarop jy hom van jou lyf af probeer hou nie.

Dikwels vra ’n mens jouself af waarom sulke mense jou so irriteer. ls dit omdat hulle werklik vroom is, en jy so min van ’n Christen, dat jy die teenwoordigheid van egte vroomheid nie kan verduur nie? So sou hulle dit graag wil interpreteer. Daarom laat hulle hulself nie so maklik deur jou sigbare geïrriteerdheid afskrik nie. Inteendeel, dit vuur hulle juis aan om hul getuienis nog duideliker onder jou aandag te bring, want hulle sien in jou ’n moontlike bekeerling.

Natuurlik moet ons onsself ondersoek of dit nie dalk werklik so is dat egte vroomheid ons verleë maak omdat ons daarbuite staan en self niks weet van die omgang met God nie. Maar daar is ook so-iets as Christelike nugterheid wat ons kan laat onderskei tussen egte vroomheid en dweepsug. ’n Mens met egte vroomheid het nie maklik die effek op ’n ander een dat hy hom so irriteer nie, veral as die ander ook ’n Christen is.

Egte vroomheid is die teendeel van ekshibisionisme. Dit maak ’n mens nederig en ootmoedig, beskeie en vol heilige eerbied vir God. Familiariteit met God is nie ’n kenmerk van egte vroomheid nie.

’n Mens wat homself aan ons opdring en met ’n sekere sadisme sy eie geestelike ervaringe aan ons opdis tot ons verleentheid, het selde of ooit die regte artikel.

Die godsdienstige dweper is meesal ’n mens met ’n bepaalde persoonlikheidstipe en dikwels het hy persoonlikheidsprobleme. Sy godsdienstige fanatisme is ’n wyse waarop hy homself laat geld. Waar egte vroomheid ’n mens leeg maak van jouself, maak dweepsug ’n mens so vol van jouself dat dit oorloop, eenvoudig omdat dit geen egte vroomheid is nie.

Sulke mense se verhale oor hulle ervaringe met God moet dan ook meesal met ’n knippie sout geneem word, omdat hulle baie maklik hul eie ingewinge verwar met God se bevele aan hulle en hul ervaringe met hulself interpreteer asof dit ervaringe met God is. As ’n mens hulle toelaat om dit te doen, sal hulle ’n geestelike tirannie oor jou uitoefen waarvan die einde nie te sien is nie.

Egte vroomheid vorm ’n mens na die beeld van Jesus. Dit is waarna ons moet verlang en waarom ons moet bid. – WDJ