JESUS VRA ALLES
Die Burger, 20 Desember 1980, bladsy 8
Dit is ’n fatale misverstand om te dink dat die Christelike geloof bestaan uit die aanvaarding van ’n aantal beginsels of selfs ’n stel waarhede. Hier die misverstand bring mee dat mense wie se hele gesindheid en optrede daarvan getuienis aflê dat hulle van die Gees van Christus niks weet nie, hulself nie net daarop beroem dat hulle Christene is nie, maar hulle selfs opwerp as die ware beskermers van die Christendom.
Sulke mense dink die Christelike geloof is ’n saak en die Christelike kerk is ’n party waartoe ’n mens behoort, omdat hy min of meer ’n bepaalde program van beginsels onderskryf of ’n bepaalde kulturele of politieke waarde daaraan heg dat die organisasie wat jy kerk noem, moet voortbestaan en die rol moet speel wat jy aan hom toedig.
Maar dit is ’n vergissing.
Die Christelike geloof is van voor tot agter net één ding: totale vertroue op Jesus Christus en die gehoorsame navolging van sy Woord. Dit gaan in die Christelike geloof om ’n Persoon. Dit gaan om ’n persoonlike verhouding tot Hom. Dit gaan om onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan Hom. Die kerk is die gemeenskap van mense wat net eenvoudig dit doen – of behoort dit in elk geval te wees. Dat daar uit hierdie verhouding tot Christus beginsels voortvloei, dat die betekenis van die verhouding onder woorde gebring kan word in leerstellige formulerings, dit is waar. Maar daardie beginsels en leerstellings is van nul en gener waarde sonder die persoonlike verhouding tot die Here om wie dit gaan en die bereidheid om Hom na te volg.
Let maar op die wyse waarop Christus sy kerk rondom Hom vergader het in die roeping van die dissipels. Dit het gegaan om ’n persoonlike roeping waarin van die geroepene gevra is om letterlik alles te verlaat en Jesus te volg. Die binding aan Hom het alle ander bindinge gerelativeer: vader en moeder, broers en susters, vrou en kinders – wie hulle bó Jesus liefhet, is Hom nie werd nie. Aardse besittings, tot en met eenvoudige visserskuite toe, moes agtergelaat word. Die geld in die tolhuis, die oes op die land, moes nie tussen die geroepene en Jesus staan nie. Jesus het net mooi alles gevra – omdat Hy duisend maal meer kan gee.
En Jesus vra vandag ook nog letterlik alles van ons. Ons mag nie die Christelike geloof verburgerlik tot ’n soort volksgodsdiens waaraan geen uitdaging en geen kruisiging van die self meer verbonde is nie. Ons mag nie van die kerk ’n organisasie maak wat wel die Naam van Jesus dra, maar waarvan baie lede soms nie eens meer weet wat die werklike doel van die organisasie is nie.
Die omstandighede tussen die eerste eeu en vandag het in baie opsigte verander. Maar wat nie verander het nie, is dat Jesus nog steeds alles van ons vra. – WDJ