Nog ’n jaar van onse Heer

NOG ’n JAAR VAN ONSE HEER
Die Burger, 27 Desember 1980, bladsy 8

Die Engelse taalgebruik het op een punt ’n belangrike voordeel bo ons. Waar ons gewoond is om met betrekking tot die aanduiding van jaargetalle te onderskei tussen “voor Christus” en “na Christus”, gebruik die Engelse die afkortings BC en AD om te onderskei tussen die tyd vóór Christus en die tyd sedert die geboorte van Christus.

Die eerste afkorting staan uiteraard vir “Before Christ” – en daarin verskil die Afrikaanse en Engelse aanduidings nie van mekaar nie. Maar die afkorting AD staan vir “Anno Domini” – en hierin kon ons gerus maar die Engelse voorbeeld gevolg het.

Die woorde “Anno Domini” is Latyn en beteken: in die jaar van die Here. Hierdie aanduiding van die jaartalle sedert die geboorte van Christus het ’n diepe sin en het in die kerk opgekom om daaraan uitdrukking te gee dat ’n mens nie in dieselfde sin van “voor Christus” en van “ná Christus” kan praat nie. Christus is tog nie net ’n historiese figuur wat eenmaal geleef en gesterf het, sodat ’n mens van die tyd voor Hom en na Hom op dieselfde wyse kan praat as wat ons dit van alle ander mense kan doen nie.

Christus is die lewende Here aan wie alle mag in die hemel en op aarde gegee is. Hy leef en regeer nog steeds. Daarom praat die uitdrukking “Anno Domini” ook spesifiek van Hom as die Here, die Dominus. Ons leef nie na Christus nie, ons leef onder die heerskappy van Christus. Elke jaar wat kom en gaan, is ’n jaar onder die heerskappy van Christus. Elke jaar wat ons belewe, is sinvol, omdat Christus in die jaar besig is om sy heerskappy in die wêreld uit te werk.

Natuurlik geskied dit op ’n verborge wyse. Ons kan in die verwarring en gisting van die wêreldgebeure nie so maklik die hand van Christus opmerk nie. Maar die hand is daar. Dit is ’n jaar van Onse Heer.

Wanneer ons terugkyk oor die jaar wat verby is, is daar vir die meeste van ons waarskynlik dinge waaroor ons diep bedroef is. Vir andere het daar dinge gebeur waaroor hulle uiters besorg is. Soms is daar nog opstandigheid en soms diepe verslaenheid by ons oor wat gebeur het. ’n Mens vind troos en berusting as jy onthou: ook dit was ’n jaar van Onse Heer. Die vreugde en die leed van hierdie jaar, die voorspoed en die teenspoed het ons onder sy beskikking ten deel geval. En Hy weet beter as ons.

En wanneer ons dink aan die jaar wat voorlê, waarin ons beslis weer dinge kan verwag wat ingrypende gevolge vir ons lewe sal hê, laat ons ook dan bedink dat dit weer eens ’n jaar van Onse Heer sal wees. Dit is nie so dat dinge eenvoudig kan handuit ruk nie. Selfs al mag daar dinge gebeur wat vir ons lyk asof alles nou ’n chaos geword het, dan is dit nog steeds waar dat aan Christus alle mag in die hemel en op aarde gegee is en dat Hy deur alle verwarring van die mense heen die ewige plan van God vir die wêreld volvoer. – WDJ